BENOUDE WOUDE – Jacques Ferreira

BENOUDE WOUDE – 2014 © Jacques Ferreira

VOLWASSE Fantasie (3 559 woorde)

 

Celia voel trots op haarself. Sy het sopas ʼn takke-brug van een boom tot by die volgende een gebou – sonder om self aan ʼn tak te vat.

As ʼn woud-elf het sy alleen saam met haar ma Aldina in die donker woud groot geword. Meeste mense vermy die woud, want hulle is bang vir dinge wat daar gebeur – al is die meeste sommer net stories. Haar ma is ʼn meester in natuur towerkunste, en het vir haar alles geleer wat sy ken. Sy ken die woud so goed soos die palm van haar hand.

Haar nuutste toorkuns, is om net deur die grond aan ʼn boom of direk aan ʼn boom te raak, en dan vir die boom te vertel wat om te doen: om sy takke te buig; om baie of min te groei; om blomme of blare te laat verskyn of af te skud. En sopas het sy twee bome laat “hande vat” – hulle takke inmekaar laat verstrengel sodat sy gemaklik van die een boom tot by die volgende een kan loop op haar takke-brug.

“Goed gedoen,” sê Aldina hier agter haar. “Nou probeer om drie bome gelyk te doen.”
Celia knik, sak af, sit haar hande op die grond en begin konsentreer. Stadig begin ʼn paar van die bome se takke te beweeg. Kort voor lank het sy dit suksesvol reggekry. Hulle hou so aan totdat Celia dit regkry om 10 bome gelyk te hanteer. Toe moet sy hulle almal se takke weer losmaak. Hulle sal die volgende dag dieselfde weer doen, totdat sy dit binne ʼn paar sekondes kan doen.

Op daardie oomblik kom daar ʼn eekhoring aangehardloop. Van die kunste wat Aldina en Celia bemeester het, is om met die diere van die bos te kan gesels.

“Aldina! Aldina!” roep die verskrikte eekhoring.

Aldina draai vinnig na die eekhoring wat sommer reguit in haar arms in spring. “Wat is fout?” vra sy besorg.

“Ek weet nie wat dit is nie, maar iets is nie lekker daar by die waterval nie.”

“Watter waterval?”

“Die een by die bok-rantjie,” antwoord die eekhoring bewerig.

“Hoekom? Wat het gebeur?” vra Aldina terwyl sy in die rigting van die waterval begin beweeg. Sy beduie vir Celia om hulle te volg – nie dat sy enige aanmoediging nodig het nie. Nes haar ma, het sy ook ʼn liefde en besorgdheid vir die bos en die diere.

“Ek en my boeties was nog besig om te speel tussen die bome langs die waterval, toe… toe…” Die eekhoring se stem beween hy kry weer trane in sy oë.

“Kalmeer en vertel my maar,” moedig Aldina hom aan.

“Toe… Toe begin die bome om ons aan te val,” gaan die eekhoring snikkend voort. “Van die takke het van my boeties vasgegryp en teen mekaar of teen die grond gegooi. Ek het net begin hardloop voordat een van die takke my ook dalk gryp.”

“Ons sal gaan kyk,” belowe Aldina. “Gaan solank na die ander eekhorings by die bos-dam. Ons sal jou laat roep sodra alles weer reg is.”

Die eekhoring knik, en met ʼn paar spronge is hy daar weg.

“Dit klink nie goed nie,” sê Celia. “Wat kan dit wees?”

“Jy is reg, dit klink nie goed nie,” beaam Aldina. “Ek weet nie wat dit kan wees nie, maar kom ons gaan kyk. Wees net op jou hoede.”

Hulle draf-stap vinnig voort in die rigting van die waterval.

Daar gekom, hoef hulle nie ver te soek om die oorsaak van die onrus te vind nie. So ʼn paar meter van die water af, is daar ʼn paar bome wat verwoed hulle takke staan en rondswaai. Aldina beduie dadelik vir Celia om te stop terwyl sy self stadig vorentoe loop. Celia kan net sien dat Aldina besig is met een-of-ander towery, maar sy kan nie uitmaak wat nie.

Na ʼn paar oomblikke draai Aldina om en wink vir Celia om nader te kom. “Dit lyk of die moeilikheid beperk is tot hierdie klein kol. Dit is sommer die ideale geleentheid om vir jou nog iets te leer.”

“Wat?” vra Celia opgewonde. Sy is altyd opgewonde en angstig om meer en meer te leer.

“Ek sal jou net die ‘Bepaal Aura’ leer. Dit sal jou in staat stel om te bepaal watse aura ʼn spesifieke area – of persoon – het. Ek weet nou die een hier voor ons is sleg, en die bome hier agter ons is normaal. Kom ons begin eers met die bome hier agter.”

Vir die volgende uur is hulle besig, totdat albei gerus voel dat Celia dit ken.

“Nou gaan ek die slegte aura verwoes. Jy kan kyk wat ek doen, en ek sal deur die hele proses verduidelik wat ek doen, maar ek sal dit later vir jou leer. Dis bietjie gevaarlik.”

Celia knik net, en kyk en luister dan aandagtig wat Aldina doen. Aldina stap versigtig nader tot teen die rand van die slegte aura, en die slag gebruik sy haar staf wat in haar hand is. Hoe langer sy aanhou, hoe meer kan Celia sien hoe die slegte aura verdwyn, totdat dit later heeltemal weg is. Toe Aldina sug en omdraai, vra Celia dadelik: “Kan ek weer die ‘Bepaal Aura’ gebruik om seker te maak dis weg?”

Aldina glimlag net en knik, waarop Celia dadelik voortgaan. Sy soek en voel orals, maar alles lyk nou weer normaal. “Wanneer kan ek ook ʼn staf kry?” vra sy. “En waarvoor gebruik jy dit alles?”

“Ek was van plan om binne die volgende maand iewers met dit te begin,” antwoord Aldina. “Jy het nou een maal gesien hoe ek dit gebruik. Daar is baie ander dinge waarvoor mens dit kan gebruik; vir eintlik enige iets. Die staf help net om jou towery baie sterker te maak. Baie keer het mens die ekstra krag nodig. Ek het dit nie regtig nou nodig gehad nie, maar ek vat nie onnodig kanse met slegte invloede soos hierdie nie.” Sy beduie na die area wat sy skoongemaak het. “Maar ek nou werk om te doen. Ek moet uitvind waar hierdie ding vandaan kom. Sal jy asb. die arme eekhorinkies en die ander diere laat weet dat alles nou weer veilig is?”

Celia knik en draf dadelik daar weg om die boodskap oor te dra.

* * *

Drie weke later het Celia haar eie staf, en al is dit heelwat kleiner en swakker as Aldina s’n is sy baie opgewonde oor dit. Aldina het haar alreeds ʼn paar dinge geleer oor hoe die staf werk, en Celia het dit verbasend maklik gevind. Ongelukkig as daar intussen ook al baie plekke waar ʼn slegte aura opgeduik het, en dan moes Aldina dit skoonmaak. Daar was selfs geleenthede waar van die diere ʼn slegte aura gekry het. Aldina het juis die vorige dag vir Celia kans gegee om ʼn slegte aura skoon te maak. Dit maak albei van hulle ongelukkig om hierdie slegte kolle te sien, en wat hulle die meeste bekommer, is die feit dat dit al hoe meer en al hoe groter raak.

“Ons moet uitvind waar hierdie gemors vandaan kom,” sê Aldina vir die hoeveelste keer. Elke oomblik wat sy kry probeer sy uitvind waar dit vandaan kom, maar tot dusver het sy nog geen sukses gehad nie. “Dit raak nou net een maal te erg.”

“Ja, ek stem saam. Dit het my gehelp om baie goed te leer wat ek dalk nie andersins sou kon leer nie, maar ek háát dit om die diere en bome en blomme en goed so siek te sien.”
“Ek dink ons moet vir eers ophou met jou lesse, en al ons tyd en energie gebruik om uit te vind waar dit vandaan kom. Wat dink jy?” vra Aldina.

“Ek dink dis ʼn goeie idee,” stem Celia in. “Ons kry eers die vuilgoed, en dan kan ons weer aangaan. Maar hoe doen mens dit?”

“Maak dit dan die laaste les, totdat ons die oorsprong hiervan gekry het.” Celia knik, en Aldina gaan aan. “Elke keer as daar enige towery was, dan is daar ʼn dowwe… ek wil amper sê aura, maar dis nie heeltemal dit nie. Dis soos ʼn dowwe mistigheid wat agterbly, en vir ʼn paar oomblikke agter die oorsprong aan fladder. Dit dui vir jou die rigting aan wat die persoon beweeg het. As dit groot en sterk towery was, dan bly die – noem dit dan nou mistigheid – langer en sterker. Die auras die laaste paar dae is sterker, maar die mistigheid verdwyn nog steeds te vinnig.”

“Ek het ʼn idee,” sê Celia. “Kom ons kry ʼn kaart van die woud, en dan dui ons al die plekke aan waar die auras was. Dan probeer ons sover moontlik aandui in watter rigting die… mistigheid… beweeg. Al die punte behoort ons dalk ʼn idee te gee of dit na een plek toe wys.”

“Dis ʼn briljante idee! Hoekom het ek nie daaraan gedink nie?”

Hulle wil net na hulle hut toe beweeg, toe daar ʼn verwilderde voëltjie aangevlieg kom. “Daar is weer slegte goed by Dassie-kop.”

“Dis reg, ons kom.” Aldina draai na Celia. “Ons gaan maak eers skoon, en dan gaan kry ons die kaart.”

Hulle draf vinnig in die rigting van Dassie-kop. Dis ʼn rotsagtige koppie, en meeste van die dassies van die woud woon daar. Soos hulle nader kom hoor hulle ʼn vreeslike geraas, en hulle begin wonder wat aangaan. Toe hulle binne sig kom, sien hulle hoe die dassies met mekaar baklei; nie net ʼn paar nie, maar dit lyk of omtrent almal baklei.

“Ek gaan weer my staf gebruik,” sê Aldina. “Kyk mooi wat ek doen.”

Celia kyk aandagtig na wat Aldina doen: sy hou haar staf in albei hande vas, sê ʼn paar toor-woorde, en draai toe die bokant van die staf in die rigting van die dassies. Dit lyk soos ʼn ligstraal wat uit die voorkant uitskiet en die hele Dassie-kop vir ʼn paar oomblikke verlig.
Die dassies hou dadelik op baklei en ʼn stilte daal neer.

“Jy het net ʼn gewone ‘Verdelg bose’ betowering gedoen,” sê Celia verbaas.

“Ja,” beaam Aldina. “Die staf het dit net kragtiger gemaak.” Stadig begin die twee bewus word van die gekerm van die dassies. “Ons moet seker die wonde nou heelmaak,” gaan Aldina voort.

Saam stap hulle in die rigting van die dassies en begin gesond maak.

* * *

ʼn Week later het hulle met al die inligting wat hulle het, bepaal dat die oorsprong van iewers in die noorde naby Kranskop vandaan kom. Hulle besluit om vir die volgende paar dae, met behulp van die diere, hulle oë oop te hou en te kyk of hulle enige ander mense sien. Aldina en Celia besluit om sommer vir ʼn paar dae naby Kranskop te bly, en sommer daar te slaap ook.

Maar niks het hulle voorberei vir dit wat hulle daardie aand beleef het nie!

Net nadat die son gesak het en hulle klaar geëet het, sien hulle snaakse ligte rondbeweeg. Hulle hou dit vir ʼn rukkie dop om te sien wat gebeur. Een van die ligte begin in hulle rigting beweeg. Soos dit nader kom kan hulle begin uitmaak wat dit is. Celia het dit nog nooit gesien, en fluister: “Wat is dit?”

“Dit is bose geeste,” fluister Aldina terug. “Dit verduidelik ook hoekom die diere niks genoem het van ander mense in die bos nie. Wie ook al agter alles sit, gebruik die geeste om slegte auras deur die bos te versprei.”

“Kan mens die bose gees nou al verwoes, voordat dit ʼn slegte aura veroorsaak?”

“Ja. Dis wat ek van plan was om te doen.” Aldina voeg sommer die daad by die woord, en na ʼn paar woorde, wys sy weer met haar staf na die bose gees. Hulle hoor net ʼn klein ontploffing, en toe is daar geen teken meer van die bose gees nie. Aldina knik net selfvoldaan en glimlag vir Celia.

“Kan ons nog van die ander ook verwoes?” vra Celia.

Hulle loop vinnig in die rigting van een van die ander bose geeste wat gelukkig nie te vinnig beweeg nie. Hierdie keer kry Celia ʼn kans, en na nog ʼn klein ontploffing, gee sy so ʼn paar huppel-stappies van blydskap en opgewondenheid.

Twee verwoeste bose geeste later, keer hulle terug na hulle kamp-vuur.

“Ek wonder wat is die idee agter alles,” peins Aldina.

“En wie sal dit wees?” voeg Celia by.

Hulle sit nog so en bepeins, toe hulle skielik ʼn klomp ligte opmerk – reguit op pad na hulle toe.

“Wie dit ook al is, het uitgevind wat ons doen. Ek dink ons het nou ʼn geveg op ons hande. Is jy gereed?” vra Aldina.

Celia knik net en hou haar staf stywer vas.

Toe die eerste bose geeste naby genoeg is begin Aldina-hulle met die geveg. Die eerste paar geeste verdwyn met die nou-al bekende klein ontploffings, en dinge lyk goed vir die twee elwe.

Maar toe verander dinge drasties.

Pleks dat die bose geeste tot naby Aldina-hulle kom, stop hulle ʼn entjie van die twee elwe af en versprei hulle aura. Die bome en diere in die omgewing begin met alles en almal baklei. Aldina-hulle word verplig om te wissel tussen verwoes auras en verwoes bose geeste. Hulle probeer nie eers om diere en bome gesond te maak nie, want daar is geen tyd vir dit nie.

Dit raak stadigaan al hoe erger, sodat hulle net tyd het om die slegte auras verwoes. Die bose geeste begin om hulle te omsingel, en saam met dit die slegte auras. Die bome en diere se geraas begin oorverdowend raak. Aldina en Celia begin benoud raak.

Aldina beduie vir Celia dat hulle moet begin retireer. Sy begin ʼn pad vir hulle oop te maak terwyl Celia net die naderende bose geeste probeer weghou. Stadigaan begin dinge stiller en rustiger te raak, en die twee elwe begin bietjie ontspan.

Net toe hulle dink die ergste is verby, storm daar drie bruin-bere uit die bosse uit. Hulle is duidelik oorval deur een van die slegte auras. Aldina het beswaarlik kans om om te draai. Sy swaai haar staf om die bere se aanvalle af te weer en probeer om haar toorwoorde te uiter. Die verwilderde bere gee haar egter nie kans nie, en binne oomblikke het hulle haar oorweldig en doodgemaak. Die paar sekondes is egter genoeg vir Celia om te toor, en die drie bere loop rustig weg van die grusame toneel af.

Celia hardloop tot by Aldina se liggaam in die hoop dat sy met haar genesing-towery iets kan doen, maar dis te laat. Trane rol oor haar wange en haar lyf ruk soos sy snik.
Na sowat ʼn uur se rou, staan sy op en neem Aldina se staf in haar een hand en haar eie in haar ander hand. Sy is nou baie kwaad. Wie ook al verantwoordelik was vir Aldina se dood, gaan dit berou!

Sy kyk terug in die rigting van waar hulle gekom het. Sy sien en hoor nog die rumoer van die bose geeste en auras. Sy is egter nie van plan om nou soontoe te beweeg nie. Sy soek die oorsprong.

Sy begin om die chaos te sirkel in die rigting van Kranskop. Sy ken die area goed. Sy ken die héle bos goed, want sy bly al haar hele lewe lank hier. Gelukkig is dit volmaan, en die lig van die maan maak dit maklik om te sien wat om haar aangaan. So af en toe kom sy te naby die bose sirkel, en word verplig om bome of diere te bevry van die bose towery. Sy verwoes self die enkele bose geeste wat bietjie ver van die res af rond sweef.

Uiteindelik bevind sy haarself aan die voet van Kranskop. Sy sluip tussen die bome rond, op soek na enige iets of iemand wat verdag lyk. Sy begin stadig teen die berg op te beweeg, al soekend.

Skielik stop sy. Iets is nie reg nie. Sy kan nie haar vinger op dit plaas nie, maar sy voel net dat iets is nie reg nie. Sy staan vir ʼn paar oomblikke stil en kyk om haar rond. Sy loop ʼn paar tree terug, en dan weer vorentoe. Toe tref dit haar. So ʼn entjie boontoe teen die berg, is daar iets anders aan die berg. Dis nie soos sy dit ken nie. Sy beweeg stadig nader. Toe sy by dit kom, sien sy ʼn donker grot wat nooit voorheen daar was nie.

Sy kyk om haar rond en kry die kaart van die bos in haar kop. Stadig maak sy merke in haar gedagtes van al die vorige slegte auras, asook van die aanval vroeër die aand. Ja, alles dui daarop dat die grot die oorsprong is. Sy weet nie of sy gereed is vir wie of wat ook al in die grot is nie, maar sy hoop dat die persoon binne bietjie uitgeput is van al die bose geeste wat hy moes uitstuur daardie aand.

Met ʼn laaste blik na buite, en met die 2 stawwe in haar hande, sluip Celia in die grot in.
Die grot begin met ʼn tonnel, en Celia sluip vorentoe. Die tonnel maak ʼn paar draaie, wat verduidelik hoekom hulle niks van buite af kon sien nie. ʼn Paar meter in die tonnel af, sien sy die gloed van ʼn vuur verder aan. Die gloed maak dit vir haar makliker om die pad te sien. Die tonnel eindig in ʼn groot grot, en Celia stop voor die opening en loer om die draai.
In die middel van die grot sit ʼn man met ʼn donker bruin kleed aan. Hy het ʼn swart punt-hoed op en ʼn staf soortgelyk aan Aldina s’n lê langs hom op die grond. Hy lyk uitgeput.

Celia stap uit, en die man kyk dadelik op. Hy lyk redelik oud, en kyk stip na Celia met rooierige dog skerp oë. Sy hand tas-tas rond op soek na sy staf. Celia vra niks vra nie, en sy wag nie ʼn oomblik langer nie, maar begin dadelik met toorwoorde. Sy hoor die towenaar begin ook met toorwoorde van sy eie.

Vlamme spring uit die vuur op en Celia sien tevrede hoe die towenaar se kleed aan die brand slaan. Haar glimlag kwyn egter die volgende oomblik toe sy ʼn bose gees langs die towenaar opmerk. Sy verwoes dadelik die bose gees met haar volgende toorwoorde.
Die towenaar het intussen die vlamme geblus, en albei val weer aan. Vir die volgende 10 minute lank val die twee mekaar aan met verskeie towery. Celia begin moeg raak, en sien dat die towenaar ook sukkel om te staan. Sy besluit om fisies ook te begin baklei, want sy is nog jonk en het meer energie.

Sy loop nader en begin die towenaar met haar staf te slaan. Die eerste hou tref hom in die maag en sy hoor hoe die wind uit hom uitgeslaan word. Hy steier terug en hyg na asem. Celia stap nader, maar die volgende oomblik spat haar staf uitmekaar van die towenaar se towery. Hy is dalk moeg, maar hy is nog nie kragteloos of hulpeloos nie. Celia gryp Aldina se staf in haar hande, en val weer aan. Met die volgende hou slaan sy die towenaar se voete onder hom uit en hy val met ʼn hik op die grond neer. Celia gooi weer vlamme van die vuur oor die man, en volg dit op met ʼn hou oor die kop. Die towenaar leun op sy staf en sukkel om op sy voete te kom. Celia slaan sy staf die slag onder hom uit en sien met vreugde hoe die staf wegspat en tot teen die grot se muur tot rus kom.

Die towenaar is amper op sy einde, en sy kleed is nog aan die brand. Hy sukkel uit sy kleed uit, maar Celia gee hom geen rus nie. Sy gooi ys-strale oor sy arms wat dit vir hom moeilik maak om te beweeg, en volg dit op met ʼn hou na die maag. Sy begin om al haar hartseer en woede uit te haal, en towery word opgevolg met fisiese aanvalle.

Die towenaar begin te sterf, en saam met hom begin sy magiese grot inmekaar te sak. Celia word na die werklikheid teruggeruk toe die klippe om haar begin val. Sy kyk na die towenaar, en sien dat hy basies dood is. Sy loer vinnig om haar rond om te sien waar die deur is. Sy merk die towenaar se rugsak op. Vinnig gryp sy die rugsak, asook sy staf en skarrel toe by die grot in die tonnel af na buite. Oomblikke na sy die tonnel verlaat het, val alles inmekaar.

Celia staan ʼn paar meter van waar die grot was en kyk terug. Alles lyk weer soos dit was – soos sy dit geken het. Die enigste bewys dat iets gebeur het, is Aldina en die towenaar se stawwe en die rugsak wat sy vashou. Sy draai om na die bosse ondertoe. Sy sal moet gaan orde skep daar onder, en dan sal sy eers behoorlik kan rou. Sy hoop daar is iets van nut in die towenaar se sak wat vir haar sal kan sê hoekom haar ma gesterf het.

Sy vryf die trane wat weer begin opwel het weg, en begin teen die berg af te stap. Die bose se tyd is klaar vir nou. Met ʼn swaar hart besef Celia dat sy het nou die beskermer van die woude geword.

  • Chantal

    Baie oulik!