DIE MUSIKALE TRIOMF: WAAR DIE ILLUSIES SKUIL – Ilse Goschus

DIE MUSIKALE TRIOMF: WAAR DIE ILLUSIES SKUIL – 2015 © Ilse Goschus

VOLWASSE FANTASIE (3 159 WOORDE)

 

Foto - Ilse met ToekenningJenkins sit in sy unieke boomhuis. Hy sit hoog in die takke van ʼn ou fikusboom, ongeveer ses meter van die grond af, teen die hange van Seinheuwel.

Die boomhuis bring die stilte wat hy nodig het vir kreatiewe oplossings. Dis sy laboratorium. Hier voer hy sy eksperimente uit. Jenkins is ʼn wetenskaplike. Met ʼn doktorsgraad in Chemiese Ingenieurswese en ʼn lewendige belangstelling in die esoteriese sy van sake, voer hy allerhande interessante en dikwels, ongehoorde eksperimente uit.

Die hitte hang oor die Moederstad. Sy ronderaambrilletjie sit op die punt van sy neus.

“Dis die verdomde sweterigheid wat dit laat afgly,” dink hy.

Hy skuif dit met sy regterhand weer terug op sy neusbrug. ʼn Diepe frons lê op sy voorkop.

Jenkins staar met konsentrasie na sy rekenaar. Sy oë glip oor die formules en die voorbeelde. Hy kyk na die tekeninge en diagramme. Dan kyk hy weer sinies na die tiental kwartskristalle op die tafel langs hom.

Hy tel die kristalbal van die voetstuk af op en skulp sy hande. Die hitte kruip deur sy hande – dis pure energie. Hy voel die vibrasies. Hy sien wat hy moet sien. Hy maak aantekeninge.

Nou die toepassing…

Hy tel ʼn kwartskristal op en stap na die potplant voor die venster. Hy hou die kristalletjie voor sy oë en fokus tegelykertyd op die potplant. (Die kwartskristal is ongeveer tien sentimeter by twee sentimeter.) Hy konsentreer met alle mag.

“Dit werk! Dit werk!” roep hy uit.

Meteens bevind die potplant hom vasgevang in miniature vorm, binne die kwartskristal.

“Eureka! Manjefiek! Manjefiek!”

Sodra hy egter sy konsentrasie van die potplant af skuif, beweeg dit op onverklaarbare wyse uit die vasgevangenheid uit.

“Wat is ‘Manjefiek’?” vra Marcello verbaas as hy Jenkins se boomhuis binnekom.

“Jou nuwe toerjie op die skip,” deel Jenkins hom mee. “Ons weet albei, ek is die meesterbrein. Jy’s net die uitvoerder van my passie. Besef jy dit Marce?”

“Jy laat my dit nooit vergeet nie,” antwoord Marcello met ʼn wrange glimlag. “Maar… ek het die persoonlikheid en ʼn talent, dalk groter as joue. Wie weet?”

“My towernaarsvriend, deur projeksie en telepatie gaan jy jou teikens vasvang,” gaan Jenkins voort, terwyl hy Marcello se woorde ignoreer, “in hierdie grootte kristalle. Laat ek verduidelik…”

Drie maande later…

Marcello Santos(40) staan eenkant, met ʼn bier in die hand. Hy bespied die omgewing aandagtig.

“Daardie swart krullebol-enetjie…” dink hy as sy oog val op ʼn pragtige meisie, in haar vroeë dertigs. “Sy is perfek vir die rol. Sy is pragtig, borrelend en ‘petite. Dis net wat ons soek. Ek is mos beroemd vir my vermoë om talent op te spoor.”

Marcello hou elke beweging wat sy maak met diepe konsentrasie dop. Rochelle is ernstig in gesprek met haar verloofde, Paul Ebenhart en is onbewus van die stille aandag wat sy trek. Hulle kyk mekaar diep in die oë en geniet die oomblik…

Skielik weerklink ʼn luidsprekerstem oor die dek van die skip: “Dames en Here… welkom op die nooiensvaart van die ‘Musikale Triomf’. Hierdie passasierskip is in die lewe geroep weens die gewildheid van ons dekade-lange reeks suksesvolle skeepsvaarte. Ons is werklik trots op hierdie pragstuk, ons nuutste toevoeging tot die vloot. Die ‘Musikale Triomf’ is die trotse eiendom van die maatskappy OOS (Onvergeetlike Oseaan-Skeepsvaarte). Ons wil u verseker… ons streef daarna om aan ons passasiers, unieke en hoë gehalte diens te verskaf. Vir meer inligting oor die beskikbare dienste, vermaak en nog meer, raadpleeg asseblief die tasskerm inligtingsborde op die hoofdek – Koraaldek. U sal ook inligtingsbrosjures in u kajuite vind. Ons eindbestemming is Triomf-eiland.Ons behoort die eiland môre middag teen ongeveer drie-uur te bereik. Ons wens u almal ʼn genotvolle en wonderlike vier dae toe. Ons doen nou ʼn beroep op u almal om ʼn glasie te skink op die ‘Musikale Triomf!’ Laat die feesvierings begin!”

Die boodskap word in Engels herhaal.

Sierlik en in wit elegansie, seil sy uit die Tafelbaai Hawe, op die maat van luide trompetgeskal. Tafelberg is nou slegs ʼn gryse silhoeët in die agtergrond.

“Welkom in Kaapstad…” weerklink die woorde van die gewilde liedjie oor die luidsprekers. Dit word gevolg deur:Daar kom die Alibama, Loslappie en nog meer. Lywe beweeg vorentoe na die dansvloer en wikkel ritmies op die maat van volks- en bekende popmusiek. Die water, weerkaatsings van rooi, grys en blou, lek spelenderwys aan die romp van die skip, terwyl die skemer skrams aan die Atlantiese Oseaan raak. Die son is nou net ʼn rooi fragment agter ʼn onverwagse wolk.

“Kyk, daar’s ʼn hamerkophaai!” beduie ʼn bejaarde man aan sy vrou, terwyl hy ʼn verkyker teen haar oë druk.

“Siestog, dis ʼn babahaaitjie,” antwoord sy en gee die verkyker terug aan haar man.

Rochelle hoor ‘haaitjie’ van waar sy sit.

“Paul, ek dink daar’s ʼn haai in die water. Kom gou asseblief saam,” vra sy, “ek wil gou ʼn foto gaan neem, vir my artikel oor hierdie nooiensvaart.”

“Liefling, ek moet dringend ʼn hoofpynpil in die hande kry. Ek mik-mik al die hele tyd, maar kan dit nie oor my hart kry om jou alleen te los nie. Nou kan ek gou wegglip en soos jy weet… ek is ʼn diepsee-duiker en het al baie haaie teëgekom tydens my duik ekspedisies. Ek’t selfs ʼn paar noue ontkomings gehad. Maak gou Rochelle, voordat hy wegswem! Ek sien jou weer so oor tien minute, hier op die dek,” sê hy terwyl hy haar vinnig en innig op die mond soen.

Etlike lywe skuif nuuskierig nader terwyl ʼn klein groepie passasiers vir ʼn kortstondige oomblik die haai-ervaring geniet en optimaal gebruik maak daarvan. Kameras flits, video-opnames word gemaak en dan word die herinnering ook in die ‘verlede boks’ gepak as die haaitjie koers vat in ʼn ander rigting in.

As die son agter die waters sak, daal ʼn stilte oor die skip neer terwyl die passasiers hul gereedmaak vir etenstyd en die aand se verrigtinge.

(Rochelle is onbewus van die manlike figuur wat intussen nader geskuif het.)

Na haar laaste foto draai sy skielik om. Sy sien die aantreklike man half agter haar staan. ʼn Wye glimlag speel oor sy gesig. Haar hart klop ontstuimig in haar bors. Sy ruik sy duur naskeermiddel.

“Marcello!” stel hy homself bekend, terwyl hy sy hand uitsteek om haar te groet.

“Rochelle,” beantwoord sy die groet op haar innemende manier.

ʼn Rooi blos sprei oor haar wange – teen haar sin. Sy voel die warmte oor haar gesig en nek sprei.

“Dis ongewoon,” dink sy.

“Ek hou jou al ʼn geruime tydjie dop,” sê hy in Afrikaans. “Jy is werklik pragtig. Ek wil vir jou ʼn guns vra. Ek is die towernaar op hierdie skip. Vanaand om nege-uur het ek ʼn vertoning op Dolfyndek. Sal jy omgee as ek jou roep om ʼn toertjie saam met my uit te voer?” vra hy. Dit skyn gevaarlik te wees, maar dit is nie. Ek het iemand nodig wat oopkop en kalm is. Jy lyk vir my na daardie persoon. Sorg dat julle in die eerste ry sit, op die stoele ‘Bespreek’.”

“Mmm… ek moet dink daaroor. Vir interessantheidshalwe… wat is jou nasionaliteit?” vra sy. “Daar klou tog ietwat van ʼn vreemde aksent aan jou woorde.”

“My pa is Brasiliaans en my ma Afrikaans. Ek het in Araris, in die distrik Sao Paulo, Brasilië, grootgeword. “Ek praat Portugees, Spaans, Engels en Afrikaans.”

“Dis indrukwekkend,” antwoord Rochelle.

“Tevrede?” vra hy met ʼn ondeundheid in sy oë.

“Dankie. Die toertjie… watter tipe toertjie gaan ons uitvoer?” vra sy outomaties.

“Dit kan ek nie vir jou nou sê nie, dan neem dit die misterie uit my towerkunste uit,” antwoord hy glimlaggend terwyl ʼn ondeunde flikkering in sy swart oë sigbaar is.

“Goed, ek sien jou dan!” antwoord sy, terwyl haar hart baie vinnig klop.

“Ons kontrak,” sê hy terwyl hy iets harderigs in haar hand druk. “O, en trek gemaklike klere aan.”

Sy staar na die miniatuur speelkaart in haar hande.

“Die Koningin van Harte!” besef sy. “Wat is die boodskap?”

Haar oë fynkam die dek. Die geheimsinnige towernaar het sowaar ʼn Houdini-toorkunsie uitgevoer. Hy het soos ʼn groot speld verdwyn. Rochelle steek die speelkaart in haar beursie, agter al haar besigheids- en tiental ander kaarte in. Sy wonder of Paul hulle twee gesien het, maar sy sien nog geen teken van hom nie. Sy bestel vir haar nog ʼn mengeldrankie en gaan sit by die tafeltjie waar hulle twee ongeveer twintig minute tevore in diepe gesprek was.

“Wat ʼn aantreklike man. Hy maak my bene lam,” dink sy half skuldig terwyl sy terugdink aan die ontmoeting. “Hy moet nou net nie my lewe kom deurmekaar krap nie. Ek wonder werklikwaar wat die ding is met die Koningin van Harte. Hoop nie hy’s ʼn moordenaar of iets nie.”

“Hallo Skat, hier is jy,” onderbreek Paul haar gedagtegang. “Ek was bang dat ʼn ridder op ʼn wit perd jou onder my oë uitsteel.”

“O gits, het hy ons saam gesien? Kalm bly Rochelle, kalm bly,” praat sy met haarself. “Speel oop kaarte – so oop soos jy kan! O gits, in my beursie, weggesteek, lê die kaart – die Koningin van Harte. Dis nou vir oop kaarte speel.”

Sy kyk diep in Paul se oë en glimlag liefdevol.

“Wie sal my wil vat?” vra sy ondeund.

“Jy’s pragtig, weet jy dit?” sê-vra hy terwyl hy haar baie styf teen hom vasdruk.

“Paul, eintlik het een van die vermaaklikheidskunstenaars na my toe gekom en ons genooi om vanaand om nege-uur sy vertoning by te woon op die Dolfyne-dek. Hy is ʼn towernaar. Kan ons asseblief gaan? Ek wil baie graag sy towerkunsies sien,” verduidelik sy skuldig.

“Net wat jy vra Liefling, solank hy jou net nie wegtoor nie,” antwoord Paul. “Kom, ek gaan gou vir my ook nog ʼn drankie bestel. Laat ons dit klaar drink, dan kan ons gou gaan stort en regmaak vir aandete. Om nege-uur kan ons dan jou towerkunstenaar se towerkunsies gaan bewonder.”

Rochelle is verheug dat Paul ingestem het. Hy is ʼn baie maklike mens. Hy is oop, spontaan en intelligent. Hy is ʼn prokureur en sy is ʼn joernalis by ʼn plaaslike oggendkoerant.

Teen nege-uur is die lokaal waar Marcello sy towerkunsies gaan uitvoer, propvol. Paul en Rochelle skuif op hul bespreekte plekke in.

“Dames en Here… Marcello van Brasilië – Towernaar van die Millennium!” stel ʼn manlike stem die toorkunstenaar voor.

“Dankie Dames en Here. Baie dankie,” groet Marcello. “Ek is verheug dat so baie van u besluit het om my vertoning vanaand by te woon. Vanaand gaan dit hier oor illusie, die mag van die verbeelding en ʼn bietjie misterie – beslis bestanddele vir ʼn genotvolle aand!”

Hy voer ʼn verskeideheid toertjies uit en dan kondig hy aan: “Nou vir die hoogtepunt van die aand! Ek benodig ʼn vrywilliger uit die gehoor. Hierdie meisie…” sê hy terwyl hy na Rochelle wys. “Sal jy asseblief tog by my aansluit?”

Sy deurdringende swart oë kyk tot diep in haar siel. ʼn Bewerigheid sprei oor haar liggaam en ʼn pienk gloed spoel oor Rochelle se wange. Paul glimlag goedkeurend en por haar verder aan as sy na die verhoog stap.

Marcello, geklee in ʼn elegante en uiters moderne swart pak en pers glanshemp en ʼn swart-en-pers gestreepte strikdas, wag vir haar by die treetjies van die verhoog. Sy netjies gevoude sakdoek in sy baadjiesak, trek onmiddellik haar aandag. Sy kyk vas in die… ‘Koningin van Harte’!

“Wat is jou naam?” vra hy asof dit hul eerste ontmoeting is.

“Rochelle Tredoux,” antwoord sy half skaam.

“Rochelle, is jy gereed vir ʼn opwindende tydjie saam met my?” vra hy.

“Ja,” antwoord sy baie saggies.

“Doen dit Rochelle. Doen dit!” moedig die gehoor haar aan.

“Ek en die beeldskone Rochelle gaan nou saam in hierdie houtkis klim,” verduidelik Marcello, sodra sy assistente die kis op die verhoog neersit. “Dit sal my taak wees om haar te lei om uit die kis te breek – aan die bokant natuurlik. Hier is ʼn mikrofoonstelsel ingebou in die kis. Hier kan u die toestel sien. Die toertjie gaan oor absolute vertroue. Die kis is op ʼn subtiele wyse gekonnekteer aan die mobiele haaitenk wat nou hier ingebring word. Soos u kan sien, hier is ʼn valdeur onder in die kis. Na tien minute val die elektroniese valdeur oop en die reaksie het tot gevolg dat die haaitenk se elektroniese skuifvenster outomaties oopskuif. Indien enige-een van ons nie daarin geslaag het om uit die kis te breek voordat die tien minute verstreke is nie, word ons haaikos. Die toertjie behels absolute vertroue en baie goeie spanwerk.”

“Wat? Huh… huh… Hoop die man weet wat hy doen!” reageer een uit die gehoor.

Marcello vra vier assistente om die kis te draai, sodat die gehoor die twee kompartemente daarbinne kan bekyk, asook die elektroniese apparaat daarbinne. ʼn Groot, mobiele haaitenk, met twee enorme skerptand haaie daarin, word nou ingebring. Die tenk is verseël bo, met ʼn elektronies-beheerde skuifvenster. Suurstof word deur ʼn gesofistikeerde pypstelsel, in die tenk gepomp. Die assistente plaas nou die houtkis bo-op die verseëlde tenk.

“Meneer,” sê Marcello aan Paul. “Kom inspekteer asseblief die kis. Kyk of daar enige versteekte kompartemente is en of die skuifmeganismes, in plek is, soos verduidelik.”

ʼn Aantreklike vroulike assistent, met lang, golwende donkerrooi hare en geklee in ʼn swart glans-kleefbroekpak, verskyn skielik op die verhoog.

“Anastasia!” stel Marcello haar voor.

ʼn Luide handegeklap volg.

“Wat is jou naam?” vra die vriendelike rooikop aan Paul.

“Paul… Paul Vermaak,” antwoord hy.

“Kom, Paul, kom ondersoek die kis en die haaitenk,” herhaal sy Marcello se uitnodiging, terwyl sy Paul glimlaggend, reg in die oë kyk.

Paul staan op met ʼn glimlag op die gesig en inspekteer die kis. Hy lyk ietwat onseker.

“Ek merk niks verdags nie,” sê hy.“Dit wat ek sien, kan egter ʼn illusie wees.”

Hy neem weer sy sitplek in met wantroue.

“Goed. Rochelle, kom, laat die spel begin. Klim nou saam met my in die kis!” beveel Marcello.

“Wat besiel my…” dink Rochelle skielik angsbevange. “Ek ken nie die man nie, ek het noutevrees en boonop… ek is nie heeltemal seker of ek hom kan vertrou nie. Ek het weliswaar nie besef dat ek in ʼn kis moet klim nie. Wag, laat ek nou rustig asemhaal, terwyl ek ʼn vals glimlag op my gesig plak. In… uit… in… uit…”

Sy druk haar angs ver weg – vir haar en Paul se onthalwe. Aan weerskante van die kis word nou ʼn leer neergesit. Marcello neem Rochelle se hande in syne, voordat hulle dit die kis in waag en druk ʼn galante soen daarop.

“Jy is my ‘Koningin van Harte’,” fluister hy skielik. “Van nou-af is jy myne!”

Die woorde vang Rochele onkant. Sy kyk na Paul se kant toe, maar dan kyk sy weer diep in die towerkunstenaar se oë. Sy aantreklike glimlag stel haar egter dadelik gerus. Sy ruik weer sy duur naskeermiddel. Sy kompartement is aan die linkerkant – hare aan die regterkant.

“Reg Rochelle?” vra hy.

“Ja!” antwoord sy.

“Verseël die kis!” beveel hy.

ʼn Amper hoorbare stilte sak neer in die lokaal. Anastasia en die vier assistente kap die deksel dig toe met spykers.

“In… uit… In…uit…” haal Rochelle asem hopende dat die ongekende angsgevoel haar sal verlaat.

Dan hoor sy skielik sy kalmerende stem oor die mikrofoon in haar kompartement.

“Hoekom is die haaitenk onder die kis?” fluister ʼn onskuldige kinderstemmetjie in die gehoor.

“Sjjt!” berispe die ma. “Dis duidelik dat jy nie geluister het nie.”

ʼn Klok teen die muur dui die tyd aan, terwyl Anastasia se luide, goed-geartikuleerde stem die stand van sake verduidelik. ʼn Eenmansorkes dra by tot die spanning met luide simbaal- en tromgeluide, terwyl die skare die kis en haaitenk voor hulle met spanning dophou.

“Tien, nege, agt…” tel Anastasia.

Paul begin sy naels te kou. Twee minute… Een minuut…

Die tromme en simbale raak al hoe harder. Die sekondes word nou op ʼn skerm, agter die kis en tenk in neonkleure aangedui.

“Dis op die kop tienuur en daar is nog geen spoor van Marcello of Rochelle nie,” rapporteer Anastasia met ʼn tikkie angs in haar stem.

Meteens, tot almal se verbasing, glip die haaitenk se skuifvenster oop.

“Kyk, die skuifvenster is oop!” skree menige stemme. “Wat gaan aan? Kry hulp!”

Anastasia se gesig is egter wasbleek. Rochelle, geklee in die mondering van ‘Die Koningin van Harte,’ se liggaam val in die haaitenk. Haar mooi gesiggie is vertrek van angs. Sy hou ʼn wit enorme kwartskristal in haar hand.

“Wat de hel!” skree Paul kliphard. “Die skelm het ons verneuk!”

“Ek’s ʼn prokureur… kry haar uit. Kry haar onmiddellik uit.”

“Het iets verkeerd gegaan? Kry onmiddellik hulp!” skree ʼn luide stem vanuit die gehoor.

Die ander valdeur skuif oop en Marcello, geklee as ʼn nar, val nou in die haaitenk. In sy hand het hy ook ʼn enorme kwartskristal. ʼn Wrange glimlag speel om sy mond.

Anastasia besef sy moet oorneem.

“Dis nou ʼn kwessie van krisisbestuur,” besef sy.

Sy weet nie of sy dit kan doen nie, maar Marcello is ʼn goeie leermeester – haar ‘Koning van Harte’. Sy is altyd op bystand indien iets verkeerd sou gaan. (Die gehoor besef dit natuurlik nie.)

“Swem terug na jul vasgevangenheid!” beveel Anastasia luid. “Neon! Jy’s eerste!”

Die haai genoemd Neon, pyl reg op Rochelle af. Haar gesig vertrek van angs. Haar mond val oop, maar dan kyk sy verbaas na haar kristal.

“Lucy, nou jy!” beveel sy die tweede haai.

Die pyl onmiddellik op Marcello af. Hy glimlag sinies.

“Waar’s die haaie nou?” skree-vra ʼn ander stem.

“Wat? Wat gaan hier aan?” fluister menige ontsteld en verward.

Anastasia glimlag en draai elegant agtertoe, na die vier assistente wat nou weer op die verhoog verskyn het.

“Gooi die hanglere af!” beveel sy.

Hulleverwyder die houtkis en gooi die hanglere binne-in die haaitenk. Twee druppende liggame staan nou op die verhoog, met aangeplakte glimlagte op hul gesigte. In hul hande hou hul steeds die kwartskristalle.

“Kyk daar!” skree ʼn histeriese kind. “Die haaie!”

Binne in die kwartskristalle is hulle vasgevang in lewendige, miniature vorm. Neon en Lucy, die enorme grys-wit haaie van die haaitenk…

“Kom hier Rochelle, kom weg van hierdie traumatiese verneukspul,” skree Paul half histeries.

Sy kyk hom aan met ʼn veraf uitdrukking in die oë.

Marcello neem haar skielik in sy arms en soen haar innig. Die gordyne skuif toe.

Paul hardloop woedend na die verhoog, maar word vinnig in ʼn harde greep vasgevat.

“Dis vir jou!” sê ʼn stem, “dis met liefde van jou sogenaamde verloofde.”

Paul kyk verward om hom rond. Die persoon agter die stem het reeds verdwyn. Hy voel die koue klipperigheid. In sy hand hou hy ʼn kwartskristal. Vasgevang binne-in is… Marcello en Rochelle in innige omhelsing in hul belaglike uitrustings. Die illusie duur net vir ʼn korstondige oomblik. Skielik hou hy net die deursigtige kristal in sy hand – die beelde het verdwyn.

Hy is onbewus van die supersoniese duikboot met die kosbare vrag aan boord – die inkomste van die aand, die kristalle en Marcello en sy nuwe ‘Koningin van Harte’ en nog baie meer.

Hul bestemming – Suid-Amerika!

  • Chantal

    oop=ook

    Baie bly om te lees dat jy oor ‘n towenaar geskryf het. Jy is ‘n baie talentvolle skrywer.

  • Chantal

    Baie geluk hoor! Jy het dit verdien!