DIE VREEMDE BLOU PERDJIE – Salmon Smith

DIE VREEMDE BLOU PERDJIE – 2015 © Salmon Smith

JEUGFANTASIE (2 353 WOORDE)

 

Die eerste ding wat Bennie Arnoldus opval, is die helderblou ligskynsel teen sy wit kamermuur. Hy vryf vinnig die slaap uit sy oë en kyk wéér. Die vreemde skynsel is nog steeds daar.

Dít moes hom uit sy diepe slaap wakker gemaak het. Dit lyk asof die bron van dié affêre net buite sy kamervenster is.

Hy loer na sy kamervenster. Hy merk dat hy die vorige aand vergeet het om sy gordyne toe te trek.

Hy klim uit sy bed en stap stadig, voetjie-vir-voetjie, na die venster toe. Hy loer na buite.

Skielik snak hy na sy asem. Buite sy kamervenster is ’n…

Hy knip vinnig sy oë en kyk weer. Ja waaragtig, hy kyk reg. Daar buite, waar die eens bekende agterplaas was, is nou ʼn vreemde wêreld; met ’n donker woud in die agtergrond.

Wat nóg vreemd is van die hele prentjie – dis agterso ’n snaakse, deurskynende membraan geleë.

Direk agter die membraan staan ’n vreemde, klein perdjie; gebaai in die helderste blou lig. So, dís dan die bron van die lig teen my kamermuur, gaan dit deur Bennie se gedagte, terwyl hy na die perdjie staar.

Hy merk ’n klein horingkie aan die perdjie se voorkop op.

Perry, die Eenhoring… kom dit by Bennie op, toe hy dink aan die karaktertjie uit sy storieboek. Die storieboek wat hy nog gisteraand vir die soveelste keer gelees het. Sy ma het die boek laasweek vir hom, op sy elfde verjaarsdagpartytjie gegee. Dít is sy gunsteling boek en die storie oor dié lewenslustige perdjie, is sy gunsteling.

Nou hoe is dit dan moontlik dat die perdjie híér beland het. Dit is dan veronderstel om in die middeleeuse tydperk te lewe – toe vlieënde drake en woudmonsters die aarde bewandel het.

Nou staan dié einste perdjie hier voor sy kamervenster, onder ’n groot boom en kyk met sulke hartseer oë na hom. Skielik begin dit ’n entjie weg galop; gaan staan en kyk terug na hom.

Miskien wil die perdjie hê dat hy hom moet volg.

“Wag…” fluister hy saggies en klim deur sy kamervenster, sonder om twee keer te dink.

Toe hy buite sy venster staan, merk hy op dat die snaakse deurskynende gedoente, soos ’n reuse seepbel lyk.

Met groot oë kyk hy na die membraan, wat hom en die vreemde wêreld daaragter skei. Hy voel hoe sy hart wild in sy borskas klop.

Versigtig steek hy sy hand uit en raak daaraan. Hy sien hoe sy vingerpunte deur die vlies gly. Hy steek sy hand verder uit. Hy kyk na die verwronge beeld van sy hand daaragter. Dieselfde beeld soos dit lyk, as hy sy hand in die water steek.

Versigtig stap hy deur die membraan en ’n heel nuwe wêreld vou voor hom oop. Weerskante en voor hom uitgestrek, is grasvlaktes gebaai in die helderste maanlig. En direk daaragter lê… die donker, onheilspellende woud en wink.

Hy kyk terug en sien dat die membraan verdwyn het en van sy huis is daar nou geen teken nie. Die grasvlakte strek nou ver agter hom en in die verte kan hy die donker skadubeeld van ’n kasteel uitmaak.

Die toneel lyk presies soos in die storieboeke. Hy is nou so waaragtig in ’n wêreld, uit die toendertyd. Hoe het dit dan gebeur? Is hy nou besig om te droom? maal die vrae deur sy kop.

Hoe gaan hy weer by die huis uitkom?

Hy dink aan die monsters wat destyds gelewe het. Hy loer bangerig om hom rond.

Waar is die klein perdjie dan nou? dink hy en loer na die woud daar voor hom.

“P-perdjie… perdjie, waar is jy?” vra hy saggies.

Die vreemde perdjie verskyn skielik tussen die bome, op die rand van die woud en kyk na Bennie. Dit lyk asof die perdjie hom nader wink.

Saggies hardloop hy agter die perdjie aan, wat intussen weer omgedraai en begin hardloop het.

“Wag vir my!” skree hy benoud, toe die perdjie die woud in verdwyn.

Vrees begin Bennie beetpak. Hy betree die woud met ’n woes, kloppende hart. Hy wil omdraai en teruggaan huistoe, maar dit lyk asof ’n onsigbare mag hom al dieper die woud in trek.

Dit voel nou asof sy hart hoog in sy keel klop.

Die woud vertoon donker en onheilspellend. Die bome lyk vreesaanjaend. Die takke lyk soos monsterkloue wat hom wil gryp.

Met groot oë kyk hy in die rondte. Die woud het hom nou so waaragtig ingesluk. Hy is nou te bang om selfs asem te haal. Hy weet nou nie eens meer uit watter rigting hy die woud ingekom het nie. Hy het nou verdwaal.

Van die snaakse, blou perdjie is daar nou geen teken nie. Dit lyk asof die ding hom doelbewus uit sy kamer gelok het, sodat hy hier in die donker woud deur ’n woudmonster gevang kan word.

Hy dink aan sy mammie en pappie wat daar knus in hul bed lê en slaap – onwetend van hom wat nou in doodsgevaar verkeer.

Wat het hom besiel om agter die perdjie aan te hardloop? Dit bestaan mos net in die sprokiesboeke en in sy verbeelding.

“Perdjie… perdjie…” fluister hy nogtans bo die gesuis van die wind deur die bome. “Perdjie, waar is jy?”

Paniek pak hom beet. “Perdjie, moet my nie hier alleen los nie, asseblief,” smeek hy en die trane begin oor sy wange biggel. Hy gaan staan met sy rug teen ’n boom.

Skielik druk iets nat hier teen sy kaal linkerarm. Met ’n gil skiet hy vorentoe. In die proses haak sy voet vas aan die wortel van die boom. Hy slaan soos ’n dooie os neer.

“Eeek! Help!” gil hy hardop.

Hy hoor ’n voetval hier agter hom. Dit voel asof ’n yskoue rilling teen sy rug afgaan. Hy draai sy kop en loer na agter…

Verligting spoel deur hom toe hy die blou perdjie daar sien staan.

Van blydskap spring hy op en wil die perdjie omhels, maar die diertjie gallop eenkant toe. “Haai, kom hier,” fluister hy.

Weer spring die perdjie weg en hardloop tussen die bome deur.

“Wag!” skree Bennie en hardloop agterna. Dié keer hou hy sy oë gevestig op die vreemde, perdjie. Sy bors begin te brand en sy bene voel soos jellie, van uitputting, maar hy dwing sy liggaam vorentoe.

Skielik verskyn daar ’n oop kol tussen die bome. Die perdjie gaan staan botstil, verskans tussen die bome en staar stip voor hom uit.

Bennie kom uitasem agterna en gaan staan langs die perdjie.

“Wat is dit?” hyg hy saggies, toe hy sien hoe die perdjie na iets daar in die oopte staar.

Hy kyk daarheen en sien ’n groot vuur wat daar in die middel van die oopte brand. Maar dis die snaakse kreature wat daar rondom die vuur dans, wat sy oë gevange hou.

Die groot koppe, wye ore en die groot, lomp lywe. Hy sien hoe die snot in lêlle uit hul aaklige neusgate hang.

Dit voel asof iemand sy wind uitslaan, toe hy besef wat se gedrogte daardie is. Trolle – daardie nare wesens in sy storieboek. Daar is so ses van hulle.

’n Beweging links van die vuur trek sy aandag. Verbaas staar hy na die allerpragtigste, spierwit perd wat daar vasgemaak langs die vuur staan. Dit straal ’n helder lig uit en aan sy voorkop is ’n massiewe horing.

Skielik gaan daar ’n lig vir Bennie op. Dié Eenhoring is die klein, blou perdjie se ma en is deur die trolle gevange geneem. Die kleintjie het toe hóm, wat Bennie is, kom haal om sy ma te bevry.

“Wat is jou naam?” vra hy saggies aan die perdjie.

“Perry…” antwoord die perdjie saggies. “Jy ken my reeds lank. Ek is deur ’n towerwoord uit my wêreld, na joune verplaas, om jou te kom haal om my ma te red.”

Bennie se mond gaan oop van verbasing. Kan dit wees dat sprokies werklik buite die verbeelding en boeke bestaan?

“Jy ís dan die Perry in my storieboek,” kry hy dit verbaas uit.

“Ja, en net jý kan my ma red van daardie nare trolle. Jy moet net dáárdie towerwoord spreek. Ek weet ongelukkig nie wat daai woord is nie,” sê Perry en kyk smekend na Bennie.

Bennie kyk Perry verbaas aan. Hoe sal hy ooit Perry se ma kan red, as hy nie eens kan onthou wat die towerwoord is waarvan Perry praat nie.

“Jy het daardie towerwoord gespreek terwyl jy geslaap het; so jy móét probeer om dit te onthou,” kom dit van Perry. “Dit is ’n towerwoord wat op ’n tipe emosie dui. ’n Emosie wat nie kwaadpraat nie. Dit oordonder alle negatiewe dinge. Dié emosie kom diep uit die hart.”

Bennie probeer hard konsentreer, maar kan geen hondhaar afmaak nie.

Hy loer weer na die toneel daarvoor en dit voel asof die bloed in sy are stol…

Die trolle stap nou doelgerig, met skerpgemaakte stokke, op Perry se ma af.

Bennie trek sy asem skerp in. Hulle gaan Perry se ma daarmee steek, besef hy.

“Nee moenie!!” gil hy instinktief, maar besef dat hy nou ’n gruwelike fout begaan het. Hy het nou so waaragtig híérdeur die trolle se aandag op hom en Perry gevestig. Hy het hul posisie verraai. Hy vou vinnig sy hand oor sy mond, maar te laat.

Al die trolle ruk tot stilstand en hul oë soekend na waar die geluid vandaan gekom het.

Een van die trolle sien hoe Bennie en Perry agter ’n boom wegkoes. Hy uiter wrede gromgeluide en beduie met sy skurwe wysvinger in daardie rigting.

Saam storm die hele gebroedsel op hulle twee af. Bennie se oë rek soos pierings toe hy die aanstormende gedrogte sien. Perry spring om en hardloop terug, die donker bos in.

Bennie swaai om om weg te hardloop, maar sy voete gly op die nat, modderige mos onder die boom. Hy hik toe hy op sy maag te lande kom.

Hy spartel om op te staan, maar die gedrogte is op hom.

Hulle gryp met hul skurwe, knopperige hande na hom en kry hom aan sy arms en bene beet.

Saam sleep hulle hom na waar Perry se ma vasgemaak staan.

Hy kyk terug en sien hoe Perry, met ’n hartseer gesiggie, daar tussen die bome staan.

Bennie word woes op die grond neergesmyt en die trolle kom staan in ’n kring rondom hom. Hulle grom en babbel deurmekaar.

Vrees oorweldig hom toe hy opkyk in die nare afskuwelike gevrete.

Hy weet dat dit nou klaarpraat is met hom. In sy storieboek het hy gelees dat trolle eet alles wat hulle vang. Van kindertjies tot die klein, onskuldige wouddiertjies.

Hy draai sy kop skuins en kyk op in die gesig van die Eenhoring, wat hier bokant hom uittroon. Daar is iets in daardie oë, wat op hom afkyk. Dit lyk so sag en so vol liefde.

Liefde…, ja dis dieselfde uitdrukking in sy ma se oë, as sy altyd vir hom kom nagsoen.

“Dit is ’n emosie wat diep uit die hart kom,” gaan Perry se woorde deur Bennie se gedagte.

“Liefde,” prewel Bennie saggies. Ja, liefde is die emosie waarvan die simbool met ’n hart aangedui word.

Meteens kom die trolle tot stilstand. Hulle spits hul ore en kyk wild in die rondte.

Bennie merk dit op.

Skielik gaan daar ’n lig vir hom op. Liefde is dáárdie towerwoord. Hy moes dít in sy slaap geprewel het en daardeur Perry na sý wêreld verplaas. Liefde oordonder alle negatiewe dinge. Die trolle is boos en boosheid is ’n negatiewe element.

Bennie sien hoe die trolle onseker rondmaal. Hy is skielik nie meer bang vir die gedrogte nie.

Hy spring van die grond af op. “Liefde is rein!” skreeu hy met ’n groot stem uit. “Liefde praat nie groot nie! Liefde is nie opgeblase nie! Met liefde sal ek julle bose gedrogte vernietig!”

Met die laaste woorde, steek Bennie onwillekeurig sy hande na die trolle toe uit. Blou weerligstrale skiet uit sy vingerpunte. Dit tref elkeen van die ses gedrogte teen hul borste en dring hul vuil, donker harte binne.

Meteens begin die trolle hul borste vasgryp en met hul voete op die grond stamp. Hulle brul en maal in die rondte. Stadig begin hulle al wriemelend in die grond wegsink.

Toe die aarde klaar die gedrogte ingeluk het, kyk Bennie verbaas na sy hande. Hy kan nie glo wat nou so pas gebeur het nie. Daar het sowaar blitse uit sy vingers gekom.

“Jy het die towerwoord, Liefde, gespreek,” hoor hy hoe Perry se ma skielik hier langs hom praat. “Liefde dra krag en dis hoekom daar weerlig uit jou vingers gekom het.

“Die trolle verag alles wat goed en rein is en liefde is die enigste emosie wat hulle kan vernietig. Dankie seun, jy het my lewe gered.”

Bennie maak vinnig die tou om die Eenhoring se nek los.

Perry kom vanuit die skadu’s aangehardloop en kom druk sy natsnoet teen Bennie se wang, uit diepe dankbaarheid.

Bennie gooi sy arms om Perry se nek en gee hom ’n drukkie.

Hy sien die dankbaarheid op die Eenhoring se gesig. “Jy is ’n baie goeie seun. Gaan terug na jou wêreld en bly ’n gehoorsame seun vir jou ouers. Hulle is baie lief vir jou en wees terug lief vir hulle,” sê die sy, met ’n soete stem en soen Bennie op sy wang.

Bennie kyk op in die Eenhoring se gesig en sien tot sy verbasing hoe die perd se gesig stadig verander. In die plek daarvan begin sy ma se gesig vorm aanneem.

“Ma?!” uiter Bennie dit uit en kyk verward om hom rond. Die woud het verdwyn en hy lê in sy bed.

“Jy het so waaragtig met die storieboek op jou gesig aan die slaap geraak, my kind,” sê sy ma met ’n glimlag en plaas ’n soentjie op sy voorkop.

“W-waar is Perry… en sy ma?” vra hy skielik.

“Wie’s Perry?” vra sy ma verbaas.

Bennie ignoreer sy ma se vraag en maak vinnig sy storieboek oop. Hy staar na die prentjie waar Perry en sy ma op die rand van die woud staan. Dit lyk asof Perry vir hom oogknip.

Einde

  • Chantal

    Baie oulik Salmon Smith. Ek kan sie jy het die storie met liefde aangepak, ne dit is hoe ‘n kortverhaal moet lyk.

  • Salmon Smith

    Baie dankie Chantal. Ek voel gevlei omdat die kompliment kom van ‘n vernuftige skryfster.

  • Christo Meyer

    Soos ek jou leer ken het, hou jy ook met hierdie storie die leser tot op die einde aan die raai.Ek hou baie van die storie. Doen so voort, my skrywersvriend.

  • OJ du Preez

    Baie oulike storie! Ek het dit geniet