IN DIE KOL-LÊ: DIE STAATSGREEP – Ilse Goschus

IN DIE KOL-LÊ: DIE STAATSGREEP – 2014 © Ilse Goschus

VOLWASSE FANTASIE (2 993 WOORDE)

 

Dis vyfuur in die oggend en die son verf die Komatipoort-ruim met lang, pienkrooi blertse.

Die Jeep snork tot stilstand.

“Môre Tokelo… enigiets gesien?” vra Dirk de Beer vir die vyftigjarige Sotho man in die stowwerige grondpad.

“Môre Meneer. Ja, ek het op die een Doberman se halfgevrete karkas daar onder in die veld – daar doer by die driffie – afgekom. ʼn Bloederige gemors! Die bytmerke het vars op sy blink, swart en bruin opreggeteelde Doberman-lyf gelê.”

“Watter een?” grom Dirk woedend.

“Die teef!” antwoord Tokelo.

“Sasha?” vra Dirk geskok.

“Die bliksem!… En wat van die kat?”

“Geen teken nie!” antwoord Tokelo.

“Julle manne moet jul oë instel om die kolle raak te sien. Luiperd se kind smelt tog te maklik met die natuur saam, veral so vroegoggend met die son in mens se oë.

“Skiet die bliksemse kat as julle hom sien!” beklemtoon hy weer.

“Goed Meneer! Ons is reeds op die uitkyk! Ons sal die vloeksel kry! Dit belowe ek Meneer!”

Dirk is ʼn vooraanstaande boer in die Komatipoort-area. Sy melkplaas, Drifrant, lê op die grens van Komatipoort en die Kruger Wildtuin.

Sy jare trek al naby aftrede – Desember vanjaar raak hy 65.

(Die aftrede-kwas het sy swart, krullerige hare net so skrams in skakerings van grys, langs die kante van sy slape, bygekom.)

Sy helder brein en bruingebrande, atletiese lyf, ignoreer egter die sogenaamde aftrede-afsnylyn!

Die hitte hang al vroegoggend, stil en soel oor Drifrant. Geïrriteerd druk-druk Dirk sy sakdoek teen sy gesig om van die syferende sweetruppels ontslae te raak. ʼn Paar klou met mening aan sy krullerige baard en een hang uitdagend aan sy neus – net reg om skoot-toe te rol.

Sy oë verken die gebied sover hy ry. Hy beheer die stuurwiel met kundige vernuf. Klippe spat in alle rigtings as die metaalgrys, amper lomp lyf van die Jeep, vorentoe beweeg en so half sywaarts oor die klipperige grondpad gly.

ʼn Goudkleurige Toyota Vier by Vier, kom vinnig nader. Die man slaan sy remme aan as hy Dirk se Jeep sien. Hy is blond met helder blou oë, ʼn prominente adamsappel en ʼn vriendelike glimlag – ʼn man van so in die laat dertigs!

“Goeie Môre Meneer! Is u dalk Dirk Bester?” vra hy op ʼn Engelse aksent.

“Goeie Môre! Ja, dis net ek die. Ek neem aan jy is Brandon Taylor, die mesman?” sê-vra Dirk. “ʼn Man so na-aan my hart – vroeg – soos afgespreek.”

“Ja, ek is die man van die Kaap,” antwoord die Engelsman.

“Waar’s jou familie dan?” vra Dirk hoflik.

“My vrou en kinders en skoonfamilie gaan Kruger Wildtuin toe vir die dag,” beantwoord hy Dirk se vraag. “ʼn Man het soms bietjie eie-tyd nodig!”

“Ja, dit is so,” beaam Dirk. “Jy sê jy maak messe…” voer Dirk die gesprek verder.

“Ja, Dirk! Ek gebruik die hout vir die… ag man, die… hewwe,” antwoord hy. “Soms ontglip die Afrikaanse woorde my,” verduidelik hy verder. “My vrou, Anne-Marie is ʼn boerenooi. My Afrikaans het so met die jare heen darem al heelwat verbeter!”

“Nou kom, Brandon, laat ek jou aan my vrou gaan voorstel. Sy sal vir ons gou ʼn koppie lekker, sterk koffie maak en dan kan ons gaan hout soek – soveel as jy wil hê.”

“Baie dankie Dirk dat jy jou tyd opoffer. Ek kan nie te veel hout saamsleep Kaap toe nie.”

“Toe maar! Ek het al klaar aan ʼn plan gedink,” stel Dirk hom gerus. “Jy’s mos nie elke dag hier in die Bosveld nie. Komatipoort het ʼn stasie. Ons pak die hout in kratte en die goederetrein besorg dit veilig by jou in Kaapstad. Hulle sê mos ʼn boer maak ʼn plan!”

Dirk se vrou Leila is ʼn brunet – ʼn gesellige, ietwat plompe vrou met ʼn breë, warm glimlag.
Baie dankie vir die karringmelkbeskuit en koffie, Mevrou,” bedank Brandon.

“Dis ʼn groot plesier Brandon. Ag noem my Leila en kom kuier maar gerus weer as julle Wildtuin se kant toe kom!” nooi sy. “Bring volgende keer die familie saam plaas toe. Die kinders kan die hanslammers met die bottels, melk voer!”

“Sal so maak!” antwoord hy met ʼn glimlag wat sag en vriendelik om sy mondhoeke hang. “Hulle sal dit werklik geniet om die lammertjies te voer. Nogmaals dankie vir al die gasvryheid! Tot siens!”

Dirk skuif die kombuisdeur oop en roep: “Kata! Lebona! Is julle reg? Ons gaan nou die bome afkap vir die mesman van die Kaap. Mohato, help gou! Laai gou die elektriese saag op die Jeep. Jy kan ook opklim! In die veld is daar ʼn kragpunt waar ons die saag kan konnekteer. Bring ook die elektriese kabel saam, ‘seblief!”

Brandon los sy Toyota op die werf voor die opstal. Hy klim saam met Dirk en die ander manne, in die silwer Jeep.

Die grondpad kronkel dun tussen die knoppiesdoring- wit peer en mopaniebome deur.

“Brandon, jy’t oor die foon genoem jy soek ʼn harde hout vir die meshewwe. Ek het loodhout-, wilde olyf- en wit peerhoutbome.

“Die wilde olyf maak die mooiste messe. Dirk, ek wil nie hê dat jy jou bome afkap vir my onthalwe nie,” antwoord Brandon verskonend.

“As ek kan help, help ek graag. Eendag as ek Kaap toe kom, kan jy my weer rondneem. Een hand help die ander,” stel Dirk hom gerus. “Ek sal graag nog die Waterfront wil sien – was nog nooit in my lewe daar nie. Ook die Weskus – Langebaan, Saldanha, Paternoster en omgewing. As kind het ons Desembervakansies Weskus toe gegaan. Ek was ongeveer 20 jaar gelede daar en sal graag dit net nog eenmaal weer wou sien… voor ons Skepper my kom haal.”

“Moenie so praat nie, Dirk, maar… kom volgende jaar as dit blommeseisoen is in Namakwaland. Ek sal dan vakansie neem – my vennoot kan my prokureursfirma bestuur – ons maak beurte. Ek sal julle dan rondvat. Afgespreek?”

“Afgespreek!” anwoord Dirk.

Die skon skyn, nou sy silwer-geel strale reg in Dirk se oë. Met sy regterhand vorm hy ʼn venstertjie oor sy oë om die lig te blokkeer. Dis net presies toe, dat kat se kind sy lyf in soepele ratsheid, reg teen die linkerkant van die Jeep laat verbyskuur. In sy bek hang die slap lyfie van ʼn bobbejaan-kleintjie.

“ʼn Leeuperd!” gil Brandon half opgewonde.

“Ja, die… die nonsens dier! Vir hom wil ek vrek maak!” roep Dirk vererg uit.

So in die ry wikkel Dirk van een boud na ʼn ander in ʼn poging om die pistool uit die skede te kry. Die volgende oomblik klap ʼn skoot.

“Wie… wie de duiwel het geskiet?” skree-vra Dirk verbaas.

Brandon sit spierwit langs hom. Die adamsappel wikkel nou baie vining op en af. Pienk en rooi kolle slaan so plek-plek op sy ietwat te wit vel deur. Die geweer lê warm in sy skoot.

“Ouk, Baas Brandon. Jy’t ons nou amper uit ons swart velle laat skrik! Dat ʼn Engelsman nou so kan skiet!” laat Kato van hom hoor.

En skielik verander orde in georganiseerde chaos!

Die geel luiperdoë is nou geel, vlammende laterns. Die luiperdbek gaan oop en bloed sypel tussen die tande deur. In grommende stem skree die luiperd, “Staatsgreep! Staatsgreep! Ek verklaar ʼn staatsgreep!”

“Dis die vloek van die tokkelossie!” skreeu Lebona.

“Vergeet van die donnerse tokelossie!” dreun Dirk se stem agtertoe.

“Nee, dis ʼn kwessie van oorsaak en gevolg!” skreeu die bloed-druppende luiperdbek. Julle wil God speel met die elemente van die natuur. Julle wil ons voedselketting verbreek – ons habitat vernietig!”

“Jy het my opreggeteelde Doberman opgevreet,” verdedig Dirk.

“O so!” grom die luiperd woedend en spring met mening vorentoe. Saam met hom is daar nou tientalle luiperds met bloed-druppende bekke wat spring.

Yskoue rillings hardloop teen Brandon se ruggraat af. Sy prominente adamsappel beweeg weereens met rugkbewegings op en af.

Beangs, verbaas en in ongeloof bekyk die vyf insittende die petalje wat nou voor hulle afspeel.

“Die gevaar lê in die kolle,” besef Dirk en sy geselskap verbaas.

Die kolle spring een-vir-een (asof goed georganiseerd), uit die bloedbek luiperd se vel! Die kolle vertienvoudig en… dit verhonderdvoudig. Dit omring die Jeep en verander in… Die Groot Vyf met AK10-gewere.

“Staatsgreep!” roep die luiperd weer.

Die wanorde en doelbewuste ignorering van die voedselketting, sal onmiddellik en na vele jare, reggestel word.”

“Is jy van jou sinne beroof? Jy is net ʼn luiperd.?” skree Brandon.

“Grrr…” grom honderde luiperdbekke – hul lywe buig in soepelheid – net reg om te spring.

“Dis verby met hout-soek vir my meshewwe!” besef Brandon bedremmeld en teleurgesteld. “Aan die anderkant sal ek net bitter bly wees as ek heelhuids uit hierdie ongewone situasie kan kom. Ek voel vasgevang in ʼn self-gemanifesteerde web!.Ek moes na my intuïsie geluister het en die verbypad terug, gevat het. Ek moes die dag saam met my familie spandeer het.”

“Goddelike ingryping!” weerklink dit in sy kop.

“Ek verstaan nie!” baklei hy met homself. “Wat het hierdie spektakel te doen met goddelike ingryping? Is ek nou besig om my rasionele denke heeltemal te verloor?”

Brandon vroetel in sy sak om sy kompakte kamera te kry.

“Ek moet rekord hou van vandag se gebeure. Vandag se gebeure is direk in stryd met alle logika,” redeneer hy met homself. “Ek is gewoond aan wette, orde… logiese denke! Aan die anderkant… die foto kan dalk eendag in die argiewe beland!… ʼn tipe van ʼn een-dag-in-ʼn-leeftyd-ervaring!”

Hy slaag daarin om sy kamera te kry, maar toe sy vinger die knop wil druk, gee dit sagkens, mee, sonder die verwagte kliek-geluid en sonder om die eenkeer-in-leeftyd foto te neem.

Hy staar na ʼn pikswart skerm, en druk die kamera teleurgesteld in sy broeksak. Hy word wreed teruggebring na die huidige, onverwagte, nagmerrie.

My regiment wat my bystaan tydens die staatsgreep is die Groot Vyf: Leeus, mede-luiperde, buffels, olifante en renosters,” verduidelik die luiperd die verloop van sake in ʼn grommende stem.

“Baas Dirk, die bloedbek gaan ons opvreet of laat opvreet!” skree Kata benoud.

“Dis vir my wat hul soek Kata! Hou asseblief jou mond! Dink jy nie die idee hang in elk geval soos duisende, wit spoke in ons almal se koppe nie?” laat Dirk kwaad en kortaf van hom hoor. “Ons moet kophou.”

Dirk se hande bewe effens waar dit op die stuurwiel rus. Hy sluk-sluk elke nou en dan om van die senuagtigheid te probeer ontslae raak.

“Ouk, my baas!” glip die woorde onwillekeurig uit Lebona se mond. “Dit is tokelossie-goed die. Hoe kan luiperdkolle in luiperds verander?” vra hy skepties in in ongeloof.

“Die mag van die natuur is groter as die mag van die mens,” skree die luiperd grommend en in antwoord op Lebona se aanmerking.

Groot olifantbulle flap hul ore dreigend, trompetter en wieg hul lompe liggame heen en weer. Ons sal jou en jou tipe se toegang tot die Suid-Afrikaanse Natuur beperk. My troepe het reeds verskeie televisiestasies ingeneem – regoor die land! CNN en BBC is reeds van die lug af. Ander oorsese uitsaaistasies in Suid-Afrika, sal binnekort van die lug af gehaal word. Van vandag af word ʼn aandklokreël ingestel – dit sal van toepassing wees vanaf vyfuur in die middag tot nege-uur die volgende oggend. Ons, wilde diere van die Bosveld, wil ons standpunt duidelik oorbring – plaaslik sowel as internasionaal!”

“My opreggeteelde Doberman! Jy het hom koelbloedig opgevreet!” skree Dirk woedend. “Elke maand verloor ek minstens een bees aan luiperdkos! Dink jy dat dit vlak in ʼn man se klere en geldsak gaan sit?”

“Jy en jou twee-benige broers, is besig om ons luiperds een vir een uit te roei. Hoeveel het jy en jou soort al doodgeskiet? Vergeet jy van die dag wat jy my ma – sy was besig om haar een welpie te laat drink – so sonder oordeel vrek geskiet het. Die koeëls het ook die kleintjie, noodlottig getref. Ek het terruggesluip, na die treurspel en hul slap bebloede, liggame gelek in laaste eerbetoning, voordat die hiënas en ander roofdiere kon inspring.” weerklink die luiperd se stem in grommende woede.

Vir ʼn kortstondige oomlik kom lê ʼn waas van sagte weemoed in die luiperd se oë.

Dirk en die ander manne, kry almal die knop-in-die-keel-effek.

“O so!” skraap Dirk moed bymekaar en probeer die knop afdruk maag se kant toe.

Braaf praat hy verder: “Dit gaan eintlik om weerwraak en nie die voedselketting en sy wette nie?”

“Die angs in my klein luiperdsussie se oë hang nou nog soos grys skimme in my kop – elke dag dra ek dit met my saam bos-in,” grom die luiperd voort.

“Baas Dirk, ek dink ons is almal besig om ons koppe te verloor,” lewer Lebona ook ʼn ongevraagde bydrae.

“Dis belaglik!” skree Dirk. “Die tye van die aanklokreël…! Ek moet die diere kos en water gee voordat die son hul doodbrand! Sommige kalfies kom in die nag aan. Ek moet soms vir die koeie bystand gee met bruggeboortes…”

“Dis onregverdig!” skree Brandon. “Ons lewe in ʼn demokrasie. Almal het regte en die hele wêreld behoort te weet wat julle met ons aanvang!”

“Ons weet almal demokrasie is amper soos die analogie van ou skoene in ʼn nuwe boks. Net ʼn nuwe woord om nog baie van die ou, ongewenste praktyke te verdoesel. Demokrasie is nou die nuwe boks…” probeer ʼn ander luiperdbek slim antwoord.

Tientalle olifantbulle beweeg gedetermineerd nader. Die ore flap in groteske grysheid – die ivoortande skitter witter as ooit in die oggendson. Groot, dik grys pote kom in lompe ratsheid vining nader aan die Jeep. Die getrompetter van die olifante laat ʼn duisendtal hoenderknoppies op die insittendes se velle uitspring. Trane rol onwillekeurig oor al vyf, sterk manne, met baie lewenservaring, se wange.

Onverwags, kraak die ruite van die Jeep asof in vroeë geboorte… Met die spreekwoordelike, sprong van die geloof, kies ʼn ongenooide, paniekbevange dier, die reeds amper-vol Jeep as ontsnappingsroete. ʼn Jong impala-ooi sluit haarself ongenooid en in klaarblyklike desperaatheid by die Jeep-ledetal aan.

“My goeiste genade!” skree Dirk as hy agertoe kyk.

“Ouk! Ouk! Eina!” klink dit van die agtergesetenes.

“Goddelke ingryping!” dink Brandon weer.

“Baas Dirk, wat nou?” roep Mahato.

“Draai die sleutel en… trap die petrol, Dirk!” skree Brandon logies.

Op die agtersitplek breek daar nou verdere konsternasie uit…

Met haar dun, angstig-spartelende pote, probeer die dier vir haarself ʼn plekkie van veiligheid bewerkstellig om die verdoemende vloek van die voedselketting te ontkom.

Hordes olifantslurpe krul nou om die Jeep. Die voertuig begin wiegel en dan word die buffers deur die olifantslurpe opgelig en soos goedkoop konfytblikke uitmekaargetrap en eenkant gesmyt.

“Blikskottel!” skree Dirk as ʼn ivoortand hom met mening in die maag druk.

Die warm boed sypel teen sy maag af. Met sy linkerhand probeer hy sy hemp styf teen die wond druk. Hy voel hoe die warm kol groter en groter raak.

“Leila!” roep hy in sy kop. “Voel my pyn. Kom na my toe, Leila! Kom my lief!”

En dan sien hy haar… In ʼn los, wit rok, met hare wat waai in ʼn sagte briesie, dans sy tussen die bome. Haar glimlag… dit pluk aan sy siel. Hy sluk swaar aan die hartseer wat skielik saam met ʼn branderigheid in sy keel kom sit.

Sommige dade word egter uit nood gebore, maar… dele van die Jeep is al half plat getrap en die enjin het geen vuurmaakkrag oor nie – so lyk dit vir Dirk… Hy draai die sleutel en trap die petrol in elk geval.

Die Jeep snik en hik en roggel mismoedig tot stilstand.

Die ander kyk met bekommerde oë na hom. Pyn, angs en ʼn diep poel van hulpeloosheid is nou plaasvervangers vir sy rasionele denke en ploeg diep vore oor sy voorkop en mond.

Vir enkele oomblikke ontmoet Brandon en Dirk se oë.

Brandon plaas sy hand ongemaklik op Dirk se been en gee dit ʼn stewige druk, terwyl die trane in klammigheid aan sy ooglede kleef.

Die impala-ooi se teenwoordigheid vul meteens die voertuig. Sy raak skielik meer sigbaar. Fisies raak sy groter en groter en skielik… ook in aansien. Dapperheid is die kleed wat nou haar aanvanklike angstigheid en onsekerheid verdoesel. Met vasberadenheid en in absolute grasie spring sy sierlik in een reuse sprong, tussen die vyand in.

Brandon se lippe is nou kurkdroog – hy besef die impak van die daad.

“Wat besiel die bok?” skree hy lug-in.

In ongeloof bekyk die ander insittendes die spektakel. Die bloedbek-luiperds, olifante, buffels, renosters en leeus, deins effe terug. Dit verleen aan die impala die tyd wat sy benodig om haar uitverkose lewenstaak te voltooi.

“Kolle spring terug!” beveel sy met gesag.

Die insittendes luister stomgeslaan, na haar woorde.

Tot almal se groot verbasing, gehoorsaam die luiperd-illusies haar. Die kolle spring gedweë terug in die luiperdvel en… daar is skielik geen teken van die res van die Groot Vyf nie…

Die luiperd met die bobbejaankleintjie in die bek, spring hoog in ʼn boom en verorber die prooi in stilte.”

“Die lewe is ʼn illusie,” sê die impala. “Tyd is ʼn illusie! Dit is dikwels moeilik om te onderskei tussen realiteit en illusie,” gaan sy voort.

“Dit was beslis Goddelike ingryping,” dink Brandon. Die impala besef immers die lewenswet van oorsaak en gevolg – ʼn besliste skakel in die voedselketting!”

Die impala kyk met ʼn glinstering in haar oë na Dirk se geselskap. Dirk se liggaam hang nou slap oor ʼn stukkie oorgeblewe stuurwiel.

In ongeloof en met droë monde, maar verlig, kyk vier paar oë na mekaar, na die bok, na Dirk se stil, grys liggaam en na die boom waar die luiperd lê en vreet.

Vier lywe sit op verskeurde Jeep-sitplekke, in die Bosveld terwyl die skemer se skadu’s in grys skakerings kom hang. Die metaal-raamwerk van die voertuig en skans van veiligheid, is fyn en vlenters getrap.

As hul hul yskoue en nou bibberende lywe omdraai, kyk hulle vas in honderdtalle, parate, grys, glibberige seekoei- en skurwe, groen krokodillywe, wildehonde, sirkelende arende en duisende honger aasvoëls met… AK 10-gewere.

Met elegansie, en in goed geartikuleerde stem, kondig die impala aan: “Hiermee verklaar ek ʼn staatsgreep!” ʼn Grynslag klou aan die delikate bek as die bome en die skemer, haar stem absorbeer en haar woorde laat wegraak in die koel aandwind.

“Die aandklokreël…”

  • Hannes

    Ek het hierdie verhaal baie geniet. Jy is reg, die lewe is inderdaad ‘n illusie.

  • Chantal

    Baie oorspronklik, maar daar is meer dialoog as plot. Sal goed kan wees as ‘n radio drama.