BELOOFDE LAND – Nadine de Waal

BELOOFDE LAND – 2014 © Nadine de Waal

JEUG WETENSKAPFIKSIE (2 080 woorde)

 

Ek wil dit net nooit, ooit sien nie. Dink ek terwyl ek my skoene vasmaak. Die morele verval het ons land van dit wat oor was na die vuurknal wees gelaat. Huise en winkels is geplunder, mense vermoor… verbrand. Lukas. Dink ek weer en voel my keel toeswel en my oë verdrink. Die wreedheid van die verligtes is onmenslik.

Ons tente staan tydelik, eenkant onder van die enigste Jakarandabome wat oorgebly het na die rooi maan van 2015. Die Apiesrivier vloei weer vir die eerste keer in vyftien jaar, maar die water het gesterf; dit is swart met opdrifsels van besoedeling soos die donkerwater in my drome. Niemand wil naby die water gaan nie. Hier en daar is nog straatname maar geen strate nie. En die diere is weg. Selfs die dieretuin is leeg en die hokke word nou vir staatseksperimente gebruik.

Een keer ʼn maand word rantsoene verkwansel. Dan staan die tengers in rye volgens hulle plate en wag vir medisyne, meel, seep, water en soms sout. Stamsel ente teen enige iets van fisiese afwykings en beserings tot die vrot word soms uitgedeel om ons te terg, maar vandag het hulle nie voorraad nie en my suster het dit nodig. Die vrot is iets wat die verligtes gekweek het na die vuurknal. As jou selle swak is kry jy die vrot, ʼn aansteeklike siekte wat in een van die dieretuin se labratoriums gekweek word om die totstandkoming van ʼn swakker ras uit te faseer. As jy gestremd is staan jy geen kans nie, behalwe as jy ʼn ent in die hande kan kry. As jy die vrot ook het, word jou lewe eintlik maar net vir ʼn paar weke verleng want die vrot is terminaal. My suster is gestremd. Blind. Sy kan bykans niks sien nie, maar hulle weet dit nie want sy dra ʼn donkerbril en het nou al so goed geleer om met haar ander sintuie oor die weg te kom. Geen ent was nog ooit die moeite werd om haar geheim weg te gee nie. Maar vandag is dit ʼn kwessie van lewe en dood.

Ek is ʼn tenger. Oor drie weke is ek mondig, dan moet ek op iemand anders of een of ander afskuwelike sonde staat maak om te oorleef. My sussie het nie drie weke nie. Sy kort ʼn ent. Jy kan wanneer jy mondig is, jou siel aan die verligtes verkoop vir ʼn ent of ʼn beter lewe. Want dan is jy te oud. Die regering sorg nie vir verswakte selle nie. Jy tree af. Skoktaktiek. Niemand val meer daarvoor nie.

Alles het gebeur soos dit reeds in 1926 voorspel is; na die vierde rooimaan van 2015 het die sterre begin val. My pa het vir die WNNR gewerk en hy het lank voor die tyd reeds geweet wat kom. Hy het ons Machadodorp toe geneem en op ʼn plaas tussen die Skurweberge in ʼn grot gaan bêre totdat hy seker was als is oor. Niemand kon ons voorberei op wat sou gebeur nie. Dit was soos ʼn weervergelding van God vir alles wat ons mense verkeerd gedoen het en gedink het ons doen reg. Ons het nie geweet presies wanneer dit sou gebeur nie en ons was nog klein, ek was ses en my sussie toe skaars vier jaar oud. Ons het vir ʼn week lank geskuil, toe ons ʼn helder lig in die middel van die nag sien. Dit was asof die son weer opgekom het. My ma het uitgegaan om te kyk en my nuuskierige sibbe het haar agterna gesit en soos motte na ʼn seker einde, lig gaan soek. Ek was nie so braaf nie. Die straallig het helderder geword en toe was daar ʼn blits en oorverdowende slag asof ʼn bom reg langs my ontplof. Net ek en my sussie het oorleef, sy was naby genoeg aan die grot, maar die hitte het ʼn deel van haar gesig en retinas verskroei.

“Ek wil Israel toe.” het hy uit die bloute gesê.

“Vir wat?” het ek gevra sonder om te weet dat dit ons laaste gesprek sou wees.

“Om te loop waar Jesus geloop het, Katrientjie. Oor dieselfde klippe en grond. Oor heilige grond.”

“Jy maak my bang.”

“Moenie bang wees nie. Kom saam met my.”

“Ek kan nooit vir Liesbet los nie, Lukas…” het ek gesê voor ons laaste soen onder die groot populierbos.

Hy het my probeer stil maak deur die trane, vir my vertel ek is wonderlik en al wat goed is in ʼn see van sleg. En toe is hy weg.

Ek het Lukas ontmoet toe ek skaars sestien was. Hy het van die Kaap afgekom, nadat die aardbewings ʼn stuk van die punt van Afrika afgebreek het en voordat hulle die grensdrade opgesit het. Sy hele familie was weg. Hy was ʼn regte boerseun met ʼn hart van goud. Hy het my voete onder my uitgeslaan. Ons was altyd saam. Ek, Lukas en Liesbet. Maar ek kon nie vir hom gee wat hy wou hê nie. Sy geloof was te sterk en hy wou nie meer deel wees van die skouspel nie. Hy het geglo dat ons herenig sou word. Dat God ons almal daar wou hê. Maar vir my was God nog ʼn klein bietjie soos die Paashaas of Sinterklaas. ʼn Mooi storie. Dis al.

Nadat daar bykans niks van ons land oor was nie het hulle toegesak soos ʼn swerm roofvoëls wat bloed geruik het. Dit was ongelooflik goed beplan, asof hulle vir jare voordat alles gebeur het reeds geld begin weg sit het en planne begin beraam het, vir D-dag. Die verligtes het bestaan uit baie beroemde mense. Belangrike mense uit Amerika en Europa. Handelsmerkname. En aan die hoof, die president van die Verenigde nasies. Hulle het vir ons myne gekom, nes die Britte van ouds vir ons goud. Die mikroskyfies het soos rou ryskorreltjies gelyk met ʼn serienommer opgedruk en is in ons polse ingespuit. Dit is waar ons vir die eerste keer in rye begin staan het. Kompleet soos ʼn lot koshuisbrakke. ʼn Ryskorreltjie in ruil vir vyftig Euro, maar al wat jy met jou vyftig Euro kon koop was vleis een keer ʼn maand wanneer hulle die rantsoene kom aflaai het. Dan moes jy in die donker al staan en wag om heel voor te kon wees. Aan die begin was ons baie en het dit het ʼn vreeslike bakleiery tot stand gebring. Hulle het geweet dit sou werk. ʼn Onbegonne taak. En net so het ons, of ons nou wou of nie aan die verligtes behoort.

Lukas was een van die eerstes wat sy siel verkoop het. Perkamente is uitgedeel, gelowiges as skynheilig uitgekryt. Een geldeenheid. Een geloof. Die Verligtes. Die plakkate was helder en mooi, soos rolprentplakkate en het aanloklik gelyk. See, son, ʼn babette se fees. En lig; alles net so ongelooflik helder. Lukas het seker gedink as hy kon gaan, sou hy dit aan God kon verduidelik. Ek het verstaan; hy kon nie meer nie. As dit nie vir Liesbet was nie…

Dit was ʼn grou dag in Junie, toe ons gaan soek het vir konyne en sorghum by die proefplaas. Ek weet nie wat moeiliker is om te vergeet nie; die stank of die hoop bekende mense, wat met hulle hol oë na ons gelê en staar het. Dood. Grys. Verkool. Die ergste was die vier-jarige krulkoppie waarna ek altyd gestaar het terwyl sy saam met haar boetie klippieskool speel. Lyfie opgekrul. Net aan haar stukkie geel blom-rokkie herken. Haar ma het hulle albei se siele verkoop. Sy kon kies. En sy het. Dit was die verkeerde besluit. Daarna het niemand hulle siele verkoop nie, behalwe die wat in weerwil van die swaarkry, dit gedoen het om hulleself te verlos. Ek het ʼn bekende paar skoene langs die hoop sien lê en moes nader gaan om te kyk. Lukas. Hy was daar, onder die hele hoop mense. Ek was seker en my hart was rou. Ek het net begin hardloop. So vinnig en so ver as wat die grensdrade om Pretoria my wou toelaat. Maar die seinvuurpeil is afgevuur en ek is deur ʼn groep soldate gevang, gemartel en na drie dae eers terug gebring. Net daarna het Liesbet die vrot gekry. Hulle moes haar gesien het terwyl ek weg was en sy nie vir haarself kon skerm nie.

Ek druk deur die massas toe die VN trok tot stilstand kom. Niemand het meer maniere nie. Dit verval saam met jou laaste bietjie waardigheid. Ek is al pimpel en pers gestamp vir meel en skoon water. Die VN mense met hulle wit oorpakke gooi rantsoene in groot meelsakke voor elke plaat uit. Daar is vier plate; Hoopvol, Prikkelbaar, Melancholies en Nugter. Spesiaal deur Helen Harbor, die bekende Amerikaanse aktrise en humanitêre uitgedink en gebasseer op die vier persoonlikhede. Net iemand met baie geld en baie tyd sal so iets uitdink want ons was nie enige van daardie vier plate nie. Hulle kon nie eers in ons basiese fisiologiese behoeftes voorsien nie. Ons was hopeloos.

Oral staan soldate met gewere, gereed om enige teenstaander of dief teregtestel. My oë soek dringend na hoop vir my sussie, maar daar is geen stemsel entstof vandag nie. Entstof kom in kratte saam met water. Ek voel hoe my moed saam met my bloed uit my liggaam dreineer. Ek wil, wil omval en probeer regop staan. Flouval is uit, hulle gee jou sumier die vrot, net vir ingeval jy swanger is want dit word glad nie geduld nie. Maar ek kan dit nie hou nie en voel hoe ek warm en als om my swart raak.

Piep. Piep. Hoor ek en maak my oë stadig oop. ʼn Helder lig verblind my, maar ʼn groep skaduwees verskyn buite my sentrum van blik. Ek is dood. Dink ek.

“Katrien?” hoor ek iemand in die verte vra en sien ʼn liggie verby my kop flits. Ek voel my liggaam, swaar op iets koud en klinies lê. Ek probeer sluk maar my mond is kurkdroog. Die reuk van ontsmettingsmiddel hang oral om my.

“Katrien… Katrientjie…” hoor ek weer sag en besef dat ek die stem ken.

Lukas?

Ek probeer om te praat maar ek kan nie. “Sy’s wakker!” hoor ek hom roep.

My kop is seer. Besef ek meteens. En ek is verskriklik naar. My pols klop van die pyn en ek probeer my hand oplig, maar ek kan nie.

“Waar’s ek?” kry ek uiteindelik gevra.

“Jy het jou kop hard gestamp…”

“Lukas?”

“Ja. Ek is hier.” sê hy en ek voel my hart vinniger klop, voor sy stem weer skielik verdwyn.

“Waar is ek?” vra ek weer.

“Katrien, ek is dokter du Randt.” hoor ek die gryskop figuur oor my sê.

“Du Randt?” vra ek verbaas. Daar bestaan nie meer Suid Afrikaanse dokters nie.

“Ek is deel van die Suiderkruis. Jy is veilig hier. Ons is in ʼn tydelike kliniek onder die Universiteitsoord kerk. Ons is ʼn nie-winsgewende organisasie wat so vyf jaar terug tot stand gekom het, om ons mense te verskuif. Ons het jou gesedeer en die mikroskyfie uit jou pols verwyder…”

“Maar die verligtes…” sê-vra ek nog deurmekaar.

“Lukas, sal later alles vir jou mooi verduidelik. Ek moet nou eers seker maak jy is sterk genoeg om te vlieg…”

“Vlieg? Nee! Nee! Ek kan nie.” protesteer ek terwyl hy die koue stetoskoop teen my bors vas druk. “My sussie…”

“Ek is hier.” hoor ek haar stem en voel hoe my liggaam meteens ontspan. “Die verligtes is besig met ʼn etniese suiwering, Katrien. Dokter du Randt het vir my ʼn entstof gekry, maar ons moet Israel toe. Ons tyd raak min.

Ek voel hoe die trane oor my wange rol terwyl mense in groen pakke my lam liggaam een, twee, drie en toe oplig en skuif. Ek voel hoe die tweede koue bed waarop ek lê voorentoe rol. Die buisligte bo my kop flikker en ek verloor stuk, stuk weer my bewussyn. Ek sien een van die figure voor my ʼn deur weg skuif en dan die allerhelderste lig wat my heeltemal verblind en die geraas en wind van ʼn helikopter wat regmaak om op te styg. ʼn Warm hand druk myne hard en ek hoor ʼn stem langs my praat.

“Hy het my genees, Katrien…”

“Ek weet.” probeer ek oor die geraas van die helikopter skreeu maar my stem is dof en my liggaam te swak. Ek druk met alles wat ek het weer Liesbet se hand.

Ek weet nou, oppad na die beloofde land.

DIE EINDE

  • Karen

    Ek is trots om te sê dat hierdie talentvolle skrywer MY vriendin is! Briljante storie, so oorspronklik, ek soek nog nog nog!! K. x

  • Rita

    So baie talent! Stem saam met Kook Kombuis. Sy is oppad na groot sukses!

  • Joe

    Baie, baie goed. So baie harde werk het hier in gegaan. Hou so aan.

  • Chantal

    Jy gaan nog baie ver kom met jou skryfwerk! Skryf meer van die soort kortverhale en kyk of jy dit nie by ‘n christlike uitgewer kan publiseer nie.