DIE ASTRALE KRYGER – J.V. Van Wyk

DIE ASTRALE KRYGER – 2014 © J.V. Van Wyk

JEUGFantasie (3 006 woorde)

 

Ek onthou die eerste keer wat dit gebeur het. Gedink ek gaan dood. Wie kon my blameer? Hoe was ek veronderstel om te weet dat dit in werklikheid eintlik die begin was van my ware bestaan? Jy sien, ek was net soos jy, verblind in die denke dat hierdie die enigste dimensie is. Dat dit wat jy hier sien, al is waaroor jy jouself hoef te bekommer. Ek kon nie verder van die waarheid af gewees het nie.

* * *

Die dorp is altyd besig wanneer ek huis toe ry. Die skaatsplank onder my voete vibreer terwyl ek oor die teerpad rits. Ek doen ʼn Wip-wap toertjie en land dit amper perfek. Dit was nogal ʼn spanningsvolle dag by die skool. Ek probeer ʼn manier uitdink sodat dinge goed gaan afloop. Die rapport in my rugsak lyk nie te waffers nie en ek probeer moed bymekaar skraap om dit vir my pa te gee. Walter Van Biljon is ʼn groot man, maar hy sal my nie slaan of seermaak nie. Ek wil hom regtig net nie teleurstel nie. Wanneer hy omgekrap is het hy so ʼn vreemde, verlangse kyk in sy oë. Niemand hou daarvan om hom so te sien nie.

Later daardie middag toe my pa by die huis kom, het my senuwees reeds effe bedaar. Ek hoor sy gehamer in die agterplaas en ek stap daarheen. Hy is besig om ʼn klein hout skuur te bou. Die ou een het verlede naweek weens ouderdom in mekaar gestort.

“Hallo daar Seun, hoe was jou dag?” Sê hy en gebruik sy mou om die sweet van sy voorkop af te vee. Sy yslike hande slaan om my en gee ʼn stywe druk.

“Seker nie te sleg nie.” Sê ek en gaan sit op een van die tuinstoele. My hande voel sweterig. Nou of nooit nie.

“Wat is daai in jou hand?” Hy hou sy hand in afwagting uit.

“Ag, dis my rapport.” Ek handig die stuk papier onwillig oor. Hy bestudeer dit vir wat soos ʼn ewigheid voel. Sy gesig verklap niks.

“Stefan, graad agt is nie so maklik soos laerskool nie.” Sy gesig nog steeds emosieloos.

“Jy moet beter as die rapport kan doen, Seun.” Dan verander sy gesig na daardie hartseer staar toe. Ai tog, ek haat dit.

“Ek besef dit Pa, en ja, volgende kwartaal sal ek beslis harder werk.” Hy gee die rapport vir my terug.

“Gaan in en doen jou huiswerk. Ons sal later weer hieroor gesels.” Hy tel die hamer op en slaan ʼn spyker in die houtbalk in. Heel waarskynlik wag daar ʼn klomp huistake die naweek vir my.

* * *

Die res van die middag verloop normaal. Pa maak aandete, macaroni en kaas. Buiten die gebed, eet ons dit hoofsaaklik in stilte. Na ete, was ek skottelgoed en uiteindelik teken hy die rapport en sit dit op my studeertafel neer.

Die horlosie op my bedkassie lees ‘21:03’ in groot rooi letters. Die bed raas toe ek daarop neer flap. Ek is nie regtig moeg nie, maar ook nie in ʼn lees bui nie. My oë volg ʼn mot wat deur die lug fladder. Dit vlieg keer op keer in die lig vas.

Skielik voel ek ʼn vreemde gevoel wat deur my liggaam rimpel. Dit voel asof ʼn magneet my aantrek. Wat was dit? Ek skrik, maar my logiese denke kan dit nie verklaar nie. Net so gou as wat dit gekom het, is dit weg. Tjoepstil lê ek op die bed. In die verte hoor ek die gegons van motors op die snelweg. Die mot slaan nog aanhoudend teen die lig vas.

Na ʼn ruk oortuig ek myself dat dit alles net in my verbeelding was. Buitendien, die skool plaas geweldige druk op my die afgelope tyd, en die hele ‘rapport teken’ ding het nie veel gehelp nie.

My opgemaakte verskonings hou nie lank nie. Sonder waarskuwing skiet daar weer ʼn magnetiese rimpel deur my lyf, hierdie keer baie sterker as die vorige een. Dit voel asof dit aan elke sel in my liggaam trek. Hierdie een verdwyn ook nie soos tevore nie, maar spoel oor my liggaam golf na golf.

Wat op aarde gaan aan? Die gevoel word net sterker. Dit voel asof my hele bed ʼn skip is wat op ʼn stormagtige see rondgeslinger word. Is hierdie ʼn epileptiese aanval?

Ek probeer skree, maar daar kom geen geluid uit my mond uit nie. Die geplukkery raak so erg dat ek voel my kop gaan ontplof. Dit trek en trek aan my… dan meteens is dit verby. Daar is ʼn breukdeel van ‘n sekonde waar alles doodstil is, maar die stilte is van korte duur.

Ek is uit. Ek is vry, maar vry van wat? Ek ken nie die antwoord nie, maar ek beweeg met ʼn onbegryplike spoed in ʼn tonnel af. Dit lyk soos ʼn draaikolk, swart met ʼn effense blou tint. Dit kronkel en draai in elke rigting. Navigasie is nie nodig nie. Dit is asof ek in ʼn reuse pyp opgesuig word.

Die tonnel eindig skielik en ek word in een of ander vergetelheid uitgespuug. Dit is pikdonker. Waar is ek? My oë is oop, maar ek kan nie my hand voor my gesig sien nie. Dit voel asof ek sweef, daar is geen druk van enige kant af nie.

“Ek verstaan nie! Wat gaan aan?” Skree ek in die niet. Net stilte kom uit my mond.

Meteens val ek afwaarts. ʼn Verskriklike vrees vul my. Die wind waai so hard ek kan myself amper nie hoor dink nie. My liggaam val vinniger en verder elke sekonde. Ek skree in stilte vir ʼn lang tyd. Enige oomblik verwag ek om die bodem te tref, maar dit kom nie.

Is ek dood?

Ek dink ek is dood, en ek is op pad hel toe!

Ek het skaars die gedagte klaar gedink toe ek die vloer tref. Ek is terug in my bed. Die gil wat oomblikke vroeër stil was kom nou uit my mond met volle vors. Dit is hard genoeg om die buurt wakker te maak.

My pa hardloop in. My gesig is laken-wit, sweet stroom oor my voorkop en my asemhaling is swaar.

“Pa, ek dink ek het doodgegaan. Daar was ʼn tonnel en ek het so vinnig beweeg. Donker, toe val ek.” Ek praat deurmekaar. Ek kry niks verder uit nie.

“Toemaar, toemaar seun, moet nie bekommer nie. Dit was net ʼn droom.” Sê hy en druk my styf teen sy bors vas.

Ons sit vir ʼn lang tyd stil op die bed. Ek weet dit was nie ʼn droom nie. Wat ook al dit was, dit was so werklik soos ek en hy.

* * *

Twee weke gaan verby met geen verdere voorvalle nie. Ek bly maar stil oor die insident, nou-nou dink iemand ek is van my lootjie getik. Stadig maar seker sypel die skrik van die ervaring uit my geheue uit.

Dit is Dinsdag en ons eet hoender, rys en McCain groente. Alles gaan goed in die Van Biljon huishouding.

“Moet sê Pa, Pa is beslis besig om ʼn beter kok te word. Of ten minste is dit lekker om nie net meer mikrogolfoond etes te eet nie.”

Dankie, maar Niemand maak Franse roosterbrood soos jy nie. So, hoe is dinge nou by die skool?” en hy vryf my hare deurmekaar met sy hand.

“Dinge gaan beter. Dink ek is besig om by die nuwe omgewing aan te pas. Mevrou Thompson help my met my Wiskunde.”

“Wel, dit is goed om te hoor, Seun.”

* * *

Later daardie aand kletter die stort se druppels teen my lyf. Dit is baie lekker en ek vat my tyd. Ek trek my nagklere aan en gaan na my kamer toe. Iets op die boekrak vang my oog. Versigtig tel ek die boek op. Ek het lanklaas Bybel gelees, maar iets druk my om dit oop te maak. Rustig gaan sit ek op die bed. Die Bybel is vol stof. Die bladsye kraak van een hoofstuk na die ander. Ek blaailees vir ʼn paar oomblikke en stop lukraak op ʼn plek. Hardop begin ek Psalm 18 lees:

25 So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na die reinheid van my hande, voor sy oë.

26 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,

27 by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.

28 Want U verlos die verdrukte volk; maar U verneder die oë wat hoog is.

29 Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar.

30 Want met U loop ek ʼn bende storm, en met my God spring ek oor ʼn muur.”

Ek maak die boek toe, skakel my lig af en gaan lê op my rug in die donker. Die woorde wat ek sopas gelees het sweef in my gedagtes rond. Dit maak nie sin nie, maar dit laat my veilig voel.

Uit die bloute kom dit. Die magnetiese rimpeleffek. Elke spier in my liggaam trek styf.

O nee. Nie Weer nie! Ek spring op en hardloop badkamer toe. Die kraan maak ʼn kreunende geluid terwyl ek dit oopdraai. Die water proe soet in my mond. Die beeld wat terugstaar uit die spieël lyk vreesbevange. Eweskielik is daar nog ʼn rimpel. Gespanne gryp ek die wasbak vas.

“Wat die…?” Maar voordat ek die sin kan klaar maak is daar nog een. Hierdie een veel sterker as die vorige een. Ek probeer om te skree, maar daar kom niks uit nie.

Ek beter by die kamer uitkom, anders gaan ek seer kry! Maar voordat ek die deur kan haal voel dit asof ek op ʼn skip is. Die mure is glad, maar ek klou daaraan met my lewe vas. Die wêreld rondom my trek heen en weer, op en af. Dit voel asof die golwe my uitmekaar gaan ruk. Uiteindelik stort ek neer op die vloer.

Die swaaiende gevoel stop, en ek word weereens in ʼn tonnel ingesuig. Die een lyk anders as die vorige keer, groen met geel strepe. Die draaie en kinkels is net so vinnig.

Ek word wakker. Verward kyk ek rond.

“Waar is ek?” Fluister ek. Dit vat my ʼn paar oomblikke om my omgewing te plaas. Juffrou Simpson se Biologie klas? Maar hoe is dit moontlik? Het ek net gedroom dat ek die Bybel gelees en op my bed gelê het? Dit was so werklik ʼn paar minute gelede.

Nog steeds kyk ek verstom rond. My vriende is almal hier. Pieter Schaefer, my beste vriend, sit langs my. Hy teken snaakse gesigte op die kant van ʼn bladsy in sy handboek. Hy merk my beneweling op.

“Ou, wat is dit met jou?” Sê hy.

“Nee niks… hoop ek. Dink ek het dalk weggesluimer of iets.” Sê ek, nog steeds probeer ek my verstand rondom dit alles draai.

“Weggesluimer? Jinne pêl, jy het so hard gesnork, selfs Juffrou Simpson het begin agterkom.” Hy lag Hardop. Halfhartig lag ek saam.

“Ja, ek dink ek moet bietjie meer rus in kry of iets.” Tog het dit so eg gevoel.

Ek probeer op die skoolwerk fokus. Juffrou Simpson praat iets van die dag en nag siklus van plante. Daar is net ʼn paar kort aantekeninge in my boek en ek sukkel om my konsentrasie te hou.

Alex Bouwer sit in die ry oorkant my. Hy gee my ʼn vinnige gluur. My hart stop byna. Eers was sy gesig normaal, maar vir ʼn oomblik het dit soos ʼn monster s’n geword. Dit het verander, sy oë was in splete getrek en sy vel het effens van kleur verander. Vinnig kyk hy weer voor hom.

Ek kyk na Pieter en hy gee my ʼn vraende grynslag.

“Is jy seker jy’s reg ou maat?” Sê hy.

“Het jy dit nie gesien nie?” Ek wys na Alex.

“Het ek nie wat gesien nie?” En ek sien ek gaan nie hier wen nie.

“Nee, toemaar, niks. Los dit.”

Hy skud net sy kop.

Dit moes my verbeelding gewees het. Ek is beslis oorwerk en onder baie spanning. Na skool gaan ek ʼn afspraak by Mnr. Visser maak, die skool se sielkundige.

Na so ʼn rukkie kyk Jenny vir my. Sy sit aan die anderkant van die klas. Sy glimlag vriendelik en ek gee ʼn wuif terug, maar dan skielik verander haar gesig ook. Nee, hemeltjie tog! ʼn Vrees oorval my, maar ek is te geskok om iets te doen. Net daarna kyk Sammy wat heel voor in die klas sit ook vir my. Hy is ook een van hulle!

Waar is ek? Wat gaan aan? Stadig staan ek op en almal kyk om. Hulle gesigte lyk normaal. Vraende blikke staar my aan.

“Wie is julle?” skree ek in ʼn desperate toon. Ek spring van my stoel af op. Sodra ek dit doen, besef hulle hul voorwendsel is op. Almal se gesigte trek en draai. In ʼn paar oomblikke is ek deur ʼn klaskamer vol reptielagtige monsters omring. Hierdie kreature is nie my vriende en klasmaats nie. Ek weet nie wie hulle is nie, maar hulle wil my seermaak. Ek is in groot gevaar.

My lessenaar is aan die agterkant van die klas. Die deur is my enigste manier om te vlug. Wat hierdie gedrogte ook al is, hulle sper my weg. Die groottes beweeg al hoe nader, insluitende Juffrou Simpson.

“Wat wil julle hê?” skree ek. Geen antwoord nie, hulle tree al nader.

Ek weet nie waar die gedagte vandaan kom nie, maar meteens lui die woorde in my kop so duidelik soos ʼn hoorbare stem:

Want met U loop ek ʼn bende storm, en met my God spring ek oor ʼn muur.

Meteens vul ʼn vreemde krag my liggaam. Ek weet nie wat dit is nie, maar al my vrees verdwyn onmiddellik. Die kreature sien ook dat daar iets anderste omtrent my is. Hulle stop. Dit is my enigste kans en ek begin op hulle afhardloop. My plan is om hulle uit die pad te stamp, maar nog voor ek aan hulle raak, slinger hulle weg van my af. Dit is asof ʼn haelgeweer hulle teen die muur skiet. Hulle val bewusteloos op die grond neer.

Met al my vors, hardloop ek vir die deur. Ek het geen idee wat aan die ander kant is nie, maar enige iets moet beter wees as ʼn kamer vol demone. Demone? Die woord val net uit die lug uit, maar ek weet onmiddellik dat dit is wat hierdie wesens is. Die deur bars oop toe my skouer dit tref. Die lig aan die anderkant is verblindend. Daar is nie tyd om my aksies te heroorweeg nie, en ek hou aan om te hardloop.

Die lig vervaag nie. Alles is wit en helder. Ek kan nie sien waarheen ek gaan nie. Vir ʼn lang tyd hardloop ek blindelings op my vinnigste die onwetende in. Naderhand besef ek dat hulle my nie agtervolg nie. Geboë buk ek vooroor en probeer my asem terug kry. Daar is ʼn konstante lae dreunende klank, maar ek kan nie vasstel vanwaar dit kom nie.

Uit die dynserigheid sien ek ʼn figuur na my aangestap kom. My eerste gedagte is om te hardloop, maar dan onthou ek die krag waarmee ek gevul is. As dit hulle is dan sal ek net weer moet stormloop.

“Wees nie bevrees nie Stefan. Ek is ʼn vriend.” Sê ʼn manstem. Die toon is kalmerend. Dit dra geen tekens van vyandigheid nie. Hy stap nader en ek sien dat dit ʼn reusagtige man is, ten minste twee en ʼn half meter lank. Sy gesig is geset en sy pikswart hare is netjies kort geskeer. Hy dra een of ander nousluitende uniform, die tipe wat jy in wetenskapfiksie rolprente sien. Sy spiere bult onder die pak uit. Die swaard oor sy heup gloei. Dit lyk asof die lem van vuur gemaak is.

“Wie is jy?” Sê ek versigtig.

“Net ʼn boodskapper. Ek is hiernatoe gestuur om vir jou iets belangrik te vertel.”

“Wat bedoel jy? Wie het jou gestuur, en wat was daardie goed in Juffrou Simpson se klas?”

“Al jou vrae sal met tyd beantwoord word. Jy kan van jou skaatsplank af val en jou been breek. Jy kan selfs jou voet of arm verloor. Mense kan jou slaan totdat jy bebloed langs die pad lê. Dit is niks nie. Maar Stefan Van Biljon, daar waar jy vandag was, kan jy werklik seerkry. Daar kan hulle die ware jy doodmaak. En ja, jy was reg. Hulle is demone.” Hy vat liggies aan my arm.

“Ons hou jou al van geboorte af dop. Jy is baie spesiaal. Jy het geen idee wie jy is en wat jy in staat is om te doen nie.”

“Waarvan praat jy?” En ek ruk my arm weg.

“Wat ek probeer sê Stefan, is dat die tyd aangebreek het dat jy die waarheid moet leer van wie jy is en waar jy vandaan kom. Welkom in die werklikheid.

Die lig word nog helderder. Ek trek my oë op skrefies. Die dreunende klank word al hoe harder. Die man kom nader en neem my linkerhand in syne. ʼn Onaardige pyn skiet deur my. Beskermend ruk ek my hand terug kyk wat hy nou gedoen het. Daar is drie kolle op die rugkant van my hand en dit gloei oranje.

“Wat het jy gedoen, en wie is jy?”

“My naam Is Adriel en ons sal gou weer praat.” Die dreunende klank word nou so hard dat dit my oortromme seermaak. Ek maak dit met die palms van my hande toe.

Na ʼn lang ruk maak ek my oë oop. Ek lê in ʼn fetale posisie op die badkamer vloer. Die dreunende klank lui nog steeds in my ore, maar word al hoe sagter en verdwyn na ʼn rukkie.

Ek dink ek het dalk flou geval. My keel is droog.

Was dit net ʼn droom of word ek mal?

Ek staan op, steier ʼn bietjie, maar balanseer myself teen die muur. Versigtig stap ek na my kamer toe. My kop is seer. Stadig gaan sit ek op die bed en kyk na my linkerhand.

Daar sit die drie brandmerke. Wat nou?

Thompson Boekdrukkery - Advertensie Banier

  • Ester

    J.V,. van Wyk, jou storie Die Astrale kryger is heerlik spannend en net as ek dink ek gaan die uiteinde uitrafel kom daar nog intriges by. Baie interessant. van Ester Byleveldt

    • JV Van Wyk

      Baie dankie Ester

  • johanna

    Genoeg werklikheid en fantasie gemeng om die spanningslyn te behou en te laat wonder: “Wat nou?” Doet zo voort!

    • JV Van Wyk

      Baie Dankie vir die gawe terugvoer

  • Chantal

    Goed geskryf. Ek hou van die misterie in die kortverhaal.