FLIKKIE LAG WEER – Tanita Da Silva

 FLIKKIE LAG WEER – 2015 © Tanita Da Silva

JEUGFANTASIE (1 685 WOORDE)

 

Karakters:
Seediertjies:

  • Seesterre (Flikkie, sy ma en pa, en die seester-tweeling)
  • Juffrou Seekat
  • Seeperd (Perdstert)
  • Seemossel (Moskos)
  • Seeslak (Slakpas)
  • Seeboon  (Boonkop)
  • Seekomkommer
  • See-egel

Eerste skooldag:

Die seediere is uitgelate. Almal is opgewonde.Vandag is die eerste skooldag.

Skulpbaai wemel van die laggende gesigte. Hier en daar is ook ʼn paar Huilie-Puilies.

Flikkie, die seester, hang eenkant in ʼn rotshoek rond. Hy is skaam en bang.

Dit is so lekker by Mamma-hulle. Hulle poeletjie is warm en snoesig.

Dié water voel vreemd en koud. Hoekom moet diertjies skoolgaan?

Miskien kan hy weg swem, dink hy. Dan kan hy die hele dag by Krappie-hulle gaan speel. Hy is net op pad toe ʼn harde geluid hom stop.

“Sku-lip, sku-lip…”

“Dis die skulpklok!” roep Perdstert hardop uit.

Flikkie sien hoe Moskos, Slakpas, Boonkop en die seester-tweeling vinnig na hulle nuwe waterklas toe swem. Perdstert draai terug. Hy trek Flikkie aan een van sy ses punte. Dit gaan stadig, want Flikkie gryp aan elke stukkie seewier. Flikkie is in trane. Nou is hulle nog laat op die eerste dag ook. Juffrou Seekat stel hulle aan die ander maatjies voor. Sy lyk vriendelik, dink Flikkie. Kyk net haar blinke oë!

Pouse speel almal buite. Flikkie is alleen. Hy kyk oral rond, maar sien nêrens sy maatjie nie. Hy en Perdstert is beste maatjies van altyd af. Waar sal Perdstert tog wees, wonder hy.

Flikkie speel nie saam met die ander nie. Die ander seesterre het almal vyf punte, sien hy. Hy sien hoe Moskos al kouend vir die ander wys.

En ewe skielik kyk almal na Flikkie. Hulle bars uit van die lag. Hope borrels bons op en af bokant die oppervlakte. Hy wens hy kon diep onder die blou-blou water verdwyn.

Elke keer as hulle verby hom swem, lag hulle al te lekker. Dis omdat hy al seester hier rond met ses punte is, dink Flikkie hartseer.

Perdstert kom vinnig aangeswem. Flikkie is baie bly om hom te sien.

“Hou dié tot môre,” sê Perdstert uitasem terwyl hy ʼn goue ring om een van Flikkie se punte haak.

Flikkie vra nie uit nie. Sy trane stroom saam met die water in die poel. Hy klou die ring met die een punt en klou aan die seegras met sy ander punte.

“Dis ʼn geheim,” sê Perdstert terwyl hy Flikkie trek en trek.

Weer ʼn keer laat in die klas. Juffrou Seekat swem in sy rigting. Nou gaan sy vreeslik kwaad wees, dink Flikkie. Sy gaan nou sê, “Flikkie, jy’s nie meer ʼn baba nie. Ruk jou reg!” Flikkie is nou banger as bang. Hy klou aan sy rotsie met alle mag en krag.

Juffrou kom nader. Haar oë blink soos diamante. Saggies vryf sy oor sy rug.

“Van môre af sal dit sommer baie beter gaan,” belowe sy.

“Dis in die haak om soms bietjie treurig te voel,” troos sy. Flikkie sluk swaar aan sy trane. Hy kyk braaf op in Juffrou se blink oë.

Die ander klasmaats trek lelike gesigte vir hom. Hulle gaan hom aanhou terg, want hy gaan altyd ses punte hê.

Die skool is uit.

“En hoe was jou eerste dag?” wil mamma Vonkel weet.

Flikkie bly doodstil.

“Het jy jou stem verloor, ou seun?” probeer pappa Bonkel. Flikkie sê nie ʼn woord nie.

Hy begin hardop snik.

“Hoe… Hoekom het julle m-mmy nie gesê nie,” huil Flikkie.

“Wat’s verkeerd, diertjie?” wil mamma Vonkel dadelik weet. Sy omsingel hom.

“Hoekom het ek s-sses punte, Mamma?” vra hy in ʼn snik- stemmetjie.

Hy steek sy sesde punt onder hom weg sodat net vyf gesien kan word.

“Dis omdat jy so spesiaal is. Jy is mamma Vonkel en pappa Bonkel se lieflikste en enigste babasterretjie. Ons is baie, baie lief vir jou,” troos sy mamma.

Hulle deel hulle Glukkel-drukkie. Albei druk hom vas. Mamma Vonkel en pappa Bonkel se punte haak in mekaar. Flikkie is in die middel. Sy drie punte haak aan sy mamma en die ander drie aan sy pappa vas.

“Die klasmaats het heeldag vir my gelag,” sê Flikkie. Mamma Vonkel gee hom ʼn papnat soen. Die aand sing sy hom aan die slaap. Hy droom al te lekker, terwyl hy op sy sandkussing lê.

Sy klasmaats swem in ʼn kring om hom. Dis net borrels en skuim wat jy sien.

Vroeg die volgende oggend is Flikkie wakker. Wat ʼn snaakse droom? Hy voel skoon bewerig. Dis seker nou soos Jellievis elke dag voel, dink hy. Hy sluk net ʼn bietjie van die heerlike seeblaarbredie-pap.

Mamma Vonkel en pappa Bonkel gee hom elk twee lekker souterige perlemoensoene.

Op sy tyd swem hy skool toe. Hy kyk rond, maar Perdstert is nêrens te siene nie. En wat nou van die ring, wonder hy. Hy kan nie eens onthou wat Perdstert van die ring gesê het nie. Vandag moet ek maar alleen skool toe swem.Juffrou Seekat is darem baie slim. Sy weet ALLES. Gou-gou ken die klas hule eerste rympie:

“By my rotsie leer ek graag.
Ek ken die antwoord op elke vraag.
Ek kan speel en vinnig swem
Ek kan kleef en stewig klem
Hier geniet ek elke dag
Wonder net wat môre wag!”

Dis storie tyd.

“Wie het ʼn vragie vir vandag?” wil Juffrou weet. Almal wil. Maar daar is net vir een vraag kans.

“Reg Flikkie, vandag is dit jou beurt,” nooi Juffrou hom vriendelik uit.

“Weet Juffrou dalk waar Perdstert is?” vra Flikkie. Hy klou die goue ring met sy een punt vas. Niemand kan dit sien nie.

“Ek weet nie. Weet enige een van julle?” wil Juffrou bekommerd weet.

Die maatjies kyk verbaas rond. Juffrou tel hulle.

“Na eerste pouse gaan ons vir ʼn swemtog,” stel sy voor.

“Ons gaan rondswem en meer van die see leer.”

Die wit skuim borrel tot voor by Juffrou se rotsbord soos die spannetjie opgewonde rondspartel. Juffrou swem voor. Hulle swem twee-twee in stilte agter haar.“Julle is goeie swemmers,” prys sy hulle.

“Daar oorkant bly Perdstert-hulle,” roep Flikkie opgewonde uit. Hy wys na die grys rotshuis. Die maats kyk hom kwaai aan. Nou gaan hy seker moeilikheid kry, dink hy. Juffrou sê niks. Voor Perdstert-hulle se rots stop Juffrou.

“Julle wag net hier. Ek is in minder as tien tellings terug,” belowe sy.

Hulle tel stadig en sag tot by tien. Daarna tel hulle weer tot by tien. En weer… Hulle kyk bekommerd rond.

Flikkie wys vir hulle dat hulle nie moet roer nie. Hy swem geluidloos na Perdstert se rotskamer. Dis aan die agterkant. Hy loer deur ʼn lang kraak in die rots.

Flikkie sien die geheime hoekie in Perdstert se kamer. Dis waar hulle altyd in sy kamer wegkruip. Wie ook al inkom kan hulle nie van die deur af sien nie.

Perdstert se oë beweeg wild en woes, maar hy bly op een plek. Hy kan hom glad nie draai nie. Toue groen seestingels hou hom stewig teen die rotswand.               

Miskien kan hy die seester-tweeling vra om hom te help, dink Flikkie.

Hulle kan hulle punte aanmekaar haak en ʼn lang ketting maak. Dan kan een van hulle Perdstert los kry. Hy swem dadelik terug.

Wat het van almal geword? Daar is nie eens ʼn seespoor nie. ʼn Sterk stroom trek hom na die een kant. Met drie punte kleef Flikkie aan die naaste rots. Later moet hy nog twee punte gebruik. Met die ander punt klou hy die ring vas.

Die stroom word stiller, maar hy hou nog vas. Ver bokant hom sien hy bekende figure.

Dis waar die ander verdwyn het. Hulle tuimel een vir een in ʼn groot vangnet. Hy skree, maar weet dat hulle hom nie kan hoor of sien nie.

Hy kyk af. Die ring is nog veilig. Hy swem ʼn entjie nader. Ag nee, hulle het weer verdwyn. In die ring sien hy iets beweeg. Dit lyk soos Juffrou se oë. Sy sê iets. Hy kan nie hoor nie. Hy kyk na die ring. Haar mond is eers rond en dan lyk dit weer asof sy lag. Skree sy dalk “gooi”of “mooi”… of “rooi”? Wat is rooi? Of wat moet hy gooi?

Die ring?

Die stroom word weer sterker. Hy klou aan die naaste rots en gooi die ring stroom-op.

Juffrou vang dit met haar een tentakel. Die ander klasmaats klou aan die juffrou.

Sy glip soos ʼn dolfyn met ʼn boog uit die wit net. Sy is vinniger as die stroom. Hulle skiet op en op en op. Die ring bly in die net agter. En die stroom word stil.

Waar is hulle nou? Dan bars die klomp bokant die wateroppervlak. Hulle vorm ʼn kring om hom.

Perdstert se ma en pa en sy twee babasusters is ook by. Hulle lyk bekommerd.

“Ek weet waar Perdstert is,” sê Flikkie. Die ander volg hom. Juffrou maak Perdstert los. Al huilend vertel Perdstert sy storie. Hy het die ring opgetel en wou niemand daarvan sê nie. Flikkie is al een wat hy vertrou het. Hy het alleen verder geswem om te kyk of daar nie nog blink goed is nie. Die volgende oggend het hy hom verslaap.

Van haastigheid om klaar te maak vir skool het die seestingels hom vasgedraai. Sy ouers het gedink hy is by die skool.

Die groepie swem luidrugtig terug klas toe. Almal vra honderde vrae aan Flikkie.

Hy is later so moeg. Juffrou help ook antwoorde gee. In die klas tel Juffrou hulle weer.

Almal is daar.

“Wat het jy vandag geleer?” vra Juffrou vir Perdstert.

“Om nie iets op te tel en te vat nie en om…” praat Perdstert met ʼn dun stem.

“En wat het die ander maats geleer?” vra sy weer.

“Flikkie! Flikkie! Flikkie!” skree hulle sy naam. Die wit skuim is nou die hele klas vol. Hulle gly, speel en gooi mekaar met skuimballe. Juffrou speel saam.

Almal is stil toe die skulpklok lui.

“Julle tuiswerk vir môre is…” Hulle wag in spanning vir die tuiswerk.

“Elkeen moet ʼn storie vertel oor…” maak Juffrou hulle nuuskierig.

“…aan wie julle dink die goue ring behoort het.”

Flikkie kan nie wag om alles vir sy ma-hulle te vertel nie. Hy weet nou hoekom hy spesiaal is. Sy kop is so vol idees, want hy het alreeds ʼn storie. Hy hoop Juffrou vra hom om môre eerste te vertel. Hy kan nie wag vir skool nie.

  • Chantal

    Baie oulik hoor!

  • Chantal

    As jy illustrasies kan bysit by die verhaal, en dit in ‘n kinderboek verander. Sal jy dit dalk by ‘n uitgewer gepubliseer kry. Die boek sal geskik wees vir 7-9 jaar. Miskien moet jy hieroor dink.