DIE DONDERWEER DREUN IN DIE VERTE – Karen van Heerden

DIE DONDERWEER DREUN IN DIE VERTE – 2014 © Karen van Heerden

VOLWASSE FANTASIE (1 491 woorde)

Die donderweer dreun in die verte…

Dis sekerlik die mees voorspelbare begin vir enige spookstorie, maar dit is toevallig hoe hierdie storie begin.

Dit het vroeër die dag gereën, so die wolke het dreigend bly rondhang. Dit was andersins ’n normale middag. Ek het my dogtertjie gaan haal by die naskoolsentrum, by die huis gekom en aandete begin maak. My man het by die huis gekom en het olik gevoel. As gevolg daarvan is hy en my dogter dieselfde tyd bed toe.

En hier sit ek.

Alleen.

Die donderweer dreun in die verte…

Iets buite ontstel die honde. Hulle blaf met ’n soort onsekerheid. Nie die tipe blaf vir as iemand in die straat verbyloop, of ’n verveelde blaf nie. Dis ’n… bang blaf. Met fyn tjankgeluidjies tussendeur.

Ek kyk by die venster uit, maar ek sien niks.

Veraf begin dit te suis. Ek hoor hoe kom die reën nader gehardloop totdat dit die sinkdak tref. Die dreuning in die wolke raak harder, meer dreigend. Ek ruik iets. Ek kan nie vasstel wat dit is nie, dit ruik ’n bietjie soos swael gemeng met ’n krui of spesery.

Dit begin harder te reën, wat my laat opspring om vensters toe te maak. Soos ek deur die huis gaan van kamer na kamer, venster na venster, kry ek die eienaardigste gevoel dat daar oë is wat my volg. Ek skud vining die gevoel af, sê vir myself dat dit net ’n kombinasie van omstandighede is wat my nou so laat voel.

Ek kom by die kombuis. Reën val direk in by een van die vensters, besig om die ketel en kombuisblad papnat te maak. Vinnig steek ek my arm uit om die venster toe te trek.

Skerp trek ek my asem in.

’n Yskoue hand gryp my hart vas.

Soos die weerlig flits op daardie oomblik wat ek my hand uitsteek, sien ek die figuur van ’n mens. Die figuur is by die hekkie aan die kant van die huis, so 5 meter van die kombuisvenster af.

Vinnig val ek neer op die vloer, my rug teen die kombuiskas. Was dit ’n inbreker? Of dalk net ’n speel van skaduwees? Ek weet ek sal moet opstaan om te kyk. Of om die polisie te bel, of net ’n bietjie vir myself te lag vir my ooraktiewe verbeelding.

Na ’n paar diep asemteue vlieg ek op. Daar is niks. Niemand. Ek sit die buitelig aan, kyk by al die vensters uit. Die honde kom staan stertswaaiend by die kombuisdeur en kyk my nuuskierig aan. Tevrede dat ek net oorreageer het, sit ek weer die buitelig af. Maar ek is tog gespook. Daarom begin ek al die gordyne en blindings toe te maak.

Weer by die venster waar ek die figuur gesien het, trek ek my asem diep in, gryp die venster handvatsel en pluk die venster toe. Tevrede met myself haal ek onmiddelik bietjie makliker asem.

Ek het pas die blindings toegemaak, en my hart kom hortend tot stilstand. Ek klap my hand oor my mond om myself te keer dat ek gil.

Duidelik, en met intensiteit, drie kloppe aan die venster.

Stadig, en so stilletjies as moontlik, sluip ek uit die kombuis uit na ons slaapkamer. Van ons venster af kan jy duidelik die kombuisvenster sien. Dalk, net dalk, is dit iemand wat ’n siek grap maak, ’n simpel speletjie speel. Van daar af sal ek die persoon kan sien as hulle teen die muur wegkruip onder die kombuisvenster.

Niks.

Ek kyk uit by die venster en daar is niks, niemand. Net die honde wat op ’n hopie lê en weer probeer aan die slaap raak na ek hulle pas gesteur het. Sekerlik sou hulle nie so rustig gewees het as daar iemand in die erf was nie.

Genoeg! My verbeelding hardloop weg met my. Dit was seker ’n groot mot wat in die venster vasgevlieg het. En sulke goed gebeur in elk geval net in flieks. En die persoon is altyd alleen by die huis.

Stilte. So skielik dit laat die hoendervleis oor my hele lyf uitslaan. Dis asof die reën net my verbeelding was. Normaalweg sal dit eers sagter begin reën en drup-drup tot ’n einde kom.

So stil. Te stil. Geen water wat drup nie, geen blare wat in die wind ritsel nie. Dis onnatuurlik.

Ek hoor hoe een van die sitkamerbanke vlugtig oor die vloer skuif. Asof iemand te hard gaan sit het en die bank oor die teëls laat gly het. Ek begin nou bang te raak. Ek is of besig om mal te raak, of iemand is besig om my te speel.

Ek storm in die sitkamer in. Selfs al is dit ’n inbreker, is ek gereed om hom sommer met my kaal hande te takel. Ek wil net weet wat aangaan!

Weereens niks.

Die gordyn agter die bank teen die venster bol effens. Ek het ’n venster gemis toe ek toegemaak het vir die reën. Ek stap na die gordyn, maar vries in my spore.

Ek kan sweer iemand het nou net my naam gefluister…

Stop! Dit! Genoeg!

Ek stap tot by die gordyn. Trek hom stadig weg. Wat is dit? Dit klink soos… ’n sagte gelag…

’n Man se gesig staar vir my terug deur die venster. Hy grinnik van oor tot oor. Ek steier terug, stamp teen die kant tafeltjie vas, ’n leë glas tuimel af en spat in ’n duisend skerwe. My voet haak vas en ek val, ek keer met my hande en voel hoe die glas in my palms insny. Die krag gaan af en alles word in donkerte gedompel…

Stadig kruip ek op my hande en knieë oor die vloer, te bang om asem te haal. Tog kom my asem in rasperige teue. Ek voel my pad al langs die muur af tot by ons kamer. As ek net by my man kan uitkom!

Stadig en saggies maak ek die deur oop. Ek kyk na waar my man lê.

Iets blink in die effe lig wat van buite af kom. Dit lyk… nat…

Nee… neeneeneeneeneenee!!!!

Ek storm uit die kamer uit en af in die gang na my dogter se kamer. Ek pluk aan die deurhandvatsel, maar dis gesluit. Dit kan nie gesluit wees nie! Daar is nie eens ’n sleutel nie! Ek skree vir haar om oop te maak! Ek hoor weer die sagte gelag, die keer aan die ander kant van die geslote deur.

Ek skree en hamer en skop aan die toe deur, maar dis asof die deur van staal is.

Dan gaan die ligte aan. Al die ligte. Elke liewe kamer in die huis se ligte brand, en dit is asof dit ekstra helder brand. So helder dat dit my oë seermaak. My oë begin te traan. Die wêreld begin rondom my te swem. Ek hoor ’n gesing, een konstante noot. Ek hoor harde dromslae. Ek sien die wasige beeld van die figuur na my toe aankom.

“Dis jou beurt…”

Hy kom nog na my toe aan, maar die fluistering is in my oor. So naby, ek voel die nat van sy wasem teen my wang.

Ek kyk verwilderd rond. Daar is oral bloed! Soveel bloed! Ek draai na die spaarkamer, ek kan deur die venster spring met die gordyn, ek kan wegkom, ek kan hierdie nagmerrie oorleef!

My voet gly onder my uit. Ek sien elke lyntjie in die teël voor my kop hard daarteen slaan.

Alles is wit. Alles is seer. My handpalms jeuk. Ek kan nie beweeg nie. Ek is verlam. Nee, ek kan voel. Maar ek kan nie beweeg nie. Hoekom kan ek nie beweeg nie?

My hande en voete is vas in groot, breë gespes. Daar is drie bande oor my lyf – een oor my bors, een oor my middel en een oor my bobene.

’n Vrou, ook in wit geklee, kom die vertrek binne. Ek sien hoe haar mond beweeg, ek hoor ’n gesuis, maar niks wat sy sê maak sin nie. Dit is asof sy deur ’n dik stuk glas praat.

My keel begin seer raak. Dis die vreemdste gevoel. Sy kry ’n bekommerde uitdrukking op haar gesig en begin om my rond te fladder soos ’n mot rondom ’n lampie.

My keel raak al seerder. Hoekom raak my keel seer?

Daar kom nog mense in wit die kamer binnegestorm. Hoekom is hulle so haastig?

En wie skree so? Kan hulle nie daai persoon stilmaak nie? Hoekom skree sy tog so? Sy skree en skree en skree en…

Die een man…

Die een man lyk baie bekend. Ek herken sy gesig van erens af.

Hy stap rustig tot langs my. Hy het ’n inspuiting in sy hand.

Hy kyk my in die oë…

“Dis jou beurt…”

Hy druk die naald in my arm en grinnik vir my.

Ek is nie mal nie.

Ek. is. nie. mal. nie.

Daar was soveel bloed.

Dit was ’n inbreker.

Dit was ’n demoon.

Dit was

ek

ek

ek

ek

ek

ek

ek

 

  • Chantal

    Vreemd, maar interessant!