DIE SPEL – Cara Engelbrecht

DIE SPEL – 2014 © Cara Engelbrecht

VOLWASSE Fantasie (1 026 woorde)

 

Theuns vee sy modderbesmeerde hande aan sy broekspype af. Hy kyk goedkeurend van sy handewerk na die hoop tuinvullis in die hoek van die erf. Sandra sal bly wees om te sien hy het hierdie keer nie te veel aan die struike gesnoei nie. Sy is altyd ongelukkig as hy in die tuin gewerk het. Kla dat daar niks oorbly nie. Hy glimlag, ja, Sandra kla oor baie klein dingetjies, maar sy is ʼn goeie vrou vir hom. Hy weet dat as hy nou in die huis instap, gaan alles blinkskoon wees en sy gaan herinner om sy skoene uit te trek en tog nie met sy vuil klere op die bank te sit nie en sy gaan veral kla oor sy modderbesmeerde broek. Hy hou van ʼn skoon huis, nee-wat, Sandra is nie sleg nie.

Deur die sitkamervenster kyk Sandra na Theuns. Sy sien dat hy op pad voordeur toe is. Sy skuil agter die bank. Sy wil hom skrikmaak. Hy verwag haar nie in die sitkamer nie, hy sal haar in die kombuis gaan soek en weer nie sy hande kan tuishou nie. Veral as sy met handskoene staan en skottelgoed was. Theuns, tog te stuitig soms, maar ʼn goeie man. Sy het ʼn goeie slag geslaan.

Theuns kom fluit-fluit in en wanneer Sandra onverwags agter die bank uitspring, fluit hy ongestoord voort. Hy lag uitbundig as hy haar afgehaalde gesig sien.

“Hoeveel keer het jy my al probeer skrikmaak?” lag hy selfvoldaan.

“Het jy nie eens ʼn bietjie geskrik nie?” vra sy terwyl haar oë na sy modderbesmeerde broek dwaal.

Theuns hou sy hande wat nog ligweg vol modder is, voor hom uit en maak of hy haar gaan omhels. Sy hardloop die trappe laggend op om van sy vuil hande te ontsnap. Hy hardloop agterna en was sy hande in die badkamer terwyl sy belowe dat sy hom nog wel eendag gaan skrik maak. Groot laat skrik.

Teen middernag skrik Theuns wakker. Het hy iets gehoor? Hy voel in die donker na Sandra se plek, maar sy is nie daar nie. Hy staan op en soek haar deur die huis.

“Ek het seker weer gesnork en nou slaap die ou katjie in die sitkamer,” praat hy saggies met homself terwyl hy van kamer tot kamer loop en in die maanlig sien dat Sandra nêrens is nie.

Wanneer hy haar ook nie in die sitkamer vind nie, stap hy die trappe onrustig op.

Hy glimlag wanneer hy haar aan die bopunt van die trappe sien staan.

Haar swart reguit hare hang soos ʼn gordyn langs haar wit gesig af. Haar lang nagrok blink in die maanlig en een hand rus op die trapreling terwyl die ander een slap langs haar lyf afhang.

Theuns stap op sy vrou af met ʼn: “So is ons ʼn spook vanaand? Ek kan jou sien, my dier. Onthou, jy het al hierdie een probeer.”

Wanneer sy lyf teen hare raak, verwag hy om die sagte rondings van haar lyf te voel. Maar dit voel asof hy in ʼn klipharde muur vasloop. Hy kyk onbegrypend in die maanlig na sy vrou. Haar gesig is strak en haar oë kyk verby hom. Wanneer hy paniekerig wil omdraai om weg te hardloop, raak alles swart.

Speursersant Viljee vee met sy hande oor sy oë.

“Hierdie ding is besig om hand-uit te ruk,” sê hy moeg.

“Ek sê Sersant, daai huis was gesluit, daar was niks uit plek nie, net bietjie oorblyfsels van die man en ʼn tamaai stuk van die vrou se hare het oorgebly,” praat jong konstabel Jaffie opgewonde. “Dis presies dieselfde as die ander kere, Sersant sal weet.”

Viljee vryf weer oor sy oë: “Daar kon niemand inkom nie? Dit kon iemand gewees het wat by hulle gekuier het, daar geslaap het.”

“Ek wil nou nie vir Sersant die josie injaag nie, maar Sersant weet van die vorige kere, daar was hierdie keer ook geen ander vingerafdrukke in daai huis nie. Asof daar nog nooit eens iemand anders was nie. Hulle was ʼn jong getroude paartjie, Sersant weet. Nie jongmense nie, maar jonk getroud, Sersant verstaan?” kom Jaffie se opgewonde relaas weer eens.

Vir die eerste keer praat die Kolonel vanwaar hy nog die hele tyd net stil voor hom sit en staar het: “As ek dan nou reg verstaan, bel die persoon en sê die Alien het weer toegeslaan en gee die adres? Is die ding ʼn man of ʼn vrou?”

“Nee Kolonel, as ek iets mag sê. Ek het nog nie met… dit… oor die foon gepraat nie, maar dis skynbaar al,” kom Jaffie weer met ʼn blik in die rigting van die swygsame Viljee se rigting.

“Die mense is opgeëet, Kolonel weet. Daar is net stukkies been en bloed en hare oor… Geen mens kan dit doen nie. Nie eens ʼn dier nie, dink ek, Kolonel. Maar dis seker nie vir my om te sê nie,” hou Jaffie aan.

Viljee gee Jaffie een kyk en die jongman raak doodstil. Hy weet dat as hy nie nou sy mond hou nie, die sersant hom sommer ʼn dwarsklap sal gee. Hierdie Alien-moordenaar het die sersant in ʼn donker bui. Laat hy liewers stilbly.

In ʼn kantoor twee blokke van die polisiestasie af skuif ʼn aanvallige swartkopvrou agter ʼn lessenaar in. Haar raafswart hare hang lank aan die een kant van haar gesig af en is ultra kort geknip aan die anderkant.

“Besonderse haarstyl, mejuffrou…?”

“Viljee. Viljee is die van. Die suster van speursersant Viljee, as u hom ken. Maar nie dat ons eintlik met mekaar praat nie. Hy… het jare gelede kontak met my verbreek, ons herkoms verwerp, maar ek wil beslis nie oor hom praat nie,” sê Sandra terwyl sy haar bene kruis.

“En ja, dis inderdaad mejuffrou, ongetroud!” sê sy skalks terwyl sy haar ringlose linkerhand lig en koketterig na die man agter die lessenaar loer.

Hy bloos en kan nie verstaan hoekom hy skielik so aangetrokke tot die vrou voel nie: “Ek is ook nie getroud nie…”

Sy staar verby hom na haar beeld in die spieël skuins agter hom. Vanuit die spieël gryns ʼn weerwolf na haar en sy knipoog: “So… waar was ons?”

Thompson Boekdrukkery - Advertensie Banier

  • Chantal

    Vreemd, mar wonderlik geskryf!