VLUGTELING TOT DIE REDDING – Jacques Ferreira

VLUGTELING TOT DIE REDDING – 2014 © Jacques Ferreira

VOLWASSE FANTASIE (2 672 woorde)

 

2014 - Volwasse Fantasie Wenner - Jacques FerreiraReinhardt kyk om hom rond. Sy 4 kamerade staan hygend langs hom. Hierdie was die derde rower-bende wat hulle in die afgelope 5 maande gevang het.

Soos gewoonlik is die helfte van die bende dood in die geveg – dit maak dit net makliker om die booswigte aan die owerhede te oorhandig. Hierdie keer was hulle nogal gelukkig, want dit is een van die gevaarlikste bendes, en hulle sal nogal heelwat goud vir hierdie vangs kry.

Dit het alles so 2 jaar terug begin. ʼn Rower-bende het sy ouer broer, Phil, doodgemaak – en dit net omdat Phil brood gehad het en hulle nie. Sedert daardie dag het hy wat Reinhardt is dit sy missie in die lewe gemaak om booswigte te vang en aan die owerhede te oorhandig. Die feit dat baie van die booswigte geld werd is as hulle gevang word is net ʼn bonus.

Sy broer was vir hom alles in die lewe. Sy pa is oorlede toe hy maar 4 jaar oud was. Al wat hy kan onthou van sy pa is hierdie groot man wat baie rympies ken. Hy ken baie van die rympies nog, maar hy het geen idee wat dit beteken nie. Hy kan nie eers onthou hoe sy pa oorlede is nie, maar kan net onthou dat hy en Phil vir bykans 9 jaar lank rondgedwaal het. Hulle het altyd klein werkies in elke dorp gedoen – net genoeg om kos te kan koop, en dan het hulle maar weer gereis na die volgende dorp. Hy het nooit vir Phil gevra hoekom hulle nie iewers stop nie; hy het maar gedwee saam gereis.

Phil het wel vertel dat hulle pa uitgewerp was, want hy was ʼn Paladin – ʼn ridder wat kan toor. Maar sedert dit so 15 jaar terug onwettig geraak het om te toor, het hulle lewe verander – en van toe af trek hulle so rond. Sy ma het blykbaar juis gesterf by een van die dorpe waar hulle verwoed moes wegvlug voor die dorp se inwoners wat hulle a.g.v. hulle towery wou doodmaak – nadat sy pa iemand met sy towery gesond gemaak het. Dis nou dankbaarheid…

Hy is baie bly vir daardie 9 jaar, want hy het baie dinge geleer en kan amper enige tipe werk doen. Hulle het ook gereeld as hulle so langs die pad is bietjie gestoei en baklei en geoefen. Dit alles help hom vandag om die bendes vas te trek. Hy kan baie goed spoorsny, en as hy dan op die bendes afkom, weet hy ook hoe om te baklei. En natuurlik help sy kamerade…

Hy is baie bly oor sy kamerade. Jasper met sy twee swaarde wat so vlug op sy voete is; Gus die grote met sy byl wat ʼn man in 2 kan kap met een hou, yster-klere nieteenstaande; Walter met sy stok wat meeste ervare swaard-vegters laat les opsê; Cynthia, die enigste vrou van die groep, maar meesterlik met haar pyl-en-boog. Hy self veg maar met die tradisionele lang swaard en skild.

Dit was blote geluk hoe hy sy toerusting gekry het. Nadat hy sy broer begrawe het, het hy doelloos rondgedwaal. ʼn Perd se gerunnik het sy aandag getrek, en hy het ondersoek gaan instel. Die perd se halter was vasgevang in ʼn boom, en ʼn paar tree van hom af het ʼn ridder gelê – dood. Reinhardt het dadelik ʼn kans gesien om iets aan die bendes te doen. Hy het die ridder se klere gevat, asook sy swaard en skild. Die perd het hy ook vir homself toegeëien. Hy het intussen al vele maal probeer om uit te vind wie die man was, maar alle pogings was onsuksesvol.

Hy het eers met klippe die uitrusting bietjie gekap en gebuig om hom beter te pas, en toe vir ʼn paar weke lank ʼn bietjie geoefen om met dit rond te loop en te baklei. Hy was nog besig daarmee toe ʼn geskreeu sy aandag trek. Dit was toe hy vir Walter ontmoet het. Rowers het die arme man oorval, en ten spyte van sy vernuf, was hulle besig om hom te oorweldig. Reinhardt het ingespring en gehelp, en sodoende sy eerste bende gevang.

Dit was die begin van alles.

Hulle het nou al heelwat geld gemaak, maar meeste gaan op hierdie stadium vir kos vir hulle en hulle perde, en om hulle wapens en uitrustings in stand te hou. Let wel, net in stand te hou, nie nuwes nie.

“Kom ons laai op,” sê Reinhardt. “As ons hierdie gespuis oorhandig, dan sal ons genoeg hê om ʼn paar goed te vervang.” Hierdie laaste bende sal die eerste keer wees wat hulle ʼn ietsie ekstra het. Hulle het dit almal nodig.

“Ja, my een swaard het sopas gebreek,” sê Jasper. “En al hierdie klomp se swaarde is maar gemors.”

“En my boog se snaar gaan nie veel langer hou nie,” beaam Cynthia. “Dan praat ek nie eers van die pyle wat alewig breek nie.”

“Ek moet ook sê,” begin Walter. “Die aande is party maal nogal bietjie koel.” Hy kyk na sy klere wat amper meer gate en skeure in het as wat al die lappies waarmee dit vasgewerk is kan toemaak.

“My harnas,” erken Reinhardt en klop met sy hand op sy borsharnas. “Hy is regtig al moeg, en die staal sny mý party keer. As dit so aanhou gaan my klere my doodkry en nie een van hierdie niksnutse nie. En jy, Gus?”

Almal kyk na Gus. Hy is maar baie stil vir so ʼn groot man. Verleë kyk hy na die grond en wikkel sy tone. Almal sien sy tone, want daar is nie veel wat sy skoene meer heel hou nie.

“Ja, nuwe skoene sal werk. Jy kan maar nuwe skoene kry, Gus.” Cynthia kan maar net nie verhelp om almal te probeer versorg nie – solank as wat jy dit net nie noem nie!

“Nou kom ons beweeg.” Met die woorde begin Reinhardt die dooie liggame op die spaar perde te laai. Almal volg hom. Sommer vinnig-vinnig is al die lyke vasgemaak op die ekstra perde, die lewende gevangenes in ʼn lyn geboei, al die voorraad en wapens wat hulle kon buit op die muile gepak, en begin hulle stadig hulle terugtog na die naaste dorp toe.

* * *

Twee weke later staan die vyf weer uitgeput en kyk na die slagting om hulle. Die slag was hulle aan die ontvang-kant van ʼn aanval, maar die nuwe toerusting het so bietjie gehelp. Hartseer kniel Reinhardt by sy perd. Die arme dier lê op die grond met ʼn diep sny oor sy bors. Dit lyk nie of hy dit gaan maak nie. Onwillekeurig begin Reinhardt een van sy pa se rympies op te sê terwyl sy hand oor die perd streel – dit voel net soos die regte ding om te doen. Hy sien nie die gloed om sy hand nie.

Skielik runnik die perd en sukkel om regop te kom. Verward spring Reinhardt op sy voete en staar verbaas na die perd. Die diep sny is amper heeltemal weg – net ʼn dun lyntjie dien as bewys dat daar wel ʼn sny was. Hy kyk vinnig na die ander, maar hulle is almal besig met hulle eie goed. Hy is nie heeltemal seker wat gebeur het nie, maar die perd is genees. Het hy dalk dieselfde toor-vermoë as wat sy pa gehad het? Hy besluit om stil te bly daaroor, anders gaan hy homself in die tronk bevind.

Soos altyd kry hulle al die wapens en toerusting wat hulle kan kry, laai die lyke op en kies koers na die naaste dorp asof alles normaal is.

* * *

By die dorp gekom, hoor hulle baie interessante nuus: daar is probleme op die grens, en die betalings is amper dubbel soveel as normaal. Daar is nie meer besonderhede oor presies wat die probleme is nie, maar met die grens net 2 dae se reis ver, besluit hulle om die missie te aanvaar.

Hoe nader hulle aan die dorp kom, hoe meer mense kom hulle teë wat besig om weg te vlug. Dit verg redelik moeite om iemand te kry om vir ʼn oomblik te stop en sê waarvoor hulle vlug, uiteindelik kry hulle iemand gestop. Die man kry onmiddellik ʼn verwarde en vreesvolle kyk in sy oë. Hy kyk vinnig om hom rond asof hy ʼn aanval op enige oomblik en van enige rigting af verwag. “Die dooies,” prewel hy. “Dis die dooies. Hulle kom van orals af; uit die grond; enige plek. En die wat hulle dood maak, word net daar weer lewendig en help om aan te val. Dis nou as jy dit lewendig kan noem. Hoe maak jy iets dood wat nie lewe nie. Dis net geraamtes en zombies waar jy kyk…” Die man rammel net voort terwyl hy vinnig weer begin aanstap.

Verbaas kyk Reinhardt en sy kamerade na mekaar. “Dooies?” “Dit gaan ʼn bietjie ʼn ander tipe geveg wees.” “So dis hoekom hulle so baie betaal.” “Gaan ons nog voort?”

Na ʼn paar minute se oor-en-weer gepratery besluit hulle om tog voort te gaan met die missie. Ten minste weet hulle nou wat vir hulle wag.

En voor hulle nog by die dorp kom, kom hulle die eerste ‘dooies’ teë. So ongeveer ʼn uur het verloop sedert hulle laas iemand gesien het. Die laaste deel van die pad was dolleeg. En toe skielik sien hulle die klomp geraamtes en zombies wat aangeskuifel kom. Dit was nogal ʼn snaakse ervaring: daar was geen normale gezoem en gedruis soos die mense praat en gesels nie; net ʼn geskuifel van voete, en bene wat kraak.

Vir ʼn oomblik staan hulle net daar en staar na die petalje.

“Daar is nog mense!” roep Cynthia skielik uit. Inderdaad, toe hulle mooi kyk, toe sien hulle in die middel van die groep is ʼn paar mense wat verbete staan en veg om uit en weg te kom.

Reinhardt lig sy hand om te beveel om aan te val, toe voel hy skielik weer hoe ʼn warm gloed oor hom kom. Hy hoor weer een van sy pa se rympies oor sy lippe kom, en toe skiet daar ʼn groot ligstraal uit sy hand uit, reguit na die groep toe. Die oomblik toe die ligstraal tref, spat die geraamtes en zombies uitmekaar en die stukkies wat oorbly val op die grond neer –heeltemal verwoes.

Die mense het egter ongedeerd gebly, en die oomblik toe die geraamtes en zombies weg is, hardloop hulle vir al wat hulle werd is tot by Reinhardt-hulle. Intussen staan Reinhardt se vriende net en staar hom aan.

“Wat was dit?” kry Jasper dit uiteindelik uit.

Reinhardt is sprakeloos. Hy skud net stadig sy kop heen-en-weer.

“Wat dit ook al was, dit het die dooies verwoes sonder om aan die mense te raak,” merk Walter op.

“As jy my vra, het ons ʼn towenaar in ons midde,” sê Cynthia.

“Ek dink die korrekte term in die geval sal Paladin wees,” korrigeer Jasper haar.

“Is toor nie onwettig nie?” vra Gus.

Op daardie stadium kom die vlugtelinge by hulle aan. Die voorste man is ʼn groot sterk man wat vreeslik stink van vrot vleis van die zombies wat nog plek-plek aan hom vassit. Hy het ʼn lang swaard in sy een hand. Hy hoor wat Gus vra. “Ek gee nie om of dit onwettig is of nie – dit het my lewe gered. Myne en al hierdie mense s’n.” Hy beduie na die mense wat saam met hom is. “Aan wie is ons ons lewe verskuldig?”

Almal wys na Reinhardt wat intussen uitgeput op die grond gaan sit het.

“My naam is Cornelius,” sê die groot man. “Ek is my lewe aan jou verskuldig. Ek sal by jou bly totdat ek my skuld betaal het.”

Reinhardt bly net sit. Einde ten laaste kyk hy op. Hy knik net vir Cornelius om aan te dui dat hy gehoor het, en draai dan na sy kamerade. “Wat gaan julle nou doen?” vra hy met ʼn sug. “Ten opsigte van die toordery, bedoel ek. Is julle nog aan my kant?”

Die 4 kamerade kyk vir ʼn paar oomblikke na mekaar. Hulle is onseker. Reinhardt is hulle vriend, maar om te toor is onwettig en hulle kan in die tronk beland of selfs tot die dood veroordeel word.

“Wat julle ook al besluit, doen dit haastig,” sê Cornelius terwyl hulle nog talm. “Daar is nog baie dooies daar onder wat nog rondloop. Ek weet nie wat julle vriend hier gedoen het nie, maar dit is al wat ek nog teëgekom het wat werk. Ek gaan saam met hom.” Hy kyk na Reinhardt. “Jy gaan nog help, reg?”

Reinhardt kyk na die stukke van die dooies in die verte, na die dorp, na sy vriend, en knik dan. Die 4 kamerade besluit ook sommer dadelik, hulle gaan saam.

Dit neem nie lank om rigting te kry nie. Wonde word verbind en die wat wil verder vlug, gaan verder, en die wat wil veg, bly. ʼn Halfuur later is daar 12 mense gereed om die dooies aan te gaan vat.

* * *

Die volgende paar dae was grusaam. Die groep trek van plek tot plek, dorp tot dorp. Oral langs die pad kry hulle mense wat vlug. Sommige van hulle sluit aan, maar die meeste vlug net verder. Hulle loop ook heelwat van die dooies raak, maar daar word vinnig met hulle afgereken – veral met Reinhardt se hulp. Daar is selfs ʼn paar brawe persone wat by Reinhardt aanklop vir hulp: hulle wil ook leer toor. Meeste van hulle kry dit weens een of ander rede glad nie reg nie, maar na ʼn paar weke het hy 5 mans en 2 vrouens wat saam met hom staan en toor.

Reinhardt het intussen iemand bygekry wat kan skryf, en wat papier en pen in voorraad het. Hulle begin om al die rympies van sy pa neer te skryf, en soos wat hulle uitvind wat dit doen, kry die rympies name: Genesing, ligstraal, moed, krag, lig-swaard, en nog vele meer. Meeste vind hulle maar per ongeluk uit wat dit doen, maar tog bly meer as die helfte sonder name.

Stadig begin die stories versprei oor die dooies en Reinhardt se towery. Meer en meer huursoldate en ander gewilliges sluit egter by hulle aan. Reinhardt-hulle word verplig om orde te begin skep. Die 5 kamerade word almal generaals gemaak, en stel dan verskeie offisiere aan, wat op hulle beurt weer sersante aanstel wat elkeen die hoof van ongeveer 50 manne en vrouens is. Die towenaars – of paladyne – word ook gelyk verdeel tussen elke groep. Langs die weermag is daar ook ʼn kamp wat bestaan uit kokke, ystersmede, boodskappers, jagters, leerlooiers, en vele meer, mense wat help om die weermag aan die gang en aan die lewe te hou.

Drie maande na die eerste ontmoeting met die dooies, kyk Reinhardt een oggend verbaas om hom rond. Sy tent staan op ʼn bult en hy kan ver oor die vlaktes heen kyk. Sover as wat hy kan sien, is daar net tente. Die laaste verslag wat hy ontvang het sê dat daar nou ongeveer 3,000 persone in sy weermag is. Hy kan nie glo dat hulle so vinnig so baie kon word nie – en niemand het ʼn probleem met die towery nie.

Sy verkenners het intussen uitgevind waar die oorsprong van die dooies is – of waar hulle dink dit is. Hulle het in daardie rigting begin beweeg, en die teenstand het al hoe hewiger geword. Hy glo hulle is op die regte pad.

Hy staan nog so en rondkyk en alles bepeins, toe hy in die verte ʼn groot swart wolk sien naderkom. Dit neem nie lank om agter te kom dat dit is nie ʼn gewone wolk nie. Binne oomblikke kom ʼn paar van sy verkenners kort op mekaar se hakke daar aan; elkeen het dieselfde boodskap: so ‘n paar kilometer aan, is ‘n groot weermag dooies op pad! Onmiddelik laat hy die basuin blaas, en binne oomblikke is die hele kamp in reg en roer.

Reinhardt is seker dat dit sy teenstander is. Die oomblik van die finale stryd het aangebreek!

  • Johan Van Wyk

    Wat ‘n lekker storie, sal graag die uitkoms wil sien

  • Chantal

    Geluk! Jy het dit verdien met jou ongelooflike kortverhaal.