DIE PAD NA PLEODORA – J.V. Van Wyk

DIE PAD NA PLEODORA – 2014 © J.V. Van Wyk (Wenner)

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (3 934 woorde)

2014 - Foto - Johan van Wyk - Wetenskapfiksie - VolwassenesAan die rand van die Naheem woestyn staan twee geboue sy aan sy. Beide is bouvallig en lyk verlate. Agter dit toring rotsagtige heuwels die lug in. Dit is laatoggend en beide van Minerva se twee sonne hang reeds in die lug. Die groot helder een is amper op sy senit en die kleiner blou ster lê net ʼn entjie bo die horison na regs. Die eens geteerde parkeer area is vol krake en slaggate en langs die bousel staan ʼn reuse litjieskaktus met sy arms na bo gestrek.

Baie jare gelede, nog voor die groot oorlog, was dit ʼn klein ruimtehawe. Groot swart letters op die reuse sonverbleikte naambord buite die hoofingang getuig hiervan, dit is nog steeds so half leesbaar: ‘SERVIUS RUIMTEHAWE – Jou deur na die Heelal’. Onder die vervaagde letters is die buitelyne van ʼn ruimteskip, die prentjie het reeds jare tevore verweer. Die tweede struktuur, ʼn skuur vir ruimteskepe, is nie vreeslik groot nie. Dit kan ten meeste twee Promida-klas passasiers vaartuie huisves. Dit kon nie ʼn baie bedrywige hawe gewees het nie.

Arend Bouwer kom rustig , op die rug van sy getroue Mach 1 Siborg-perd , om die draai van ʼn kloof gestap. Dit is nog van die ou tipe perde, Uranium-43 kernaangedrewe. Oud, maar goed versorg. Die sonstrale weerkaats teen die blink metaal van die kragtige hidrouliese bene wat stadig op ysterhoewe deur die ruimtehawe se parkeer terrein klip-klop. ʼn Metaal skoorsteen in die gebou se dak spu ʼn dun, maar aanhoudende stroom rook uit. Die laaste keer wat Bouwer hierlangs gery het was dit verlate, maar nou lyk dit asof hier lewe is.

Met die druk van ʼn knoppie maak hy ʼn verstelling op sy elektriese skermbril. Eers is daar niks, maar dan eweskielik verleng en fokus die analoog teleskoop in op ʼn effense beweging agter een van die kratte. Hy skandeer die hout stapel vir ʼn paar oomblikke. Niks. Hy druk nog ʼn knoppie en die beeld skakel dadelik oor na infrarooi. In helder geel en oranje met ʼn blou agtergrond is die gehurkte liggaam van ʼn jong seun duidelik sigbaar. Die outjie kan seker nie ouer as tien wees nie. Arend merk die knaap se hartklop aan die kant van sy skermbril se beeld op – 150 Slae per minuut. Daar is fout, vir wat is hy so angsbevange? Reisigers soos hyself is tog nie iets buite die gewoon in hierdie areas nie.

Onvervaard kom hy steeds al nader aan die gebou geloop. “Mack, hou hier stil.” beveel Arend in sagte maar growwe stem. Die metaal perd reageer met ʼn elektroniese runnik en kom dadelik tot stilstand langs die kratte.

“Kom uit, ek weet jy is daar.” Sê hy. Nogmaals stilte. Daar is ʼn fyn gesis soos stoom uit Mack se uitlaatkleppe vrygelaat word.

Uiteindelik kan die seun dit nie meer hou nie en staan versigtig op. Vir ʼn paar sekondes kyk hulle mekaar stip aan, maar dan vaal die seun se moed en hy hardloop rats by een van die skuur se deure in. Bouwer merk op dat die blondekop seun se klere flenters is en dat sy gesig amper pikswart van die vuiligheid is. Wonder waar is sy ouers? Flits ʼn gedagte. Hy wil nog agter hom aanroep maar besluit daarteen. Daar is nie regtig nou tyd daarvoor nie. Iets jaag hom voort, en hy kan nie onnodiglik versuim nie. Sy blik dwaal oor die dorre hel om hom, 1000 vierkante kilometer van waterlose, uitmergelende woestyn en ru vulkaniese heuwels.

Natuurlik was daar makliker maniere om by Pleodora, die grensdorpie op die ewenaar, uit te kom, maar Arend Bouwer waag dit nie om op ʼn Straler-skip deur ʼn Balju raakgesien te word nie. Die handgeld op sy kop is reeds 100 000 krediete. By Pleodora wag ʼn vrou op hom, en ʼn man… die man wat hy gaan vermoor.

Voor die hoofgebou ry hy weer stadiger en hou dan sy perd in. Oor die ingang se deur is daar in ʼn naam in groot slordige rooi letters geverf, ‘BaRTeL Se KrOeg’. Vir ʼn oomblik sit hy slap in die saal en voel dan die uitputting van die lang reis wat oor hom spoel in golwe. Dit is asof elke spier, elke veseltjie in sy groot liggaam meteens gons van die pyn.

Hy haal die skermbril af en maak die sakdoek rondom sy gesig los. Arend Bouwer lyk dalk lenig, maar die spiere onder sy ruitersklere is kliphard van baie jare se gewerk op sy pa se Siethanol plaas. Alhoewel hy ʼn vrome gesig het is daar reeds diep plooie sigbaar. Plooie so diep soos woestyn se eie krake.

Sy diep blou oë skandeer die toneel voor hom. Niks uit plek nie en hy draai om. Hy draai sy nek enkyk na die pad waarmee hy gekom het. Drie dae lank was hy die enigste ruiter, hy het niemand anders opgemerk nie. Tog vind hy dit moeilik om die eienaardige gevoel af te skud dat iemand hom agtervolg. Die gevoel dat ʼn skaduwee op sy hakke is knaag aan hom en hy is baie selde verkeerd as dit by sulke goed kom. Hy wonder wie dit is.

Tog moet ʼn man na sy maag luister. Hy spring van sy meganiese kameraad se rug af en maak die leer saalsak oop om sy beurs uit te haal – al die geld wat hy het, nogal ʼn stewige bedrag. Meteens vul ʼn hoë frekwensie gefluit die lug. Vreesspoortjies beweeg teen sy nek op en hy draai sorgsaam om. Voor hom staan ʼn Tweekop-Singende-Kobra, die giftigste van alle slange hier in die Naheemse Woestyn. Die enorme tien meter slang se koppe dobber swyend van die grond af. Die oorverdowende gesing van die slang is veronderstel om sy prooi in ʼn sluimering te plaas, maar gelukkig het dit net die teenoorgestelde uitwerking op mense.

Stadig reik Arend vir sy holster. Sy hand is op die kolf gereed om die wapen uit te trek, maar dan kom daar ʼn tweede hoë frekwensie gesis vanuit die kroeg. Beide Bouwer en die slang ruk hulle kope in daardie rigting. Die deure swaai oop en ʼn bonkige man met ʼn vuil voorskoot kom uitgeloop, ʼn fluitjie in sy mond. Meteens laat sak die slang sy koppe en seil oor die sand in die man se rigting. Tot Arend se verbasing krul dit op in ʼn sirkel by die man voete. Die man haal iets uit sy sak, ʼn woestyn rot, hy laat val dit voor die Kobra. Een gaps en knaagdier is weg.

“So ja, Brolloks. Jy moet nou nie ons gaste kom staan en op eet nie. Hoe gaan ons dan ooit geld maak in hierdie plek?” Sê die man in ʼn grapperige stemtoon. “Kom gerus in vreemdeling, moet jouself nie skrik vir hierdie oorgrote teddiebeer nie. Hy sal jou geen skade maak nie.” Sy hare yl en sy een oog effe skeel.

Die vreesspore in Arend se nek verdwyn nie, inteendeel word dit net meer intens met dié gebeure. Stadig bêre hy sy beurs in sy broek se sak. Die bonkige man merk die dik beurs op, gee ʼn breë glimlag en wys vriendelik met sy oop palm na die ingang se rigting. Arend loop met die trappe op en gaan in. Die vertrek is heerlik koel, die waaier werk oortyd. Vir ʼn oomblik bly hy stilstaan sodat sy visie gewoond kan raak aan die halflig, sy hand deurentyd nog altyd naby aan sy vuurwapen se kolf. Die mollige man gaan staan agter die toonbank waar hy dadelik dit met ʼn vuil lap, ʼn bietjie te oorywerig beginne afvee.

Daar is nog iemand in die vertrek. Hy sit in die verre hoek agteroor in sy stoel met sy voete op ʼn lendelam tafel. Arend kan sien dat dit nie ʼn mens is nie, maar hy kan nie behoorlik uitmaak watse spesie nie. Na paar oomblikke lig die man op die stoel sy hoed van sy gesig af op. Twee helder geel oë met splitte staar hom aan. Alhoewel die vertrek aansienlik koeler is as buite, is sy leeragtige akkedis gesig sopnat van die sweet. Elke paar sekondes verskyn daar ʼn gesplete tong uit sy mond, maar verdwyn dan net weer so vinnig. ʼn Tukson, een van Minerva se mees geslepe en gevaarlikste bewoners!

“Het jy ʼn probleem vreemdeling?” Sê die Tukson in ʼn rasper stem.

Arend kies sy woorde versigtig, hy weet dat die Tuksons goeie maniere as ʼn swakheid beskou, “As ek ʼn probleem gehad het, dan sou daar reeds ʼn smeulende gat in jou bors gewees het.”

Eers vang die woorde die Tukson effe onverwags, maar lyk dan tog asof dit hom tevrede stel. Hy lê weer agteroor en skuif sy hoed oor sy kop. Bouwer draai om en stap stadig na die toonbank toe.

“So jy is Bartel?” Vra hy.

“Ja, ek is. Welkom by my kroeg.”

“Whiskey asseblief.” Sê hy, “En ek is dood van die honger. Wat is op die spyskaart?”
Bartel haal ʼn bottel van die rak af, skink ʼn glas en skuif dit oor. “Stekeldop-Skilpadbredie”
“Wat? Probeer jy vir my sê jy het een van hulle gevang gekry? En is dit al wat julle hier het?”

“Ja, dis al vleis in hierdie dorre plek. Ons het nie net een gevang nie, sommer ʼn hele klomp. Ek en Krauss, die Tukson wat daar by die tafel sit, het ʼn baie slinkse manier gekry om hierdie vinnige kreature uit te oorlê. Jy sien, wat ons –” Begin hy.

“Bring eers vir my die kos, dan kan jy verder praat.” Hy vat ʼn sluk van die drank en dit brand ʼn pad deur die stof in sy keel. Dit help hom om effe te ontspan.

Bartel kyk na Krauss wat gemaklik agter die tafel sitlê.

“Kom Krauss, tyd om bietjie jou brood en botter te verdien. Staan op en gaan versorg die vreemdeling se perd. Ek is seker ons het nog ʼn kan olie hieragter.”

“Nee, nog nie.” Sê Arend kortaf. “Laat ek eers klaar eet.”

Die Tukson beweeg skaars sy kop, maar trek homself tog na ʼn rukkie orent.

“Isabella, een Stekeldop-Skilpadbredie!” Roep Bartel in die kombuis se rigting. Stilte. “Verdomde vroumens, sy is darem maar ook ʼn nikswerd.”

Arend hou Krauss uit die hoek van sy oog dop. Die Tukson vat die laaste sluk van sy bier en steek dan ʼn sigaret op. Die rollende rookwalms vul die vertrek. Rook is nou iets wat hom nooit gepla het nie. Beter om sonder dit te bly as om in die middel van die woestyn daarna te smag. Ten minste is Krauss alles behalwe spraaksaam en Bouwer waardeur dit. Hy sien nie regtig kans vir onsinnige geklets nie.

Na wat soos ʼn ewigheid voel kom Bartel uit die kombuis geloop. Hy sit ʼn houtbak voor Arend neer. Die inhoud lyk slap en loperig, hier en daar is ʼn stuk vleis en ʼn aartappel. Hy vat die lepel, neem ʼn skep en laat val dit weer terug in die bord. Van dit spat oor die tafel.

“Miskien is die bredie bietjie te warm vir jou.” Merk Bartel op. “Ons het onlangs rissies van BX-77 gekry, ʼn planeet in die Sinaeda sonnestelsel, ʼn man met die naam –”

“Ek hou daarvan warm.” Val hy hom in die rede.

“Kan ons nou vir jou ponie olie gee?”

“Nee, bly jy en geitjie net hier. Ek wil my oë op julle hou.”

Bartel kyk met ʼn bekommerde gesig vir ʼn split sekonde in Krauss se rigting en begin dan weer die toonbank skoon te vee.

Arend is so honger dat die houtbak binne ʼn oogwink leeg is. “So ja, nou voel ek mos weer mens.” Merk hy op. Hy blaas sy asem uit. “Jinne Bartel, maar hierdie rissies brand werklik. Bring vir my nog ʼn glas whiskey, asseblief.”

Arend drink rustig nog drie glase. Daar is beslis iets aan die gang hier, maar hy kan nie sy vinger daarop plaas nie. Hy vertrou Krauss se rustigheid in die hoek glad nie, maar Bartel se oorvriendelikheid is nog meer kommerwekkend. Mense tree net nie so op hier in die woestyn nie.

“So waar is daardie verwaarloosde seuntjie se ouers?” Breek hy uiteindelik die stilte.

Bartel kyk op vanaf sy tablet-rekenaar. “O hy, ja dit is Isabella se snuiter. Klein nikswerd net soos sy ma. Sy het net eendag hier opgedaag en vir ʼn werk gevra.”

Rustig vat hy die laaste sluk whiskey. Behoedsaam haal hy die beurs uit sy sak uit en plaas ʼn 500 krediet noot op die toonbank.

“My perd kort olie en Uranium, het jy?”

“Olie beslis, ek sal net moet seker maak oor die Uranium.” Hy draai na Krauss se rigting.

“Krauss sal dit doen.”

“Julle albei gaan dit doen.” Arend se blik hou Bartel sʼn, spanning bou op. “Nou dadelik!”

Bartel val byna agteroor met Bouwer se amper-uitbarsting. “Kyk hier Vreemdeling,” sê hy versigtig in ʼn sagte toon, sy mond in ʼn skewe glimlag getrek, “Ons is nie hier om moeilikheid te soek nie.”

Al drie stap na buite waar die skroeiende son amper onverdraaglik bak op die woestynsand. Daar hang ʼn kriewelrige gevoel in die lug. Ek moes nooit hier gestop het nie, dink Arend. Fyn hou hy Bartel en Krauss dop terwyl hulle Mack se olie en Uranium tenks volmaak. Bartel gooi ook vars water in sy fles. As hulle agter my geld aan is, dan is ek gereed vir hulle.

Tog doen nie een van hulle iets agterdogwekkend nie, hulle bewegings is kalm en bedaard. Wanneer hulle klaar is spring Arend op sy ysterperd.

“Mack, skakel aan.” Weereens kom daar ʼn kunsmatige runnik uit die luidspreker by sy mond. “Sit koördinate in vir Pleodora Suid 43–25–78, Oos 28–34–33.” Dadelik verskyn daar ʼn groen lyn op die GPS se skerm op die perd se rug. Sonder om te groet ry hy verder.

Dit is eers omtrent drie ure later wat hy die eerste steekpyn in sy maag voel. Kort daarna die tweede een, en dan derde. By die vyfde kramp voel dit asof sy maag wil oopskeur. Hy word eweskielik laken wit en die sweet begin van sy voorkop af te tap. Die pyn word net al hoe erger en erger.

Dan meteens besef hy wat gebeur het. Hy druk met ʼn bewerige hand ʼn paar knoppies op die GPS eenheid, en sowaar, drie kilometer agter hom is twee groen kolletjies wat duidelik op die monitor flikker. Moeisaam kyk hy terug om te kyk of hy hulle kan sien, maar al wat hy kan uitmaak in die trillende hittegolwe is twee klein spikkeltjies op die horison. Sy aandag draai terug na die GPS skerm. Hulle volg hom.

Bouwer se gesig word bloedrooi van die woede. Nie soseer op sy agtervolgers gerig nie, maar vir homself. Die kamstige rissies. Hy het alles noukeurig dopgehou, maar hy het nie gedink aan die warm kos nie. En dis waarmee hulle hom uitoorlê het.

Dit was nie rissies nie, maar slang gif. Die Tweekop-Singende-Kobra se gif is verskriklik giftig. Net een eetlepel sal ʼn man op die plek laat dood neerslaan. Bartel het seker net twee of drie druppeltjies in sy kos gegooi en dis die rede hoekom hy so lank kon uitgehou het.

Die koue sweet tap nou soos ʼn oop kraan van sy voorkop af, sy klere is alreeds deurweek. Sy visie word aangetas , elke nou en dan sien hy dubbele voorwerpe. Stadig draai hy weer sy kop na agter. Daar is hulle! Seker so twee kilometer weg, wag hulle geduldig soos twee aasvoëls vir hom om eers te val voordat hulle hul skuif maak.

Weer gryp hy sy maag vas, dit voel asof die allesoorheersende pyne sy maag enige oomblik uitmekaar gaan ruk. Verdomp, hulle gaan nie so maklik my van kant maak nie! Soos ʼn begeesterde persoon stuur hy sy perd struikelend teen die steilte van die kloof af. Hy gly uit die saal uit en rol tot onder, Mack is dadelik by hom en trek hom orent met sy bek.

“Dankie my ou maat.” Sê hy terwyl hy halfhartig die sand van sy klere afskud.

“Skandeer die area, ons kort onmiddellik die Olama vetplantjie. Soek deur jou databasis vir ʼn voorbeeld, maak gou!” ʼn paar oomblikke gaan verby dan runnik Mack. Arend kyk gou op die skerm, en sowaar! Net drie-en-twintig meter suid is die plant. Die nomadiese Morabie volk het hom darem een of twee dinge geleer van oorlewing in die woestyn.

Strompelend beweeg hy op die bodem van die kloof totdat hy die klein vetplantjie kry waarna hy soek. Verwoed grou hy dit met sy hande uit die harde rooi grond. Hy haal ʼn mes uit die kant van sy stewel en sny die penwortel se punt af. ʼn Dik wit stroperige melk loop daaruit, hy suig dit met alle vors uit.

Die plant se sap begin feitlik dadelik te werk. Die krampe verdwyn, maar sy maag se inhoud ruk in sy keel op en dit spoel by sy mond uit. Hy los ʼn klein plassie Stekeldop-Skilpadbredie in die rooi woestyn sand. Oor en oor braak hy totdat sy maag spiere seer is en die gal by sy mond uit loop. Hy is deurweek met ʼn koue sweet, sy hart jaag soos ʼn sweeftrein en sy asemhaling is onreëlmatig.

Uitgeput val hy agteroor op die sand. Alles is nou uit, elke druppeltjie gif. Hy bly net so lê vir ʼn paar oomblikke starend na die koperkleurige lug bokant hom en die walle van die kloof.

Uiteindelik dein sy bors weer egalig op en af. Na ʼn rukkie voel hy beter en hy staan versigtig op. Hy ry by die kloof se walle uit. Sy kop is seer en hy voel soos ʼn uitgerafelde tolbos. Bartel en Krauss is nou aansienlik nader. Naby genoeg dat om hulle gesigte te kan uitmaak. Terwyl hy uit die kloof te voorskyn kom sien hy dat beide van sy vyande op sweeffietse sit. Hier is sy kans!

Hulle noem Mack nie ʼn Mach 1 vir geen rede nie. Arend druk ʼn paar knoppies op die paneel en hy lê vooroor geboë naby aan sy perd. Uit die saal kom vier metaal gespes wat om sy voete en bene vou. Twee handvatsels verskyn aan die kante van Mack se nek . Bouwer gryp die handvatsels en haal ʼn miniatuur suurstof masker uit die saalsak en klem dit om sy neus vas. Mack begin eers galop, maar soos hy op spoed kom spring hy in die lug en al vier knieë buig agtertoe. Meteens skiet daar helder blou vlamme uit die onderkant van die metaal hoewe. Met ʼn geweldig gedreun skiet hy weg soos ʼn weerligstraal en los ʼn stowwerige streep in sy buik.

Dadelik versnel die twee vabonde ook en sit Arend agterna. Eers 100 dan 200 dan 500 en uiteindelik is daar ʼn harde dubbele knal geluid soos die blink vos perd 1191km/h bereik en die klankgrens breek, sy agtervolgers sal nie kan by hou nie. Gelukkig het Mack ingeboude elektroniese skilde wat die koue lug afgekeer, anders was Arend lankal gevries. Die enigste nadeel van die Mach 1 Siborg-perd is dat hy hierdie spoed maar net vir ʼn paar oomblikke kan handhaaf, en dan moet ten minste vir ʼn halfuur rus om weer krag op te bou. Presies twaalf sekondes daarna skakel die blouvuurpyl vlamme outomaties af en sy voete vat weer grond. Mack bly aan hardloop teen ʼn stewige spoed.

Arend ry nog ʼn entjie voordat hy weer krampe begin voel. Hy gryp sy maag vas, maar met die geskud van die ry gly hy uit die saal. Hy span al sy mag in en reik na sy perd se kunsmatige maanhare. Dit is net te ver en met ʼn harde slag kom hy in die woestynsand te lande.

Dadelik stop Mack en spring wildsnorkend rond. ʼn Voorwerp met ʼn blinkende rooi liggie val van die perd af. Bouwer staar deur skrefies oë na die eienaardige voorwerp. ʼn Sporingseenheid! Hy slaan die grond hard met sy palm, staan op en trap dit flenters met hak van sy stewel.

“Mack, skakel aan.” niks gebeur. “Mack, skakel aan!” nog steeds niks. “Verdomp, hy moet eers herlaai.”

Hier is Arend heeltemal ontbloot, hy sal vinnig moet skuiling soek. Die ander twee gaan binnekort hier wees en hulle sal hom maklik van kant kan maak.

Sukkel-sukkel strompel hy verder. Oos lê ʼn groep rotse wat moontlik beskerming kan bied. Sy leer stewels maak lang sleepspore in die sand. Eindelik bereik hy die rotse se skadu, sy blik wasig. Sy rewolwerband voel soos ʼn ton lood, dit trek hom af en hy maak dit los. Strompelend skuifel hy tot in die skaduwee en lê met sy rug teen die massiewe klip. Dan val hy om.

Bartel en Krauss kom stadig nader aan die rotsformasie aangesweef. Lank staar hulle na die figuur wat kreunend op die grond lê voordat Bartel die stilte verbreek.

“Ek het nie gedink hy gaan so lank hou nie. Daar was genoeg Kobra gif in daardie bord kos om hom reeds in die kroeg te laat omkom het.”

Beide van hulle klim van die sweeffietse af. Krauss loop voor met Bartel kort op sy hakke. Hy maak sy holster oop en haal ʼn wapen uit.

“Ek sal hom uit sy lyding verlos.” Sê Krauss, lig die koper Paladin-7 straalgeweer en druk die loop teen Arend se kop. Sonder waarskuwing rol Arend om, pootjie Krauss en trek die sneller van sy silwer, verlengde loop X3-Artemis straalgeweer. Die laser tref die Tukson tussen die oë. Die tweede laser tref Bartel in die maag. Verbaas kyk hy af na die gapende gat voordat hy op sy knieë sak en vooroor val. Daar is ʼn doodse stilte.

Versigtig staan Arend Bouwer op. Hy bekyk die toneel voor hom. Dit voel asof die son gate in hom wil brand en sy kop klop met ʼn geweldige hoofpyn. Nog ʼn kramp, hy laat val die X3-Artemis en hy loop haastig na ʼn dun straaltjie water om een van die rotse vloei. Hy drink totdat sy dors geles is en krul op in ʼn klein balletjie, sy liggaam vegtend teen die gif wat nog aan sy lewe knaag.

Die koms van die nag suig die hitte uit die woestyn. Eindelik maak Arend sy oë pynlik ook. Stadig kom hy orent en sy blik dwaal oor die omgewing. Mack staan getrou vyf meter van hom af, sy oë ʼn helder groen, dit beteken dat hy op rus-modus is en dat sy krag weer herlaai is. Sy mond voel so droog soos die woestyn self. Hy leun weer oor na die straaltjie water en vat ʼn sluk. Wanneer dit sy maag bereik, ruk sy ingewande effens, maar dit bly daar. Na nog ʼn paar slukke voel hy beter.

Hy staan op en loop na Mack, tik sy metaal lyf. “Haai my ou maat, voel jy ook darem beter nou? Moet nie bekommer nie, ek het hierdie boewe uitgesorteer.”

Daarna stap Arend terug en tel die X3-Artemis op, maak sy rewolwerband vas en druk die wapen in sy holster. Sy maagspiere pyn nog steeds asof dit deur ʼn Wermeense Krap geskop is, maar ten minste is hy lewendig en dit is die belangrikste.

Moeisaam klim hy weer op sy perd se rug en skakel hom aan. Hy tik ʼn paar knoppies op die GPS in. Nog 450 kilometer, die eenheid reken hy behoort teen tien-oor-twaalf die volgende dag in Pleodora te arriveer. Inniglik hoop hy dat Michelle Karelse nog daar vir hom sal wag. Hy en Mack verdwyn oor die bult met die lug van die drie mane wat hulle pad verlig.

  • :)

    Wow dit was so cool !!! Laat my dink aan Brave Star. Hoop van harte dit word omgesit in ‘n boek dat ons weet of die ou reg gekom het.

  • Chantal

    Baie goed geskryf hoor! Jy het daardie medaljes en sertifikate verdien.