DIE STEMME IN EN OM LARA – Ilse Goschus

DIE STEMME IN EN OM LARA – 2015 © Ilse Goschus

JEUGFANTASIE (2 314 WOORDE)

 

Vanaand is dit volmaan. Die maan hang ekstra groot en geel oor die donker bos en die maanligstrale is gewikkel in ʼn spookagtige spel met die boomtakke. Die nag is soel en warm. Die bos is stil.

“Pasop vir die bos!” waarsku haar pa altyd. “Menige het dit in die bos gewaag, maar het nooit weer daar uitgekom nie. Die bos het sy geheime.”

(“Wat is geheime?” hetdie elfjarige Lara op ʼn dag gevra. Sy het haar aspris dom gehou.

“Dis feite wat net sekere mense weet,” het haar pa geantwoord.)

Lara sit nou op die stoep van hul groot houthuis, op die rant van die Vele-Wense-Bos. ʼn Swerm vuurvliegies vlieg verby en hul groenliggies verleen ʼn toweragtige element aan die nag.

“Hulle lyk soos vlieënde sterretjies,” dink sy, “en hulle nooi my die bos in.”

Lara hoor hoe haar ouers snork.

“Grootmense,” dink sy. “Hulle praat, maar hul weet nie altyd nie. Hulle waarsku omdat hulle dink hulle moet waarsku.”

“Gaan Lara… ontdek die bos!” por die stemme in haar kop.

“In die donker?” vra sy, maar wag nie vir ʼn antwoord nie.

Sy vergeet skielik van die snork en van haar angs vir die bos en volg die pad van die vuurvliegies.

Die maan se lig maak dit vir haar nog makliker om die bospaadjie te volg.

“Ek hou van die varings. Hul punterige blare is sagte driehoeke met blink doudruppels daarop,” praat Lara met die vuurvliegies wat subtiel die weg aanwys. “Die blare is so delikaat, (sommige van die varingspesies in elk geval). Ek hou daarvan om my vingers oor die spore aan die agterkant te laat gly. Nog ʼn begeerte wat ek lankal in my hart rond dra, is die ding oor die olifante. Ek wou altyd die olifante sien. Die grootmense praat gereeld van die olifante in die bos en die feit dat net sekere uitverkorenes hulle kan sien. Nog ʼn ding… ek hoop weliswaar nie Pa en Ma word wakker en soek my nie, want dan is ek verder as kniediep in die tamatiesous.”

Lara hoor meteens ʼn beweging agter haar tussen die lang gras en die bosse. Sy kyk vervaard om en daar staan hy, in die maanlig, afgeëts teen die donkerte van die bos. Hy’s ʼn groteske bondel grysheid, met twee ivoorskatte wat koninklik vorentoe buig. In stilte staan hy daar, vir etlike oomblikke.

“Wense word waar,” sê haar ma altyd.

“Ja, wense word waar en ek sien dit nou,” dink sy bly.

En dan trompetter hy, flap die ore en storm op haar af.

“Nee…!” klink Lara se benoudheid deur die bos op skrille toon. “Julle almal het my verkul en jul woorde was net woorde sonder sin!”

“ʼn Mens moet oppas waarvoor jy wens!” hoor sy ʼn onbekende fluistering. “Aan die ander kant… jy bevind jouself immers in die Vele-Wense-Bos. Moenie dit vergeet nie. Vele wense word hier bewaarheid.”

Die olifant se flappende ore raak groter en die skerppuntige ivoorskatte, geler en wreder. Sy logge liggaam beweeg in ongelooflike soepelheid vorentoe. Dit beweeg vinnig, in haar spasie in.

“Jy beskik oor bomenslike kragte!” fluister die nagbriesie in haar oor.

“Wat? Hoe?” probeer sy sin maak van die boodskap.

“Jou skatte lê diep in jou siel!” antwoord die varings om haar.

“Dis nie tyd vir simboliek nie,” fluister sy terug, aan die stemme in en om haar.

Die enorme liggaam klim half lug-op as hy op haar wil afstorm. Lara beleef woedende trompettergeskal en die beplande aksies van ʼn wilde dier wat wil vernietig.

“Die pote… die pote gaan my vergruis” fluister sy verskrik as ʼn olifanttand die sagtheid van haar vel breek.“Bring die skatte in my siel te voorskyn. Ek moet my vyand oorwin.”

Die vuurvliegies vlieg tartend voor die olifant verby en dit maak hom woedend en meer agressief.

“Hardloop weg, Lara! Die donkerte sal jou kamoefleer!” piep ʼn skrikkerige veldmuisie as hy in die twee paar dreigende olifantpote voor hom vaskyk.

“Staar jou angs vierkant in die oë,” gee ʼn wyse uil raad. “Dis ʼn toets. Jy kan dit slaag! Jy sal belangrike lewenslesse leer.”

Sy vee die bloedrigheid teen haar nek af met die agterkant van haar een hand. Sy ruk ʼn varingblaar af van ʼn plant langs haar en druk dit teen die wond. Die bloed stol onmiddellik tot Lara se uiterse verbasing.

“Dankie varingblaar vir jou medisinale bydrae. Jy het die bloed laat stop! Nou weet ek… die Vele-Wense-Bos het beslis sy geheime. O, Vele-Wense-Bos, gee my groot asseblieftog, die krag om my vyand te oorwin,” vra Lara, siende dat sy nou meer selfvertroue het. “Ek wil regtig nie deur ʼn olifant platgetrap en vernietig word nie.”

Lara trek die vars lug instinktief diep in haar longe in. Sy blaas haar wange op soos balonne en vul haar kieste met die nag se vars boslug. Haar wange lyk soos twee hopeloos te styf opgeplaasde balonne. Sy blaas en blaas en blaas. Haar asem raak ʼn stormsterk wind. Die boomtakke swiep soos garingdrade in die wind en dit kraak en breek. Haar asem-wind saai verwoesting tot diep in die kern van die bos. Meer en meer bome word ontwortel. Die rivier maak woeste rippels en raak-raak met haar bruin, koel watervingers aan die rivierbank. Die klein diertjies van die bos, skarrel om uit die dreigende gevaar se pad te kom. Hulle wyk teen die steiltes uit.

Meteens val iets op die grond. Dit val reg langs Lara se voete. Lara staar vas in ʼn paar groot olifantore. In ongeloof bekyk sy die olifant van kop tot tone.

“Jy het jou ore laat val. Vir wat? Jy lyk so snaaks. Gie-gie-gie…” giggel Lara onbeheersd tussen die angs deur.

“Jou… jou onnosele kind,” skree die olifant vernederd. “Jy het my ore afgeblaas. Vandag trap ek jou fyn en flenters, sonder ore en al.”

Die slurp wil-wil om Lara se tenger liggaam krul.

“Doen iets met die ore,” fluit ʼn loerie. “Tyd is van belang hier.”

“Wat moet ek met olifantore doen?” vra Lara oorbluf. “Die hele spulletjie is belaglik.”

Die ander olifanttand skuur waarskuwend teen haar lyf. Die slurp krul soos ʼn slang se lyf teen die olifant se gesig op en voer dreigende peristaltiese bewegings uit. Die klein ogies lyk slu en gevaarlik.

“Die ore! Gebruik dit, kind! Jou redding lê in die ore,” beveel die loerie aan en vlieg angstig na ʼn maat in ʼn buurboom.

“En die olifant? Hy gaan my doodmaak,” antwoord Lara, hopende dat die loerie verdere hulp sal verleen.

Die olifant se poot wil-wil op haar smal voet te lande kom, maar toe het sy dit al – die linkeroor.

Sy druk dit teen haar linkeroor. Onverwags spring dit in posise en suig vas teen haar kop. Sy tel dan die regteroor op en dieselfde proses volg.

Die olifantbul is so boos en so vernederd dat hy terug hardloop bos-in met ‘n oorverdowende trompettergeskal. Hy stamp velerlei bome uit die pad met sy slurp. Apies skarrel vervaard in ʼn ander koers in, so-ook bokkies, meerkatte en ander diertjies, reptiele en insekte. Hy trap velerlei skilpaddoppe stukkend en saai verwoesting aan waar hy gaan. ʼn Oop stuk veld lê nou soos ʼn mond sonder tande, daar waar die bome voorheen was.

“Ek moet konsentreer,” besef Lara.

Gedagtes spring in haar kop en boodskappe wil deurkom, maar sy verstaan niks daarvan nie.

“Laraaaa!” “Laraaaa! hoor sy haar pa en ma se stemme eggo op die rant van die bos.

Die benoudheidsklanke klou aan die blare en gaan sit in die doudruppels en dis waar sy dit los.

Die olifantore begin onverwags en naarstiglik flap teen ʼn geweldige spoed, langs haar kop. Op-en af! Op-en-af! Lara sien haar weerkaatsing in ʼn poeletjie water.

“Kyk hoe lyk ek. Ek is nou ʼn lompe sameflansing van mens en dier. Ek’s ʼn monster!” dink sy ontsteld.

Die wind suis verby die bome en verby haar lyf. ʼn Bosduif sirkel verward grond toe, maar wikkel homself vernuftig uit die sterk lugstrome se pad. Lara voel die vibrasies en lugstrominge om haar. En dan… haar liggaam hys vinniger en vinniger as die olifantore haar momentum gee.

“My gits… Wat is besig om met my te gebeur?” wonder Lara verward.

“Sy vlieg!” sing die loeries nou. “Die meisie vlieg!”

“Ja, dis waar. Ek vlieg!” besef Lara.

“…Met my ore!” roep die verleë olifant woedend uit vanwaar hy besig is om ‘n takkie te kou.

Die hele petalje is vir hom skielik skreeusnaaks. Hy begin kliphard te lag. Hy lag so lekker dat sy lyf begin skud en die trane rol. “Die meisie maak my dag! Sy lyk snaakser as ek. Ha-ha-ha.”

Lara vlieg hoër en hoër. Sy vlieg oor oseane heen en besef nie die verwoesting in die bos wat sy agterlaat nie. Die waters in die bos verander in riviere. Dit kolk en veroorsaak baie sterk strome. Gou is die helfte van die bos onder water. Plante en diere in die bos vernietig.”

“Hoe kan ons dit bewerkstellig – die ophou-lag-ding?” vra die loerie.

“Lei hom na ʼn rivier. Laat hom na sy sonder-ore beeld kyk in die water,” antwoord die uil. “Hy sal beslis dan ophou met lag.”

“Kom Olifant,” nooi die loerie. “Kom ons kyk hoe die rivierwater kolk.”

“Ha-ha-ha…” lag Olifant. “Ha-ha-ha-ha… Goed, ek kom. Ha-ha-ha.”

Olifant steek sy slurp diep in die koue, bruin, rivierwater in. Hy sien sy vreemde beeld sonder die ore. Woedend storm hy teen die rivierwal uit en trompetter dat die aarde bewe en skud. Skielik breek die aardkors oop.

Die olifantore neem Lara tot by die maan. Langs ʼn krater land sy. Die maan se geel het nou in silwer verander.

“Welkom Lara,” groet die maan. “Jy is uitverkies deur die elemente van die Heelal om meer te leer oor die geheime van die bos en… Hier neem dit en gebruik dit oordeelkundig. Maak jou oë toe en doen wat jy moet doen.”

“Baie dankie, ek waardeer die geskenk,” bedank Lara.

Sy voel ʼn yskoue klip in haar hande. Dit voel groot, glad en koud en het ʼn lengte van ongeveer twintig sentimeter en ‘n dikte van ongeveer vyf sentimeter. Die klipperige effek eindig in ʼn driehoekige punt. Lara maak haar hande oop. Dis die mooiste klip wat sy nog ooit gesien het.

“Dis ʼn kwartskristal,” fluister die maanwind in haar oor. “Dis ʼn towerkristal. Dit gee jou visie. Gebruik dit. Dit het ʼn boodskap.”

Lara hou die pragtige, wit kwartskristal vir ʼn wyle tussen albei hande. Sy voel ʼn vibrasie. Die kristal raak warmer en warmer. Dit gee haar die mag van visie. Sy sien en ervaar skielik die Vele-Wense-Bos deur die kristal. Lara sien hoe die water hoër en hoër styg en hoe dit die bos vernietig. Sy sien ʼn boshuisie met ʼn olielamp wat helder brand. Skielik doof die water die lig uit. Sy ervaar hoe ʼn ou man se liggaam by die venster uitspoel en deur die water bos-in gesleur word. Hy het ʼn lang, wit baard en ʼn goue ketting om sy nek. Sy ervaar hoe die ou man om lewe en dood veg. Sy ervaar sy angs. Ook ervaar Lara die angs van die diere wat wag dat die water hulle verslind. Sy sien die olifant sonder sy ore. Sy ervaar sy pyn en verleentheid en sy sien ook baie ander geheime vasgevang in die bos en in die water.

Vir ʼn wyle, laat sy die gedagtes agter haar. Skielik sien dit – aan die Noordekant van die bos. Dis ʼn enorme boom. Dit staan uit tussen al die ander. Dis asof die takke haar roep.

“My reis na die maan, dwing my terug na die bos. Ek is beslis ʼn uitverkorene. Ek moet die Vele-Wense-Bos en die lewens daarin red, voordat als verlore gaan. Neem my na die boom in die Noorde,” beveel Lara die maanbriesie terwyl sy steeds styf aan die kwartskristal klou.

Die maan kyk glimlaggend toe as haar ore begin flap. Die maanbriesie verander in ʼn stormsterk wind en dit waai Lara met alle geweld terug in die Vele-Wense-Bos in – binne-in die gasvrye takke van die boom wat sy in die kristal gesien het, die Tuimelboom. Sy hou onwillekeurig die kwartskristal voor haar uit.

In haar kop dink sy: “Maak die verwoestende natuur se elemente stil.”

Die reën hou skielik op. Die waters in die bos raak stil. Die wind hou op met waai.

“Ek is die Tuimelboom,” antwoord die boom in wie se takke sy skuil. “Ek is een van die geheime van die bos.”

Die boom vou sy takke beskermend om Lara en dan tuimel hulle. Hulle tuimel verby die rivier met die langbek krokodille, verby die genie se bottelhuis en verby die liggaam van die wyse ou man met die goue ketting om sy nek en verby vele ongeopenbaarde geheime.

Die Tuimelboom kom skielik tot stilstand. Lara hoor ʼn geritsel agter haar. Met verbasing loer sy oor haar skouer. Dis die olifant sonder ore.

“Jy kom in vrede,” trompetter die olifant onverwags op musikale noot, terwyl sy oë ondeund vonkel. “Een ding het jy reggekry. Jy het my laat lag. Aan die ander kant… ons twee het geweldige skade aan die bos aangerig.”

“Ons moes lesse leer,” antwoord Lara sonder enige verdere verduideliking.

Onverwags val haar olifantore op die grond.

“Vat dit, dis joune,” moedig sy die olifant aan.

Die son se oranje strale skuif stadig die bos in.

“Laraaa!” roep haar ouers, veel dringender as tevore.

Hul stemme rek haar naam ekstra lank uit, sodat sy kan hoor, (of so hoop hulle). Die ligte boswind waai egter die roepstemme by haar verby, snelweg se kant toe waar die vinnige aankomende motors se wiele daaroor rol. Al klanke wat in haar brein verwerk word, is die van die water wat in die stroompie ongeveer ʼn meter van haar af kabbel, die riete en boomblare wat ritsel in die wind, die nuwe dag wat breek… en die verdere lesse wat vir haar wag in die bos.

  • Chantal

    sentmeter= sentimeter

    Baie oulik, en dink dit het ook tyd geword dat jy daardie fantasie boek skryf.

  • Marilise Hammond

    Wat ‘n genotvolle verhaal. Ek het die humor en trant van die verhaal baie
    geniet. Uitstekend geskryf!