DIE WATERNIMF VAN FLAMINKPAN – Casper H. Coetzee

DIE WATERNIMF VAN FLAMINKPAN – 2015 © Casper H. Coetzee

VOLWASSE FANTASIE (3 333 WOORDE)

 

“Sy is ʼn godin van die water. Wanneer die groot droogte oor die Noordkaap kom lê, dan sing sy haar lied oor die stil waters van Flaminkpan… en die reën sal kom. Wanneer die wolke oopmaak en die land deurdrenk onder die grys hemel staan, dan dans sy in die donker nag saam met die pienk voëls wat in haar pan kom rus… en die reën hou op. Ons het haar nodig soos ʼn kind sy ma nodig het. Sy sorg vir die land, sy sorg vir ons. Maar die prys wat ons betaal is hoog; menige kind het in die koel, vlak waters van Flaminkpan gaan speel, net om nooit weer gevind te word nie. Hulle sê sy lok die kleingoed met haar skoonheid en haar lied, al dieper en dieper die water in. En wanneer die water vir hulle te diep raak, dan neem sy hulle saam na haar wêreld onder die pan. Wat sy hier met hulle maak weet niemand nie. Sommiges glo sy eet hulle, want daar is immers niks anders om te eet in die brak water nie. Ander glo sy speel oneindige speletjies met hulle saam. Hoe dit ookal sy, daar is min troos vir ʼn moeder wat haar kind moes afstaan aan Flaminkpan. Daar is min mense wat haar ooit gesien het, maar die wat het, vertel van ʼn beeldskone vrou met lang swart hare wat tot onder haar boude aan haar kleef, groot, donker oë wat to binne in jou siel kan sien en lippe soos ryp rooi pruime. Maar sy leef nie veraltyd nie. Elke vyftig jaar, op ʼn aand wanneer die maan vol is en die wintermis dig oor die ysige water kom lê, dan verlaat sy haar waterland om ʼn gepaste maat op droë grond te kom soek. En wanneer sy hom vind dans sy vir hom haar water dans, en sing sy vir hom haar verleidelikste lied. Geen man by sy volle verstand kan haar weerstaan nie. En later, wanneer sy klaar is met hom, keer sy terug na haar huis onder die stil pan waar sy wag vir die geboorte van haar dogter, altyd ʼn dogter. Dan, wanneer sy seker is dat die volgende godin van die water gereed is vir haar werk, verlaat sy die pan om in vrede êrens in die vlaktes in te verdwyn.”

“Of so vertel hulle in elk geval. Maar ek wat Sara Viviers is glo nie sommer enige ding wat ek hoor nie. Vandag se jong klomp kan maar kom met hulle yliejens en karre wat in mense verander, ek laat my nie sommer ore aansit nie. Spoke bestaan natuurlik. Maar almal weet dit tog. Jy hoef maar net ʼn rukkie hier in die Noordkaap te bly om dit te besef. Hier loop hulle, hoor. Maar wanneer ek al hierdie ander stories hoor dan is daar vir my net een reël; sien is glo. Ek was nog maar al die jare so. Dis die dat hierdie waternimf storie my so pla; want dit het gemaak dat ek aan ʼn ou man op sy sterwens bed ʼn belofte maak wat ek nooit moes gemaak het nie. Ook maar my eie skuld; my pa het altyd gesê ek gee te maklik in. maar daar is nou nie salf aan te smeer nie. ʼn Belofte is ʼn belofte. En ek wat Sara is, is ʼn gekende vrou; ʼn vrou van imborste. Ek breek nie my woord nie. En dis die dat ek nou hier sit, aan’t brei aan ʼn jersey vir my skoonsuster. Oor einste belofte.

Dit het alles begin toe ek as die jong nooi Botha verlief geraak het op die mooiste jong boer in die kontrei; Stefaans Viviers, van die Kuruman Vivierse. Almal het my natuurlik daarteen gewaarsku, oor die familie kwaal, jy sien. Want die storie is dat die hele klomp Vivierse ʼn streep weg het. Stefaans se pa was MalKoos Viviers, sy oupa was MalPiet Viviers, einste hy wat eenkeer ʼn donkie met die vuis dood geslaan het omdat die nie wou reguit loop nie. Stefaans se oupagrootjie, MalFaan Viviers, het in die tyd van die eerste wêreld oorlog ʼn fort daar onder by die koppies gebou.

“Geen Duitsman gaan my plaas kom vat nie.” Het hy gesê.

En dit was nie net die manne vir wie die malgeit kom vat het nie. Die susters was maar ook nie lêkker nie. Stefaans se antie Brakkie het eenkeer haar man se beste Sondag pak in die oond gaar gemaak vir middagete, kompleet met speserye en aartappels. Ja-nee, soos die ouderdom hulle kom vat het, het die verstand hulle gelos.

Maar ek was jonk en die hormone het vlak in my gelê. Ek wou nie hoor nie. En so het dit gekom dat ek en my Stefaans in negentien honderd en ag-en-vyftig getroud is en ek hier op die Viviers familie plaas kom huis maak het. Dit was net ek en Stefaans, Stefaans se ouer suster, Susan, haar man Josef en ou MalKoos. Stefaans se ou moeder het al jare vantevore gesterf. Ek was skaars vyftien jaar oud, en die lewe het vol opwinding voor ons uitgestrek. Malkoos het by my en Stefaans aan huis gebly, en al was hy teen daardie tyd alreeds nie heeltemaal reg nie, was hy ʼn goeie ou siel. Susan en Josef het hulle eie plekkie gehad, nie ver van ou MalFaan se fort af nie. Daar het hulle prober saaiboer speel. My Stefaans het vir hulle gesê dit sal nie werk nie. Hier in ons wêreld boer jy skaap. Dis al wat jy kan boer op ʼn plek waar die fôkol heuphoog groei. Maar Josef was hardkoppig, elke dag was hy doenig op die trekker, besig om te ploeg of eg of iets. Stefaans het hom maar laat begaan.

“Elke man leer teen sy eie pas.” Het hy altyd gesê.

Dit het goed gegaan met die Viviers in daardie jare. Ou MalKoos het nou en dan weggeraak vir ʼn paar dae, maar hy het altyd weer terug gekom, die skaap het mooi geteel, al het die droogtes en die jakkalse gepla, en die Jirre het agter ons gekyk vir als wat ons nodig gehad het. In negentien honderd en twee-en-sestig is my Jacobussie gebore. Ek sal nooit vergeet nie; die dag met sy doop het ons drie skape geslag om al die mense te voer wat kom kyk het. Tot ou MalKoos was vir ʼn rukkie normaal. Maar dit was minder as twee jaar later dat die ou man weer opslag loop wegraak het. Aan die begin het ons natuurlik nie veel daarvan gemaak nie, ons het tog geweet hy sal terugkom. Maar toe hy ʼn week later nog nie terug was nie het ek en Stefaans in die ou Fairlane afgesit polisie kantoor toe op Kuruman. Daar het ons sommer toe ook by die hospitaal gedraai om te hoor of ou MalKoos nie dalk daar beland het nie. Maar hy was nêrens te vinde nie. Die polisie konstabel het hand en mond belowe dat hulle na die ou sal gaan soek, maar in my binneste het ek geweet hulle het klaar die storie van die Vivierse geken. Dis nie dat ek met die helm gebore is nie, maar ʼn mens kan partykeer ʼn ding aan jou lyf voel. So is ons toe maar terug plaas toe. Die lêwe gaan aan. Dit help nie om heeldag te sit en top oor goete wat jy nie kan verhelp nie. As ek nou heeltemal eerlik moet wees het ek toe al klaar gemaak dat die ou man êrens in ʼn sloot gestorwe was. Ek het in elk geval my eie probleme gehad om na om te sien; Susan was klaar besig om die kluts kwyt te raak, en my Stefaans het toe ook nie die ding vry gespring nie, sy klavier het ook al ʼn paar note begin vals speel. Ek het my hande vol gehad met die twee.

Maar in die winter van negentien vyf-en sestig, net na die groot koue ʼn hele spul van die skaap kom verkluim het, het daar een dag ʼn poliesmannetjie van Kuruman homself op ons drumpel kom staanmaak. Hulle het ou MalKoos gevind… in Kimberley. So val ek en Stefaans en klein Jacobussie toe maar in die pad om die ou man te gaan haal. Dit was vreeslik ontydig met die koue en al, maar familie is familie. Maar met die aankom in Kimberley was die nuus nie goed nie. Die spul kon blykbaar nie kop of haar uitmaak van wat ou MalKoos oor aangegaan het nie, toe sit hulle hom op die trein, Pretoria toe sodat die kopdokters na hom kon kyk. Ek het die stasiebevelvoerder gevra hoekom hulle nie maar net vir ons kon wag om die man te kom terugvat plaas toe nie. Maar hy het net sy kop geskud.

“Daar’s groot fout met die man, mevrou Viviers.” Het hy gesê terwyl hy ʼn stuk papier onder my neus indruk. “Kyk net wat het hy geantwoord toe hulle vir hom vra wat sy beroep is.”

Dit was een van daai amptelike vorms, en langs die gedeelte waar “BEROEP” staan het iemand in groot lêtters geskryf:

“Profesionele Boemelaar.”

“Ons ken ou Koos goed hier in Kimberley.” Het hy gesê. “Hy pla nooit nie. Maar net altyd dronk. Maar die ding wat nou gebeur het is nie reg nie. Ons het hom nou die oggend halflyf in die Flaminkpan hier buite die dorp gekry… stokstyf gevries. Om die waarheid te sê ons het gedink hy’s dood. Maar ek dink die wyn het hom aan die lêwe gehou. En daarna kon niemand verstaan waaroor die ou so aangaan nie. Iets van ʼn watervrou en ʼn kind.”

Hy het sy kop geskud.

“Nee Mevrou. Ons moes hom so gou as moontlik by die dokters kry dat hulle kan sien wat aangaan.”

Daar was niks aan te doen nie. Ons het maar weer in die pad geval, Pretoria toe die keer. Ons het die aand sommer in die kar geslaap. Dis nou een ding van die ou karre wat hierdie nuwe goedjies nie het nie; spasie. Ek en klein Jacobussie het op die agterste sitplek van die Fairlane geslaap en Stefaans voor. Die enigste probleem het gekom wanneer Jacobussie sy doek vuil gemaak het. ʼn Mens maak nie graag jou venster in die middle van die nag in die winter oop nie, maar soms het jy nie ʼn keuse nie. In elk geval, ons het die volgende dag in Pretoria aangekom en is sommer reguit hospitaal toe. Dit was nie lank nie of hulle het ons in ʼn klein kantoortjie met ʼn groot tafel sit gemaak. Aan die ander kant van die tafel het vier kopdokters gesit, in verskillende stadiums van slimwees. Eers het hulle onder mekaar gepraat, en toe het een van hulle, ʼn maer man met ʼn grys baard en groot brille gekug (soos wanneer slim mense wil slimmer klink) en gesê:

“Meneer Viviers, ons het u vader goed ondersoek en lank met hom gepraat. En ons het tot die gevolgtrekking gekom dat hy aan ʼn ernstige geestesversteuring ly… Skisofrenie.” Hy het na die ander gekyk voor hy verder gepraat het.

“Dis nou wanneer mense dinge sien en hoor wat nie regitig bestaan nie, maar hulle glo dis eg.”

Stefaans het nie beïndruk gelyk nie.

“So dokter,” het hy gesê, “Jy sê vir my die ou man is mal?”

Die dokter het ongemaklik gelyk, maar hy het tog geknik.

“Ja, meneer Viviers. As jy dit dan nou so kras wil stel.”

Dis iets wat ek nog nooit so lekker kon verstaan nie. Ons het tog almal al die jare geweet ou Koos is mal, enige aap kon dit sien. Hoekom gaan leer mense so baie jare, en word hulle so baie geld betaal, net om vir ons te kom sê wat ons klaar weet? Dis tog nie asof die ou eers regtig mal geword het toe hulle die storie ʼn naam gegee het nie. En nog ʼn ding: vir wat noem hulle dit ʼn geestesversteuring? Daar was mos niks fout met ou Koos se gees nie, dit was sy gebreekte brein wat die probleem was. Maar ek verloor my draad. Want sien, my Stefaans was nie ʼn man wat baie gepraat het nie, maar as hy iets te sê gehad het was dit vir hom belangrik.

“Sê vir my dokter,” Het hy gesê, “Nou lat julle weet wat die probleem is, is daar iets wat julle daaraan kan doen?”

Die dokters het inkennig vir mekaar geglimlag. Jy weet mos, asof hulle iets weet wat niemand anders weet nie. ʼn Jong mannetjie met lang hare en ʼn wit jas het geantwoord.

“Skisofrenie is ʼn baie moeilike ding om te behandel, meneer Viviers, veral as dit oorerflik is. Maar daar is een behandeling wat die moeite werd is om te oorweeg… Lobotomie.” Hy het ʼn paar sekondes gewag, seker maar vir die effek.

“Sien meneer Viviers, wat ons doen is ons maak die skedel oop. Dan sny ons die gedeelte van die brein uit wat probleme gee… dis regtig nie ʼn baie groot operasies nie. En dit het al voorheen gewerk.”

Wanneer Stefaans uit ʼn stoel opgestaan het, veral wanneer hy dit met mening gedoen het, was dit in paaiemente. Hy was ses voet ses, honderd en veertig kilogram pure Noordkaap skaap boer. Die vier dokterjies het teruggestaan tot daar nie meer terug was om te staan nie. En Stefaans het in ʼn stil stem met hulle gepraat.

“Ons Viviers is miskien mal, maar as julle dink ek gaan julle toelaat om ons nog stoepid ook te maak, sit julle die pot ver mis.”

Met die is ons daar uit en in die Fairlane, terug plaas toe met ou MalKoos in tou. En dit was daar, op die agtersitplek van die kar, op die langpad tussen Wolmaransstad en Kimberley dat ek uiteindelik sy storie uit hom gekry het. Hy was blykbaar aan’t suip, êrens in Kimberley toe die ding gebeur het. Dit was in die vroeë oggend ure dat hy homself langs die pan net buite die dorp bevind het. Dis nou die einste Flaminkpan waarvan almal praat. Hy kon nie mooi verduidelik hoe hy daar beland het of hoekom nie, maar daar was hy. En skielik het hy op haar afgekom, dis nou die watervrou sien. Sy het langs die water gesit met ʼn polisiejas om haar skouers en ʼn paar oorgroot stewels aan haar voete. En sy was in trane.

“Ek was miskien dronk,” Het die ou vertel, “maar ek is altyd ʼn jintelman.” En so het hy, soos hy die storie vertel, die arme nooi te hulp gesnel. Dis toe dat sy hom haar storie vertel. Sien, dit was volmaan, en die tyd was reg vir haar om ʼn maat te gaan soek. Die enigste ding is: in negentien vyf-en-sestig, as die polisie jou in die middel van die nag sonder klere in die strate van Kimberley gekry het, het hulle jou summier gearresteer. Ek wil sê dit sal seker vandag ook so wees, maar die kinders vandag het hulle eie maniere jong. Mens weet nooit. Hoe dit ookal sy, so eindig haar soektog na die regte maat toe sommer aan die begin, in ʼn polisiesel. En dit het natuurlik nie veel gehelp dat sy aan hulle probeer verduidelik het nie, wie sou nou haar storie glo. En daar in die selle sou haar storie geïndig het as dit nie was vir ʼn polisievrou wat daar ingekom het en haar jammer gekry het nie. Die het vir haar die jas en die stewels gegee en haar laat gaan.

Ou MalKoos het blykbaar nie mooi verstaan wat die probleem was nie. Sy was mos nou vry om haar maat te gaan soek. Maar sy het oor die blink water gewys na die maan wat laag in die hemel gehang het.

“As die maan onder gaan,” het sy verduidelik, “moet ek terug wees in die water.”

Haar tyd was op. Dit was op hierdie oomblik dat ek besef het waarheen die storie oppad was.

“Wat het jy gedoen, Pa? Ek hoop nie jy’t iets onbesonne aangevang nie.?”

Die ou man het gekug en weggekyk.

“Saratjie my kind, partykeer moet ʼn man doen wat hy moet doen. Ek kon tog nie die meisie net so in haar nood los nie. In elk geval, ons het haar nodig… vir die reën en die droogtes en so.”

Ons het nooit weer daaroor gepraat nie. MalKoos het by ons aan huis gebly en die lewe het aangegaan. Dit was nie lank daarna nie dat Susan totaal van die spoor af gegaan het, en my Stefaans was kort op haar hakke. Gelukkig het ek darem vir Jacobussie gehad om te help met die plaas en so. Maar ou Josef, dis nou Susan se man, was nie so geduldig soos ek nie. Hy het gedink ʼn mens kan die mal uit iemand foeter. Die arme vrou was nou en dan pimpel en pers van sy ‘behandeling’. Ek het hom aangespreek hoor.

“Die Jirre gaan vir jou straf, Josef,” het ek gesê, “ʼn Mens slaan nie aan iemand wat klaar ʼn klap van die windmeul weg het nie.”

Hy het net gesnork en gesê:

“Moes ʼn moerse windmeul gewees het.”

Hy kon nie kla hy was nie gewaarsku nie. En so het die Jirre toe sy dinge kom straf. Trekkerongeluk. Hy en Susan was blykbaar op die lande besig toe sy beheer oor die trekker verloor en oor hom gery het. Stefaans en Jacobussie het gaan kyk. Ek kry mos floute as ek bloed sien. Stefaans het gesê die ou sou dit gemaak het as dit net die voorwiel was wat hom getrap het, maar nie die agterwiel nie. Veral nie die tweede maal nie. Susan was blykbaar so deurmekaar van die skrik dat sy die trekker in trurat gegooi het. So het sy weer oor ou Josef gery, agteruit nogal. Die arme vrou was skoon deurmekaar van die skok. Ek moes die hele dag by haar sit. Sy het nie veel te sê gehad nie. Net daar gesit met ʼn vreemde glimlag op haar mond. Van die skok sien. Dit maak so.

Na ou Josef se begrafnis het Susan ook by ons kom intrek. Ons kon haar nie so op haar eie los nie. Dit was jare later, toe ou MalKoos op sy sterfbed gelê het dat ek my in hierdie ding in belowe het. ʼn Mens kan mos nie iemand se sterwenswens van hom af wegvat nie.

“Saratjie,” Het hy gesê, “As daardie waterkind van my daar uit die Flaminkpan uitkom om te kom maat soek, gaan die nuwe wêreld van ons vir haar te veel wees. Iemand moet gaan. Iemand moet daar wees wanneer sy uitkom… om haar te help. En ek kon nie nee sê nie. Ek wou. Maar ek kon nie.

Susan is in die vroeg tagtigs oorlede, en ek het my oorlede man ook al baie jare terug begrawe. Dis maar net ek en Jacobussie wat oorbly. Die kind van my het toe mos nooit getroud geraak nie.

“Die malgeit van die Viviers stop by my.” Het hy gesê.

En nou, met die vyftig jaar van wag vir die waterkind van my skoonpa amper verby sit ek nou maar hier en brei vir haar hierdie jersey. Ja, ons sal maar moet gaan, ek en Jacobussie. Of die storie waar is weet ons nie regtig nie, maar ek is mos ʼn vrou wat by haar woord hou. Ons het laas jaar na die plek gaan kyk. Hulle het mos nou ʼn dobbelhuis daar op die walle van die pan gebou. Ons wou daar gaan eet het, maar mens moet skoene aantrek voor hulle jou laat ingaan, toe los ons maar.

Ek sal daar wees met volmaan in die winter. Net om seker te maak. Want as daardie watervrou daar kan uitkom; sopnat, kaalgat en mal soos ʼn haas, kan ek ook maar net sê soos oorle Tolla se kind die tyd gesing het…

“Hier Kom ʼn Ding…”

Die Einde

 

  • Chantal

    ʼn jersey= miskien kon jy dit eerder ” ‘n gebruide trui genoem het.
    prober= probeer
    stoepid= stupid (ek is self nie seker oor die woord nie)
    Ek kry mos floute as ek bloed sien= Ek word mos duislig as ek bloed sien. Dit klink beter.

    Die verhaal laat my dink aan die ou video-kasset wat ek onlangs gekyk het (The Disturbance), want dit het ook gegaan oor ‘n man wat skisofrenie het. Ek hou van die kennis van jou verhaal. En ek het baie van jou einde gehou.

  • Bb123jouneL123

    Ek wens ek het dit geskryf. Ken Kby en ken die pan. Pragtige streekstorie en ,-taal. Paar spelfoute en bietjie lank vir kortvethaal.

  • Casper H. Coetzee

    Hi Chantal
    Dankie vir die kommentaar. Ek verstaan die behoefte om die taal so suiwer moontlik te hou, maar ek moet hou by die realiteit dat mense, veral die mense van die Noord Kaap hul eie manier van praat het. Hulle noem dit ‘n jersie, en dit is hoe dit eintlik moet lees. (sal dit reg maak). Stoepid moet eintlik “stoepit” lees. Weereens maar soos die mense praat. (sal dit ook regmaak) Nietemin, baie dankie vir die terugvoer. Ek het sover nog net in Engels geskryf (My eerste roman kom aan die einde van die jaar uit) so ek waardeer die insette.
    Groete

  • Salmon Smith

    Goeie storie. Ek is mal oor stories met ‘n goeie tikkie humor in. Nee, altans ek is versot daarop.