VOOR DIE BEGIN SE EINDE – Madeleine Venter

VOOR DIE BEGIN SE EINDE – 2014 © Madeleine Venter

VOLWASSE FANTASIE (1 012 woorde)

 

Hy kom aangestap met ’n tou. Daar is geen uitdrukking op sy gesig nie. Maar ek ken hom te goed. Ek sien die seer trek om sy mond en die flikkering van ’n huil in sy oë. Daar is ’n vasberadenheid in die manier waarop hy my takke wegdruk. Dit val soos ’n gordyn agter hom toe. Niemand sal hom van die huis af kan sien nie. Hy gooi die rol tou van sy skouer af. Dit val met ’n plof tussen my twee dikste wortels en as die stof om hom gaan lê sien ek dat hy met sy hande in sy sye staan en opkyk. Sy oë soek die regte tak. Die dikste tak. Dalk kies hy die een waaraan die buiteband-swaai gehang het. Jare terug. Hy was elke dag in die swaai. Dit was ’n ruimtetuig, ’n boot, ’n vegvliegtuig, ’n koets. Hy kon vir ure so speel. Dit was helder dae. Hy was vry om te vlieg met die wind deur sy hare.

Hy buk en tel die rol tou weer op, gooi dit oor sy skouer en trap vas teen die een dik wortel. Dit is baie makliker vir hom om nou my laagste tak raak te gryp as wat dit was die eerste keer wat hy probeer opklim het. Hy trek homself op en kry die volgende tak beet. Hy klim rats. Die hande wat om my takke vou is veel groter as toe. Ek voel sy pyn. Elke keer as hy aan die growwe bas raak hoor ek sy siel skree tot diep binne in my.
“Hoekom eindig alles?” vra hy vir my.
“Elke einde is ’n begin,” antwoord ek.
Hy gaan sit op ’n breë tak en draai sy kop effens skeef. Ek weet hy het gehoor. Dit is waarom ek altyd met hom gepraat het. Want hy kan hoor. Die ander kinders wat hier kom speel het, het nie geweet hoe om te luister nie.
“Hoekom kan alles nie net bly soos dit was nie?”
Nou is daar ’n snik in sy growwe stem.
“Daar is net Een wat bly,” sê ek en maak my hoogste takke oop sodat hy die vaalblou hemel daarbo kan sien.
Hy kyk op en maak sy oë toe. Sy wange word nat. Hy weet waarvan ek praat. Hy ken Hom. Kon vir ure hier in my takke met Hom sit en praat. Maar dan vee hy sy trane vies af met die agterkant van sy hand, trek homself weer reggop en klim verder.

Hy het ’n man geword. Lank, maar nie maer nie. Fris. Sy arms is gespierd en harig. Gemmer blond. Soos die krulle op sy kop. Die sproete op sy gesig het karakter gekry. Sy oë is ’n dieper blou.
“Daar borrel nog steeds lewe uit die diepste plek van jou,” probeer ek hom keer.
Maar ’n gedagte wat ’n besluit geword het is magtig en hy klim nou met passie. Heen en weer. Voel-voel aan elke tak. Uiteindelik gaan hurk hy op een van my laaste dik takke wat hy nog so hoog sal kry.
“Alles moet eindig,” sê hy en sy stem is ligter, amper vrolik.
“Nee!” skree ek, “nie voor dit tyd is om te eindig nie!”
’n Rukwind slaan in sy gesig vas. Hy verloor amper sy balans maar gryp aan die sterk tak bokant sy kop. Hy kyk op na die tak en glimlag.
“Perfek,” fluister hy en ruk ’n paar keer aan die tak om seker te maak.
Dan haal hy die rol tou van sy skouer af. Behendig gooi hy die een punt oor die tak bokant sy kop en knoop dit stewig vas. Hy maak dubbel seker die knoop sal sy gewig kan dra deur sy voete op te lig en aan die tou te hang vir ’n paar sekondes. As hy tevrede is gaan sit hy met sy hande krampagtig om die tou gevou. Ek voel sy hart wild klop. Ruik die vrees wat saam met die sweet op sy handpalms uitslaan. Hy maak sy oë toe en laat sak sy voorkop teen die dik, growwe tou.
“My kinderdjare het geëindig,” fluister hy, “voor ek kon keer was dit een dag net klaar.”
“Ja,” antwoord ek, “jy is tussen twee wêrelde. Een van die dae begin ’n nuwe lewe.”
“Skielik is die wêreld nie meer so mooi nie. Skielik is daar ’n boosheid in alles. Skielik hoort ek nie meer hier nie.”
“Elke einde is ’n begin,” pleit ek, “wag net vir die nuwe begin.”
Hy begin weer aan die tou in sy hande werk. Maak ’n skuifknoop.
“Eindes maak te seer,” sê hy met ’n bewerige stem, “ek kan nie meer nie.”
“Maar elke einde maak jou sterker vir die nuwe begin!” skree ek.
Skielik gaan lê die wind. Alles is doodstil. Alles wag. Ek wag.
Hy vat die lus met twee hande vas en lig dit op tot voor sy gesig. Kyk daardeur soos deur ’n venster.
“Elke einde maak jou sterker vir die nuwe begin…” fluister hy in die stilte.
Ek juig…hy kan my regtig hoor!
Dan lig hy skielik sy hemp op en trek ’n kort stuk besemstok uit wat hy by sy belt ingedruk het. Hy steek die stuk besemstok deur die lus van die tou en pluk dit styf. Dan vat hy die stok stewig aan weerskante van die tou vas en trek homself op sodat hy weer op die tak hurk.
“Ek is nog nie ’n man nie en ek is nie meer ’n klein seuntjie nie,” sê hy, “so nou is ek maar wat ek besluit om vandag te wees.”
Dan spring hy.
Hy swaai deur die lug. Niemand kan hom van die huis af sien deur die digte gordyn van my hangende takke nie. Niemand sien die klein-seuntjie-uitdrukking op sy gesig as hy deur die lug trek nie. Niemand sien die uitbundige glimlag as hy weer terug is op die tak en steier om sy balans te hou nie. Vir nou is hy weer sorgeloos. Vir nou mag hy maar speel.
Hy is vry om te vlieg.

Die Einde

  • Nic Marais

    Uitstekend! Hou mens geboei tot die laaste sin.

  • Karin Muller

    Karin Muller
    Pragtig geskryf! Sterk woordkeuses wat ‘n duidelike beeld skep.

  • joset jordaan

    Uitstekend geskryf! Ek was vasgenael tot die einde. En wat ‘n fantastiese einde! Hoop dit is net die begin van nog vele meer verhale…

  • Chantal

    Baie oulik!