SOEKTOG NA DIE LAASTE SIHUFFS – Johan van Wyk

SOEKTOG NA DIE LAASTE SIHUFFS – 2014 © Johan van Wyk

VOLWASSE Fantasie (4 067 woorde)

 

Tik-Tok Tik-Tok Tik-Tok. ’n Analoog horlosie teen die muur se sekonde wyser slaan oorverdowend in die stilte van die kantoor. Daar is twee mans wat mekaar woordeloos aanstaar. Die een agter die duursame eikehout lessenaar is ’n aantreklike man in sy veertigs. Sy oop, vriendelike gesig spog met ’n dik bos, netjies gekamde hare en dun snor. Alles omtrent hom getuig van kultuur en geletterdheid. Gemaklik in sy deftige pak klere en blink skoene, tuur hy die man aandagtig aan wat voor hom sit.

Die man aan die oorkant van die tafel straal nou weer ’n persoonlikheid uit wat heel op die anderkant van die spektrum gevind kan word. Hy is ’n middeljarige man met blonde hare wat in ’n poniestert agter sy kop vasgebind is. Sy denim is by die knieë geskeur en die uitgewaste swart T-hemp lees ‘Zeplin Rocks’. Hy sit agteroor terwyl sy kieste aanhoudend op en af beweeg soos hy aan ’n stuk kougom kou. Senuweeagtig vroetel sy hand met los garingkies op sy hemp.

Die stilte word na ’n ongemaklike lang tyd gebreek. “So mnr Diergaardt, gaan jy my vertel hoekom jy vandag hier is?” Vra die man met die dun snor. Hy kyk na die horlosie teen die muur. “Ons het nog ’n hele ses-en-veertig minute oor en as jy jou geld wil mors is dit jou keuse, maar ek sou dit veel eerder verkies om met jou oor ’n paar dinge te gesels.” Sy stem romerig en warm soos die van ’n storie verteller op ’n radio program.

Diergaardt wend ’n halfhartige poging aan om orent te kom. “Net vir die rekord. Dit was nie my idee om na ’n kop-dokter toe te kom nie.” Hy wys met sy hand by die venster uit. “My nooi het my geforseer. Ek hoef nie iemand te betaal om my tjom te wees nie. Sy reken dat ek baie dinge het om uit te sorteer. Dit is die enigste rede hoekom ek nou hier sit, net om haar gelukkig te hou.” Sê hy in arrogante stemtoon.

“Geen probleem nie mnr. Diergaardt. Soos jy reeds weet is my naam Dr Kotze en ek is ’n praktiserende sielkundige. As jy nie omgee nie, sal ek jou bietjie beter wil leer ken. Kom ons begin by die begin.” Hy wys na die rusbank toe, tel sy pen op en skuif ’n leë vel papier nader. “Gaan sit asseblief rustig en dan vertel jy my bietjie meer van jouself.”

Diergaardt staan op en loop oor na die rusbank. Die gladde donker leer kraak liggies onder sy gewig. Die rusbank is effens weggedraai van die lessenaar af, so hy hoef nie heeltyd in Kotze se gevreet vas te kyk nie. Hy wil nie lê nie, anders gaan dit voel asof hy op een of ander Amerikaanse televisie program is. Gemaklik sit hy agteroor en bestudeer die res van Kotze se kantoor. ’n Middel-eeuse Katana swaard rus in sy holster op die boekrak. Kan seker nie oorspronklik wees nie.

“Wel, my naam is Diergaardt, Wilhelm Diergaardt en ek is twee-en-dertig jaar oud.” Begin hy.

“Goed so.” Kotze krabbel woorde op die papier neer. “Hou so aan asseblief.”

“Ek bly in Edenvale, Johannesburg en ek werk vir ’n, erm… sekuriteits maatskappy.”

“Baie goed, ek luister.” Die gekrabbel duur voort. “Vertel my bietjie meer van jou beroep.”

“Wel, kom ek stel dit so. Ek glo in Feetjies.”

Kotze se wenkbrou lig. Stilte. ’n Motor voertuig se enjin blêr in die verte. “O ja? En hoekom sou jy in Feetjies glo mnr Diergaardt, en wat het dit met jou beroep te doen?”

“Wel, dit is nie dat ek in hulle glo nie. Glo is ’n sterk woord. Glo dui daarop aan dat ek in hulle glo soos wat ek in God glo. Maar nee, glo in die sin dat hulle wel bestaan.”

“Ah, verstaanbaar. Ek sien.” Nog geskryf. “So waarom glo jy dan in die bestaan van Feetjies?”

“Kom ek vat daardie woorde terug.” Hy sit meteens regop en kyk na Kotze. “Ek kan daardie woorde terugvat, nê?”

“Jy sit nie voor ’n regtersstoel nie, Wilhelm. Ek is net hier om te luister. Jy kan maar terugvat net wat jy wil.”

“Goed dan.” Sê Wilhelm. “Ek weet dat Feetjies bestaan. Nie net Feetjies nie, maar Trolle, Elwe en nog baie ander mitiese kreature ook.”

“Mmm, en van wanneer af glo jy dit?”

“Op die dag wat ek agtien geword het, het my pa my na Oom Hendrik toe geneem. Hy het in ’n klein houthuisie naby Hartebeespoortdam gewoon. ‘Vandag gaan jy leer wat die Diergaardts gebore is om te doen’ sê hy terwyl ons die kronkelende teerpad daarnatoe in die motorkar volg. Kan ek maar rook Dokter?” Vra Wilhelm en kyk so half verleë oor sy skouer.

“Ja natuurlik, kom ek kry vir jou ’n asbakkie.” Kotze staan op en bring vir hom ’n glas asbakkie en skuif dit oor die koffie tafel voor hom neer.

Wilhelm haal ’n pakkie Princton en ’n rooi Bic aansteker uit sy broeksak. Hy sit die sigaret in sy mond en steek die punt aan die brand. Na so paar stywe trekke, gloei die punt helder oranje en gekolkte rookwalms begin die vertrek te vul. Kotze druk ’n knoppie en die lugreëling begin dadelik die blou rook na buite te suig.

“Is jy nou gemaklik Wilhelm, kan ons maar aangaan?”

“Ja, waar was ek? O ja, Ons het so vier-uur daardie middag by Oom Hendrik aangekom. Dit was ’n eenvoudige huisie met ’n klein jaart, baie goed versorg. My Pa en Oom Hendrik het gegroet, en ons het lekker moer koffie gedrink. Oom Hendrik was in sy middel vyftigs, maar al die hare op sy kop was reeds grys. Hulle sê dat bekommer jou hare so gou laat grys word, min het ek geweet dat binnekort my kommer sou begin. ‘Jong ou neef, vanaand gaan ek jou iets wys wat jy nog nooit gesien het nie.’ sê hy terwyl sy een goeie oog my op en af bekyk, die ander een waserig van al die katarakte. By nou was my belangstelling behoorlik geprikkel. Wat kon so wonderlik wees dat pa my al die pad hier uitbring, vertel dat dit is waarvoor die Diergaardts gemaak is en dan kom vertel Oom Hendrik my nog dat dit iets gaan wees wat ek nog nooit gesien het nie.” Wilhelm skuifel ongemaklik in die leer rusbank rond.

“Ons het gesit en praat van skool, my vakke en watse sporte ek in belang stel. Oom Hendrik het nooit getrou nie, ek weet nie hoekom nie, hy het na ’n gaaf genoeg man gelyk. Hy het my uitgevra oor watse werk ek eendag sou wou doen. Ek het nog altyd in vegtery belang gestel, van boks na stoei, Kungfu en enige ander oosterse vegstyle. Dit het gelyk asof hy tevrede daarmee was. My ander passie was tegnologie, enige iets met ’n knoppie en elektriese drade het dadelik my aandag getrek. In elk geval, ons het lekker gekuier en toe dit donker word skakel Oom Hendrik die flou elektriese liggies aan. So half-nege sê hy vir my pa dat dit tyd is. Tyd is vir wat?, het ek gewonder. Ons trek warm aan, en hy lei ons toe die donker bosse in. Op daardie oomblik was ek nog meer deurmekaar as tevore. Wat op aarde gaan ons in die bosse maak? – het ek myself afgevra.”

’n Selfoon op Kotze se lessenaar gons vir ’n paar oomblikke. “Jou foon Wilhelm.”

“Toemaar dit is net ’n boodskap. Ek sal dit later kry.”

“Geen probleem. Gaan dan asseblief voort met jou verhaal, ek luister.” Sê Kotze.

Dit vat ’n paar oomblikke vir Wilhelm om weer sy gedagtes agter mekaar te kry en hy skandeer die kantoor. Hy merk ’n gekrimpte Voedoe kop in een hoek van ’n boekrak op, en langs dit ’n opgestopte kraai. Stadig gaan hy voort met die vertelling “Oom Hendrik het met ’n kierie geloop. Ons het seker so kilometer of wat met flitslig in die hand die kronkelende grondpad af gewandel. Eweskielik skakel Oom Hendrik die flitslig af en sê vir ons dat ons katvoet moet wees. Ons loop nog so paar honderd meter voel-voel agter hom die donkerte in. Hy buk af, en outomaties buk ek en Pa ook af.”

“Baie interessant, wat gebeur toe?”

“Eers het ek dit nie gesien nie, maar nadat Oom Hendrik in daardie rigting met sy krom vingers gewys het, sien ek ’n dowwe blou-groen liggie in die verte. Dit het nie beweeg nie, net op een plek doodstil gestaan. ‘Kom stadig nou’ Sê my pa. Versigtig om nie ’n geluid te maak nie loop ons geboë na die oorsprong van hierdie eienaardige lig. Op so twintig meter van die voorwerp af, begin ek die vorm toe uit te maak. Dit was ’n klein hok, met iets binne in! ‘Wat is dit Oom Hendrik?’ Fluister ek opgewonde. ‘Dit, my kleinneef is ’n Feetjie.’”

Meteens verstik Kotze aan sy eie speeksel en gee ’n paar harde hoese. “Ekskuus? Het jy nou net gesê dat jou oom ’n Feetjie aangehou het?”

“Ja, ek het.”

Weer ’n oomblik van stilte. “Reg gaan maar voort.” Sê hy, sy gesig rooi van die hoes.

“Ek kon my oë en my ore nie glo nie. Oom Hendrik kyk vir pa en vir my, ’n ernstige uitdrukking op sy gesig. ‘Ons moet nou baie versigtig wees, anders gaan die klein duiweltjie sy makkers roep, dan is ons in groot moeilikheid.’ Ek buk af om die ding van nader te bekyk. Dit lyk glad nie soos wat dit in kinderverhale beskryf word nie. Alhoewel dit ’n kop het, twee armpies en twee bene, toon dit verder nie veel ooreenkomste met ’n mens nie. Dit het twee groot oë, geen neus nie, net twee gaatjies waar die knop moet wees en groot vieslike geel tande. Dit het vier deursigtige vlerke op sy rug, maar dit het glad nie klere aan nie. Sy vel is ligblou, en dit is ook wat die skynsel afgee. ‘Wat maak hy in die hok Oom?’, ‘Dit is ’n lokval wat ek vanoggend gestel het. Jy sien, hulle is gaande oor dooie katte. Dit moes hom seker deur die loop van die dag gevang het.”

Kotze bly skryf in sy boekie. “Wat gebeur toe daarna?”

“Oom Hendrik haal toe ’n botteltjie uit sy baadjie se sak. Hy draai die doppie af. Dadelik ruik ek toe dat dit ’n sterk soet geur het, amper soos gegeurde visvang mielies – pienk-lekkers geur. Hy bring die botteltjie versigtig naby aan die hok. Dadelik vlieg die Feetjie en probeer hom aanval, maar die ysterdraad van die hokkie hou hom in plek. Die Feetjie gee ook ’n paar snuife in die lug. Hy het ook die soet reuk geruik en kom stadig nader geloop. Oom Hendrik bring die botteltjie tot teen die kou. Dit moes seker baie lekker vir hom geruik het, want die klein gedrog wil sommer sy hele kop daarin druk. Na ’n rukkie neem Oom Hendrik die botteltjie weg en die klein Feetjie lyk bedwelmd. Nog ’n paar sekondes en hy val toe agteroor. ‘Is hy dood Oom?’, ‘Nee, net aan die slaap.’ Sy vingers maak die klein deurtjie oop en versigtig haal hy die klein lomp liggaampie uit.”

“En wat doen Oom Hendrik toe, Wilhelm?”

“Oor sy skouer het ’n hout boksie gehang, ek het nog die hele aand gewonder wat daarin was, maar nadat hy dit oopgemaak het, sien ek dit was leeg. ‘Spesiale geelhout boksie’ Sê hy. Hy sit die klein figuurtjie versigtig in die hok. ‘Jy sien Wilhelmpie, hierdie Feetjie lyk dalk baie onskuldig, maar dit is eintlik ’n baie gevaarlike roofdier. As ons hulle nie vang nie, sal ons mensdom lankal in die moeilikheid gewees het. Wilhelm, hierdie kreature is onder beheer van hulle meesters, en hulle meesters is baie wreed. Hulle is daarop uit om die wêreld oor te neem, en as dit nie vir ons was nie, sou hulle dit al reg gekry het.’ Hy kyk oor my skouer ‘Ons beter baie vinnig hier wegkom.’ Ek draai ook om. Eers sien ek nie wat dit is nie, maar meteens besef ek. Honderde, nee duisende dowwe blou liggies oor die horison. ‘Ons moet nou hier wegkom!’ Sê Oom Hendrik en ons begin deur die bos, terug na sy huis toe te hardloop.” Wilhelm sit vorentoe in die leer rusbank.

“Gaan aan, gaan aan.” Sê Dr. Kotze.

“Die flitslig se straal bons heen en weer in die donkerte. Hulle het vinnig al nader en nader beweeg, en binne ’n paar minute was hulle op ons. ‘Hulle weet ons het ’n gevangene!’ Skree Pa. ‘Ja, maar daar is nie ’n manier wat ons hom gaan opgee nie!’ Ek was uitasem. Dit het gevoel asof ek gaan flou val, gedeeltelik oor die moegheid, maar meestal oor die vrees. Ek stop toe, net vir ’n paar sekondes. Eintlik moes ek nie stop nie, want op daardie oomblik duik een van daardie klein peste af en byt my in die nek. Die pyn was onverdraagbaar. My mond gaan oop en ’n onaardige gil ontsnap uit my mond. Dadelik draai Pa en Oom Hendrik om, net in tyd om die tweede, derde en vierde Feetjie te sien neersak op my. Oom Hendrik druk ’n knoppie op sy kierie, en die twee punte verleng. Hy druk nog ’n knoppie en ’n klein liggie verskyn aan die voorpunt. Eers klein, maar dan groei die groen lig. Meteens was daar was ’n ontploffing. Dit doen niks aan ons nie, maar orals rondom my lê klein blou figuurtjies.” Wilhelm kyk om na Kotze. Hy sit nog steeds besig met pen en papier. Hy draai terug en sak in die rusbank in.

Hy gaan voort. “Verwoed hardloop ons verder die donker in. Uiteindelik bereik ons die hout huis. ‘Gou binne!’ skree my pa ‘Ons sal daarin veilig wees!’ Ek het nie regtig geweet hoekom nou juis die hout huis ons veilig sou hou nie, maar het gemaak soos hy beveel het. Oom Hendrik skop die deur oop en ons hardloop oor die drumpel. Duisende en duisende blou liggies is agter ons aan, maar meteens stop hulle by die deur. Die deur staan wawyd oop, maar hulle kom nie binne nie, asof ’n onsiende vors hulle terug hou. ‘En nou, hoekom kom hulle nie in nie, ons is net hier?’ Vra ek uitasem, my nek, my arm en my been drup van die bloed.” Wilhelm druk die sigaret dood in die asbakkie en steek dadelik nog een aan die brand.

“So, hoekom kon hulle nie in kom nie?”

“Wag, ek kom nog daar.” Hy sit agteroor met een hand agter sy kop. “Eers binne begin die blou liggaampies een vir een te verdwyn. Sommige bly langer en hulle slangagtige gesis het my bang gemaak. Pa het my wonde met Detol, watte en pleisters versorg. ‘Kom skoert nou julle blerrie peste!’ Roep Oom Hendrik. ‘Wilhelm, die rede hoekom hulle nie in hierdie huis in kan kom nie, is omdat hierdie hout huisie van ’n baie spesiale hout gebou is. Dit is van ’n rare geelhoutboom wat slegs in die Amasone se moerasse groei gemaak. Ons weet nog nie presies hoekom nie, maar bose kreature kan nie daaraan vat nie, sodra hulle daaraan vat verloor hulle al hulle kragte. Soos my klein houtboksie. Niks boos kan hier in nie, en daardie Feetjies is baie boos.’ Verwonderd het ek vir hom daardie aand geluister. Hy het my vertel dat die Diergaardt familie lyn al die pad terug gespoor kan word tot met Van Helsing, die grootste van alle monster jagters. Natuurlik was die Diergaardts nie die enigste Afrikaanse monster jagter familie nie. As Diergaardt was dit my plig om na hoërskool ten minste twee jaar as ’n monster jagter die wêreld vol te reis om monsters op te spoor, te vang en dood te maak. Daarna kan ek besluit of ek een wou bly of liewers my eie paadjie sou wou volg. Oom Hendrik het een gebly, my pa het besluit om eerder ’n werk te gaan kry.”

“Baie interessant.” Dr Kotze vryf aan sy snor. “Is jy op enige medikasie mnr Diergaardt?”
“Ja definitief. Antidepressante, slaappille en spierverslappers. Hoe anders gaan ek slaap met alles wat ek al gesien het.” Wilhelm kyk na die lang metaal spiese wat in ’n houer langs die boekrak staan. “Interessante versameling wat jy hier het.”

“En wat het jy alles al gesien, Wilhelm?”

“Wel, na die eerste aand van Feetjies, het my pa my na die leiers van die monster jagters toe geneem. Die hoofkwartiere is in Vanderbijlpark. Hulle het my eerste instruksies vir my gegee, en so het ek dan begin om monsters te jag. Vampiere in Europa, trolle in Brittanje. Die Elwe in Ierland was taai gewees, en so ook die Weerwolwe in Amerika.”

“Jy het vroeër genoem dat hierdie, erm, monsters deur meesters beheer word. Vertel my bietjie meer daarvan.”

“Ja, die meesters, of die regte woord is die Sihuffs. Daar is nie meer baie van hulle oor op hierdie planeet nie, maar dit maak hulle nie minder skadelik nie. Hulle is verskriklik intelligent en regeer die ander monsters met ’n ysterhand. ’n Paar duisend jaar gelede het hulle vrylik sonder vrees tussen die mense rondbeweeg. Inteendeel, die mense het hulle aanbid, jy het seker al gehoor van die Griekse, Majanse en Hindoe gode. Nou, weens hulle klein getalle kruip hulle in elke hoekie en skeurtjie weg.” Hy gee ’n diep trek aan die sigaret.
“Jy sien Dr Kotze, na my twee jaar het ek besluit om ’n monster jagter te bly. Selfs tot vandag toe. Ons het informasie gekry dat hier in Pretoria moontlik ’n Sihuff kan wees. Maande lank het ons informante meer en meer inligting versamel.” Wilhelm kyk om na die dokter wat ongedeerd aanhou om aantekeninge te maak.

“Na vele gevegte en omkope het ons uiteindelik uitgevind dat hierdie spesifieke Sihuff se naam Abigon is. Hierdie sekere een is verantwoordelik vir die Nege-elf gebeure asook die onlangse Japanese kern ongeluk en nog vele meer gruweldade. Hy is verskriklik goed met vermomming en doen homself tans voor as ’n sielkundige onder die skuilnaam Dr Ben Kotze.” Die dokter kyk op. Wilhelm laat hierdie sin vir ’n paar oomblikke in die lug hang terwyl ’n effense glimlag oor sy gesig spoel.

Dr Kotze sit sy goue pen kalm op die lessenaar neer en lê vooroor met sy kop wat liggies op sy vuiste rus. “Jy het my gekul Wilhelm Diergaardt, en jy het dit baie goed gedoen. Ek moet dit vir jou gee, om jouself as klein en pateties voor te doen, dit het my beslis verblind.” Hy skuif sy stoel eweskielik agtertoe. “Ongelukkig gaan dit nie genoeg wees om my te vang nie.”

Wilhelm staan reeds gereed met ’n vyftig kaliber semi-outomatiese plasma handwapen, ’n rooi kolletjie dobber teen Abigon se voorkop. Hy steek sy hande in die lug op en kyk glimlaggend vir die monster jagter.

“Vertel my Diergaardt, is daar nie ’n kompromie wat ons kan aangaan nie? Elke man het tog ’n prys, maak nie saak hoe hoog nie.” Hy gee ’n glimlag. “Wat is joune?” Sy stem weer romerig en warm.

“Abigon, jy het tallose mense laat vermoor deur jou aksies. My prys?… ja ek het ’n prys. Gee my daardie lewens terug wat jy gesteel het, dan sal ek jou laat vry gaan.”

“Wel, in daardie geval mnr Diergaardt het ek geen ander keuse as om jou dood te maak nie.”

Op daardie oomblik verander Abigon se oë na helder oranje, gesplete pupille. Soos blits spring hy teen die muur en begin daarteen te hardloop, asof die wette van die natuur nie vir hom geld nie. Hy hardloop van een muur na die ander. Wilhelm se plasma geweer skiet een groen plasma straal na die ander uit, dit mis hom elke keer net-net. Gesplinterde hout, pleister en papier trek heen en weer deur die lug.

Die Sihuff doen ’n bollemakiesie en land weer op die vloer. In een beweging gryp hy die Katana uit die holster en begin die plasma strale met swaaiende bewegings te deflekteer. Stadig beweeg hy nader aan Diergaardt. Hy kom naby genoeg en swaai vinnig met die swaard deur die lug. Die loop van die vyftig kaliber semi-outomatiese plasma handwapen val op die vloer.

Nou is dit Wilhelm se beurt om te hardloop. Vinnig skandeer hy die vertrek. Hy hardloop vir die deur. Verwoed pluk hy aan die handvatsel, gesluit! Abigon kom met vlammende oë en die swaard omhoog op hom afgepyl. Net in tyd duik hy uit die pad van die swaard wat net bokant sy kop in die baksteen muur in sny. Dit sit vas. Abigon pluk-pluk daaraan, maar dit kom nie los nie.

Diergaardt sien dit as sy geleentheid. Gou druk hy ’n paar knoppies op sy horlosie, rig dit in die Sihuff se rigting. Die horlosie skiet ’n groen plasma-net uit wat om Abigon se vorm vou.
“Nee!” Skree die monster soos die plasma-net in sy vleis in brand en hy sak neer op die grond.

Wilhelm loop nader, maar toe hy ’n meter weg is, bars die plasma-net in ’n duisend klein groen stukkies.

“Nog nooit dit gesien nie.” Sê hy verbaas.

Die Sihuff staan van die vloer af op. Die deftige pak klere is afgebrand en hy het in sy werklike vorm in verander. ’n Afskuwelike monster met vier arms en gebulte spiere toring bo oor die monster jagter uit.

“Aaaaaaaarrrrggghhhh!” Gee Abigon ’n oorverdowende skree. Alles in die vertrek vibreer. Diergaardt kyk rondom hom en sien die Katana swaard nog in die muur. Met een geweldige pluk ruk hy dit uit en gee ’n paar swaaie deur die lug om die gevoel van die wapen te kry. Jare te vore was hy deur ’n Sjinese Meester in Hong Kong opgelei, die swaard voel soos ’n verlenging van sy eie arm.

Die Sihuff kom op hom afgestorm, maar met ’n wip-toertjie na links en ’n vinnige swaai van die swaard lê een van die monster se arms op die grond. Hy skree van die pyn en hou dit beskermend vas terwyl gloeiende groen bloed oor die persiese tapyt spuit. Weer storm Abigon op hom af, maar die keer is Wilhelm net te stadig. ’n Yslike hand gryp hom vas, die volgende oomblik voel hy hoe twee massiewe vuiste hom aanhoudend teen die bors en kop slaan. Soos ’n dooie man val hy op die grond neer.

Hy maak sy oë oop net in tyd om Abigon te sien wat op hom gaan spring. Sy oog vang weer die lang metaal spiese langs die boekrak, dit het omgeval en een is in grypafstand. Gou trek hy dit nader en hou die spies in die lug voor hom. Die Sihuff land met sy bors in die punt en dit deurboor sy liggaam. Wilhem hou die metaal staaf met al sy mag orent, en Abigon gly tot aan die onderkant daarvan. Die Sihuff kom tot rus bo op hom.

Die hout deur bars oop en manne in pikswart pakke kom ingehardloop met plasma wapens om hoog.

“Te laat!” Mompel Wilhelm van onder die beweginglose liggaam. “Kry die ding net van my af!”

Vier agente trek die liggaam van hom af. Vir ’n rukkie bly hy net op sy rug lê. Hy kry weer sy asem terug en staan stadig op. Elke spier in sy lyf is seer.

’n Ouer man in ’n swart pak kom ingeloop. Wilhelm staan op en draai na die man. Sy oog bank is oopgeslaan en die sny op sy wang lyk sleg met bloed wat droog begin word.

“Goeie werk Diergaardt, ons het gekom so gou soos wat ons kon.” Sê hy.

“Ja, ek is seker mnr Strydom.” antwoord Wilhelm sarkasties.

“Jy beter gou by die dokter uitkom met daardie wang van jou. Dit lyk nie goed nie.”

“Ek is van plan om net so te maak, dankie vir jou besorgdheid.” Hy draai om en mik vir die deur.

Haastig voeg mnr. Strydom by. “En sodra jy daarmee klaar is, die volgende taak is reeds uitgetik en lê op jou kantoor se lessenaar. Daar is ’n Elf in Duitsland wat amok maak. Ons wil hê jy moet hom in bring vir ondervraging.”

Hy staar hom in ongeloof aan en gee ’n sug. “Natuurlik.” Gee ’n klein buig. “Wilhelm Diergaardt, monster jagter, tot u diens.” En loop mank-mank by die vertrek uit.

  • Chantal

    Sjoe! Wat ‘n interessante verhaal!