VIKTORION 14C: PLANEET VAN DIE MARIONETTE – Ilse Goschus

VIKTORION 14C: PLANEET VAN DIE MARIONETTE – 2014 © Ilse Goschus

JEUGFantasie (2 961 woorde)

 

November 2013
“Ons moet hul beskerm! Hulle is ʼn bedreigde spesie,” laat Gabryella dringend van haar hoor toe ʼn ratel ʼn kleintjie onverwags gryp.

Tientalle leerrug seeskilpadjies waggel lomp in die skemer – see toe.

“Kirts,” kraak ʼn dop en dan nog een en nog een…

“Ek stem saam met jou Gabryella,” laat Yengwayo van hom hoor. “Ons moet vuur maak!”

Die twee veertienjarige kinders hou al vanaf laatmiddag die proses dop. (Hul ouers is mikro-bioloë op die Isimangaliso Vleilande.)

Die son verdwyn stuk-stuk in dieprooi fragmente agter die St Lucia Meer. ’n Doodse stilte kruip saam met die skadu’s oor die Vleilande en die skelgeroep van ʼn visarend laat die stiltes in dieper stilte lê.

“Gabs! Soek asseblief vuurklippe!” versoekYengwayo.

Dis nou donker skemer en Gabryella sukkel om te fokus. Vanaand voel sy ietwat onrustig – hoekom, weet sy nie! ʼn Leeu brul in die verte. Sy loer elke nou en dan oor haar skouer. Dis ietwat moeilik om tussen die verskillende tipes klippe te onderskei wat verskuil lê tussen die donker bosse en takkies.

Skielik sien sy die witterige vuurklippe reg voor haar. Sy buk en tel twee groterige stukke op.

“O gits. Droë takkies!” herinner sy haarself.

Sy buk weer af grond se kant toe… ʼn boomslang kronkel vernuftig tussen haar en die hopie stokkies verby en dra die dood saam met hom – verby haar.

“Sla… Slang” wil haar kop skree, maar die woorde sit vas iewers tussen haar tong en haar lugpyp.

ʼn Lamgeid kruip oor haar lyf. Sy bewe en haar hande sukkel om ʼn paar stokkies raak te vat. Dis meer stof as stokkies! Haar kop kry dit uiteindelik reg om haar bene te laat beweeg. Geskok en met die huil vasgedruk tussen haar oë en hart en die lamgeid in haar arms en bene, kry sy dit tog reg om die hopie stokkies en twee vuurklippe voor Yengwayo op die grond te laat val.

“Wat het met jou gebeur?” vra hy besorg in ʼn sagte stem.

Gabryella druk haar lyf styf teen syne. Sy klou met albei hande aan sy een arm en haar naels druk gate in die sagte binne-arm vleis.

“Ek het in duiwelsgoed vasgeloop. ʼn Boomslang het tussen my en die hopie droë stokkies geseil. Ek voel al die hele aand onrustig… Dalk was dit ʼn voodoo-slang,” druk sy haar gedagtes hardop uit.

“My goeie vriendin, daar’s nie sulke goed nie,” stel hy haar gerus. “Dis net in jou kop.”
Yengwayo gee haar ʼn ligte drukkie. Dan skuur hy die klippe teen mekaar – dit maak ʼn hol klank. Nie eens ʼn vonk nie! Hy skuur weer en weer – vinniger en vinniger! Vonke spat in alle rigtings. Hy bring die vonk-spattende klippe tot styf teenaan die droë stokkies. Die vonke lek-lek om die stokkies. Skielik verander die vonke in volwaardige vlamme. Hul vuurtjie brand!

“Bly gou by die vuur,!” versoek Yengwayo. “Ek gaan gou ʼn trui haal – ek kry koud. Moet ek vir jou ook een bring?” vra hy.

“’Seblieftog!” antwoord Gabryella dankbaar. “Maak net baie gou!”

“Gabs,” probeer hy haar gerusstel. “Kry die ouvrou-stories uit jou kop! Ek’s nou terug!”

Hy verdwyn die donkerte in. Sy strek haar hande uit na die vuur…

* * *

“Alles omtrent hierdie planeet is ʼn totale raaisel. Ons is glad nie seker hoe dit gevorm is en hoe dit gekom het waar dit vandag is nie… al wat ons verseker weet is dat dit nie virewig met ons sal wees nie…” dreun Dawid Hanekom, sterrekundige van die Harvard-Carnegie Sentrum vir Astrofisika, se stem voort op die televisie – so tussen die gepraat deur in die propvol kantien.

“Ja! Dis werklik goeie nuus,” beaam Loney Pathalo. “Kan julle glo? Viktorion 14C het ʼn baba-broer!”

“Dis ons ongelooflike Viktorion ruimte-teleskoop wat die ding gedoen het!”

Ingrid Bauer, die pragtige jong, blonde Duitse sterrekundige antwoord saggies, “Ja-ja! Dis die resultaat van deursettingsvermoë en konstante harde werk… en die aanmoediging van die leiers van ons twee grondspanne. Hierdie teleskoop het 155 000 sterre oor ʼn tydperk van vier jaar gemonitor. Gedurende hierdie tydperk is ons nuwe toevoeging, Viktorion 14C, waargeneem.”

Die adrenalien vloei vryelik deur die are van die sterrekundiges by die NASA James Navorsingsentrum, Moffett Field, Kalifornië. Opgewonde kyk hul na die foto’s wat deur die Viktorion-ruimtetuig geneem is. Ekstra koppies sterk koffie met opgehoopte teelepels suiker, verbeter die situasie eintlik glad nie!

“Wonderlik!” roep Dimitri Vetrov, uit. “Hierdie nuwe planeet is NASA se tiende ontdekking.”

“NASA! NASA! NASA!” eggo die sterrekundiges, terwyl hul met hul handpalms die ritme hou op die tafels in die kanteen. Vir ʼn kort oomblik het die ernstige oë ʼn ondeunde flikkering…

* * *

Die nag vat haar lyf in ʼn yskoue greep vas. Die vuurtjie se vlamme rek langer en krommer, skewer en dunner om Gabryella se koue hande by te kom.

“Daar is geraamtes in my kop, Yengwayo!” prewel.Gabryella. Hulle beendere klap teen mekaar. Hul roggelstemme praat in my kop. Hulle opdragte maak my deurmekaar! Party fluister, party skree, party dreig…!

“Antwoord my Yengwayo,” skree sy benoud. “Waar is jy?”

ʼn Onaktiewe leerrug seeskilpaddop skiet vertikaal op teen die hemelruim. Die harde wit dop en die leeggeid daarbinne, splinter en verander opeens in ʼn sirkelende vlamme-bal.

“Dis toorgoed, die!” dink Gabryellaa weereens beangs.

Die vuurplaneet wentel rooi en baie vining teen die gitswart hemelruim. Die donker aarde om haar grommel en bewe. Die waters in die St Lucia Meer raak ʼn donker rippelende massa. Dit skommel gevaarlik van kant tot kant amper soos ʼn oorvol koppie koffie op ʼn vliegtuig, tydens onweer in die ruimte. Angsdruppels klou aan Gabryella se bleekwit lyf.

Die verwronge gesig van ʼn ongeveer sestigjarige Zuluvrou spring tussen die kolkende vlamme in. Haar gesig is donker en geplooi – haar oë is geel soos die van ʼn luiperd.

“Laat ek jou voorstel aan… Viktorion 14C – die planeet van hel,” roggel Dumasile se stem deur die verterende vlamme. (Die roggellag maak hoenderknoppies op Gabryellaa se lyf.)

“Kyk in my oë of… jy verander in ʼn geraamte in iemand se kop!” skree sy mal, die spoeg skuim wit om haar mondhoeke.

Gabryella knyp haar oë op skrefies en beur die linker ene effe oop. “n Vlam lek-lek aan haar pragtige swart, lang hare. Sy druk dit vining dood met haar trui. Trane brand saam met die pyn, in haar oë.

“Ga-ga-ga…” roggel die wrede Dumasile.

“Jy sal voel hoe hel voel. Jy is amper al daar. As jy my teengaan, sal die vulkaniese vlamme van Vitorion 14C en die vlamme van my siel, jou verorber. Jy is amper al myne. Net ʼn kwessie van tyd – nes Yengwayo!

Die gekraak van die vlamme binne die wentelende bal en Dumisile se roggelstem, oorheers die gekirts van die seeskilpaddoppe…

“Luister na haar!” dring Yengwayo se stem deur die vlamme. “Dumasile is ʼn heks.”

“ʼn Watse ding? Sê weer! Waar is jy, my sielsgenoot?” skree sy amper in een asem.
Die vlamme vreet sy stem weg voordat dit by haar kan uitkom.

“Ons het het ʼn vuur gemaak om die ratels en jakkalse van die leerrugseeskilpadjies weg te hou,” gaan sy voort met haar eensydige analise. Jy’t gesê jy gaan ʼn trui haal.. Jy het vining deel van die donker geword en het net nooit weer teruggekom nie!”

“My siel is nou hare – haar siel is myne! Kyk haar in die oë!” beveel Yengwayo. “Sy is ʼn towernares – ʼn heks!” beklemtoon hy weer.

“Lyk my sy is diep in jou kop in! Kry haar uit!

“Die vlamme en gasse van hel, sal jou kop regkry!” skreeu Yengwayo as Dumasile se mond oopgaan.

“My gits! Dumasile praat met Yengwayo se stem!” dink sy benoud.

Nog ʼn vlam lek-lek aan haar hare – dit brand haar kop en skroei haar hare. Gabryella huil van die pyn terwyl haar lyf skud van die skok. Sy byt haar hande en grou haar naels diep in haar dye in.

Sy kyk Dumasile reguit in die oë. In haar oë, sien sy dit – die ekso-planeet… Viktorion 14C. Die planeet rol ver terug in die verlede in Dumasile se linkeroog en vooruit die toekoms in, in haar regteroog. Die twee oë met verskillende stories maak haar verward.

“Fokus op die linkeroog eerste,” fluister ʼn stem in haar kop – of is dit een van die geraamtes?

“Die storie is een storie. Jou brein sal die fragmente vireers beter hanteer!”

Gabryella konsentreer op die linkeroog…

“Die verlede begin asʼn donker massa van niks… Daar gebeur eintlik niks!” dink sy.

Dan sien sy ʼn enorme teleskoop. Die Viktorion teleskoop, staan in dik swart letters geskryf. In die lens sien sy uitgegraveer – die jaartal: – 2013. Op die lens van die teleskoop verskyn die planeet,Viktorion 14C. Dit wentel om sy eie son en dan word die planeet die vuurbal wat reg voor haar in die rondte wentel.

“Yengwayo, daar is jy, dan! Kom hier!” skree sy bly en half onskuldig en strek haar hande met verwagting na hom toe uit. “En daar is ek!” roep sy verbaas uit. “Ons sit hier langs die St Lucia Meer – presies hier waar ek nou alleen sit.”

Sy sien hoe Yengwayo langs haar opstaan… hy loop na hul boshut. ʼn Enorme, swart skadu kom hang skielik oor hom. Yengwayo raak yskoud. Hy hoor ʼn ritseling in die bosse en kyk verskrik rond. Hy tel ʼn doringtak op vir beskerming.

“Wie is daar?” roep hy beangs. “Pa! Ma!” roep hy sy ouers.

Net die stilte…! Sy hart klop beangs in sy keel. Dumasile spring uit in die voetpad. ʼn Grynslag lê kortstondig tussen die skeefgetrekte plooie op haar verweerde swart gesig en sy lag haar wrede roggellag.

Yengwayo slaan woes met sy doringtak, maar die ou Zuluvrou is rats en gryp dit uit sy hand en gooi dit ver die nag in. Sy vroetel diep in haar roksak en haal ʼn lang, dunnek glasbottel uit.

ʼn Trop wildehonde bekyk die petalje en breek die nagstilte met hul senutergende tjankgeluide.

“Maak wyd-oop jou mond!” beveel sy in haar skreestem.

Dumasile forseer die bottel met ʼn donker konkoksie in sy lugpyp af. Yengwayo slaan met sy vuiste en byt die beaarde, droë hande, maar die walglike mengsel. vloei verby die vegtery – direk in sy bloedstroom.

Sy hurk nou wydsbeen langs die lewelose liggaam – haar liggaam wieg vorentoe en dan agtertoe asof in ʼn trans. Haar oë raak wasig… Die breëlemmes verdwyn vernuftig tussen die skeletbene in sy kop.

Die geluid van staal op been, laat Gabryella dink aan die seeskilpadjies wat deur hul doppe breek.– net veel harder en meer skrikwekkend. Yengwayo se liggaam lê soos ʼn half gevrete karkas in die bos.

Die ritueel is nog nie voltooi nie! Dumasile balanseer nou op haar arms en bene en beweeg soos ʼn luiperd wat sy prooi bekruip, vorentoe… Haar kop beweeg ritmies op en af. Sy lek sy bloed op – rooi en slymerig. Dis asof die bloed die duiwelslig in haar oë opnuut aansteek en dit geler en sterker laat brand. Bloedstrepe hardloof oor haar wange en ken.
“Arme Yengwayo!” snik Gabryella.

Sy sien nou hoe Dumasile haar hande om die gat in sy kop hou. Haar hande voer ʼn ritueel uit. Met ʼn vinnige beweging verwyder sy iets uit sy kop en druk dit in ʼn breë-nek glasbottel. Vinnig seël sy dit met ʼn glasprop.

“Ga-ga-ga!” lag sy weer. “Jy is my marionet! Jou siel is in die bottel, my slaaf! Ek sal jou siel verkoop as ʼn gelukbringer.”

“Ek is jou slaaf!” antwoord Yengwayo gedweë. “Ek doen wat jy sê. Ek is jou gelukbringer!”

“Die heks!” baklei Gabryella ontstoke met die gedagtes in haar kop.

Gabryella verskuif vining haar blik na Dumasile se regteroog… In teenstelling met die verlede, en teen alle verwagtinge in, vervaag en verstadig die ritme van die toekoms skielik tot wit skimme van manipulasie…

Die geel in haar luiperdagtige regteroog maak plek vir ʼn wit spookagtige massa. Duisende siele, geklee in wit, voer ʼn outomatiese reaksie uit. Opstaan, buig, val in ʼn aanbiddingsposisie – opstaan, buig en val…!

“My marionette!” kondig Dumasile trots aan.

“En hierdie ene – hy is my gelukbringer. Sy kom met die glasbottel met Yengwayo se siel te voorskyn en skud dit uittartend voor Gabryella se oë.

“Ek is allermins ʼn heks! Ek kan jou gedagtes lees, maar ek het magte wat jy nie het nie. “Ons – ek en my marionette sal die vleilande opdroog! Kurkdroog sal dit lê!” verseker sy Gabryella.

“Ons het magte wat jy nie het nie,” hoor sy Yengwayo se stem.

Yengwayo se marionetwoorde is skaars uit, toe skuif Dumasile ʼn sarsie vurige kole met haar een elmboog vanaf die kern van Viktorion 14C – grondwaarts. Dit val reg langs Gabryella. Gabryellaa hardloop so al wat sy kan na die St Lucia Meer. Sy duik in die donker waters in.

“Eerder haaikos as verkool!” dink sy by haarself.

Die oranje vlamme verorber die droë grashalms in ʼn oogwink. Die vlamme hardloop hul verwoestende wedren oor gesplinterde seeskilpaddoppe, pas gebore seeskilpadjies, bokkies en menige ander Vleiland-diere. Dit vernietig die habitat van menige lewende organismes met mening.

Die dreuning van helikopters ding mee met die knetterende vlamme, maar slaag daarin om Gabryella se aandag te trek. Sy sien die rooi en groen navigasieligte. Die opgewondenheid skuif hoog op in haar keel. Emmers water word skielik op die vuurmassa gegooi.

“Enigiemand hier buite?” vra ʼn mikrofoon-stem. “Ek is Henk Bruwer, ʼn St Lucia-mikro-bioloog. Ons gaan ons bes probeer om die vuur te blus. Ek vra weer… enige iemand hier buite? Ons kry hulp van ander brandweerstasies in die omgewing.”

Dan weeklink haar pa se stem nog ʼn keer bo die kompeterende, klimmende vlamme: “Gabryella, is julle hier buite? Kan julle my hoor?”

Die bekommernis en angs klou styf aan sy stem.

“Yengwayo! Antwoord, as julle ons kan, hoor!” hoor sy nou Yengwayo se pa se bekommerde stem.

“Pa! Pappa!” skree Gabryella uit volle bors. “Pa…! Pa …!”

Die verwoestende vlamme se geknetter laat haar stem verdwyn oor die vlaktes – dit brand dood saam met menige St Lucia dier- en plantspesies en laat haar en Yengwayo se ouers in ʼn onvervulde soektog agter… verlore siele in die lewensweb van komplikasies.

Yengwayo is nou ʼn skim uit die verlede – ʼn liggaam sonder ʼn brein – ʼn gemanipuleerde entiteit!

Haar denke word wreed tot stilstand gedwing. ʼn Waterkrag druk haar opeens slu en ferm af bodem toe.

(Dis asof Moses se staf die waters aangeraak het – vuur aan die een kant – water aan die ander kant!)

Gabryella is net nie so seker wie die Israeliete is en wie nou gaan baatvind by die skeiding nie.

Diep onder in die waters van die St Lucia Meer, kolk die water met ʼn geweldige fors, in spiraalvorm. Sy word deel van die krag. Sy is die krag!

“Ek verdrink nie!” besef sy.

As sy afkyk, besef sy in skok, waarom sy nog lewendig en by haar sinne is.
“Ek het die lyf van ʼn leerrug seeskilpad – ʼn seëning of vloek?”

“Ek het gewonder oor die skeiding, die opraping, maar… ek is ‘die Israeliet’ – die enigste een, lyk dit vir my,” dink sy diep onder in die vleiwaters “Ek is weliswaar geseënd,” besluit sy.

Planeet Viktorion 14C en die wrede, manipulerende Dumasile is nou slegs ʼn ster in die verre verlede – hoog bo in die aandruim.

Skielik kruip die volgende woorde in haar kop: “Wat is, was en sal altyd wees…” Op die stadium is sy nie so seker of dit in die Bybel staan of wat nie en of sy dit in die regte orde onthou nie.

Die spoed van die kolkende waters maak haar dronk in haar kop en vertroebel haar denke. Vinniger en vinniger sirkel die spiraal en skielik skiet haar seeskilpadlyf na die onderpunt van die spiraal.

Aan die punt van die kolkende watermassa hang – die afgesakte kern – ʼn wentelende planet – Dumasile se regteroog – die toekomsoog! Dit absorbeer haar leerrug seeskilpad-metamorfose.

“Die towernares volg my!” besef sy paniekbevange! “Presies net hier kom die deel nou in van: ‘Wat, is was en sal wees,’” besef sy opnuut.

Die oog rol nou met vasberadenheid diep, diep die toekoms in en is nou ʼn eenheid op sy eie en sorg vir die kontras! Yengwayo en die vlamme-hel is nou deel van die skeiding – ʼn afgesplete stuk van die werklikheid.

Die wit skimme in die regteroog verander in ʼn kaleidoskoop van wonders van moderne argitektuur. Die water in die St Lucia Meer verander in groteske damme met Koi visse en lotusblomme en Disney Speelparke – die drooggelegde vleilande is aanloopbane vir internasionale vliegtuie en ʼn inisiatief vir moderne, vaartbelynde lugtreine.

Meteens sien sy haarself… elegant, vlak in die dertigs en geklee in ʼn liggroen snyerspak. Haar bewerige, slanke hande is besig om die gespe van haar sitplekgordel los te wikkel.

Sy klim elegant uit haar spierwit, moderne, vaartbelynde privaat-vliegtuig. Gabryella kies haar impaktyd oordeelkundig en met visie. Vir enkele sekondes, soos in stille saluut, staan sy op die boonste sport van die lugtrap. Haar pikswart hare hang skouerlengte en haar amper pikswart kobra-oë bespied die toneel voor haar deurdagtig. Met ʼn goed-geoefende, grasieuse beweging van die kop, skud sy haar hare in plek. Met die agterkant van haar regterhand, vee sy ʼn paar onverwagte sweetdruppels af. In haar kunstige hande klou sy krampagtig aan ʼn banier… “Red ons Suid-Afrikaanse Vleilande! Red Isimangaliso!”

Gabryella se goed-deurdagte en goed-beplande inisiatief word begroet deur duisende marionette-lywe met wapperende, wit baniere. Hul lywe buig in outomatiese, goed-gemanipuleerde bewegings op en af – op en af in sodanige respek… presies soos die marionette – aanvanklik… in Dumasile se toekoms-oog, terwyl blougrys rookwolke van die nabygeleë vis- en motorfabrieke, die area besoedel!

* * *

“Ma, het jy die verhaal gelees… dink jy ook Gabryella het ʼn gesplete persoonlikheid gehad? Ek is vas oortuig… sy en Dumasile was een en dieselfde wese – bloot en veral oor die kwessie van… wat is, was, en… sal wees…!” gee Izabella haar opinie.

  • Chantal

    Laat my dink aan die thriller dvd, Jessebelle. Baie oulik en netjies geskryf.