AS DIE WONDERWATERS SING – Ilse Goschus

AS DIE WONDERWATERS SING – 2015 © Ilse Goschus

JEUGFANTASIE (2 122 WOORDE)

 

Die Klein Karoo se son brand die wilskrag uit almal uit en maak plek vir ʼn lustelose tamheid, hier in die omgewing van Barrydale. Die veld lê stofvaal in die versengende hitte, terwyl die sonbesies vir ʼn vale suis. Sweet klou aan menige voorkop. Ander soek lafenis in die koue swembad, siende dat die warmwaterbaddens beslis nie ʼn opsie is in die ondraaglike hitte nie.

Die veld lê vasgevang in kontraste binne die gewilde vakansieplaas, die ‘Oog-in-die-Aarde Spa’ – vaal Karoobossies aan die eenkant en digte bome met grasgroen blare, in en om die water. Die poue wat kos soek, se pronkvere sorg vir ʼn verdere kontras. ʼn Swart vetgesig kat met pofferwange en wilde snorbaarde, kruip in soepelheid op haar teiken af – ʼn hen met tien goudgeel kuikentjies. Die klein, wolle-bolle is onbewus van die gevaar wat hulle op vier pote nader, terwyl hulle op sosiale manier met die hen en met mekaar, kommunikeer.

Tieks en Jos se kaalvoete kry seer as hulle op die rollende gruiskllippers probeer balanseer, terwyl hul die steiltes van die koppie aandurf. Die kombinasie van fyn takkies en skerp klippies, maak die aanslag moeilik.

“Gits Tieks, nou steek die takkies en skerp klippe darem diep gate in my my voete,” laat Jos van hom hoor. “Kom, laat ons maar die plastiese skoene-gedoentes aantrek!”

“Briljante idee! Plakkies is die woord, Jossie. Onthou dit tog en stoor dit in jou grysstof,” spot sy. “Kyk daar… daar’s riete en wilgerbome. Dit behoort beslis koeler te wees daar in die skadu.”

Tieks dra hulle plakkies in haar klein uil-rugsakkie wat haar ma van Thailand afgebring het vroëer vanjaar. Sy draai haar liggaam sywaarts en swaai haar rugsakkie met ʼn goed geoefende regterhand van haar rug af en, rits dit oop en kry hul plakkies uit. Gretig wriemel hul hul groottone en voortone in posisie om die dunnerige stuk rubber half in die middel, wat moet toesien dat die plakkies aan hul voete bly klou.

“Kan jy die water hoor borrel?” vra sy.

Giggelende kinders op perde ry die steiltes uit. Die geklap van die perdepote, laat haar woorde in die stof vasslaan.

“Kyk, hier is die oog. Hier kom die water uit. Hulle lei dit met pype na die warmwaterswembaddens toe,” verduidelik Jos.“Die mineraalinhoud is baie hoog. Mense beweer dat die water ʼn genesende invloed op hulle het.”

”Ja, my pa het my vertel. Weet jy die temperatuur van die water hier is 44 grade Celsius? Blykbaar warm genoeg om ʼn eier te kook, het ek iemand hoor sê,” antwoord Tieks. “Ek weet nie so mooi of mens dit kan glo nie.”

“So van eier gepraat, Tieks… verskoon my gou vir ʼn paar minute ‘seblieftog. Ek’s nou weer terug. Ek’t iets vergeet in ons tent.”

“Goed Jos!” roep sy agterna.

(Jos en Tieks se ouers is boesemvriende. Beide kinders bly in Bellville, een van die Noordelike voorstede van die Kaap. Die gesinne het besluit om hierdie Paasnaweek saam te kuier en te kampeer by die warmwaterbron. Die twee kinders, beide enigste kinders en boesemviende, was natuurlik in hul noppies. Hulle deel dieselfde belangstellings en hou van die veld, die natuur en die stilte van die platteland.

Tieks gaan sit op ʼn klammerige oop kolletjie grond onder een van die wilgerbome. Twee wit vuurklippe lê langs haar. Sy kap hulle met verwagting teen mekaar, maar niks gebeur nie. Hulle glip in koue hardheid by mekaar verby. Nie eens ʼn rokie nie – net vuil stofstrepe en krapmerke.

“Simpel klippe,” praat sy met haarself. “In elk geval… hoekom neem Jos dan so lank?”

Skeilik trek ʼn beweging haar aandag. Twee goudgeel vinke is besig om ʼn nessie te bou reg bo die warm oog. In en uit… in en uit, vlieg hulle. Sy draai nou op haar maag, op die klam grassies langs die oog om die nesbou-verrigtinge beter dop te hou. Die water stink na minerale – die reuk maak haar naar. Die stoom borrel opwaarts en verdwyn dan tussen niks en nêrens nog voordat dit by haar kan uitkom. Sy beweeg verder weg van die nare reuk af.

“Genade Tieks, kyk hoe lyk jou klere nou van die stof,” berispe Jos as hy opdaag.

“Ag, dink jy nou jy’s my ma? En vir wat maak jy so lank?” vra sy gemaak-verontwaardig.

“Ek het dit gesoek,” antwoord hy met ʼn groot, glimlag om sy mond.

In sy hande het hy ʼn swart towernaarshoed.

“Wat op aarde maak jy met ʼn towernaarshoed hier in die droë, vaal Klein Karoo?” vra sy verbaas.

“Ek en die hoed wil ʼn bietjie sprankel en geluk na die droogheid en vaalheid bring. Buitendien, dalk slaag ek en my hardebolhoed daarin om ʼn ander dimensie aan jou sogenaamde ‘algemene kennis’, te verleen. Ek wil vir jou ʼn toertjie wys. Ek neem mos lesse by die Marlin Towerkunste Skool gedurende die naweke, daar in Kaapstad. Een ding kan ek jou verseker… daar is baie geheime binne-in my hardebolhoed.

“Ag Jossie, jy kan tog nie toor nie,” terg Tieks terwyl sy haar pienk tong koggelrig uitsteek.

“Luister vandag na my, Tieksie, kind. Towerkunsies word oopgesluit met die sleutel van geloof. Dis ʼn baie kosbare sleutel. Net die wat glo, word ingelaat by die wonderdeur van magiese kragte… Glo en… maak nou jou regterhand oop. Hier is ʼn hoendereier wat ek by my ma ‘geleen’ het. Sit dit nou in die hoed. Voor jy dit egter doen… skud dit en luister. Stem jy saam dis ʼn regte, hoendereier?”

“Ja, ek dink so. Daar is so ʼn souserige klank, of liewer… gevoel, binne-in die dop. Ek kan die loperigheid waarneem, maar… ek kan dit altyd stukkend kap net om honderd present seker te maak,” spot sy.

Jos hou die bol-gedeelte in sy linkerhand en bring ʼn satynagtige, rooi sakdoek te voorskyn uit sy broeksak met sy regterhand en swaai dit drie maal oor die hoed se opening. Tieksie staar na die petalje voor haar en wonder of daar ʼn towerding te voorskyn gaan kom.

“Agge-lagge-magge” prewel hy “…en siedaar!”

Tieksie loer oor die rand van die hoed.

“Maar Jos… daar is dan niks in die hoed nie!” roep sy verbaas uit. “Wat het van die eier geword?”

“Hier, kyk, dit was al die tyd agter jou oor.”

Tieksie hoor ʼn getjiep-tjiep. Sy kan haar oë nie glo nie. Die twee vinkies van netnou sit en piep in haar hand.

“Jy is nou regtig besig om met my kop te smokkel,” antwoord sy half verleë. “En die eier? Het dit nou in die niet verdwyn?”

Jos klim swaai-swaai teen die touleer op wat teenaan die enorme boomstam hang, waar die twee vinkies ʼn rukkie gelede in en uit gevlieg het. Hy steek sy hand in die vinknessie. Op sy handpalm lê ʼn hoendereier.

“Skud dit,” beveel hy.

Tieks se oë rek groot.

“Die souserigheid is nou weg, Jos. Net weg! Ek glo dit nie! Ek glo dit werklik nie! Sy tik-tik liggies aan die eierdop met een van die vuurklippe. Die dopkraak in menige fyner deeltjies. Dan dop sy dit af.

“Goeie genugtig Jos, dit is dan nou ʼn hardgekookte eier. Wil jy dit glo! Waar is die rou eier dan?

“Hier, net hier agter jou linkerblad,” sê hy as hy met die rou eier met die souserigheid en al, te voorskyn kom.

“Dis ongelooflik. Jy kan regtig toor! Nou sê vir my, my liefste vriend,” gaan sy voort en besef skielik dat die woord ‘liefste’ per ongeluk uitgespring het. “Spring daar dan nie ʼn haas of ʼn eend of iets, nou op hierdie tydstip uit die hoed nie?” vra sy op ernstiger toon met ʼn gesig sonder emosie, om haar flater te probeer verdoesel.

“Luister Tieksie, my towerkunste is anders. Dis net anders,” antwoord hy met ʼn onverwagse sagtheid in sy stem. “Luister en glo! Onthou… soek vir daardie sleutel.”

Hy kyk nou baie diep in haar groen oë. Dit laat haar ietwat ongemaklik voel, maar sy kyk nou reguit in sy blou kykers en sien bewondering in die twee ligte poele blou. Sy kry so half ʼn skoenlapper gevoel in haar maag. Skielik ruk sy haar reg. Sy luister… Sy is nie eintlik seker na wat nie, maar sy luister omdat sy weet sy moet luister.

(“Tieks, daar bestaan nie iets soos toorkunsies en werklike towernaars nie,” weerklink haar pa se woorde hard en hol in haar kop.“Dit druis heeltemal in teen ons Christelike geloof en beginsels, verstaan jy my?”

“Maar Pa… in die Bybel het Moses dan ʼn stok in ʼn slang laat verander, of so-iets,” het sy verweer. “Was dit dan nie ʼn towerkunsie nie?”

ʼn Diepe stilte het skielik tussen haar en haar pa gaan lê. ʼn Diep keep het op sy voorkop gaan lê. Sy oë het in donker gloeiende poele verander. Die spiertjie in sy wang het begin spring en sy het stil in haar spore omgedraai en kamer toe geloop.)

Tieks is verward. Sy hoor steeds kinderstemme, die gallop van perdepote, ʼn naderkomende motor…

“Perdepote hardloop ‘seblieftog bo-oor my nuutgevonde geloof in toorkunsies. Trap dit diep in die stowwerige grond in en begrawe dit. Ook die goue sleutel van magiese kragte. Vir my en Pa se onthalwe.”

En dan hoor sy dit… die mooiste melodie wat sy nog ooit gehoor het.

“Waar kom dit vandaan?” vra sy nou verbaas.

“Dis die lied van die wonderwaters,” antwoord Jos. “Luister, Tieksie!”

* * *

“Kinders, luister… dis die oog se waters wat nou sing…
Goeie wense kan en wil ons bring.
Glo net… en dit word waar.
Tieks, jou innigste wens is reeds daar.
Onthou, die goue sleutel sluit,
drome en towerkunsies nooit werklik uit.
Ons dans graag hierdie uitnodigingsdans.
Glo in ons lied en in jou drome… vat ʼn kans!”

* * *

Die rook bolling nog steeds opwaarts sodra die warm water met die koue Klein Karoo-lug in aanraking kom.

“Kyk Jos!” Kan jy dit glo?” roep Tieks verbaas uit.

Jos loer af in die dieptes waar die mineraalwater borrel. Die rookbollings skuif woelend rond. Dit verander van vorm. Die son se geel strale flits deur ʼn opening en… in die borrelende oog ervaar sy dit – die rook in die vorm van ʼn sleutel. Die sonlig kleur dit goud.

“Kan jy sien, Tieks! Sê my, kan jy dit sien?” vra Jos dringend as hy met ʼn wysvinger afwaarts wys oog se kant toe.

“Ja, ja, ek kan! Kyk, dis die goue sleutel van die geloof!” roep sy verbaas uit.

“Dis ʼn offer. Vat dit met dankbaarheid en op die manier wat jy goed vind,” stel Jos voor.

“Wat bedoel jy?” vra sy verward.

“Volg jou sintuie – al vyf en dalk ook veral… jou sesde sintuig! Doen dit wat jy weet, reg is,” gee Jos raad.

“Ja. Nou kan ek dit wat verborge is oopsluit,” antwoord sy met vertroue.

“Die water is kookwater warm,” besef sy, maar ten spyte daarvan, duik sy haar toekoms tegemoet. Tieks duik reg af in die borrelende waters van die warmwaterbron. Die waters omvou haar liefdevol en warm. Dit koester haar en sing hul lied.

“Ek brand nie,” dink sy. “Dis oor my geloof in die goue sleutel.”

Sy gly af… af… af… Nog nooit in haar lewe het sy so ʼn mooi gesig gesien nie. Die rotsformasies is punterig en gefossilleerd, met verskillende skakerings van bruin, grys, swart en selfs ʼn tipe grondboontjiebotter kleur. Dan sien sy dit… ʼn Rooi vlammevuur spoeg sy agressie uit oor die opening van ʼn vulkaan. Dit is geleë aan die bodem van die oog en dit voorsien die hitte vir die waterbron.

“Waar is Jos dan?” wonder sy skielik.

“Als in die lewe gaan oor die regte tyd. Als gebeur wanneer dit moet gebeur. Sy wens is reeds bewaarheid. Sy wens was dat jy die goue sleutel van die toorkunste sou ontdek,” sing die wonderwaters verheug. “Jou wens was om die geleentheid te kry, om die dieper dinge van die lewe te ontdek. Jos het jou die kans gegee. Ons fasiliteer net die proses, soos ons in die liriek van ons lied verduidelik. Julle albei se wense is bewaarheid. Wat belangrik is, is wat julle sal maak met die kennis tot jul beskikking.”

Tieks swem onwillekeurig nader aan die vuurspuwende berg onder die oog. Die wonderwaters beskerm haar. Sy swem tot by die vuurgevulde opening en kyk af in die dieptes. Sy hoor meteens ʼn watergeluid, maar sy vind dit moeilik om weg te kyk van dit wat haar bekoor.

“Ek het gekom… ek het gekom…” hoor sy skielik.

Tieks kyk verskrik vas in haar pa se gesig. Meteens spuug die vulkaan sy rooi vlammespel in alle rigtings die water in. Sy sien haar pa se verwronge gesig in die vuurwerke. Sy sien Jos met sy swart, hardebolhoed op die wal van die oog en dan voer Jos ʼn unieke toertjie uit…

  • Marilise Hammond

    Ek het dit baie geniet.

  • Chantal

    Baie goed geskryf!