DIE MISTERIEUSE WOUD – Anke Norris

DIE MISTERIEUSE WOUD – 2015 © Anke Norris

volwasse fantasie (6 834 WOORDE)

 

Dis etenstyd en ek besluit om vir ʼn wandeling te gaan. Ek is moeg vir die stad se geruis, wil net wegkom. Ek lig my medetikster in dat ek vir ʼn uur uitgaan, tel my handsak op en stap uit. Ek is gebore en getoë in die stad. Ek sal nie op die platteland aard nie. Te stil. Wanneer dit druk, gaan ek woud toe. Snaaks dat hulle dit so naby aan die stad gebou het, maar dis al wanneer ek bietjie lafenis vir my siel kry.

Die woud is pragtig, stil, rustig. Ek loop stadig, neem die kalmte in. Die voëltjies se getjirp, die briesie wat deur blare dwarrel. Hier en daar is ʼn eek’horinkie wat teen boomstamme op en af hardloop. Hier en daar hoor jy die sonbesies sing. Dis ʼn heerlike, warm, somersdag. Die gedagte kom by my op dat die drawwers seker nog sal kom. Elke dag kom draf die lede van ʼn fiksheidsklub, Pendoring, hier.

Ek kyk op na die blaredak. Dis welig en groen. Hier en daar kom ʼn verdwaalde sonstraaltjie deur, om net weer te verdwyn. Dit los sonkolletjies op die lowergroen gras. Net die grasperk aan die buitekant van die woud word kort gehou. Tussen die bome en struike groei dit welig. Ek verkyk my so aan die blaredak, ek nie kyk waar ek loop nie… loop my vas in iets… maar hoe…? Daar is geen boom of struik voor my nie, maar ek kan nie verder nie! Wat gaan aan…?

Ek kyk rond. Alles lyk soos dit ʼn paar sekondes gelede nog gelyk het… maar waarin het ek vasgeloop? Ek stap nader aan die deel. Ek steek my hand uit. Dit stop teen “iets”. Dis soos ʼn “muur” van onsigbare energie voor jou. My wysvinger raak aan die skerm en dit vorm ʼn punt na binnekant. Die punt van my vinger verdwyn! Stukkie vir stukkie verdwyn my hand…

Ek skrik so groot dat ek my hand terugtrek. Wat gaan aan? Dan kry my nuuskierige geaardheid die oorhand en ek druk my hand weer by dieselfde area in… al hoe meer van my “verdwyn” ek skud my kop, want dis vreemd, maar ek is baie nuuskierig. Wat gebeur aan die ander kant van die energie veld?

Ek beweeg stadig… versigtig… deur die energie… dit voel nie of enige van my lyf iets oorkom nie…! Ek is deur! Ek draai my kop. Verbeel ek my of lyk alles bietjie anders? Ek is steeds in die woud, maar dis asof die atmosfeer my betower. Wat gaan aan? Waar is ek? Dan onthou ek… ek het so ʼn paar sekondes gelede deur ʼn onsigbare muur geloop! Grote genade! Waarin het ek myself nou begewe?

Ek kyk rond. Dis mooi hierdie kant. Alles voel onwaarskynlik. Dit lyk nog dieselfde, met bome en gras, maar die geluide in die woud is duideliker, bekorend. Ek voel betower. Ek sien niemand nie, hoor net die rustige, betowerende geluide. Dis of ek die bome en blare hoor fluister. Van die meisies in die kantoor sê dat hulle gehoor die woud is meer is as wat die blote oog sien… en hier staan ek… in die misterieuse woud.

Ek hoor ʼn geritsel skuins agter my en draai om. My mond hang oop van verbasing, want voor my staan ʼn pragtige wese… sy is beeldskoon… sy staan voor my, ʼn wasige, blou skepping. Sy dra fyn, blou satyn skoene. Haar vel soos die kleur van ivoor, sy is van middelmatige lengte. Sy het ʼn hartvormige, fynbesnede gesig. Bruin, sjokeladekleurige, skouerlengte hare. Wat my fassineer, is haar vlerke! Dis soos ʼn skoenlapper s’n, net groter. Dis deursigtig, gee reënboogkleure af soos die son daarop skyn. Asemrowend mooi!

ʼn Pragtige pruilmondjie, met rooskleurige wange, die helderste blou oë. ʼn Pikante fyn neusie. Sy lyk soos ʼn lewendige porseleinpop. Toe sy praat, klink dit soos ʼn sagte, hoë stemmetjie met die geklingel van klokkies in. Asemrowend!

“Hallo.” Groet sy. Sy bekyk my van kop tot tone. Die gevoel wat ek van haar af kry is beide opgewondenheid, maar ook wantroue en waaksaamheid. Ek sou ook so voel as ek ʼn vreemdeling in my omgewing teëkom. Ek het ʼn vermoede sy mag dalk ʼn feë wees.

“Hallo…” antwoord ek haar onseker. Sy kan Afrikaans praat! In my oë is dit beslis iets goeds.

“Waar is ek? Wat gaan aan? Wie is jy?” bombardeer ek haar met vrae. Sy draai haar kop skuins en kyk na my. Sy antwoord my vrae in haar sagte soet stem…

“Ek is Bella. Jy is nou in die Koninkryk van Erwee. Ons beskerm onsself teen die moderne wêreld deur die energie-muur… Jy kan gelukkig wees die muur het jou laat deurkom, dit gebeur nie sommer nie…” eindig sy haar kennismaking.

Dis snaaks, dink Bella, dat die muur hiedie mensekind deurgelaat het. Net nog ʼn vorige geval kom op. Dit was ʼn ruk gelede, toe die muur ook ʼn mens deurgelaat het. ʼn Jong man. Hy is nou een van die Koninkryk van Erwee se onderdane. Hy dien onder die feë se beskermingsmag. Die beskawing sal hom nie herken nie, hy het ʼn gedaanteverwisseling ondergaan.

“Ek is Annelie…” stel ek myself bekend.

“Ek het nie geweet dat so ʼn plek wel hier bestaan nie… dis so pragtig hier!” roep ek uit.

“Ja,” antwoord Bella.

“Hierdie deel van die woud is nie toegaanbaar vir mense nie. Die muur laat niemand toe tensy dit tot voordeel van ons koninkryk is nie. Ons was verbaas toe dit ʼn jong man deurgelaat het. En nou jy. Die woud sal ons seker nog wys hoekom sy jou gekies het…” eindig Bella haar vertelling.

Sy draai om en lig haar hand in die lug. Daar kom nog meer pragtige, wasige wesens uit, sommige lyk soos meisies in dik sykouse met kort mini-rokke tot in die middel van hulle bobene. Almal dra satynskoene. Almal het klein voete, en skoenlappervlerke. Dan is daar manlike feë, almal met ʼn swaard aan die kant, op hulle rûe dra hulle ʼn pyl en boog en aan die ander kant van die heup ʼn mes. Almal se haarstyle verskil en hulle is nie ewe lank in nie.

“Hierdie groepie kom uit elke keer as die “veld” ʼn mensekind deurlaat. Hulle is ons land se wagte. Indringing deur mense is nie al waaroor ons waak nie. Daar is nog die trolle en die dwarra ook. Hulle is aan die oostekant, maar mag nie oor die grens gaan nie. Hulle beraam gedurig planne om ons koningin te ontvoer, want sonder haar kan Erwee nie bestaan nie. Sy is baie spesiaal vir ons…” eindig Bella haar verduideliking.

Ek kan haar net aanstaar. Dat hulle so baie gevare moet trotseer! Dat daar donker gevare is wat die land en haar koningin iets wil aandoen! Ai, tog! Ek kom agter dat almal my aankyk. Hulle vir my wag om te antwoord. Ek kyk na Bella. Ja, sy wag ook op ʼn antwoord. Maar wat het sy gevra?

“Ekskuus, ek het nie jou vraag gehoor nie. Herhaal dit asseblief?” vra ek. Sy gee ʼn laggie wat soos klinkende klokkies klink. Almal het gesien hoe gefassineerd mensekind Annelie is oor hierdie pragstuk van ʼn Koninkryk van Erwee van hulle is.

“Ek het jou gevra of jy saam met ons sal gaan asseblief? Koningin Roselia wag vir ons. Sy weet alles wat in haar koninkryk gebeur. Goed en sleg. Ons is lief vir haar en sal enigiets doen om haar te beskerm.” eindig sy weer.

Almal maak ʼn sirkel om ons en begin te vlieg! Ek sal nie kan nie! Ek is nie ʼn feëriek nie! Bella wuif met haar hand oor my en ek sweef saam met haar en die groep deur die woud. Ons beweeg in ʼn paadjie wat krom en skeef deur die woud loop. Dis betowerend. Haai… ek gewaar selfs ʼn gemsbok of twee tussen die bome! Baie rustig… Misterieus…

Ons sweef verby alles… dan doem die wonderlikste gesig voor my op… dis so asemrowend mooi. Die pragtigste groen heuwels en die bergreeks reg agter. Dit lyk so majestiek… so oorweldigend… pragtig… sterk… betowerend… Reg voor is hierdie groot paleisagtige kasteel. Dit lyk baie soos een van daardie kastele wat in die Walt Disney tekenprente gebruik word, net hierdie een is groter, met siersteen gebou, ook die torings en rooi teëldakke en pragtige houtdeure met die pragtigste uitgekerfde patrone. Rondom dit is die groenste grasperke, hier en daar marmerbeelde wat water spuit uit hul monde of uit potte wat dit vashou. Orals is blommebeddings met die mooiste, kleurvolste blomme. Daar is viooltjies, rose, dalias, lelies, vygies, angeliere, sonneblomme, vergeet-my-nietjies… te veel om te noem, te pragtig vir woorde.

Ek draai om. Te pragtig vir woorde…! Al die huise (sommige dubbelverdiepings) is rondom die kasteel se gronde gebou. Dis ʼn sprokieswêreld. Van die wonings is deel van bome, uiters groot bome. Die ander is van sierstene soos die kasteel. Dit gee ʼn ongewone outentieke atmosfeer. Almal is besig, almal doen iets vir die koninkryk se geheel. Almal werk saam. Hierdie is ʼn hele ander wêreld… ʼn beter een as ek dinge so bekyk…

Bella dink. Hierdie is ʼn snaakse geval… hoekom het die “muur” die mensekind deurgelaat? Watter dienste gaan sy vir die koninkryk hê? Dit lyk nie asof sy enigiets kan bysit wat hulle reeds het nie. Die ander mensekind wat deurgekom het, het klaar so verander dat hy reeds deel van hulle is, hy is ook deel van die koningin se direkte beskermlinge. Dis hoekom die “muur” hom jare gelede deurgelaat het. Hy is sterk en slim. Hy het met sy vernuf, die koningin al baie beskerm in aanvalle van die Donker Woud. Hulle wil die hele koninkryk oorneem, in donkerte hul. Dit sal ʼn baie slegte tyd vir die koninkryk wees… Hoekom wil die koningin hierdie mensekind sien wat die “muur” deurgelaat het? Mensekinders is net moeilikheid vir die Koninkryk van Erwee.

Ons is nou op ʼn mooi leiklippad. Dit lei na die ingang van die kasteel. Voor die ingang is ʼn pragtige fontein. Die leiklippad gaan rondom die fontein en eindig voor die trappe van die kasteel. Die deur is imposant. Dit het goue deurknoppe wat lyk soos ʼn traan op elkeen. Die atmosfeer is een van betowering. Pragtig… asemrowend…

Die groot deure swaai oop en ʼn paleiswag kom staan voor ons. Hy is gestuur om die deure vir Bella en haar geselskap oop te maak. Bella en haar span bring nog ʼn mensekind wat die “muur” deurgelaat het. Wonder hoekom?

“Volg my. Haar majesteit, Koningin Rosalia, wag vir julle…” gee die paleiswag die opdrag. Hy klink baie belangrik. Druk sy bors uit. Hy is ook ʼn feëman, in ʼn stywe broek geklee met goue patrone oral. Hy dra ʼn spierwit hemp met ʼn moulose goudkleurige onderbaadjie met kleure van die reënboog tussenin geweef. Hy dra ʼn spierwit manelbaadjie, met goud en reënboogkleure deurweef. Hy dra satynskoene, syne is spierwit. Hy het ook ʼn goudkleurige spies is sy hand wat ook reënboogkleurige patrone wys. Hy lyk trots soos hy voor ons uitvlieg na die troonkamer. Almal in hierdie fantastiese feëland het vlerke, behalwe ek, en die diere. Ek is mens, nie ʼn fassinerende kreatuur van ʼn misterieuse woud nie. Hy het ook ligbruin hare, maar dis kort, en liggies gegolf. Hy het die mooiste groen oë wat ek nog gesien het.

“Komaan, Ari, jy kan ophou vertoon. Ons weet jy maak die deur oop en dra Haar Hoogheid, Koningin Rosalia se boodskappe. ʼn Baie belangrike posissie ja…” koggel een van die soldate die feëman.

“Gha…! Jy is net jaloers, Ore!” koggel Ari die soldaat. Sy naam is Ore omdat hy baie groot ore het…

“Shss…! Moenie dat Haar Hoogheid jou hoor nie! Jy sal gestraf word!” vermaan een van die ander soldate hom… Hy bly dadelik stil…

Ons beweeg in ʼn sprokiesmooi gang af. Dis breed, genoeg vir mense om langs mekaar te loop sonder om te stamp. Die vloer is pienk marmer, die mure wit met ʼn reënboog skynsel in. Oral is geraamde portrette van die koningsgesin, soldate, werkers, selfs diere. Almal het ʼn storie om te vertel. Dit gee die gevoel van warmte, vriendelikheid. Die feëgenerasie is in vergulde rame. Net die diere en natuursketse is geraam met reënboogkleurige rame. Alles vorm ʼn rustige, maar statige eenheid. Teen die mure is goue kandelare. Dit verlig die mure en portrette. Teen die hoë plafon hang glinsterende diamantkandelare met meer as dertig liggies op elkeen, almal van verskillende hoogtes. Dit hardloop na onder, soos ʼn onderstebo diamant. Ek tel tien van hulle, in die gang af. Ons het nou verby verskeie deure in die gang gesweef. Ek veronderstel dis onthaal-, gesels-, en kantoor-vertrekke. ʼn Glimps van een, gee die indruk dis soos ʼn groot saal, die vloer ook van marmer, met ʼn langhaarmat in die middel van die vertrek. Daar is nog meer vergulde portrette teen die mure en meer kandelare wat van die plafon hang. Teen die mure is ook enkele kandelare. Hier is verskeie musiekinstrumente met van die kasteel se onderdane besig om dit te bespeel. Dit is meesleurend en kalmerend. Daar is verskeie grootte harpe ook. Die musiek is hemels.

“Volg my asseblief…” sê Ari weer. Ons nader ʼn groot houtdeur, uitgevoer met patrone in goud. Asemrowend mooi! Die deur swaai oop. Die saal is enorm. Die vloere is pienk marmer, en ʼn bloedrooi, satynsagte mat loop van die deur af tot by die deels marmer-, hout-, en vergulde troon. Die mat is breed genoeg vir drie mense om langs mekaar te loop. Daar is gekoepelde vensters teen die mure en rooi fluweel gordyne, weggevou in die middel en rus agter goue hake aan weerskante van die vensters. ʼn Massiewe groot kandelaar verlig die troon. Daar nog kleiner kandelare in die res van die saal. Teen die mure is tafels met stoele rondom, versier met ligte rooskleurige tafeldoeke, met ʼn syagtige kantvierkant bo-oor. Daar is feë-dames en feë-mans om die tafels. Almal in gesprek met mekaar. Eenkant is ʼn orkes besig om musiekinstrumente te bespeel, een is ʼn harp met snare van sy. Die manlike feë dra stywe broeke.

Hulle dra spierwit syhemde met reënboogkleurige moulose oorbaadjie. Die feë het almal pienk sjivon rokkies aan wat op hulle tone rus, net die skoentjies steek uit. Al die feë het ʼn pienk angelier kroontjie in haar hare. Hulle lyk fraai en speel die mooiste musiek.

Die koningin is pragtig. Sy sit op haar troon, en sy is vriendelik, maar moenie haar kwaad maak nie. Sy regeer haar koninkryk met ʼn ferm hand. Sy het ʼn goue tiara op haar bruin krullerige hare, sy het die mooiste groen oë, ʼn klein, maar streng mond. Sy het ook goue versierings op haar voorkop soos ʼn halssnoer. Sy dra ʼn pêrel halssnoer met die embleem van ʼn druppel om haar nek. Sy dra ʼn blou satynrok wat uitklok om haar middel. Die voue uitgevoer met goudkleurige drade. Die moue bedek haar arms en eindig in ʼn ‘A’ vorm op die brug van haar hande met ʼn bandjie om haar middelvinger. Sy dra geen juwele buiten die voorkop versiering, halssnoer, die tiara en die reënboog-pêrel-oorkrabbetjies nie. Sy is ʼn trotse figuur. Sy moet wees, om so ʼn groot koninkryk met so baie onderdane en ongure karakters en diere te moet regeer. Sy is ʼn imposante karakter. Formidabel… vindingryk… geliefd. Sy staan op.

“Wel, Bella, is hierdie die mensekind wat die “muur” deurgelaat het?” vra sy belangstellend. Sy bekyk my van kop tot tone.

“Ja, u hoogheid.” antwoord Bella trots. Sy is mal oor haar koningin.

Koningin Rosalia bekyk die mensekind. Die “muur” het ʼn manier om net deur te laat wat die koninkryk benodig, het sy dit nog wagte, nog diere vir die koninkryk, nog onderdane is, enigiets wat dit dink die koninkryk nodig het… Wonder wat het hierdie meisie-mensekind? Gaan sy in die kasteel diens doen? Of buite in die natuur? Of… noudat ek daaraan dink, is sy bedoel vir die nuwe wag wat lank gelede deur die “muur” ingekom het…? Hy is ʼn uitstekende swaardvegter en boogskutter, en hy was ook ʼn mensekind voor Orla hom verander het om in te pas. Hy is immers alleen, is nie in die koninkryk gebore nie, en niemand kon nog sy hartsnare aanraak nie…

“Mmm… mensekind, wat is jou naam?” vra koningin Rosalia met haar sagte dog ferm stem.

“Annelie, u hoogheid,” antwoord ek haar. Ek verskuif bietjie, want ek is oorweldig deur alles. Die pragtige sprokieswêreld wat ek sien. Is dit ʼn sprokieswêreld? Dit voel nie so nie.

Ek kyk na my linkerkant. My oë gaan staan stokstyf. Het ek reg gesien? Die wag wat daar staan, lyk asof hy ʼn mens is, ek sien hy het ragfyn reënboogkleure skoenlappervlerke agter hom. Hy is redelik gespierd, so lyk dit vir my, die klere sit styf,maar nie ongemaklik nie. Hy het sjokelade bruin krulhare tot in sy nek. Die mooiste amandelkleur oë met digte wimpers en wenkbroue. Sterk vierkantige ken en nek. Hy dra ʼn styfpassende wit broek met rooi satynskoene. Hy het ʼn wit langmouhemp aan met moue wat pofferig staan. Hy dra ʼn rooikleurige, moulose, satyn onderbaadjie bo-oor die hemp en vasgemaak met rooi toutjies. Hy dra ook ʼn rooi keps. Skuins oor sy bors is die leerband van die pyl en boog agter sy rug en aan sy regterheup hang ʼn swaard in sy holster…

Ek kyk na hom. Iets trek my nader. Ek loop nie nader nie, maar dis of alles in my nader aan hom wil kom. Ek weet nie of die konigin dit sal toelaat nie. Hy is deel van haar koninklike wag. Dan kyk hy na my… die kleur in sy oë verskerp, hy kyk met meer aandag na my. My mond hang oop van skone verbasing… Sjoe, maar hy is aantreklik! Hy het ʼn sterk persoonlikheid. Dié dat hy in die koningin se wag is…

Die wag se aandag word getrek… hy sien die mensekind tussen die groepie staan… sy is mooi. Sy dra ʼn donkerblou langbroek met ʼn paar swart platvormskoene. Sy dra ‘n ligblou kortmoubloes met dun wit strepies. ʼn Dun goue kettinkie om haar nek. Heuningblonde hare in ʼn netjiese poniestert agter haar kop vasgevang. Sy het ʼn paar fyn goue oorbelletjies aan. ʼn Ligte pêrelpienk lipstiffie op haar lippe. Haar gesig liggies en natuurlik gegrimeer. Ligte pienk naellak op haar naels. Baie mooi en fyn gebou… Is sy die een waarvoor ek wag? Sal sien wanneer Orla met haar klaar is…

Die koningin staan op vanuit haar troon en kom na ons. Hierdie mensekind wil sy van nader beskou. Sy neem alles van Annelie in. Pragtige mensekind. Sy kan ʼn aanwins wees vir die koninkryk. Dis as Orla haar toets en sy haar plekkie kry en Annelie instem… Nie almal wat toegelaat word, wil bly nie. Dis moeilik om moderne tegnologie te los, vir ʼn land wat meeste dinge doen met toorkuns…

“Majesteit, weet u hoekom die muur weer ʼn mensekind deurgelaat het? Gaan dit weer gebeur?” vra Bella haar koningin. Dis goed dat dit gebeur, maar dit kan ook sleg wees. Soms, wanneer die donker kant hulle deel indring, vat dit enige goeie wat daar is weg.

“Die muur weet wanneer om deur te laat en wanneer nie, Bella. Dis ons wat moet uitvind wat die rede is,” antwoord koningin Rosalia.

“Dora, gaan asseblief na Orla en sê haar om dadelik kasteel toe te kom.” gee koningin Rosalia opdrag aan die wag.

Hy knik en staan op aandag voor hy na regs draai en agter ʼn rooi gordyn verdwyn. Daar is meer deure en gange as dit wat ons reeds gesien het. Die plek is so groot.

“Ek gaan toelaat dat Orla jou saam met haar neem om jou posisie in die koninkryk te bevestig.” beveel die koningin my.

Ek kyk na haar. Eintlik, ek staar haar aan. Hoe op dees aarde kan sy aanneem dat ek gaan bly? Ek het ʼn werk, ek het ʼn woonstel wat ek huur. Ek het ʼn lewe. Ek het maar per ongeluk op die energiemuur afgekom en deur dit gegaan. Dis my etenstyd. Ek gaan nie vir ewig bly nie, al is dit so asemrowend mooi en rustig…

“Jy moet weet,” begin Bella, “niemand wat deur die muur kom, maklik toegelaat word om terug te keer nie. Dit het in die verlede gebeur, en dit het nie goed geïndig nie. In die meeste gevalle, is ons nie aan die verloorkant nie.” eindig Bella haar vertelling.

Die plek is pragtig. As hulle my genoeg rede gee, mag ek net besluit om te bly. Tot dusver is alles positief. Stil en rustig. Maar ek het hulle nog nie in aksie gesien nie. Ek het niemand gesien iets doen behalwe die orkes wat musiek bespeel en die groepies wat om die tafeltjies sit en gesels nie.

ʼn Paar sekondes is verby wanneer die wag met nog ʼn pragtige wese verskyn. Sy is beeldskoon, soos die ander wat ek gesien het. Sy is ʼn wasige wese in wit. Selfs haar hare is spierwit. Haar oë trek my aandag. Spierwit. Is die wese blind? Hoekom het haar oë nie kleur nie? Wat is haar doel hier? Die koningin heg baie waarde aan haar mening. Almal hier dien ʼn doel in die koninkryk.

Dora die wag kom staan met Orla voor koningin Rosalia. Hulle gee haar ʼn diep buiging in eerbieding. Nou kan ek beide van hulle behoorlik beskou. Orla is ʼn imposante wese. Sy straal vertroue uit, maar is misterieus. Ek kyk in haar oë. Dis wit, maar in die middel is ʼn swart kolletjie. Dit sny deur jou. Ek verskuif my aandag na die wag. Hy is meer imposanter van nader. Sy oë fassineer my. Hulle ‘praat’ met my, stel my gerus. Ek kry die gevoel hy hou baie van wat hy sien.

Skielik gaan Orla se hand uit en sy vat my hande in ʼn greep saam waaruit ek nie kan loskom nie. Sy kyk diep in my siel in, en knik vir koningin Rosalie. Sy draai na Dora en gee ook aan hom ʼn kopknik. Sy gesig verander van ernstig na opgewonde. Hy straal behoorlik. Hy het konfirmasie van Orla gekry dat sy lewensmaat opgedaag het. Weet sy dit?

Koningin Rosalia kyk na Orla. Dora se lewensmaat het opgedaag. Sy lewe het meer mening gekry. Baie gaan jaloers wees en dit kan moles afgee. Hy het die aandag van baie feë, maar hy het nog nie enige belangstelling in hulle getoon nie. Sy posisie in die koninklike wag is die belangrikste vir hom gewees. Orla knik vir koningin Rosalia. Ja, sy gaan nou vir Annelie wegneem om haar te toets. Daarna sal haar tydelike verblyf vir haar aangewys word tot sy besluit of sy gaan bly of nie, en watter reperkussies dit gaan meebring indien sy nié bly nie…

“Orla, neem Annelie na jou plek en bring haar terug sodra jy klaar is. Ek wil weet wat aangaan…,” gee die koningin aan Orla opdrag. Sy knik vir Orla.

“Ek maak so, my koningin,” reageer sy.

“Kom, mensekind. Ons moet gaan…” sê sy vir my.

Ek kyk na die koningin. Sy gee my ʼn kopknik. Sy voel dis veilig. Sy vertrou die fee. Ek kyk na Dora. Hy kyk na my. Gee my ʼn goedkeurende kopknik. Nou wel, as hulle dink die wese is betroubaar, dan kan ek haar vertrou. Ek draai om, kyk na die feëriek, glimlag vir haar en loop saam. Koningin Rosalia gesels nog ʼn paar minute met haar onderdane. Een van die soldate kom na haar en fluister sag en dringend. Sy gee dadelik die opdrag dat onderdane en soldate aandag gee aan die dringende saak.

Ek is in betowering saam met Orla. Ons loop deur die ingang waar Dora met Orla teruggekeer het. Asemrowend! Ons loop deur ʼn nou gang. Dit lyk soos ʼn gang wat deur onderdane gebruik word vir vinnig in en uit op opdragte. Dis nie helder verlig soos die gang waarmee ek in gekom het nie. Daar is hier en daar ʼn kandelaar met ʼn kers. Snaaks, hier is kerse, maar daar waar ek was is dan krag… altans, ek dink so…

Ons loop, op en af, tot ons by ʼn ingang kom met ʼn koepelvormige houtdeur. Die deur word baie gebruik, lyk oud. Sy maak dit oop. Dit kraak, want dis oud en in daaglikse gebruik. Ek kyk verbaas om my rond. Voor ons is bosse en struike, en agter dit is ʼn paar bome, en dan die heuwels en agter dit die voet van die bergreeks. Dit lyk so naby. Ons volg ʼn uitgetrapte paadjie tussen die bosse en bome deur. Dit loop kronkel, kronkel tussen alles deur. Dis so rustig hier. Die son skyn so lekker, warm. Tot die voëlgesang is vrolik.

Dan verskyn die mooiste prentjie voor my oë. Dis ʼn groot boom, en baie hoog. Dit lyk of die stam so gegroei het asof iets dit wil uitdroog. Maar die boom is groot! Die stam is massief! Daar is die deur wat ʼn bietjie ligter lyk as die boomstam, met twee koepelvormige vensters net weerskante van die deur. Voor dit hang gordyne wat lyk of dit van sy geweef is. Dit waai liggies in die briesie. Dit is reënboogkleure. Te pragtig. Ek kyk op na die blaredak. Sjoe! Daar is meer vensters na bo! Hoeveel vloere het hierdie feëriek se huis?

Orla maak die deur oop en wys vir my om haar na binne te volg. Dit lyk massief binne. In die middel is ʼn houttrap wat tot amper bo lei. Dit reik spiraalvormig tot by die laaste vloer. Op die grondvloer is haar kombuis en ook haar sitkamer. Dis alles huislik en nie te modern nie. Ek voel op my gemak. Ek kyk net verbaas om my rond. Ek is ook seker die trappe word nie baie gebruik nie. Sy het mos vlerke, sy kan vlieg tot waar sy wil wees. Alles lyk asof sy dit gebruik wat sy in die natuur kry… Haar lampe teen die mure is vuurvliegies wat hul lig verskaf in die lampe. Sy lei my op na die eerste vloer. Daar is ʼn stort agter ʼn skerm en ʼn toilet en wasbak. Teen die houtmuur is die houers waarvan die handdoeke afhang.

Sy lei my verby dit, weer met die trap op na nog ʼn vloer. Die trap gaan hoër, maar sy laat my kyk na haar slaapkamer. In plaas van ʼn bed, het sy ʼn hangmat wat van die een kant van die houtmuur na die ander kant lei. Teen die muur is houtkaste, seker vir haar klere. Aan die ander kant van die hangmat is ʼn laaikas met vier laaie, en bo-op is daar ʼn foto van ʼn pragtige wit perd met Orla wat langs dit staan. Langs dit is ʼn ronde klippie. Sy tel dit op. Sy druk aan die kant en die boonste deel klik oop. Binne is iets wat soos ʼn silwer poeier lyk. Sy druk haar wysvinger en duim daarin en die volgende oomblik strooi sy dit oor my.

Die volgende oomblik voel ek hoe ek in die lug op gevat word. My liggaam verander… my klere verander… ek kry ʼn lang blou syagtige rok met ligblou satynskoene. Iets gebeur agter my rug…! Nou voel ek dit! Ek het nou ook vlerke…! Hoe op aarde? Ek is ek, maar ek weet ek het ʼn gedaantewisseling ondergaan!

“Wat gaan aan…?” vra ek vir Orla. Sy kyk my glimlaggend aan.

“Jy is nou een van ons. Die poeier wat ek oor jou gestrooi het, werk net as jy as mensekind deur die muur hierheen gestuur is en jou liggaam reeds weet dat jy hier gaan bly. Dit is ons manier om uit te vind of die muur reg was en of jy ʼn bedreiging vir die koninkryk inhou. Die poeier verander jou na goede wanneer jy iets spesiaal in die koninkryk gaan doen en wanneer dit net jy is wat dit sal kan regkry. Dit het ook lank gelede met Dora gebeur. Hy is een van ons beste, al kom hy van menseland af. Verstaan jy nou?” eindig sy haar verduideliking. Ek knik instemmend.

Skielik kry ek die gevoel iets is nie reg nie… dis ʼn gevoel van onheil… ek kyk na Orla… sy kyk na my… haar oë word groot.

“Iets is nie reg nie, Orla! Ek voel dit aan!” sê ek dringend vir haar.

“Ek weet wat is jou posisie in die Koninkryk van Erwee. Jy is die koningin se persoonlike beskerming. Net jy kry hierdie gevoelens. Jy kry dit wanneer die koningin se lewe in gevaar verkeer of wanneer sy uiters gelukkig is! Jou posisie gaan permanent by koningin Rosalia wees. Net soos Dora. Hy is ook haar permanente persoonlike beskerming. Beide van julle het die gawe om in enigiemand aan te voel as haar hoogheid in gevaar is. Die muur was weer reg. Kom, ons moet nou teruggaan. Ons het werk om te doen…” eindig sy haastig.

Sy gryp my aan die hand en asof vanself begin my vleke my agter haar aan te lei. Ons vlieg af ondertoe, haar deur gaan oop en toe agter ons, en soos blits is ons weer oppad na koningin Rosalia toe. Die keer, op ʼn missie en met dringendheid. Ons kom uitasem en baie opgewonde voor die koningin tot stilstand, stilstaande in die lug met net die ‘woer-woer’ van die vlerke wat gehoor word. Beide van ons is skoon uitasem van die gejaag.

“Majesteit… majesteit…!” roep ons al twee tegelyk uit.

“Mmm… ek sien jy het jou posisie gekry in Erwee. Ek is bly die muur was weer reg. Hoekom is julle twee so haastig? Wat is fout?” antwoord-vra koningin Rosalia die twee voor haar. Sy is bly om te sien Annelie is nou deel van hulle.

“Annelie, van nou af sal jy Mona genoem word, dit beteken ‘die slim een’. Waarom is julle so haastig?” sê-vra koningin Rosalia aan beide van hulle.

“Majesteit… net nadat die waarheid-poeier sy werk gedoen het, het Mona die gevoel gekry dat iets vreesliks verkeerd is en dat iets met u gaan gebeur!” eindig Orla alles in een asem. Sy lyk beangs en gereed om tot die aanval oor te gaan mits dit nodig is. Sy sal enigiets doen om die koningin en die koninkryk te beskerm…

“Majesteit…?” vra Orla weer.

“Alles is reg, Orla. Dora het die gevaar voel aankom en my ingelig. Die kasteel en die onderdane is veilig vir nou. Ons het wagte op baie plekke geplaas vir veiligheid. Hulle weet wat om te doen en na wie of wat om voor uit te kyk. Lyk my die Donker Woud probeer al weer hulle streke. Maar nou met Mona by, gaan ons dubbele waarskuwing hê. Ons moet maar net versigtig wees…” verduidelik koningin Rosalia. Sy glimlag breed. Al is daar gevaar, lyk dit asof Dora en Mona na mekaar aangetrek word.

Toe Dora vir Mona in haar nuwe Erwee-vorm sien, het sy hart woes aan die klop gegaan. Sy is die een! Sy is die maat vir wie hy nog al die tyd wag! Sy is te pragtig! Sy is beeldskoon!

Sy was mooi as ʼn mensekind, maar nog mooier nou. En noudat hy weet haar posisie is as beskermling van die koningin soos hy die beskermingswag is, maak dit hom meer opgewonde. Saam kan hulle die koningin en Erwee beskerm. Hy kan sy oë nie van haar afhou nie!

Die volgende oomblik bring sy vlerke hom tot by haar… hy gryp haar hande vas en saam draai hulle in die lug ʼn tiekiedraai. Dora is so opgewonde en oorstelp hy draai Mona heeltemal dronk. Hy staar diep in haar oë. Sy kry ʼn diep perske-rooi blos op haar wange. Kan ʼn wese sou gou jou maat vind? En so intens? Koningin Rosalia kyk opgewonde na die twee wat skoon van alles om hulle vergeet het en om mekaar dans in die lug en diep in mekaar se oë kyk. Sy self het so gevoel met koning Hera voor hy noodlottig gewond is aan een van die Donker Elwe se gifpunte. Hy het sy lewe vir Erwee en haar opgeoffer. Sulke blydskap en liefde maak alles die moeite werd.

“Ahrm… lyk my Erwee gaan weer ʼn samekoms hê om te vier binnekort, of wat sê julle, Dora, Mona, Orla?” giggel-lag koningin Rosalia.

“Skuus, majesteit…” glimlag Dora verskonend.

“Ek het my hart se punt gevind. Is sy nie ook mooi vir u nie?” vra Dora sy koningin se erkenning.

“Ja, Dora, sy is. Sy is net wat ons en Erwee nodig het. Sy het net betyds gekom.” antwoord die koningin in erkenning. Sy is reg. Met die towerkragte waaroor Mona beskik, gaan sy beslis ʼn goeie toevoeging tot die koninkryk van Erwee, die koningin en Dora wees. Hoe goed, sal almal binne ʼn kort tydjie weet.

“Ons kan die samevoeging oor so twee dae hou. Ons moet net eers die koninkryk van Erwee beveilig teen die Donker Woud se gifelwe. Daarna kan ons feesvier. En dit sal ʼn groot fees wees.” kondig koningin Rosalia aan.

Koningin Rosalia wys Orla aan om Mona haar kamer in die kasteel aan te wys tot na die samevoeging. Hulle moet almal gaan slaap. More gaan ʼn besige dag wees, en as alles ten goede uitwerk, sal hullle ʼn samevoeging vier die dag daarna. Orla gaan solank die onderdane wat al die takies moet uitvoer gaan inlig, ook dat hulle met die voorbereidings moet begin. Die res van die onderdane gaan fokus op die beskerming van die koninkryk en die afweer van die gifelwe en hulle terugkeer na hulle deel van die land.

Ek skrik met ʼn ruk wakker… daardie gevaar gevoel… dis terug, net tien keer erger… Ek spring op uit die bed, trek vinnig aan en asof outomaties lei my vlerke my direk na die troonsaal. Koningin Rosalia is alreeds daar, loop op en af. Langs haar vlieg Dora. Hy lyk kwaad, bekommerd en opgewonde, als in een as dit moontlik is. Toe hulle my gewaar, kyk hulle vraend na my.

“Het jy ook die gevoel gekry vanoggend?” kry ek die vraag van altwee tegelyk.

“Ja, maar daar is iets anders by… die gevaar is hier, by ons in die troonsaal!” antwoord ek in ʼn warboel van emosies. Wie kan dit wees? Ek kry die gevoel dis nie een van ons drie nie.

“Majesteit, wie is nog hier in die troonsaal? Feë of dier?” vra ek die koningin dringend. Ek kyk reguit in haar oë. Sy kyk na my, en dan vergroot haar oë dat dit lyk soos pierings. Eers is sy verbaas, dan word sy kwaad. Haar oë verander na twee vuurkolle in hulle kaste! Sy lyk briesend! Sy kyk na my…

Sulke skelms! Sulke gifelwe! Hulle weet ek is vreeslik lief vir skoenlappsers! Ek het ʼn paar dae gelede op een afgekom wat besonders mooi gelyk het, en dit saam met my terug gebring en saam met die ander in die skoenlapperkamer gesit! Iets was vreemd daarom dat ek wou teruggaan om dit van nader te bekyk, maar toe kry ons die waarskuwing dat die muur iemand deurgelaat het. Daai skoenlapper is natuurlik ʼn gifelf! Hulle kan mos van gedaante verander!” eindig sy haar verduideliking, en sy is briesend! Daai elf kan ongesiens deur die kasteel beweeg net soos hy wil, ongesiens!

“Majesteit, dit is saam met ons hier in die troonsaal… ek voel dit… dis hier…!” fluister ek dringend aan die koningin.

“Dora…, swaard…, agter jou!” fluister ek waarskuwend aan Dora. Hy reageer asof in ʼn blits. Sy swaard flits uit, die volgende oomblik deurboor dit die gifelf wat net van skoenlapper na gifelf van gedaante verwissel het!

“Soldate! Neem hierdie kreatuur weg! Sluit hom op in die put!” gee sy woedend die bevel. Het Dora nog ʼn sekonde gewag, het die gifelf aan haar arm gevat en dadelik haar hele sisteem dodelik vergiftig. Dis ʼn goeie ding Dora is so vinnig! Die koningin draai na my en Dora. Die vlamme in haar oë is besig om stadig weg te gaan. Haar hele wese spreek van dankbaarheid. Sy is weer kalm.

“Dora, Mona, dankie. Ons hou ʼn groot feesviering môre. Maar dis nie net julle samekoms nie. Ek beplan iets anders. Maar dis nou genoeg van dit. Ek beveel julle om vir ʼn wandeling in die tuin te gaan… niks teëpraat nie! Julle het julle betroubaarheid aan my bewys.” eindig sy haar opdrag. Sy sal nou-nou saam met die ander soldate na die put gaan en daardie gifelf mee werk. Nou wil sy net sit om oor alles te dink asook hoe sy haar twee mees betroubaarste onderdane ʼn guns kan bewys… die een is hier vir ʼn paar jare, die ander het maar gister hier opgedaag… voel nie so nie. Almal in die koninkryk moet sien hoe onderdanig hulle is en ook hoe sy hulle gaan eer, dit geld ook vir almal in die koninkryk…

Dora en Mona kan hulle ore nie glo nie! Haar majesteit BEVEEL hulle om in die tuin te gaan wandel! Sjoe! Hulle loop na die dienaar-gang, en verdwyn deur die opening. Buite gekom, voel hulle die warm sonstrale op hulle gesigte. Hulle bewe as hulle dink wat sou gebeur as die koningin iets moes oorkom… die koninkryk sou ʼn koue plek wees…

Hulle kyk na mekaar, kyk diep in mekaar se oë, vat dan hande vas en loop rustig tussen die beddings rose deur. Net deur saam te wees, stem hulle rustig. Hulle voel dieselfde. Hulle harte wil bokspring net deur hulle aanraking. Dan draai Dora na Mona. Hy neem haar gesig in sy handpalms en druk ʼn sagte soentjie op haar rosige lippe. Beide se oë gaan toe… as dit is hoe die liefde voel, wil hulle beide meer daarvan hê. Hulle saamwees en liefde groei by die sekonde. Hulle bly om en naby mekaar… baie gelukkig… Dis ʼn nuwe begin vir hulle en nog meer goeie in ʼn koninkryk wat reeds net goed wil wees…

Daar is só baie om te doen! Baie om gereed te kry… met die skuldige in die donker put, kan almal nou fokus op die gereed maak van môre se feesviering, en die koningin se huldeblyk aan twee dapper onderdane… Dit voel soos ʼn leeftyd gelede toe Annelie deur die energieveld geloop het in ʼn hele ander wêreld in, weg van die samelewing se gierigheid, maar reg onder hulle neuse! Sal hulle ooit agterkom twee mense is weg? Of sal hulle dit maar net afmaak as nóg ʼn ontvoering, of vermiste geval?

Die fees is aan die begin… eers stel koningin Rosalia die nuwe onderdaan aan die koninkryk bekend, dan ook doen sy die seremonie wat Dora en Mona aan mekaar verbind vir ewig. En die kyke wat Mona van sommige van die feë kry! Pure jaloesie! Maar hulle weet hy het net oë vir Mona. Net na hulle saambinding, doen koningin Rosalia nog ʼn skokkende aankondiging.

“Onderdane van Erwee, Mona is ʼn nuwe toevoeging tot die Koninkryk van Erwee. Sy is deur die muur in Erwee ingelaat. Orla se poeier het bewys sy is vir Erwee bedoel. Sy het gister haarself bewys toe sy haar geheime krag gebruik het om my en Dora van onmiddellike gevaar te waarsku en direk daarna vir Dora te waarsku waarop hy gereageer en die skuldige gewond het met sy swaard. Die gifelwe van die Donker Woud wou ons deel weer infiltreer. Was dit nie vir Mona wat Dora die waarskuwing gegee het nie, sou ek nie nou hier gewees het nie. Ons is almal baie dank aan hulle verskuldig. Daarmee kondig ek aan dat ek Dora die hoof van my soldate en persoonlike wag maak, dat niemand iets mag doen sonder sy goedkeuring nie. En met Mona, maak ek haar die hoof van my persoonlike begeleide, en dié onder hulle, dat almal na haar sal luister, en dat hulle weer aan my sal antwoord. Dit is my erebetoning aan hulle. Hulle sal ook by my in die troonsaal sit, en my vergesel aan al my wandelinge en besoeke in die koninkryk. So bring ek ere aan almal wat enigiets sal doen, ter wille van die Koninkryk van Erwee.” eindig sy haar lang toespraak in ʼn goedkeurende kopknik. Dadelik begin almal hande klap en blomme word in die lug opgegooi.

“Laat ons almal nou vrolik wees en die fees geniet. Môre werk almal weer hard om die beste te kry vir Erwee.” eindig sy haar toespraak glimlagend. Die volgende oomblik gryp Dora en Mona die koningin elk aan ʼn hand en begin met haar dans in ʼn sirkel. Asof in een denke, volg die res van die onderdane hulle voorbeeld en vorm hulle sirkel op sirkel om hulle drie en dit lyk so pragtig. Alles is mooi. Dit lyk so toweragtig. So misterieus…

Alles was rustig en stil na die fees en almal het dit geniet. Die koninkryk het weer sy normale gang gegaan en baie het met hulle normale take aangegaan. Vir baie jare was alles rustig in die Koninkryk van Erwee.

  • Chantal

    Baie oulik. Jy kan goed skryf.

  • Salmon Smith

    Ek het my in die storie ingeleef. Amper gevoel asof ek self in daardie misterieuse woud wandel. Pragtig geskryf.