EDEN – Nico Smit

EDEN – 2014 © Nico Smit

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 685 woorde)

Die eerste gewaarwording wat ek het is die van ’n verskriklike skerp pyn bokant my oë. Ek frons onwillikeuring. Versigtig flikker my ooglede oop en bruin oë staar na ’n wit plafon bokant die hospitaalbed. Ek knip my oë onseker. Kleur en beeld vorm stadig. ’n Sagte kreun ontsnap oor droë lippe. Eina. My kop!

My hand beweeg dom, versigtig na my voorkop. Sagte vingerpunte tas oor die plek van pyn. Ek beur moeisaam orent en stut myself met kragtelose arms. Arms swaar en sonder gevoel. Ek leun teen die sagte kussings terug en betrag die vreemde vertrek.

Dit is donker, in skemerte gedoop, buiten vir ’n nagliggie wat flou bokant die bedkassie brand. Vreemd. Ek is in ’n vlekkelose wit japon geklee. Onder die japon is ek naak. Okay. So wie het my uitgetrek? Wie het my hier geplaas? Hel ek kan niks onthou nie! My blik dwaal verder. Die vertrek is skitterwit. Ja klinies skoon en rein.

Hallo? Is iemand daar?

My stem is sag. Dit voel kompleet of ek vergeet het hoe om te praat.

Stilte.

Geen antwoord nie.

Ek roep harder, maar dit bly slegs ’n fluistering. Hallo. Hoor iemand my? Is ek in ’n hospitaal? Geen reaksie. Ek brom. Vies vir die stilswye van persooneel wie heel duidelik nie na hulle pasiënte omsien nie. Daar moet tog iewers ’n verpleegster aan diens wees.
Ek roep harder. My stem klink sterker. Water asseblief! Ek’s dors! Stilte. Verdomp!

Ek loer na die bedkassie. Miskien is daar iets te drinke. Die hoop beskaam nie! Appelsap! Ek beur oor na die kassie. Versigtig met dom vingers. Gulsig sluk ek die koue sap weg. Heerlik!

Die houertjie is veels te vinnig leeg. Meer. Ek soek meer! Ek plaas die leë houer terug op die kas.

Ek voel versigtig aan my voorkop. Daar moet sekerlik ’n verband wees. Dit moes ’n baie harde stamp gewees het. Hoe anders sou ek hierdie hospitaalbed beland het? Niks! Daar is geen verband of pleister nie! Niks. Maar die skerp pyn is nog steeds daar. Wat gaan hier aan? Ongelowig tas my vingers oor my kop, my gesig, my neus. Alles is daar. Maar wat veroorsaak hierdie helse pyn? Is hier dan nie iemand om vir my pille vir die pyn te bied nie? Verdomp! Waar is die ellendige verpleeg personeel? Hallo, waar is almal? Stilte.

Ek sal moet opstaan. Hier sal sekerlik nie binnekort iemand kom loer of ek okay is nie. Ek sal self die verpleegster gaan soek. Sy is nou die voorwerp van my gramskap. Ek loer na die toe kamerdeur. ’n Flou ligskynsel breek deur die skrefies.

Ek wip soos ek skrik. By die deur staan ’n skraal seuntjie. ’n Effense glimlag plooi om sy mondhoeke. ’n Bos donker hare omvou die bleek gelaat. Ek kon sweer die mannetjie was nie netnou daar nie! Ek is sommer dadelik vies dat die knapie my so kan skrik op die lyf jaag. Ek maak my stem grof. Ek kan nie toelaat dat die ventjie besef hoe groot my skrik werklik was nie. “Haai jy… wat soek jy hier?” Hy antwoord nie. Donker oë staar onbeskaamd na my.

Die seuntjie is sekerlik nie ’n dag ouer as ses jaar nie. Met my asemhaling terug na normaal voel ek heelwat dapperder. Het jy dalk verdwaal? Of snuffel jy rond in mense se kamers terwyl hulle slaap? En dit boonop in ’n hospitaal. Die seun antwoord nie. Met die skewe glimlag nog steeds op sy gelaat beweeg hy versigtig nader aan die bed.

Buite die ligkring van die bedliggie bly hy egter staan. Sy blik wyk nie. Ek voel soos ’n gevangene en skielik selfbewus.Ek hou niks van daardie blik nie. ’n Krieweling beweeg stadig teen my ruggraat langs.

“Wat soek jy ou? Waar’s jou ouers, hê? Jy kan nie so in die nag in ander mense se kamers rondsnuffel nie. Dit is ’n hospitaal hierdie…”  Ek frons om vir hom te wys dat ek nou goed moeilik is. Miskien is dit ook ’n manier om die groeiende onsekerheid in my binneste te stil. Dit is mos ’n hospitaal hierdie? Waar anders kan ek tog wees as in ’n hospitaal? Ek probeer onthou hoe ek hier beland het. Weer skiet die pyn verblindend deur my kop. Deksels!

Stilte. Die seun staan net daar, sy arms slap langs die sye. Ek betrag die outjie. Hy is geklee in ’n netjiese wit t-hemp en jean. Die tekkies het beter dae geken. Die donker hare is veels te lank vir enige onderwyser om te verteer, so die outjie is sekerlik nog nie in die skool nie. Die donker oë is onleesbaar. Dit is slegs die glimlag wat aandui watter emosies deur die outjie spoel.

Ek wonder of die mannetjie besig is om met my die gek te skeer. Die stilswye werk op my senuwees. Ek probeer weer om ’n gesprek aan te knoop.

“Wat’s jou naam?” Vriendeliker. Steeds stilswye. Dit lyk nie of die seun belangstel om enigsins met my te kommunikeer nie. Ek vervies my vir sy parmantige houding. Verdomp!
“Luister outjie… my kop is baie seer en ek’s dors. Ek dink dit is tyd dat jy verkas.” Ja dit klink onsensitief, dalk onbeskof, maar die stilswye van die seun en die skewe glimlag begin nou regtig knaag aan my gemoed. Ek swaai my bene van die hoë bed af. Vir ’n oomblik sit ek so. Verdomp! ’n Skielike naarte het my beet. “Sjoe.” Ek byt op my tande en sluk aan die mislikheid in my keel. Miskien moet ek maar eerder weer terug in die bed. Ek loer onderlangs na die outjie. Hy staan nog steeds daar. Buite die ligkring.

Die seun se glimlag is weg. ’n Besorgde uitdrukking verskyn op sy bleek gelaat. Dit lyk of hy wil nader kom, maar iets hou hom terug. Hy hou sy hand uit na my. Die boodskap is duidelik. Kom saam met my.

Ek frons. ’n Skielike beklemming het nou my hart beet. ’n Koue het in my bors kom lê. ’n Gevoel van naderende onheil spoel oor my. ’n Angswekkende gedagte spring na vore. Is hierdie seuntjie werklik? Slaap ek nog? Droom ek dalk, of… ek wil nie eens die woord in my gedagtes laat vorm nie. Spoke. Spoke bestaan nie! Nie waar nie?

Ek kners op my tande. Nee, iemand is hier besig om met my die gek te skeer. Ek het nou die mislikheid redelik onder beheer. Hopelik sal ek nie nou naar word hier op die vloer nie. Die hospitaal personeel sal glad nie beïndruk met my wees nie. Wankelrig staan ek regop. So ja, dit is beter. Nou gaan ek die parmantige mannetjie uit my kamer boender en ’n verpleegster soek en smeek om daardie pynpille en koue water. Verdomp ek’s dors!
Vir ’n paar sekondes was my oë en aandag nie op die seuntjie gevestig nie. Die outjie is nie meer daar waar hy gestaan het nie. My hart ruk. Verwilderd soek my oë deur die vertrek. Daar! Langs die deur. Hoe de hel het sy so vinnig daar gekom?

Die seun wink vir my. Kom!

My mond gaap oop en toe. Wat is dit met die kind? Eers verskyn die outjie van uit die niet in my kamer, voorts praat hy geen woord nie en nou wil hy boonop dat ek hom volg. Ek weifel, die onuitgespreekte vrees nog in my hart. Is hierdie seun ’n werklikheid of iets anders… iets bonatuurliks? Laasgenoemde wil ek nie eens aan dink nie, wat nog die moontlikheid van so iets erken. Maar wie is die seun? Waarom dring hy so daarop aan dat ek hom volg? Die vrae dwarrel deur my pyn benewelde brein. Stadig, versigtig, voetjie vir voetjie skuifel ek nader aan die seun.

Moenie wys dat jy bang is nie, flits dit deur my gedagtes. Staan jou man. Dit is net ’n simpel grap, nie waar nie? Goed, goed ek kom. Nie so haastig nie, verdomp! Ek brom ergelik.

Ek kyk op. Het hy my gehoor?

Daar is niemand nie! Die seun het soos ’n groot speld verdwyn! Onmoontlik! Ek voel ’n koue sweet op my voorhoof uitslaan. Wat de joos is hier aan die gang? Verbeel ek my al die dinge? Het die outjie reeds by die deur uitgestap wyl my oë op die vloer gerig was? Kan mos nie wees nie. Ek sou tog immers die deur hoor oop en toe gaan het. Nie waar nie? Ek skud my kop. Dit moes ’n baie harde stamp gewees het. Harsingskuddig. Ja. Dit is al regte antwoord, troos ek myself. Nogtans, nuuskierigheid dwing my voort.

Ruk jou reg, mompel ek hardop. Hier is g’n niks om bang voor te wees nie. Versigtig bereik ek die deur. Die deur gly geluidloos oop. Ek is beindruk. ’n Moderne hospitaal hierdie. Ek druk my kop by die deur uit en loer eers na links. Die gang is swak verlig. Iewers daar vêr onder brand ’n lig. Ek kyk na regs en weer ruk my hart van die skrik. Hier naby sit ’n meisie, op ’n wit rusbank. Die gesiggie versteek agter donker, lang hare wat oor haar bleek gelaat val. Sy is in ’n wit japon geklee, die voete kaal. Sy staar na haar skraal hande, gevou in haar skoot. Hallo… my stem klink vreemd. Sy antwoord nie. Kyk ook nie op nie. Soveel vir eerste indrukke! Ek maak seker my japon bedek alle strategiese plekke en beweeg stadig. Gee jy om as ek hier sit? Sy kan my nie meer miskyk nie. Ek staan nou reg voor haar.

Sy kyk op. Donker, groot oë. Mooi. Baie mooi. My hart bokspring.

Waarvoor is jy hier? Ek bedoel is jy ook in die hospitaal? Wat ’n manier om die ys te breek! Idioot!

Sy frons, skud haar kop stadig. Wie is jy?

Ek wil vinnig my naam sê. Hel wat is my naam?

Ek grinnik soos ’n dom skoolseun. Ek… ek is in hierdie kamer. Ek beduie met my kop. Wat ’n gesprek! Ek moet myself red uit hierdie benarde posissie. Wat is jou naam? Ek grinnik nog steeds, maar dit lyk waarskynlik meer soos ’n grynslag. Sy frons. Sy dink. Sy antwoord nie.

Sy staar weer na haar hande.

Kan ek maar sit? Sy knik haar kop.

Tyd gaan baie stadig verby as jy hard dink. Iets moet gesê word! Sy sal dink ek is ’n verdomde moroon!

In watter kamer is jy? Dit is al waaraan ek vinnig kan dink. Pateties.

Sy huiwer, beduie dan met ’n slanke vinger na die deur langs my kamer.

Ek… ek is daar… Haar stem is sag, strelend. Pragtig. Alles aan haar is pragtig.

Waar is al die hospitaal personeel? Was iemand al by jou gewees? Ek probeer hard hierdie gesprek laat vlot. Sy skud haar kop. Loer onderlangs na my. Ek bloos.

Vreemde hospitaal, nie waar nie? Dit moet seker nag wees. Dit is mos net tydens nagskof dat ’n hospitaal so stil is? Ek babbel. Stop. Dink. Sy kyk vir jou. Sy’s mooi…

Sy glimlag. Ek glimlag terug. Jy is snaaks. Merk sy op en kyk vinnig af op haar hande. Die glimlag het nie verdwyn nie. My hart klop vinnig. Ek voel in beheer. Ons sit weer in stilte.
Ek staar op en af in die gang. Stil. Hier is geen lewe nie. Nee, hel so kan dit nie aangaan nie. Nie dat ek omgee om hier langs haar te sit nie, maar ek dra swaar aan die dors en die verdomde hoofpyn.

Dit is al beter, maar nogtans herinner die dowwe geklop my dat hy daar vlak onder die oppervlak skuil. Ek probeer dink. My gedagtes fokus. Wat is my naam nou weer? Hoekom is ek hier? Wat het gebeur? Antwoorde asseblief. Niks…

Maar ’n nuwe, vreemde sensasie wel in my binneste op. Die gang, die meisie, die wit rusbank… dit alles is so bekend. Ek kan sweer ek was al vantevore hier. Het hierdie gesprek al gehad. Maar dit kan tog nie wees nie. Sekerlik maar net vertraagde breingolwe. Dit moes ’n harde hou gewees het.

Dan staan hy daar. Die seuntjie wie my so goed die skrik op die lyf jaag. Hy wink vir my. Kom! Ek kyk na haar. Sien jy hom ook? Ek beduie met my kop. Ek besef hoe simpel dit moet klink. Sy knik haar kop. Ja. Sy kyk weer op haar hande. Slank, bleek, mooi.

So… gaan ons hom volg? Ek wag vir haar antwoord. Sy kyk na my. Die donker oë onseker. Dink jy dit is ’n goeie idee? Hy… hy maak my bang. Dit is die meeste wat sy nog gepraat het. Ek hang aan haar stem. Wat het sy gesê? Heng sy is pragtig.

Ag nee wat. Ek is seker die nagpersoneel het hom gestuur. Miskien moet ons maar volg… Selfs ek glo nie die bog wat ek kwytraak nie. Sy vind berusting. Okay…

Ons stap stadig. Die seuntjie stap vinnig. Gereeld gaan hy staan. Wink parmantig. Komaan! Opskud.

Verdomp. Hierdie gang is nimmer eindigend. Wit, skitterwit, klinies wit. Skemerlig. Wat ’n vreemde hospitaal.

Ek stop skielik. Sy stop, kyk vraend na my. Ek beduie met my kop na die deursigtige glas.
Aan my linkerkant het die eentonige wit van die gangmure skielik weggeval in deursigtige glas. Die vertrek agter die glas is donker. Nag donker. Daar is ’n deur. Ek loer vir haar.

Bly in die gang. Ek wil net vinnig loer. Verduidelik ek. Sy skud haar kop hewig. Nee, moenie. Dit… dit is dalk nie toelaatbaar nie. Wat bedoel sy? Wie gaan my in elk geval keer. Hier is g’n mens nie. Ek merk die ontsteltenis op die gelaat van die seuntjie. Hy wil baie duidelik ook nie dat ek daar ingaan nie. Maar ek is veels te nuuskierig. Wil net vinnig loer. Dit is al.

Die deur gly oop. Die vertrek helder op. Daar is silwervorminge kapsules gestoor. Baie. Ek tel 18 om presies te wees. Ek wonder wat daarin is. Ek stap versigtig nader. Kom terug, pleit sy. Moenie bekommerd wees nie. Ek kom nou…

Die boonste helfte van die kapsules is deursigtige glas. Ek loer daarbinne. Dit word koud, yskoud in my binneste. Dit versprei soos ’n veldbrand deur my ganse liggaam. My wese. Uiteindelik vloei die krag terug. Ek stap na die volgende kapsule. Die keer is die skrik nie so groot nie. Ek het dit verwag. Ek hoef nie verder te gaan nie. Ek weet wat om te verwag in die ander kapsules. Ek verlaat die vertrek. Die ligte gaan dood. Die deur skuif toe.

Sy kyk vraend na my. En…

Ek skud my kop. Niks belangrik nie. Slegs ’n ou stoorkamer, verseker ek haar. Sy glo my nie. Ek kan dit in haar oë sien. Sy vra nie verder uit nie. Sy weet ek sal nie die waarheid vertel nie. Ons volg die seuntjie. Ek is nou nie meer bang vir hom nie.

Sy stap styf teen my. Ons hande skuur teen mekaar. My hand gaan oop. Haar hand glip in myne.

Ons bereik die einde van die skitterwit gang. Die eindlose gang. ’n Deur skuif oop.

Voor ons is ’n reuse vertrek. Die vertrek is in skemerlig gehul. Die seuntjie beduie ons. Kom! Kom binne. Ons tree oor die drempel. Die deur gly toe. Ons stap vorentoe. Dit is asof ons al hier was. Ons weet wat om te doen. Waar om te staan. Vreemde hospitaal.

Die vertrek kry skielik lewe.

Reënboog kleure flits teen die mure, teen panele, oor skerms. Die skemerlig verdamp. Helder, klinies, wit vertrek. Voor ons, ’n reuse skerm. Agter die skerm… ’n swart oneindige nag met honderde duisende flikkerende sterre!

Maar dit is nie wat ons eerste sien nie. In die middel van die skerm, ’n reuse ronde bal. ’n Bal oortrek met duidelike buitelyne van oseane, vastelande, groen oerwoude! ’n Planeet…
’n Stem praat maar die spreker is nie sigbaar nie.

Welkom kloon 10 A en kloon 10 B.

Vandag is die eerste dag in u honderdjarige lewenssiklus.

Aanskou julle nuwe tuiste… Planeet C0678, Eden.

Ek glimlag vir haar. Sy glimlag terug. ’n Reis van 1000 ligjare lê agter ons. Die toekoms is voor ons.

Staan by vir verdere instruksies…

  • Chantal

    Ek het hiervan gehou…