DIE ONHEIL ROEP – Tanja Vermaak

DIE ONHEIL ROEP – 2015 © Tanja Vermaak

VOLWASSE FANTASIE (4 915 WOORDE)

 

Sy oë gly oor die sterehemel wat oor sy kop uitstrek. Vir ʼn oomblik verkyk hy hom aan die volmaan wat groot en misterieus daarna uitsien. Die dowwe tromslae ego in sy ore en hou ritme met sy hartklop. Dieselfde vreemde eentonige ritme wat al die afgelope drie dae klopslag teen die middernagtelike uur opklink.

En hier waar hy nou in die bosse ronddwaal, op soek na die oorsprong daarvan, wonder Sebastian Swartz vir die soveelste keer oor die geheimsinnige houding van sy werkers. Die vrees wat vlak in hul oë lê elke keer as hy begin uitvra oor die tromslae. Sedert sy aankoms op Welgemoed sit dinge nie reg nie. Hy voel soos ʼn vreemdeling op sy erfgrond. ʼn Erflating wat so ongesiens sy lewe binnegedring het die dag toe daardie foon oproep sy lewe verander het. Jack Swartz, volgens die prokereur sy ontslape vader se ouer en rekluse broer, het die eens spog plaas en ʼn fortuin aan Sebastian, sy enigste erfgenaam agtergelaat. Hy dink vlugtig aan die steeds onbekende man wat sy vader was, net ʼn portret teen die muur, tussen al die ander Swartz voorgeslagte. ʼn Aanterklike jong man wat deur Rosa, sy stil huishulp hom uitgewys is. Die vader en familie van wie se bestaan hy tot huidiglik onbewus was en oor wie sy moeder bot geraak het elke keer wanneer hy as kind oor hulle uitgevra het. Maar die vêraf kyke in haar oë het boekdele gespreek. Hy het op twaalfjarige ouderdom wyslik besluit om liewer op te hou uitvra. Ophou wonder of hy dalk soos sy vader lyk of hom dalk eendag sou ontmoet en sy agtergrond leer ken. En ʼn paar weke gelede het hy eindelik die antwoorde op sy herkoms ontvang waarna hy as jong seun gesmag het. Onder andere dat hy nie net sy vader se naam dra nie maar so ook sy ewebeeld is.

En hier is hy nou, die erfenaam van ʼn verwaarloosde plaas aan die voet van die Magaliesberge. Dwalend in die donker op soek na die gedoef-doef wat hom uit die slaap hou. Hy smag na die warmte van sy bed en kom nie eens agter dat ʼn onaardige stilte skielik om hom toesak nie.Hy beur deur die ruig bosse en voel hoe ʼn tak hom geniepsig teen die wang piets. Swetsend reik hy uit en vryf die teer vel terwyl die flou lig wat vanuit die flits in sy hand deur die donkerte voor hom beur. Net om ʼn oomblik in ʼn paar onaardige goud-kleurige oë te glim. Voordat die eienaar daarvan geruisloos dieper in die skadus in beweeg en die man nou stilweg dophou waar hy verder deur die lang gras aan struikel.

Sebastian weet nie hoe lank hy so deur die gras loop en voel hoe die los klippe onder sy gestewelde voete meegee nie. Dit is eers toe die lig oor ʼn paadjie val wat kronkelend dieper die veld in beweeg en anderkant die ligkol die niet in verdwyn, dat hy tot stilstand kom. Hy onderdruk die rilling wat teen sy ruggraat afgly. Sy asemhaling hoorbaar in die grafstilte om hom.Besluiteloos staan hy daar en staar na die donkerte voor hom. Na die berg wat soos ʼn donker kollos vêr voor hom uitstaan. Net om vir ʼn oomblik terug te draai en in die verte die stoeplig wat hy so met die uitloop aangeskakel het eien. ʼn Baken in die donker vreemde, dink hy stilweg.

ʼn Kraak geluid laat hom verskrik omswaai net om in die verrimpelde gesig van ʼn ou man vas te kyk. Die donker ogies rus uitdrukkingloos op Sebastian. Duidelik ongeaffekteerd deur die lig wat in sy oë geskyn word. Die tinger figuur staan geklee in ʼn verbleikte T-hemp en kortbroek wat al beter dae gesien het. In sy hand hou die ou bantoe man die slap liggaam van ʼn haas vas. Strik nog ferm om die dier se nek, oë dof.

“Kleinbaas dwaal by die nag.” Die heserige stem toon egter veel minder emosie. Koud en gevoelloos, net soos daardie donker oë, dink Sebastian weer by homself en sluk swaar aan die benoudheid wat skielik in sy keel kom vasskop. “Dit is gevaarlik hierso. Hy moet teruggaan na die huis.” Sonder ʼn verdere woord stap die ou man verby Sebastian en beweeg met die paadjie langs. Vir ʼn oomblik hou hy die ouman dop voordat sy voete weer lewe vind en hy hom volg.

“Wat maak jy so laat in die veld?”

Die ouman hou aan met loop en dit lyk asof hy Sebastian nie gehoor het nie.

“Wie is jy ouman en wat maak jy op my grond?”

Die ouman gaan staan, sy skouers effens vooroor gebuig. “Kleinbaas moet huis toe. Hier loop lelike dinge hierso by die nag. En hy wag vir dié wat nie van hom weet.”

“Waarvan praat jy tog?” Sebastian voel hoe die ongeduld in hom begin groei. “Weet jy iets van die trommespel?”

Voordat die ouman iets kan sê, klink die dowwe ego van tromme weer op.Dié keer ʼn bietjie harder en duideliker as vroeër. Die geteem van vrouestemme meng met die gedoef-doef en Sebastian voel hoe sy vel prik en ʼn koue hand teen sy ruggraat af beweeg. ʼn Geritsel skuins agter hom laat Sebastian weer verskrik omswaai. Vir ʼn oomblik van stryk gebring voordat hy sy balans herwin en homself regop trek net om in ʼn paar verskrikte oë vas te kyk. Hy sien hoe die popmooi gesig van die meisie eers wyd rek en oor hom gly voordat haar kop draai en sy na iets agter haar staar voordat sy soos ʼn vlakhaas die donkerte invaar.

Sebastian roep haar terug maar sy het lankal verdwyn. Die beeld van haar spook nog voor sy oë. Die verslete rok wat sy aan het, die bloedspatsels op die wit materiaal. Maar die uitdrukking op haar gesig sal hy nooit vergeet nie. Hy swaai terug toe hy van die bantoe man onthou en van hom is daar nou geen teken meer nie. Sebastian laat die kunsmatige lig van die flits oor die paadjie skyn. Dalk het die ou man besluit om spore te maak, dink hy. Maar dit is net die smal kronkelende stofpaadjie wat hom begroet met die kermende stemme wat teen sy oordromme vasslaan. Hy moet naby wees, dink hy terwyl hy ʼn ent met die paadjie langs stap voordat hy weer gaan staan en versigtig luister. ʼn Angsbevange gil klief deur die donkerte en ego teen die berge vas. Hy huiwer net ʼn oomblik voordat hy die stemmetjie wat hom stilweg waarsku om liewer terug te draai na die opstal opsy skuif en verder met die kronkelende voetpad aan te beweeg. Sy pas versnel toe ʼn tweede gil sy ore bereik.

Vir hoe lank hy gehardloop het, kan Sebastian nie met sekerheid sê nie. Sy asemhaling hortend, sy hartklop slaan teen sy ribbes vas. Die stilte het hom weereens omvou en die ou bantoe man se woorde ego herhaaldelik in sy kop. Kleinbaas moet huis toe… Hier loop lelike dinge hierso by die nag… En hy wag vir dié wat nie van hom weet…

ʼn Flikkering van lig in die vêrte, ʼn baken in die oneindige donkerte wink uit na hom. Hy versag sy pas en nader die lig versigtig. Duik net betyds agter ʼn bos in toe die silhouette te voorskyn kom. Vanuit sy wegkruipplek hou Sebastian die figuur dop. Sien hoe hy buk net om ʼn stuk houd in die put te gooi. Sebastian sien hoe die vuurtonge gulsig aan die droë stomp begin lek. Die hout kraak en knars in die vlamme wat dit verswelg. Die man sien hy, staan nou weer wydsbeen, hande in sy sye geprop terwyl hy met ʼn hees stem in ʼn vreemde taal begin praat.Nog twee figure doem vanuit die donkerte en tussen hulle die meisie met die bang oë wat nou verbete soos ʼn slang begin wriemel. Haar oë groot, die pragtige gesig met afgryse vertrek. Die neklyn van haar rok gaap wyd oop en hy sien die vreemde litteken, vier identiese krapmerke ewe wyd versprei van mekaar, opgehewe en duidelik die oorblyfsels van ʼn ou wond wat van haar ontblote skouer knop ʼn pad oor haar bors kronkel en by die halslyn van haar rok in verdwyn.

Sebastian hou sy asem op toe die donker figuur ʼn kras uitroep gee. Hy sien hoe die man sy hand lig en ʼn breë lem te voorskyn bring. Die meisie rem terug terwyl haar gyselaars haar vorentoe ruk sodat sy met ʼn snik op haar knieë land. Sy val vooroor, haar donker hare hang soos ʼn swart waterval oor haar skouers en in haar gesig. Dit is egter toe sy haar kop effens lig en deur die gordyn hare in sy rigting inloer en hom in sy wegkruipplek vaspen dat Sebastian voel hoe die bloed in sy are stol. Die grynslag om haar mond en haar oë wat in die lig van die vuur glim, hou hom geboei.

“Vanaand betaal julle morone met bloed.” Die donker waarskuwing word met ʼn lae stemtoon geuiter. “Vanuit die donkerte sal hul kom en die honger met jul vlees stil.”

“Hou jou mond jou feeks!” kom dit van die gesiglose man wat steeds met sy rug na Sebastian gedraai staan. Hy laat sak die lem effens net om voor haar te hurk. Die vlamme speel oor sy gesig en tower donker skadu’s wat hom duister laat voorkom. Die oë rus soos dolke op die vrou voor hom.

“Ons is hier en ons wag.Laat hulle net iets probeer. Ons is reg vir hulle!” hy lig die lem en rus die punt daarvan onder haar ken voordat hy dit stadig lig. “Net soos wat jy binnekort jou einde aan hierdie lem sal proe, so ook sal hulle ʼn vinnige dood begroet.”

“Brawe woorde van ʼn man wat nie weet wat daar buite skuil nie…” uiter sy half histeries voordat sy skielik stil raak en haar glimlag wegkwyn. “Wat nie eens daarvan bewus is dat hulle al klaar in die skadu’s wag nie.” Sy kyk verby hom na iets in die donkerte wat hul omvou.

Dit is toe dat Sebastian dit hoor. Lae grom geluide wat van oral af opdoem. Onaardse geluide wat die hare in sy nek laat regop staan. Die sagte voetval wat net duskant hom opklink laat hom ineen krimp toe ʼn swart kolossale gedierte skielik te voorskyn kom. Gevolg deur sy trawante wat in ʼn halfsirkel om die groep staan. Wit tande ontbloot en oë glimmend staan hulle daar.ʼn Onaardse stilte het tussen die nuwelinge en die gyselaars ontaard. In ʼn oogwink en met een onnatuurlike huil geluid van die ondier net duskant hom breek chaos los. Donker skadu’s beweeg kruis en dwars, te vinnig vir Sebastian om te volg. En terwyl die ondier daar naby hom stilstaan en toekyk hoe sy makkers die drie manne en die teemende vroue oorrompel en hul angsbevange gille die donkerte deurklief sit Sebastian vasgevang in die malligheid wat om hom plaasvind. Hy kan skaars asemhaal en sit stil daar in sy skuilplek en sien hoe die gediertes wat soos oorgroot honde lyk, die manne met min moeite verskeur. Die meisie sit ongesteurd in dieselfde posisie, haar oë rus nog onafgebroke op Sebastian, die glimlag om haar lippe sprei net dieper.

Die skaduwee beweeg ongesiens al hoe nader aan die hurkende vorm van die jong man wat hard probeer om ongesiens te bly. Oë rus glimmend op die breë rug en ʼn flikkering in die goud-bruin dieptes gaan ongemerk verby. Die honde neus wikkel effens toe hy die man se reuk vang en lippe krul op om ʼn stel dodelike wit slagtande te ontbloot.

 Sebastian raak bewus van die gedierte toe hy die warm asem teen sy nek voel aanslaan. Stadig draai hy om en kyk in die skerp tande vas wat in die lig van die vuur onaardig blink en sy lewe flits voor sy oë voordat die pyn deur sy liggaam vibreer en die donkerte hom genadiglik toevou…

“Die kleinbaas hy gaan dood. Die kleinbaas het die moeilikheid gekry daar by die veld.” Die bekende stem dring deur die newels wat Sebastian omvou. Sy liggaam voel styf en seer en sy arms lê soos boomstompe teen sy sye. Hy probeer tevergeefs sy oë oopmaak maar hulle is loodswaar. Selfs die stemme wat om hom zoem is te hard en hy probeer hul stilmaak maar sy stem is hees en vreemd in sy eie ore.

“Kleinbaas moes nie daar gaan loop nie, maar hy wil nie luister nie.” Kom die stem weer en dit kom vaagweg bekend voor. Maar die kloppende pyn in sy kop en die irriterende brand gevoel in sy nek en wat oor sy rug kronkel wil net nie wyk nie. Wat is fout met hom? Hoekomkan hy nie wakker word nie?

“Lafras, hy sal nie dood gaan nie, hy is sterk. Hy is die een waarvoor ons gewag het. En jy weet hoe lank ons al op hom wag. Tyd sal wel leer of hy die toets gaan slaag.”

Sebastian se ooglede fladder voordat hy moed opgee om hul oop te maak. Iets aan die nuwe stem pluk aan sy geheue. Die dofheid klou soos ʼn neut aan hom.

“Auk, ek weet nie…” kom dit weereens onseker en Sebastian voel ʼn growwe hand palm vlugtig teen sy klam voorkop rus wat soos vuur brand van die koors.”Hy is sag. Mense van die stad is baie sag. Dalk is hy nie die een.”

“Hy ìs die een! Swartz bloed vloei deur sy are.”

Hy voel hoe hy weereens in die donker kokon ingesuig word. Hoe die twee stemme geleidelik vervaag totdat net die gehamer van sy hartklop hoorbaar is. Totdat di took stelselmatig vervaag in ʼn tasbare stilte terwyl sy liggaam in ʼn stryd teen lewe en dood verkeer.

Die eentonige gedreun dring deur die slaap newels en die getik-tak van die horlosie teen die muur in ritme met sy hartklop. Sy oë flikker oop en hy knyp hul weer vinnig toe teen die skerp lig. Hy vlieg regop net en sak met ʼn kreun terug teen die kussings en kners op sy tande toe dit voel asof sy skedel in twee wil bars. Sy grootlyf is styf en seer.

ʼn Geluid by die deur laat hom verskrik omkyk net om ʼn veelkleurige kragwoord te onderdruk toe ʼn skerp pyn deur sy kop skiet. Deur vernoude oë sien hy Rosa, sy huishulp nader waggel met ʼn oorlaaide skinkbord. Haar gesig is onleesbaar.Sy vermei egter Sebastian se oë en help hom weer regop sit.

Terwyl hy twee pynstillers wegsluk met die soet tee hou hy haar dop. Iewers maak iets nie sin nie… Hoe het hy in die bed op geland met n hoofpyn wat dreig om sy skedel in twee te skeur? Was die stemme wat hy vroeër gehoor het net sy verbeelding?Soveel dinge wat aan sy onderbewussyn knaag, wat tergend na hom wink in diewaas wat oor hom hang.

“Kleinmeneer moet weer probeer slaap.” prewel Rosa in haar sagte stem voordat sy die leë teekoppie by hom neem en goedkeurend knik toe sy sien hoe hy aan die stewige ontbyt van spek en eiers wegval.

“Wat het gebeur Rosa?Hoekom voel ek so styf en my rug so seer?”

“Hulle het kleinmeneer by die veld gekry. Naby die voet van die berg. Met die bytplek en krapmerke by die nek en rug.”

Hy laat sak die vurk en voel aan die verband wat teen sy vel rus. Byt en krap merke?

“Wie het my daar gekry Rosa?” hy stoot die skinkbord terug en hou die ouer vrou met vernoude oë dop toe hy die bekende sluier voor haar bruin oë sien inskuif. Daardie geslote houding wat hy al vir die afgelope paar maande daagliks in haar ronde gesiggie sien. “Het hulle gesê wat hierdie wonde veroorsaak het?”

“Danny en Frank het kleinmeneer gekry.” Sy haal haar skouers op en vat die skinkbord by hom. “Die wilde honde loop daar by die berg.Kleinmeneer moet asseblief nie daar loop nie.” Haar bruin oë flits vlugtig oor hom voordat sy na die deur toe draai. “Mens loop nie by die nag en moeilikheid soek nie. Al slaan die tromme.” Sy waggel na die deur en halfpad sien hy hoe sy stil gaan staan en haar kort plompe figuurtjie ruk met sy volgende vraag.

“Wie is Lafras? Ken jy iemand hier op die plaas met so ʼn naam Rosa?”

Sy skud net haar kop en dit lyk asof dit enige oomblik gaan af val, so heftig is haar bewegings. Het hy hom die effense heesheid in haar stem verbeel?

“Nee kleinmeneer, daar loop nie iemand hierso met daardie naam nie. Rus nou.”

Vir ʼn lang ruk staar Sebastian na die toe deur. Soveel vrae dans saam al die raaisels en vae beelde wat hom teister in sy kop rond. Wie is die Lafras? Wat is dit wat sy mense so op hol het? En die rondloperhonde wat sy plaas ronddwaal?

Hy raak weer aan sy nek en streel ingedagte met sy vingers oor die growwe materiaal van die verband. ʼn Frons keep tussen sy wenkbroue. Die bytwond en krapmerke op sy rug is nie deur enige rondloperhond gemaak nie, dit is verseker. Hoe hy dit weet sal Sebastian nie met sekerheid kan sê nie. Maar al wat hy weet is dat iets anders dit veroorsaak het. Dat daardie dromme iets daarmee te make het. Die gesig van ʼn donkerkop meisie flits weer voor sy oë en sy frons verdiep net verder. Sy het ook iets daarmee te make en die bantoe man ook. Daar is iets wat op sy plaas rondsluip. Iets anders as net jakkalse en die sogenoemde pak rondloperhonde. Wat dit is sal hy wel gou genoeg uitvind. Hy kreun toe hy sy liggaam effens verskuif en voel hoe sy spiere protesteer. Eerste sal hy sy kragte moet herwin voordat hy ondersoek begin instel. Hy dink weer aan Rosa en wonder hoeveel sy regtig van die dromme af weet. Hoeveel van die ander werkers het die dowwe ego gehoor? Dalk is daar van hulle wat weet van die ou man wat daar by die berg ronddwaal.

ʼn Baie moeiliketyd lê en wag vir hom. Sy mense is hardkoppig en praat nie maklik nie, maar antwoorde gaan hy kry. Sebastian voel hoe sy ooglede swaar raak en met al die vrae nog vlak in sy gedagtes sluimer hy in. Onbewus van die dinge wat om hom stadig maar seker in werking tree en dit wat nog in die komende dae hom voorlê.

Nog ʼn deur word haastig in sy gesig toegemaak en Sebastian voel die woede diep binne hom begin kolk. Die soveelste een van sy werkers wat met vreesbevange oë hom stom aanstaar. Hulle het, soos Sebastian lankal verwag, niks gehoor of gesien nie. Maar dit is met die noem van die bantoe man by die berg dat die vrees vlak in hul oë kom lê. Selfs Rosa het bot geraak nadat hy haar daardie oggend in sy kamer uitgevra het en Sebastian het wyslik besluit om dinge eers daar te laat. Etlike dae nadat hy uit die bed opgestaan het, met hernude lewenslus en die ongekende energie wat deur sy liggaam pols, het dinge andersins in hul normale roetine verloop.

Daar was wel dinge wat die jong boer vreemd begin vind het. Klein veranderinge wat hom laat regop sit en notisie neem. Die omgedolwe lande het vir hom net soeter geruik. Die getjir van die windpomp in die vêrte net bietjie skerper as tevore. En daar waar hy nou die horison dophou deur vernoude oë vanonder die verslete rand van sy hoed, lyk dinge soveel duideliker. Selfs die hond wat meer soos ʼn wolf daarna uitsien kan hy duidelik uitmaak. Sy oë rek effens toe hy opmerk hoe groot die dier eintlik is. Is dit dalk een van die sogenoemde rondloperhonde wat hom daardie aand by die voet van die berg aangeval het? Die rede hoekom sy mense hom so vreesbevange aanstaar? ʼn Dier wat eerder soos ʼn oorgroot wolf daarna uitsien as ʼn dood gewone hond? Hy sien hoe die enorme kop lig, hoe daar in die lug gesnuif word en die ore spits. Dit is asof die dier kan aanvoel dat hy terugstaar daar waar dit nou by ʼn plaat bosse en bome huiwer. ʼn Eensame donker silhouette teen die sonsondergang. Die feit dat hy die dier duidelik sonder veel moeite kan eien. Sien hoe die wind deur die lang gras dans en aan die effense lang pels pluk pla hom. So ook die gevoel dat iets of iemand anders hom al ʼn geruime tyd dophou.

Sebastian hou die hond ʼn oomblik dop, sien hoe dit weer wegkyk en tussen die bosse in verdwyn. Lank staar hy na die plek waar die dier gestaan het toe ʼn beweging weer sy oog vang. Onder die indruk dat dit dalk weer daardie dier is, steur hy hom egter nie veel daaraan nie. Totdat die skerp soet geur van tabak sy sensitiewe neus kielie. Uit die hoek van sy oog sien hy die klein figuur half verskuil agter ʼn doringboom staan. Pyp tussen die bruin lippe vasgevang. Daardie donker oë staar stip na hom. Die bantoe man van nou die aand! flits dit deur Sebastian. Geklee in dieselfde kortbroek en T-hemp staan hy daar en staar vir etlike oomblikke terwyl hy aan sy pyp suig en ʼn stadige glimlag om sy mond sprei voordat hy omdraai en geruisloos wegstap.

Sebastian roep uit na hom maar die ou man hou aan met loop. Net soos daardie aand, dink hy vies en gryp die jaggeweer wat hy vroeër teen die lae muurtjie staande gemaak het en volg die bantoe op ʼn gemaklike pas. Hoe lank hy die man gevolg het weet Sebastian nie. Dit is eers toe hy die eerste klomp sterre in die naghemel raaksien dat hy tot stilstand kom. Hy het nie eens agtergekom dit is donker nie nog minder dat hy op ʼn bomenslike wyse sy pad lag-lag deur die bosse en lang gras kon vind sonder die hulp van ʼn flitslig. Dit is stikdonker om hom. Stadig lig hy sy hand op tot reg voor sy gesig.Vroetel sy vingers heen en weer net om dit vining weer te sak.Elke vinger kon hy duidelik uit herken.Elke beweging vang.

“Kleinbaas verander, dit is hoekom hy so goed by die aand kan sien.”

Sebastian lig die geweer en mik die loop sekuur op die figuur wat nou direk voor hom kom staan. Hy hoor hoe ʼn vuurhoutjie getrek word en sien die vlammetjie na die bol van die pyp sak. Sien ook die donker oë soos swart blink pêrels op hom rus voordat die vlammetjie gedoof word en donkerte weer hul omvou. Nie dat dit juis veel verskil maak nie, want dit is asof hy die man duidelik voor hom kan sien staan.

“Waarvan praat jy?”

“Die verandering wat van kleinbaas iets besonders gaan maak. As die volmaan kom dan sal ons sien of jy die toets sal slaag.” Kom die kriptiese antwoord.

“Hou op in raaisels praat ou man!” Sebastian voel hoe sy humeur vinnig vlam vat. Hoe sy hart al hoe harder teen sy ribbes begin klop. Die man se stem is so bekend. Diep in sy onderbewussyn hoor hy weer die stemme praat en dit knaag aan hom. “Wie is jy en wat maak jy op my grond?En wat is die verandering waarvan jy so praat?”

Die kekkellaggie laat hom rooi sien. Vir wat is hy nou skielik so kort van draad ook? Van waar die lus om die ouman skielik leed aan te doen?

“Ek is Lafras, kleinbaas. Maar dit is nie belangrik nie. Ek doen maar net wat die nooi van my vra. Sy en die donker een het my gesê om ʼn oog op die kleinbaas te hou.” Hy sak die pyp wat hy tussen sy vingers vas hou. Sy gesig ernstig toe hy sy kop lig en na die naghemel staar wat intussen met meer sterre spog en ʼn paar wolke wat geruisloos nader sluip. “Seker te maak niks gebeur voordat die tyd reg is nie.”

“Reg is vir wat Lafras?” hy laat sak die geweer en hou die ouman dop.

“Reg vir die onheil wat roep.”

Hy sien hoe die bantoe se oë vernou, die gesig steeds uitdrukkingloos terwyl hy aanhou die lug instaar. ʼn Bos agter Lafras begin ritsel en Sebastian lig weer sy geweer. Sien die twee blink oë uit die donkerte op doem en hoor die lae grom. Hy staar na die massiewe gedierte, dieselfde een wat hy vroeër by die bome opgemerk het, wat met grasieuse bewegings nader beweeg tot langs die bantoe, voordat dit gaan sit en hom nou met sulke goud-bruin oë dophou. Lafras toon geen vrees vir die groot gedierte nie en dit laat die jong man verbouereerd van die een na die ander staar.

“Die onheil kom, kleinbaas. Hy roep…” prewel die ou man en hy draai sy kop skeef toe die dowwe, ritmiese doef geluid weer opklink. Net soos daardie aand wat hy in sy bed daarna lê en luister het, begin die dromme weer die donkerte in ego in ʼn oerritme wat sy vel prik en die haartjies op sy arms regop laat staan.

En terwyl hy na die tromslae luister begin sy oë hom weer bedrieg. Die dier aan Lafras se sy begin stadig verander totdat daar ʼn donkerkop meisie nakend langs die bantoe hurk. Haar lang donker hare skuil haar gesig maar Sebastian weet dit is dieselfde meisie van die aand van sy ongeluk. En haar oë blink ook goud op hom.

“Die volmaan is op ons.” Haar stem is ʼn lae fluistering en Sebastian herken dit as die ander stem wat hy in sy koors drome gehoor het.“Vanaand is die finale toets, Sebastian Swartz. Vanaand sterf jy ʼn pynvolle dood of jy aanvaar wat met jou gebeur… wat al lankal in jou bloed bestem is om te wees.”

Hy wou nog vra wat sy daarmee bedoel toe hy met mag tot op sy knieë gedwing word. Hy kyk op en sien die donker wolke stadig wegtrek en ʼn groot volronde maan te voorskyn kom. Die helder maanligstraal oor sy groot liggaam. Hy voel hoe die woede binne hom oorhand neem, hoe elke vesel binne hom rek en skeur en hervorm word.“Wat gebeur met my?!” uiter hy hees terwyl die pyn vlammend deur sy liggaam klief.

“Die verandering.” Kom dit opgewonde van die meisie. Hy sien nie hoe sy na die bosse staar en haar kopknik nie. Nog minder die kolossale swart wolf wat nader beweeg en die hele proses met glimmende oë aanskou nie.

Sebastian kyk van Lafras na die meisie, vrees en onsekerheid in sy oë. Hulle vervaag en hy voel hoe sy ruggraat losgeruk en herstruktueer word. Hoor hoe sy bene en arms kraak en breek. Die intense pyn laat hom snak na asem en sy eie stem klink vreemd en grof in sy ore.

“Wat het julle aan my gedoen!” Met wilde intensiteit staar hy stip na die volmaan. Sy bloed bruis deur sy are en hy voel hoe sy hart al hoe vinniger klop en dreig om uit sy borskas te spring.

“Ons het niks aan jou gedoen nie Sebastian.” Kom dit weer van die meisie wat onbewus van haar eie naaktheid om hom stap, haar vingers gly oor sy skouer en met sy oë volg hy haar en sien hoe sy nou langs die nuwe aankomeling gaan staan. Daardie oë brand soos twee kole vuur op hom.Wild en onvoorspelbaar.Lank staar man en dier mekaar in die oë. Die gevoel van erkenning knaag aan Sebastian se onderbewussyn en hy sluit sy oë ʼn oomblik teen die nuwe vlaag pyn wat deur sy liggaam sidder. Die onaardse tjank-geluid wat diegroot wolf gee, ego in sy ore.

Sebastian voel hoe sy ribbes kraak en skuif en val vooroor. Hy stut homself met sy hande en sien hoe sy vingers voor sy oë vervorm. Hoe hul eers skeef gebuig word en verleng net om te krimp en die donker hare wat deur sy vel beur. Voor sy oë begin hy in iets onaardigs verander. Paniekbevange vertel hy homself dat dit net ʼn droom is. Dat hy nou enige oomblik wakker gaan word in sy bed en alles maar net sy oorwerkte verbeelding was. Dat daardie onaardige wolf wat hom met intense oë dophou net ʼn spookbeeld is. Dat die meisie wat oomblikke tevore voor hom verander het ʼn figment van sy oorwerkte verbeelding is. Dat Lafras maar net een van sy werkers is wat die gek met hom skeur. Oor en oor verseker hy homself dat dit als net een groot nagmerrie is voordat die donkerte genadiglik om hom vou.

Die drie staar na die stil figuur wat opgekrul op die grond lê. Hulle hou die jong man dop toe hy skielik begin ruk en die transformasie voor hul wakende oë voltooi word. Die meisie en die donker een kyk vlugtig na mekaar en ʼn stille boodskap word oorgedra voordat sy haar kopknik en weer op Sebastian fokus. Pas my seun goed op, Rianette. Lei hom deur die transformasie en hou hom veilig tot ek terug kom vir hom. Die goud-bruin oë dwaal ʼn laaste keer oor die jong man voordat die swart wolf tevrede wegdraai en weer die donkerte in verdwyn.Die ander wag op die goeie nuus. Sy seun en opvolger het die toets geslaag en is tuis. Waar hy hoort…

  • Chantal

    Ongelooflik goed! Jy gee ‘n weerwolf verhaal ‘n goeie naam! Hou aan met jou goeie stories!