DROOMWAGTER – Madeleine Venter

DROOMWAGTER – 2015 © Madeleine Venter

VOLWASSE FANTASIE (1 314 WOORDE)

 

Die afgrond is ʼn diep swart keelgat met ʼn donker maalkolk van stink, vuil water ver daar onder. Kendra gryp die klein handjie stewig vas en trek die seuntjie terug tot op die rots. Hy glimlag vir haar en trek met ʼn vrolike sprongetjie weg oor die wye, groen grasperk.

Sjoe, dit was amper.

Sy kyk om haar rond en glimlag. Kinders se drome bly haar gunsteling. Die kleure is helderder en die atmosfeer is warmer. Alles is vriendeliker. Dit ruik ook altyd na iets lekkers… koekies wat besig is om te bak… borrelbad… mamma se parfuum…

Maar die grootmense se drome ís darem bietjie meer voorspelbaar as kinders se drome. Dis óf goed of sleg. Soos die een waarin sy nou laaste was. Die ou huis, met alles wat vuil en stukkend was. Sy het geweet spoke uit die vrou se verlede skuil agter die toe deure in die gang. Die vrou was weer vasgevang, onder hulle invloed, soos toe sy ʼn kind was en nie vir haarself kon opstaan nie. Al wat Kendra moes doen was om haar by die voordeur uit te lei en te sê: “Jy is nie meer ʼn kind nie. Hulle kan niks meer aan jou doen nie. Gaan… jy is vry.”

Sy sal binnekort ʼn keuse moet maak. Haar tyd as swerwer-droomwagter is amper verby. Hierdie is haar laaste droom. ʼn Groot, geel blom draai in haar rigting en knipoog met ʼn knik in die vrolike seuntjie se rigting. Sy volg die blom se blik en glimlag by haarself vir sy uitgelatenheid. Hy hardloop laggend heen en weer en tel lekkergoed van die gras af op. Sy beter maar nader gaan. Kinders se drome is ook die gevaarlikste. Nagmerries duik skielik op. Jy kan hulle nie sien kom soos in die grootmense se drome nie. Hulle maak of hulle deel is van die droom…

Sy draai om en kyk verdag na die blom. Hy knipoog weer vir haar.

Lyk veilig, maar hou ʼn oog op hom, besluit sy.

“Ek bêre hulle in my sak!” roep die seuntjie na Kendra.

Hy is al klaar weer oor die volgende heuwel. Sy sal moet spoed optel om by te bly.

“Ek sal hulle eet as ek wakker word!” roep hy oor sy skouer en gaan staan dan skielik.

Sy haal hom in en gaan staan langs hom. Hy staar af na sy voete en sy kyk ook af. Die gras begin beweeg. Kriewel en krul soos ʼn spul wurms om hulle voete. Hy trek sy asem skerp in. Kendra tel hom op en begin hardloop. Sy sak met elke tree enkeldiep in die hoop wurms in. Hulle is nou oral. So ver as wat sy kyk krioel dit. Die helder blou lug het ʼn skemer-rooi geword. Alles is weg. Die laggende blomme. Die lekkergoed bome. Presies dit waarvoor sy bang was, het nou gebeur. Die nagmerrie het haar onverhoeds betrap. Nou moet sy so gou as moontlik ʼn pad uit kry. Dit raak al hoe moeiliker om te hardloop en sy begin al hoe dieper wegsak.

Die wurms is nou tot by haar knieë.

Die seuntjie probeer met al sy mag skree, maar daar kom geen klank by sy mond uit nie.

Tot by haar heupe.

Waar’s die pad uit? Daar’s altyd ʼn pad uit.

Die hoop wurms begin wegsak onder haar. ʼn Draaikolk. Al hoe vinniger en vinniger in die swart keelgat af saam met die stink, vuil water.

Sy’t as droomwagter gefaal.

As hy nou wakker word bly sy agter in hierdie nagmerrie en moet sy wag totdat ʼn ander droomwagter haar kan kom uithaal. Blykbaar nooit ʼn goeie ding nie.

Sy lig hom bokant haar kop terwyl sy dieper in die draaikolk wegsak. Skielik word hy ligter. Sy kyk op. Hy het aan ʼn lang slap rankplant gegryp en klou nou vir al wat hy werd is. Sy probeer strek om ook aan die rank te gryp, maar sy kan dit nie bykom nie.

“Klim!” skree sy vir hom.

Hy knik vasberade en begin teen die rank opklim.

Na ʼn ruk stop hy en roep uitgelate: “Kyk! Ek kry dit reg! Juffrou sê ek kan nie teen die tou opklim nie, maar ek kan!”

So skielik soos wat die maalkolk verskyn het verdwyn dit onder haar voete. Sy staan weer op die sagste groen grasperk. Die seuntjie is nou besig om teen ʼn groot rots op te klouter. Aan die bokant wag sy ma met uitgestrekte arms en ʼn trotste glimlag op haar gesig.

“Mamma! Ek het dit reggekry!” roep hy uitgelate “mamma het jy gesien?” Mamma…”

Hy verdwyn in haar arms in.

Kendra sak verlig op die gras neer. Sy weet nie regtig wat gebeur met droomwagters wat faal nie maar sy weet sy was baie naby daaraan om uit te vind.

“En,” praat iemand skielik reg by haar, “wat is jou keuse?”

Kendra draai in die rigting van die stem en steier verskrik terug. Dis die blom wat netnou vir haar geknipoog het. Sy kyk verbaas om haar rond. Wat gaan aan? Alles is dan nog presies dieselfde. Die lekkergoedbome, die helder blou lug. Is die seuntjie dan nog nie wakker nie? Sy spring op en begin angstig na hom soek.

“Kendra, wat maak jy?” vra ʼn ander blom waarby sy verby draf.

“Ek moet hom kry,” antwoord sy paniekerig, “voor daar weer iets gebeur!”

Sy kyk op na die rots waarteen hy opgeklim het met skrefies oë en haar hand beskermend teen die skerp lig aan die bokant. Dalk is hy nog daarbo. Sy begin teen die rots opklim. Dit word ʼn krans. Ver onder haar is die afgrond weer ʼn diep swart keelgat.

“Wat maak jy Kendra?” vra die diep swart keelgat, “waarheen gaan jy?”

Is dit dalk ʼn toets? Wonder sy. Moet alle swerwer-wagters self probeer om uit hulle laaste droom uit te kom? Die krans word al hoe steiler en die vastrap plekke kleiner. Dan ruk die krans skielik onder haar. Soos ʼn groot hand wat haar probeer afskud. En sy val. Sy tol in die rondte, soos die draaikolk van stink, vuil water terwyl die swart keelgat se lag al hoe harder en harder word. Sy probeer skree maar geen klank kom by haar mond uit nie. Dan tref sy die water met ʼn oorverdowende slag. Dis oral om haar. Sy is besig om saam met die vuil, stink water in die swart keelgat ingesuig te word.

Dan kry iemand haar skielik stewig aan die arm beet en trek haar uit die maalkolk uit. Sy maak haar oë oop en spring verskrik op. Hygend.

“Jy’t weer met jou kop onder die komberse geslaap,” sê André en trek haar nader aan hom,” is jy oukei?”

Sy laat sak haar kop op sy skouer en sug verlig. Die son glinster al helder deur die gordyne en die voëltjies sing buite. Sy is in haar eie bed, in haar man se arms.

“Ek het ʼn nagmerrie gehad,” sê sy, “ʼn aaklige nagmerrie…”

“Toemaar, dis nou verby, jy’s wakker,” glimlag hy en vee haar deurmekaar kuif uit die pad, “kyk, ek het vir jou koffie gebring en ʼn geel Magrietjie uit die tuin,” sê hy met ʼn trotse knik in die bedkassie se rigting.

Kendra tel die beker stomende koffie op en sug: “Sou dit nie wonderlik gewees het as daar droomwagters was nie?”

“Droomwagters?”

“Ja, iemand in elke droom wat moet sorg dat dit nie in ʼn nagmerrie verander nie,” antwoord sy, “ek wens daar was so iets soos droomwagters.”

André skud sy kop en lag: “ja, dit sou nogal gaaf gewees het as daar so iets was, maar intussen moet jy maar net sorg dat jy altyd langs my lê sodat ek jou uit die nagmerries uit kan red.”

“André, my eie persoonlike droomwagter…” sê sy met ʼn speel-speel saaklike stem en glimlag vir die geel blom wat skelm vir haar knipoog.

  • Joe Botha

    Baie knap gedaan! Die beskrywings is raak, die spanningslyn is goed en die reëls wat die droomwêreld aanmekaarhou kom duidelik uit. Verder is dit ‘n lekker filosofiese breinknoper wanner ‘n mens agterkom die seuntjie se droom is eintlik die droomwagter se eie droom, al is dit in ‘n ander baadjie.

    Die taalgebruik en stilistiese toepassing is ook ver bogemiddeld – die werk van iemand met óf baie aanleg óf baie ondervinding – bes moontlik albei. Daar’s net twee typo’tjies: ly/lei en kriool/krioel.

    Topklas-verhaal. Ek sou graag meer van jou werk wou sien!

  • Chantal

    Ek stem saam met Joe Boha. En jy weet presies hoe om ‘n kortverhaal te skryf!

  • Karin Muller

    Pragtig geskryf! Jy hou die leser gevange tot op die einde. Jou beeldspraak is oorspronklik en dit verleen ekstra diepte aan die verhaal. Hou so aan!