2015 Inskrywings [38]

  1. LIGTE! – Casper H. Coetzee (Volwasse Wetenskapfiksie) WENNER
  2. DIE POPMAKER SE GRAMSKAP – Ester Byleveldt (Jeug WF) WENNER
  3. DIE MUSIKALE TRIOMF: WAAR DIE ILLUSIES SKUIL – Ilse Goschus (Volwasse Fantasie) WENNER
  4. ATTARIA: ROSA EN HAAR WOLF – Johanna Fourie (Jeugfantasie) WENNER
  5. SANDRASSA, DANTE EN DIE VAMPIERE – Ilse Goschus (Jeug WF)
  6. FLIKKIE LAG WEER – Tanita Da Silva (Jeugfantasie)
  7. VERLORE TUSSEN DIE GOLWE – Tanita Da Silva (Jeugfantasie)
  8. LAASTE DAAD VAN WEERSIN – Linet du Plessis (Volwasse Wetenskapfiksie)
  9. VEGTERSINSTINK – Louise Viljoen (Volwasse Wetenskapfiksie)
  10. VONNIS – Joe Botha (Volwasse Wetenskapfiksie)
  11. LYFGRYPER – Caper H. Coetzee (Volwasse Wetenskapfiksie)
  12. SLEEPSPORE VAN HEL – Ilse Goschus (Jeugfantasie)
  13. AS DIE WONDERWATERS SING – Ilse Goschus (Jeugfantasie)
  14. DIE STEMME IN EN OM LARA – Ilse Goschus (Jeugfantasie)
  15. LUNA SE MAAN EN DIE PATRON ROBOTTE – Chantal Pretorius (Jeug WF)
  16. META1: DOKTOR SARA SE OPRAPING – Ilse Goschus (Volwasse WF)
  17. DIE FINALE DIMENSIE – Salmon Smith (Jeugfantasie)
  18. MAGRIET SE REIS – Brechje Visagie (Volwasse Fantasie)
  19. NEFERTITI – Brechje Visagie (Volwasse Fantasie)
  20. DIE WATERNIMF VAN FLAMINKPAN – Casper H. Coetzee (Volwasse Fantasie)
  21. KARLIEN EN DIE BOSE ENGEL – Chantal Pretorius (Jeugfantasie)
  22. WRAAK VAN DIE MEERMIN – Chantal Pretorius (Jeugfantasie)
  23. I.K. – Ockert J. Du Preez (Volwasse Wetenskapfiksie)
  24. LOKI EN DIE WEERWOLF – Chantal Pretorius (Volwasse Fantasie)
  25. DIE VREEMDE BLOU PERDJIE – Salmon Smith (Jeugfantasie)
  26. MISSIE WIT-STOK 232 – Ilse Goschus (Jeug Wetenskapfiksie)
  27. DIE ONHEIL ROEP – Tanja Vermaak (Volwasse Fantasie)
  28. PIET EN HEIN SE SEE NAGMERRIE – Chantal Pretorius (Volwasse WF)
  29. DIE MISTERIEUSE WOUD – Anke Norris (Volwasse Fantasie)
  30. DROOMWAGTER – Madeleine Venter (Volwasse Fantasie)
  31. SEL – Joe Botha (Volwasse Wetenskapfiksie)
  32. DIE OORNAME – Anke Norris (Volwasse Wetenskapfiksie)
  33. VALENSTYNSNAG 2014 – Joe Botha (Volwasse Fantasie)
  34. SKOKTERAPIE – Ockert J. Du Preez (Volwasse Wetenskapfiksie)
  35. DONKER BETOWERING – Chantal Pretorius (Volwasse Fantasie)
  36. SPEELVELD – Joe Botha (Volwasse Wetenskapfiksie)
  37. GEMMERBROODMAN 0001 – Ilse Goschus (Jeugfantasie)
  38. RUIMTE-PUNKS – J.V. Van Wyk (Jeug Wetenskapfiksie)

  WETENSKAPFIKSIE 2015 - Paul C. Venter - Wetenskapfiksie (Januarie 2015)

Paul Christo Venter, die skrywer van fiksie, draaiboeke en rigiseur van verskye Afrikaanse TV-reekse (Arende, Konings, Terug na Egipte, ens.) en rolprente het ingestem om op tree as hoof-beoordelaar van die Thompson Boekdrukkery se 2015 Afrikaanse Wetenskapfiksie Kortverhaal Skryfkompetisie – ons dank en waardering.

– Lees meer oor Paul C. Venter.

Spekulerende fiksie vir volwassenes. Wenner: Ligte!

Ek het die volwasse stories deurgewerk – elkeen twee keer gelees – en ongelukkig vir die lesers wat tegnologie bo siel in hul SF verkies, bly ek maar ʼn volgeling van Clifford D. Simak wat in sy korter stories nooit sy aardse menslikheid verloor het nie: LIGTE! is vir my dus die beste van die volwasse stories wat jy aan my gestuur het. Ouma Drien se ontdekking en wat daarop volg is met soveel eenvoud en menslike warmte geskryf dat die ontsaglikheid van haar vonds selfs groter as gevolg daarvan word – dat wie of wat ook al werklik die “baba” is, ʼn gewone ou siel soos sy sou gekies het, en die manier waarop die skrywer dit alles so amper rustig, sonder enige groot drama hanteer …dis ʼn klein wonderwerkie van ʼn storie! Jy kan gerus hierdie skrywer se ontwikkeling dophou en aanmoedig. Asseblief, ek kies nie hierdie storie omdat ek teen tegnologie in SF gekant is nie. Verseker het tegnologie sy plek in die genre, maar daar is derduisende lesers soos ek wat voel daar is te veel skrywers wat storie en karakter onder tegnologie stel. Dis vir ons ʼn fout. Arthur C. Clarke was seker die SF-skrywer met die grootste kennis van tegnologie, maar in sy beste werk dien tegnologie altyd die menslike krag van die storie. Nuwe SF-skrywers kan dit gerus onthou. Dankie dat ek die stories kon lees, dit was ʼn interessante oefening.

Spekulerende fiksie vir die jeug. Wenner: Die popmaker se gramskap.

Sjoe, die jeugstories was vir my ʼn probleem. DIE POPMAKER SE GRAMSKAP is eerste – en natuurlik die vampierstorie tweede: bloed wen altyd by kids! 

FANTASIE

2015 - Janie Oosthuysen - FantasieAdriana Maria (Janie) Oosthuysen, die skryfster van menigde kinderboeke en die vertaler 锎铍锖e gewilde Harry Potter-reeks het ingestem om op te tree as hoof-beoordelaar van die Thompson Boekdrukkery se 2015 Afrikaanse Fantasie Kortverhaal Skryfkompetisie – ons innige dank en waardering. – Lees meer oor Janie Oosthuysen – Vind meer uit oor haar Skryfgeheime-kursus.

Fantasieë vir volwassenes. Wenner: Die musikale triomfwaar die illusies skuil.

Notas betreffende die inskrywings: Hierdie beoordeling was vir vele redes besonder moeilik, in hoofsaak aangesien die kiem van verbeelding wat in die meeste inskrywings bespeurbaar is, alte dikwels gesmoor is deur ʼn gebrek aan fokus en samehang, asook deur melodramatiese elemente, vergesogthede en voorspelbaarheid.

Etlike verhale is te kinderlik om tot die teikenmark te spreek en het gevolglik uitgeval. Alle inskrywings gaan mank aan skryftegniek: clichés, geykthede, ongrammatikale skryfwyses, ʼn oordrewe skryfstyl en gebrekkige storie-opbou is algemeen. Lang uiteensettings sonder die verligting van dialoog of handeling sal lesers vervreem. En hoewel hierdie tipe verhale weens hul aard “buitengewoon” moet wees, moet elke verhaal steeds bevolk wees met karakters wat die storiegegewe op oortuigende wyse binne daardie spesifieke “fantastiese” raamwerk uitbeeld.

Om op te som: Dis nie net vir gaan sit en skryf nie, mense, natuurlik is passie en entoesiasme noodsaaklik, maar tegniese aspekte mag nie afgeskeep word nie. Niemand kan ʼn Pierneef of ʼn Van Gogh skilder ná enkele tekenlesse op skool nie, en dieselfde geld vir die skryfkuns.

Jeugfantasie-afdeling Wenner: Attaria – Rosa en haar wolf

Notas betreffende die inskrywings: Die volgorde waarin die stories bespreek word, is willekeurig en nie volgens meriete nie. Elke bespreking vat die hoofredes waarom die verhaal slaag of nie slaag nie bondig saam.

Seker die sterkste titel is Sleepspore van [die?] hel. Ongelukkig voldoen die verhaal self nie aan die verwagtinge wat deur hierdie belowende titel geskep word nie. Die liriese elemente in die aanvangsparagrawe is veral hinderlik. Verder kort die verhaal ʼn sterk fokus op die storiegebeure. Soos in talle ander verhale (ook in die volwasse afdeling) is daar tegniese oortredings ten opsigte van gesigspunt, die skryf van gedagtes, ensomeer.

Die liriese titel en aanvang van As die wonderwaters sing sal kwalik tot lesers van die jeugfantasie-genre spreek. Verder is die karakters te kinderlik en die storiegegewe te simplisties vir die teikenmark, wat tog tieners is, iewers tussen 13 en 17. Skryftegniek kort aandag.

In Die vreemde blou perdjie begin die skrywer heel belowend op die oomblik van verandering in die hoofkarakter se lewe, maar die titel sowel as die gegewe is te kinderlik vir die teikenmark. Soos in etlike ander inskrywings fouteer die skrywer met ʼn hoofkarakter wat geen vriend of bondgenoot het nie en gevolglik gedurig op hinderlike wyse hardop met homself praat.

Die stemme in en om Lara begin op ʼn belowende wyse met ʼn prikkelende aanvangsparagraaf, maar dis hinderlik dat die waarskuwing t.o.v. die storieprobleem deur ʼn ouer verskaf word. Tieners verkies verhale sonder ʼn ouerlike teenwoordigheid of betrokkenheid. Verder is die 11-jarige karakter sowel as die storiegegewe nie geskik vir die teikenmark nie.

Verlore tussen die golwe is belowend en werk met interessante gegewe, maar daar is talle probleme met skryftegniek. In hierdie verhaal van 2 200 woorde kry lesers eers op bladsy 3 ʼn aanduiding van die storieprobleem, wanneer die hoofkarakter (deur die ma!) oor die Dwaler gewaarsku word. Voorafskaduwing moet vroeg in die verhaal verskyn en op ʼn interessante wyse oorgedra word, soos byvoorbeeld ʼn twiet oor die Dwaler op Jenna se slimfoon. Skrywers moet modern dink en die tegnologie benut.

Ten spyte van die verleidelike titel is die 16-jarige karakter sowel as die storielyn en gegewe van Die finale dimensie hinderlik kinderlik. Soos in talle ander inskrywings sukkel die skrywer met die vind van ʼn storieproblematiek wat tot tieners spreek. Didaktiese elemente en die herhaaldelike gebruik van die woord “klong” is steurend.

Die gegewe van Karlien en die bose engel is heel interessant, maar die nodige skryftegniek ontbreek.

In Gemmerbroodman 0001 vernuwe die skrywer die ou sprokie met o.a. pseudo-wetenskaplike elemente. Dit werk tot op ʼn punt, maar die gegewe sal nie tot die teikenmark spreek nie en die didaktiese elemente is opsigtelik en steurend.

Flikkie lag weer is kinderlik en spreek nie die behoeftes van die teikenmark of die genre aan nie.

Wraak van die meermin is heel spannend geskryf, maar dis diffuus, die storielyn sal nie tot tieners spreek nie en die einde is darem net te maklik.

Attaria – Rosa en haar wolf is spannend geskryf met ʼn vinnige tempo, en die skrywer bewaar die storiegeheime knap. Op die ou end te knap, want ʼn leemte is die gebrek aan voorafskaduwing rakende die storieproblematiek. Hierdie gebrek skep ʼn leser-skrywer-vertrouevakuum, m.a.w. die leser begin wonder of sy/hy die skrywer kan vertrou en of die plot nie net ʼn sinnelose gejaag na wind gaan blyk te wees nie. Gaandeweg het hierdie jaagtog al meer die gevoel geskep van ʼn greep uit ʼn lang verhaal of ʼn aanloop tot ʼn vollengte jeugroman. Nie dat hierdie probleme nie reggestel kan word nie, dis duidelik dat die skrywer oor die skryfvaardighede en innoverendheid beskik om die nodige balans in te bou. Dis dan ook waarom hierdie inskrywing as die wenner van die jeugfantasie-afdeling aangewys word. 

Riglyne oor die fantasie-genre, vertaal en aangepas deur Janie Oosthuysen uit: http://www.bookcountry.com

Fantasie-fiksie as genre word gedefineer deur die teenwoordigheid van bonatuurlike elemente en die towerkuns. Anders as in die geval van wetenskap-fiksie is hierdie verhale totaal onmoontlik, selfs in die verre toekoms. Hierdie genre vereis dikwels die bou van komplekse wêrelde bewoon deur mitiese figure (elwe, trolle, drake, eenhorings, sentours, ens.) sowel as paranormale wesens (vampiere, weerwolwe, ens.).

Storielyne draai om die stryd tussen goed en kwaad en eindig gewoonlik met die ondergang van die antagonis. Die protagonis besit dikwels magiese vermoëns en wapentuig. Seker die twee gewildste fantasie-subgenres is die epiese fantasie en die stedelike fantasie.

Epiese fantasieë behels ʼn sekondêre wêreld bevolk met talle karakters, asook komplekse storielyne wat om oorlog en die opkoms en val van koninkryke draai. Dit speel af in ʼn omgewing wat aan Europa in die Middeleeue herinner. Bekende skrywers is J.R.R. Tolkien, George R.R. Martin, Robert Jordan en David Anthony Durham. Kyk ook na Prince of Thorns deur Mark Lawrence.

In stedelike fantasieë word kontemporêre fantasieë gekoppel aan elemente van misdaadfiksie of paranormale romanses. Voorbeelde van suksesvolle skrywers is Laurell K. Hamilton, Charlaine Harris en Jim Butcher.

Die tradisionele fantasie is ʼn breë kategorie wat fantastiese werke in ʼn sekondêre wêreld insluit. Dit behels towerkuns en ʼn storielyn kleiner in omvang as die epiese fantasie. Die verhaal draai gewoonlik om ʼn groepie mense met ʼn duidelik omskrewe doel. Skrywers sluit in Anne Bishop en David Gemmell.

Historiese fantasieë speel af in herkenbare historiese eras, gewoonlik pre-twintigste eeu. Dit toon ooreenkomste met die epiese subgenre, maar in kontras daarmee is die historiese fantasie bevolk met egte historiese figure en speel binne ʼn spesifieke historiese tydperk af. Bekende skrywers is Marion Zimmer Bradley en Guy Gavriel Kay.

Komiese fantasieë toon ʼn humoristiese of satiriese trant. Dit parodieer dikwels gevestigde werke in die fantasie-genre. Skrywers sluit in Terry Pratchett en Christopher Moore.

Kontemporêre of moderne fantasieë speel af in die regte wêreld, in die huidige tydvak. Skrywers benut dikwels tradisioneel Europese sowel as multikulturele mitologie om die verhaal aan te dryf. Stedelike fantasieë ressorteer onder hierdie genre. ʼn Gewilde skrywer van kontemporêre fantasieë is Neil Gaiman.

Tussenruimtelike fantasieë (slipstream fantasies) is ʼn nie-realistiese genre tussen die fantasie-genre en hoofstroomfiksie en is dikwels meer literêr in trant, met ʼn besliste gevoel van vreemdheid. Skrywers sluit in Kelly Link, Jeffrey Ford en Susanna Clarke.

Vreemde fiksie (weird fiction) bevat elemente uit die griller-, fantasie- en wetenskapfiksie-genres. Die skrywer H.P. Lovecraft is ʼn voorbeeld. Moderne vreemde fiksie word soms as nuwe vreemde fiksie beskryf. Ann en Jeff VanderMeer en China Mieville is voorbeelde van skrywers van nuwe vreemde fiksie.

  • Chantal

    Dankie vir die inligting!

  • Salmon Smith

    Dankie Jane en Paul. Julle kommentaar help my baie. Ek kan weer baie leer daaruit.

  • Chantal

    Ja ne ek ook. Ek glo dit sal volgende jaar beter gaan met ons.

  • Ockert

    Dankie vir die inligting!