2014 Inskrywings [18]

  1. DIE PAD NA PLEODORA – J.V. Van Wyk (Volwasse WF) WENNER
  2. VLUGTELING TOT DIE REDDING – Jacques Ferreira (Volwasse F) WENNER
  3. DIE ASTRALE KRYGER – J.V. Van Wyk (Jeugfantasie)
  4. SIGMA 37 – Ockert J. Du Preez (Volwasse WF)
  5. DEIMOS: KOLONIE 1 – Ockert J. Du Preez (Volwasse WF)
  6. DIE DONDERWEER DREUN IN DIE VERTE – Karen van Heerden (Volwasse F)
  7. DEIMOS: OORLEWING – Ockert J. Du Preez (Volwasse WF)
  8. BENOUDE WOUDE – Jacques Ferreira (Volwasse F)
  9. VOOR DIE BEGIN SE EINDE – Madeleine Venter (Volwasse F)
  10. EDEN – Nico Smit (Volwasse WF)
  11. DEIMOS: VERRAAD – Ockert J. Du Preez (Volwasse WF)
  12. SOEKTOG NA DIE LAASTE SIHUFFS – J.V. Van Wyk (Volwasse F)
  13. WENTELBAAN – Ester Byleveldt (Jeug WF)
  14. BELOOFDE LAND – Nadine de Waal (Jeug WF)
  15. DIE SPEL – Cara Engelbrecht (Volwasse F)
  16. PARADYS 2.0 – Hardie Breedt (Volwasse WF)
  17. VIKTORION 14C: PLANEET VAN DIE MARIONETTE – Ilse Goschus (Jeugfantasie)
  18. IN DIE KOL-LÊ: DIE STAATSGREEP – Ilse Goschus (Volwasse F)

 WETENSKAPFIKSIE Koos KombuisKOOS KOMBUIS, het geen bekendstelling nodig nie. Hy is al vir ‘n geruime tyd bekend vir sy musiek (Lisa se klavier) en skryfwerk (Hotel Atlantis). Koos Kombuis, is ook nie net ‘n groot wetenskapfiksie aanhanger nie maar skryf ook gereeld WF-kortverhale vir van die Amerikaanse WF-tydskrifte. Afrifiksie wil ook net weer van hierdie geleentheid gebruik maak om vir Koos Kombuis baie dankie te sê vir sy kosbare tyd wat hy afgestaan het om ons skrywers se werk te beoordeel.

Ek het heerlik gelees aan hierdie verhale en hulle toe genommer van een tot tien. Hier is talent, potensiele talent, en dan ’n paar wat glad nie die paal haal nie, soos ek verwag het.

1.  “Die pad na Pleodora,” deur J.V. van Wyk. Nog altyd geweet cowboy-stories en SF kan saamsmelt! Wat ’n heerlike lees-ervaring, met goeie spanningslyn en baie verbeelding. Soos sy ander storie (no. 2) lees dit soos ’n hoofstuk in ’n langer teks… ek is seker hierdie skrywer sit op ’n roman (of twee)!

2.  “Beloofde Land,” deur Nadine de Waal. ’n Skryfster met sterk potensiaal en duidelik iemand wat diep oor dinge dink en ’n interessante gevoel vir way-out “conspiracy theories” het. Met die regte leiding sal sy beslis eendag met ’n meesterstuk vorendag kom.

3.  “Eden,” deur Nico Smit. Fassinerende plot wat beter uitgebou kon word. Na ’n herskryfproses kan dit ’n uitstekende storie word.

4.  “Wentelbaan,” deur Ester Byleveldt. Dit is duidelik ’n jong skryfster wat ook skryf vir die jeugmark, so mens kan haar baie klein misstappies vergewe. Ten spyte van die feit dat sy heelwat foute begaan wat tipies is van beginners, vonkel hierdie storie plek-plek met heerlike humor. Dis egter nog glad nie geskik vir publikasie nie.

5.  “Paradys,” deur Hardie Breedt. ’n Fantastiese verteltrant, deurleefde uitbeelding en duidelike ervaring van die lewe skyn deur hierdie poging, maar ongelukkig word dit gekniehalter deur swak taalgebruik en baie slordige editing. Ook is dit nie werklik SF nie, eerder ’n kort oorlogstorie met ’n ietwat onduidelike suggestie van iets misterieus. Ek dink nie hierdie skrywer het SF in sy bloed nie, maar kan dalk in ander genres slaag mits daar ’n sterk editorshand oor hom waak.

6-9 Die 4 verhale deur Ockert J. du Preez. Dis baie jammer dat hierdie stories misluk, want elkeen het ’n interessante idee beet. Ongelukkig het die skrywer nie werklik die vermoeë om ’n spanningslyn te skep nie en hy is ook geneig om te veel te verduidelik. Daar sal baie water in die see moet loop voor hy aan publikasie kan dink.

Koos Kombuis 20 Julie 2014

FANTASIE

Foto - Persverklaring - Ronél GillPETRONEL, is ‘n dame wat kan spog met drie fantasie boeke (Man… of die Monster?; Wanneer die middernagson weer skyn en Jou lewe… vir my liefde), ‘n kortverhaal (2013 Wenner) en ‘n artikel. Sy is waarskynlik Suid-Afrika se eie Stephenie Meyer. Ons is haar ewig dankbaar vir wat sy doen vir die Afrikaanse fantasie. Ons hier by Afrifiksie wil haar net weer bedank vir haar betrokkenheid by vanjaar se kompetisie en julle sal hier onder sien wat ‘n deeglike werk sy gedoen het.

Wennersverslag vir die 2014 Afrikaanse Fantasie Kortverhaal Skryfkompetisie – © Petronel Fantasie in Afrikaans is ’n genre wat skandelik afgeskeep word in Suid-Afrika en daarom wil ek net eers baie dankie sê aan die skrywers wat hul hand gewaag het aan my heel gunstelingste van genres. Dit was voorwaar vir my ’n uitsonderlike voorreg om jul verhale saam met julle in te stap en die wondere van jul onderskeie verbeeldingswêrelde te ervaar. Soos gewoonlik het die volwasse afdeling verreweg die meeste inskrywings gehad met ’n hele paar wat my oopmond van verbasing gelaat het vir die talent wat die skrywers openbaar. Aan elke skrywer het ek ’n individuele verslag opgestel en ek hoop van harte dat die verslae van nut sal wees in jul toekoms as Afrikaanse fantasie skrywer.

Wenner van die 2014 Thompson Toekenning vir volwasse fantasie: “Vlugteling tot die redding” deur Jacques Ferreira

In ‘Vlugteling tot die redding’ bewys Jacques Ferreira dat hy ’n skrywer is wat nie net sy leser kan terugvoer na die tyd van Middeleeuse heraldiek nie, maar ook oor die gawe besit om sy verhaal op so ’n sintuiglike manier oor te dra dat sy leser die stryd saam met sy karakters ervaar. Om ’n verhaal wat oor die algemeen baie agtergrond inligting moet hê op so ’n manier saam te stel dat die leser in een kortverhaal presies weet hoe alles begin het, wie wie is en wat hulle doen, waaroor die stryd gegaan het en hoe dit alles eindig getuig van ’n skrywer met werklik uitsonderlike talent. Gedurende die lees van die verhaal het ek hier en daar ’n paar hinderlike ‘en toe’ sinne opgemerk maar oor die algemeen het Jacques Ferreira ’n gladde skryfstyl wat maklik lees en ’n taal afgerondheid en woordgebruik wat getuig van ’n goeie voeling vir die fantasie genre in Afrikaans. Baie geluk Jacques. Daar is vanjaar geen wenner vir die jeug-afdeling nie.

Petronel 25 Julie 2014

Individuele verslae:

1.  Die Astrale Kryger – © J.V. van Wyk (Jeugfantasie)

Volgens die titel en inleidings paragraaf het ek verwag om ’n verhaal van alternatiewe dimensies en oorloë te lees, in stede daarvan blyk dit dat die skrywer se hoof idee van ‘Die Astrale Kryger’ ’n verhaal van ’n jong seun te wees wat ’n sielswroegende stryd voer om sy menswaardigheid te behou in ’n vyandige wêreld – na aanwysing van die skrywer se verwysings na die woorde van Psalm 18 en die demone wat Stefan omsingel – dus, tot en met waar Stefan die boodskapper Adriel ontmoet en die brandmerke wat op sy hand agterbly (wat ook dan die einde van die verhaal is) nie werklik fantasie nie. Hoewel die storielyn pragtig vloei en die skrywer se gebruike van sy/haar karakters, sintuiglike oordrag, figuurlike beeldspraak en die vertelling van die verhaal dui op ’n skrywer met baie potensiaal, indien nie reeds gevestig nie, breek die verhaal te kort af en kry ek die gevoel dat ‘Die Astrale Kryger’ dalk ’n begin van ’n meer volledige verhaal moes wees. Desnieteenstaande het Stefan se stryd met die demone my aandag deurentyd gehou en sou ek graag die res van die verhaal wou lees.

6.  Die donderweer dreun in die verte – © Karen van Heerden (Volwasse Fantasie)

‘Die donderweer dreun in die verte’ is ’n baie goeie (en ek beklemtoon die goeie) inleiding van ’n verhaal, maar aan die einde los dit te veel vrae by die leser agter omrede die einde nie werklik sin maak nie. In die tweede sin beweer die skrywer dat ‘Die donderweer dreun in die verte’ ’n spookstorie is – behalwe die deur wat gesluit is wat nie gesluit kan word nie vind ek geen ander bewyse van ’n spookstorie nie. Eerder dat die hoof idee van die verhaal handel oor ’n reeks beplande moorde deur ’n tipe organisasie. Wat die taal afronding van ‘Die donderweer dreun in die verte’ betref: Die skrywer gebruik ’n ek-verteller in ’n verhaal wat baie goed sou werk met ’n derde-persoon verteller, met die gevolg dat daar te veel sinne in die verhaal met die gevreesde ‘ek’ begin. Hoewel ek nie werklik die heldin in die verhaal se vrees kon ‘aanvoel’ nie, gebruik die skrywer duidelike sinne wat mooi afgerond is (pas net op vir daardie ‘myself’ woord – anglisisme) en maklik lees. Haar gebruik van die Afrikaanse taal is uitstekend en ek wil voorstel dat hierdie skrywer ‘Die donderweer dreun in die verte’ verder aanskryf, totdat sy voel dit is klaar en kyk wat daaruit kom. Moontlik ’n baie goeie wetenskapfiksie riller?

8.  Benoude woude – © Jacques Ferreira (Volwasse Fantasie)

Hoewel te lank vir ’n kortverhaal, het ‘Benoude woude’ ’n fantastiese storielyn en getuig van ’n skrywer wat vertroud is met die idee van fantasie en waaroor die genre eintlik handel. Wanneer ’n skrywer ’n werklike goeie verhaal het om te vertel is dit die moeilikste ding onder die son om daardie verhaal so te verkort dat dit binne die voorgeskrewe aantal woorde van ’n kortverhaal val – soos ook in hierdie geval. My raad aan die skrywer sou wees om die tydperk waarin die verhaal afspeel te verkort. Gebruik een sentrale idee, bv. Aldina se afsterwe aan die hand van die bose towenaar, of Celia se laaste geveg met die towenaar en werk die res van die verhaal in as kort agtergrond-stukkies. Of ’n tweede siening sou wees om Celia se opleiding sessies te verkort en ook die aantal kere wat die slegte aura beveg word voordat die groot geveg tussen Celia, Aldina en die bose geeste ontstaan. Celia se karakter is, hoewel die dapper heldin ook ’n baie jong (tiener) karakter wat nog leer hoe om die wêreld se goed en kwaad te hanteer. Skielik word haar moeder en haar enigste anker in hierdie bose wêreld van haar weggeruk en tog kon ek geen van haar emosies aanvoel in die lees van haar verhaal nie. Waar is haar bang, haar hartseer, haar onsekerheid? Emosie speel ’n groot rol waar dit kom by jou karakter se eienskappe. Behalwe dat dit jou leser help om jou karakter beter te verstaan, help dit ook om jou storie daardie ‘menslike’ aspekte te besorg wat jou karakter se stryd soveel te meer uitbeeld. ’n Wenk wat my baie gehelp het, is om jou storie te herlééf en nie net te vertel nie. Sien dit soos ’n film voor jou afspeel. Die titel ‘Benoude woude’ het ’n seksuele konnotasie wat my met die eerste oogopslag laat dink het aan so ’n tipe volwasse fantasie verhaal, in stede daarvan is die verhaal van Celia een van ’n jong woud-elf wat die woude alleen en met beperkte towerkrag teen ’n magdom boosheid moet beskerm. Ek sou ’n titel met ’n meer jeugdige impak voorstel. Die verhaal van Celia is ’n werklik uitsonderlike verhaal wat met die grootste vrymoedigheid in boekvorm oorgeskryf kan word en met ’n meer gepaste titel sal dit definitief ’n groot impak op die tiener mark maak. Die skrywer gebruik maklike, leesbare sinne en duidelik verstaanbare woorde. Daar is slegs een merkbare spelreël wat die skrywer herhaaldelik oortree en dit is daardie gevreesde komma voor die woord ‘en’ (Let ook daarna op in ‘Vlugteling tot die redding’). Verder is daar hier en daar ’n punktuasie foutjie te bespeur maar oor die algemeen dui die skrywe van ‘Benoude woude’ op ’n skrywer met ’n goeie aanvoeling vir die Afrikaanse taal en natuurlik ’n wonderlike en uitsonderlike verbeeldingswêreld wat van hom ’n uitstekende fantasie skrywer maak.

9.  Voor die begin se einde – © Madeleine Venter (Volwasse Fantasie)

Die hoof idee agter ‘Voor die begin se einde’ se storie blyk ’n jong man se emosionele stryd tussen kind- en volwassenheid te wees; op daardie kritieke tydperk tussen die twee wêrelde in enige een van ons se lewens waar jy wonder wie jy is en waar jy nou eintlik inpas. Wat my die meeste aangetrek het, was die manier hoe die skrywer die verhaal laat klink asof die jong man van plan is om selfmoord te pleeg; en dan op die laaste uiteensit hoe hy, in pleks van die tou om sy nek sit, ’n stok uit die belt van sy broek haal en ’n akrobatiese swaai maak om daardie stukkie kindwees net nog een laaste keer weer te herleef. ‘Voor die begin se einde’ is ’n verhaal wat werklik tot diep in my siel weerklank gevind het. Behalwe ’n paar punktuasie punte op verkeerde plekke kon ek verder geen fout vind nie. Die karakters bly deurgaans dinamies en die storielyn vloei glad. Dit was ’n uitstekende idee om die boom ’n lewende karakter te maak om die ‘vertelling’ te doen en hoewel ‘Voor die begin se einde’ na my mening nie werklik ’n fantasie verhaal genoem kan word nie het die skrywer daarvan ’n gesonde verbeelding en kan haar werk as waarlik uitsonderlik beskryf word. Die skrywer se sinsverband en taal verwerking is ook besonders goed en laat my vermoed dat sy reeds redelik gevestig is in die wêreld van skryf en redigeer.

12.  Soektog na die laaste Sihuffs – © Johan van Wyk (Volwasse Fantasie)

Hierdie was nou ’n verrassende, slim uitgedinkte stukkie werk! Maar ongelukkig een wat, sou ek nie die verhaal deur moes lees om ’n verslag op te stel nie, binne die eerste twee bladsye opsy geskuif sou word. Ek wil voorstel (tussen hakkies natuurlik want dit sal van die skrywer afhang of hy my raad wil volg of nie) dat hy die verhaal met ’n inleidings-paragraaf of kort voorwoord begin waar ’n groepie van oom Hendrik se feetjies iemand aanval. Hierdie voorstel doen ek om twee redes. Eerstens om oom Hendrik se vertelling dat die feetjies gevaarlik is te staaf en tweedens om die leser daarop attent te maak dat die verhaal oor meer as ’n baie lang – en nie heeltemal oortuigend logiese – gesprek in ’n sielkundige se spreekkamer gaan. Die skrywer se gebruik van die Wilhelm Diergaardt karakter is uitstekend, met die perfekte uitbeelding van sintuiglike oordrag en persoonlike eienskappe om die karakter deurentyd dinamies te hou. Die Dr. Kotze karakter, daarenteen, kom te staties voor, asof die skrywer die karakter se reaksies teenoor Wilhelm Diergaardt se verhaal nie heeltemal deurdink het nie. Sou Dr. Kotze, met dié dat hy Abigon die laaste Sihuffs is, nie al waar Wilhelm noem dat hy in feetjies glo, begin onraad merk het oor waarom Wilhelm juis na hom toe gekom het nie? Waarom doen, sê, of reageer hy nie méér daarop nie? (Meer dramatisering is altyd goed) Buiten die twee enkele woorde, jaart (Engels en volgens my nie heeltemal in konteks met Wilhelm Diergaardt se taalgebruik in die verhaal nie) en onverdraagbaar (wat volgens die HAT nie ’n bestaande woord is nie) het die skrywer ’n taal- en sin afgerondheid wat gewoonlik by meer gesoute skrywers voorkom. Ek hou veral van sy beskrywings van die feetjies se voorkoms en alles wat Wilhelm in Dr. Kotze se spreekkamer opmerk. Ek kon dit visueel voorstel en op sigself spreek hierdie vermoë van Johan van Wyk van ’n skrywer wat in staat is om sy lesers weg te voer na ’n wonderlike verbeeldingswêreld. Ten slotte wil en net weer noem dat Johan van Wyk se ‘Soektog na die laaste Sihuffs’ ’n uitstekende verhaal met ’n verrassende kinkel is wat op die einde die gevoel by my agtergelaat het dat ek reg in die middel van ’n Men in Black vs Van Helsing film beland het. Knap gedaan.

16.  Die Spel – © Cara Engelbrecht (Volwasse Fantasie)

‘Die spel’ sou ’n goeie, selfs wenverhaal kon wees as die skrywer die storie net meer volledig geskryf het. Elke verhaal moet ’n begin, ’n middel en ’n einde hê. ‘Die spel’ het geen einde nie, net vrae wat die leser met ’n gefrustreerde gevoel agterlaat dat daar méér moes wees. Uit die verhaal kon ek aflei dat die paartjie deur ’n weerwolf aangeval is en dat Kolonel Viljee se suster ’n weerwolf is, maar volgens die suster se woorde het die Kolonel self sy herkoms verwerp. Sou die suster die moorde pleeg as weerwraak teen die kolonel? Of was dit die kolonel self wat dalk nie sy herkoms so finaal kon verwerp as wat hy gedink het nie? ’n Geheimsinnige begin en/of middel is altyd ’n wenresep maar as leser wil jy weet presies hoe die verhaal eindig. Behalwe in die geval van konstabel Jaffie (wie se optrede, opmerkings en gesprek met kolonel Viljee effens onlogies geklink het en nie heeltemal ooreenstem met die tipe posisie wat hy beklee nie) is ek baie beïndruk deur die skrywer se verbeeldingryke gebruik van die res van haar karakters. Ek kon agterkom dat Theuns en Sandra ’n paartjie is wat mekaar se gewoontes nog moet gewoond raak en alhoewel ek meer sou wou lees oor die donker kant van die kolonel se persoonlikheid sowel as sy reaksie by die moordtoneel (vermoed hy iets?) kon ek wel agterkom dat hy nie ’n maklike mens is om oor die weg mee te kom nie. Wat ek ’n groot tekort aan gevind het, was die geheimsinnigheid van- en agter die doel van die kolonel se suster se besoek. Was sy daar vir vergelding? Om die kolonel te keer? Die skrywer het ’n goeie sin vir die taalkundige aspekte van verhale skryf. Haar sinsverband en taalgebruik en -afronding is uitstekend en die storielyn (inleiding en middel) vloei gemaklik. Soos ek reeds genoem het, sou ‘Die Spel’ – indien dit ’n meer volledige einde gehad het – beslis ’n wenverhaal kon wees.

18.  Viktorion 14C: Planeet van die marionette – © Ilse Goschus (Jeugfantasie)

Net soos met haar vorige inskrywing het die skrywer van ‘Viktorion 14C: Planeet van die marionette’ ’n uitsonderlike verhaal om te vertel, maar weereens bly sy deurentyd na soveel verskillende idees gelyk gryp dat ek, as leser, geen kruis of munt kon uitmaak wat die hoof idee van die verhaal veronderstel is om te wees nie. Dit wil voorkom asof die skrywer twee verskillende idees geneem het en saam probeer gooi het om een storie te maak. Hier bedoel ek dat die konsepte van ‘red die planeet’ nie ooreenstemmend is met Gabryella se stryd teen die bose heks, of haar (gesplete persoonlikheid?) nie. Kortom, ek verstaan nie waaroor die storie ágter die storie handel nie. Selfs na die vyfde maal se deurlees kon ek nog nie die konneksie tussen Gabryella se stryd met die bose heks Dumasile en die bestaan van die planeet Viktorion 14C vind nie – tensy die skrywer daarop sinspeel dat die planeet aarde vinnig daarop afstuur om in ’n soortgelyke vuurbol van die planeet Viktorion14C te ontaard en dat Dumasile as ’n boodskapper verskyn om die boosheid van die mensdom uit te beeld? Meer as een keer tydens die verhaal gebruik die skrywer die woorde: Wat is, was en sal wees. Ek kry die gevoel dat daardie sinnetjie iets belangriks vir die skrywer beteken en dat sy dit noem met die doel om ’n boodskap aan haar lesers te bring, maar in die proses van te veel verskillende idees tegelyk weergee het daardie boodskappie sy impak en betekenis heeltemal verloor. Verder kon ek geen fout vind in die skrywer se gebruik van haar karakters en –eienskappe in beide die karakters van Gabryella en Dumasile nie. Die karakter van Yengwayo kon ek nie heeltemal plaas nie. Daar is ’n hele paar spel- en taalfoute in ‘Viktorion 14C: Planeet van die marionette’ te bespeur; asook sinsverbande wat nie in konteks is nie en beskrywende woorde wat sommige sinne onverstaanbaar laat klink. In my vorige verslag het ek genoem dat hierdie ’n skrywer met geweldig baie potensiaal is. Ek bedoel dit. Sy het ’n verbeeldingswêreld gelykstaande aan groot meesters en met die regte leiding en ’n skryfkursus of twee sal sy wêrelde kan verskuif.

19.  In die kol-lê: Die staatsgreep – © Ilse Goschus (Volwasse Fantasie)

Ilse Goschus blyk ’n jong skrywer te wees met net die regte verbeeldingsvlugte om ’n goeie skrywer te word maar ongelukkig met nie ’n idee hoe om ’n storie aanmekaar te sit nie. “In die kol lê die staatsgreep” het nie die kortlys gemaak nie maar ek voel tog dat ek haar van raad wil voorsien (indien sy sou belangstel natuurlik.) Die kortverhale is volgens die volgende kriteria beoordeel:

  1. Titel en Hoof idee van die verhaal: Is die titel sterk genoeg om die verhaal behoorlik te verteenwoordig? Kan jy as leser identifiseer met die hoof idee wat die skrywer probeer oordra? – Hier bedoel ek dat ek nie kruis of munt kon uitmaak of ‘In die kol lê die staatsgreep’ bedoel is om ’n politieke-, kultuur-, of dierebeskerming inslag te moet hê nie.
  2. Literêre elemente: a. Karakters: Is jou karakters dinamies (veranderbaar/in beweging) of is hulle staties (onveranderbaar/vas/vervelig) d.w.s gebruik jy jou 5 sintuie, bewegings, liggaamshoudings, karaktertrekke, ens. om jou karakters lewe te gee en om hulle te laat reageer op sekere gebeure wat hulle raak. – Dit help jou lesers om jou karakters beter te verstaan en om te verstaan waarom hulle op sekere maniere in sekere situasies optree.b. Verbeeldingswêreld: En hierby wil ek agtergrond insluit. Skep jy goeie agtergrond inligting? Beskryf jy jou omgewing en die gebeure in jou verhaal op so ’n manier dat jy jou leser daarheen neem? Gebruik jy elemente soos tyd, seisoene, weer of enige ander agtergrond wat ’n rol in die bedoeling van die verhaal kan speel? Beskryf jy die voorkoms van jou karakters op so ’n verbeeldingryke manier dat jou leser kan ‘sien’ hoe die karakters (hetsy man of dier of monster) in jou verhaal lyk?c. Storielyn: Is jou verhaal logies? Selfs in die fantasie genre, of dit nou diere of feetjies of selfs monsters is wat praat en optree, moet jou verhaal logies klink en sin maak as jy weet wat ek bedoel. Hoe het dit gekom dat sekere mense, monsters of diere in sekere omstandighede op sekere plekke is? Is jou verhaal gebeurtenisryk – hou dit die aandag? Vloei jou storielyn glad of is sekere van jou inligting en beskrywings te uitgerek en belemmer dit die vloei van jou verhaal? Selfs ek, wat al ’n paar boeke geskryf het, is nou die dag nog daarop gewys dat party van my tonele die vloei van my verhaal belemmer.
  3. Taalgebruik en spelreëls: Daar is so baie reëls, wat ek kan sien die skrywer reeds mee vertroud is, dat ek hier net een of twee noem wat ek in die verhaal opgemerk het.
    • Wanneer jy dialoog skryf, skryf slegs in ’n nuwe reëltjie wanneer ’n ander karakter praat. As dit nog dieselfde karakter is wat die vorige praatwerk gedoen het, skryf jy dit in dieselfde reël.
    • Baie belangrik! Beperk jou beskrywende woorde. Ek verwys veral na die gedeelte waar die Sotho-man vir Dirk vertel van die Doberman wat gebyt is. Dit klink nie logies dat die man vir die hond se eienaar sal vertel dat die bytmerke vars op die dier se blink, swart en bruin opreggeteelde Doberman-lyf gelê het nie. Sou jy nou daardie selfde sinnetjie net in ’n ander konteks, wat nie direkte gesprek is nie, iewers anders in die verhaal skryf dan sou dit sin maak en boonop belangrike inligting weergegee het. Dus wil ek net weer beklemtoon dat die oormatige gebruik van hoë- en beskrywende woorde die vloei van die verhaal strem en boonop die storie verlore laat gaan.
    • En natuurlik is daar altyd die gevreesde leestekens! Daar is ’n hele paar leestekens in die verhaal wat is waar dit nie hoort nie.

Ek hoop van harte dat hierdie verslag van nut vir die skrywer kan wees. Hier wil ek ook net noem dat hierdie skrywer asseblief nie moet ophou skryf nie. Sy het waarlik potensiaal en met die regte hulp en korrekte opleiding kan daar nog vele wonderlike stories uit haar pen kom.

Thompson Boekdrukkery - Advertensie Banier

  • Name

    Ek hoop dat ons die verhaal verder sal kan volg.

  • Chantal

    Baie goeie inligting van die skrywers. Ek sal dit beslis volg. Dankie vir die kosbare inligting.