GEMMERBROODMAN 0001 – Ilse Goschus

GEMMERBROODMAN 0001 – 2015 © Ilse Goschus

JEUGFANTASIE (2 320 WOORDE)

 

“In standvastige elegansie troon die berg oor stad en oseaan. Dit is ʼn bekende baken vir die vele skepe, seiljagte en vliegtuie wat by die Moederstad aandoen of verby vlieg – al eeue lank,” dink hy.

Jan Pienaar (50), ʼn vrygesel en alleenloper, staan op die bloue trots van die Kaap – Tafelberg. Hy hyg na sy asem, maar al die moeite was nie verniet nie. Bergklim is sy ding – dit voed sy siel. Hy gaan sit op ʼn plat klip en neem die voortdurende veranderende natuurtoneel om hom waar.

Die son verdwyn in rooi fragmente agter die oseaan. Die rooi horison is so gepas op hierdie liefdesdag, (Valentynsdag), 14 Februarie 2015. Liefde ontglip hom telkemale. Hy het vrede gemaak daarmee. Sy nuutgevonde passie is bergklim en sy talent, die ding waaroor hy nie sommer praat nie.

“Jy het ʼn talent,” het ʼn stem in die wind eendag lank gelede in sy kop gefluister. Jy kan die hede, die verlede en die toekoms sien op ʼn ongewone wyse en jy beskik oor die vermoë om die boodskappe in diepte te kodeer. Jy is geseënd. Jy moet die talent gebruik om dit wat verborge is vir die gewone mens, aan die lig te bring.”

Jan het onseker aan sy bles gevat en die ronderaambrilletjie reg op die punt van sy neus laat balanseer, gesnuif en die vertes ingestaar.

“Dit is seker so,” het hy by homself gedink.

“Jy is met die helm gebore. Jy sien twee kante toe. Die toekoms in en terug die verre verlede in,” het sy oorlede ma immers ook gereeld gesê.

“Sekere goed hou mens maar diep in jou kop en diep in jou hart,” het hy besef. “Dit kan net onenigheid veroorsaak. Die lewe skiet te vining by mens verby – daar’s nie tyd vir onenigheid nie.”

Jan kry nou ʼn veraf uitdrukking in sy blou oë as die laserstraal oë van sy siel nou verby die wit deurmekaar branders op die see kyk en verby die horison en dan ver verby die tydperk van die dinosourusse. Sy blik kom stelsematig tot stilstand in ʼn ander dimensie – diep in die kraters van die aarde, daar waar ʼn smeltende ystermassa kolk.

Langs die smeltende kookpot van gasse, staan twee geboë wesens, bronskleurig van aard.

Die koppe is sfere, die grootte van ʼn sokkerbal en bestaan uit gasse wat vinnig in bondels rooi en goudkleurige bewegende molekules teen mekaar baklei, soos strome in ʼn oseaan. Die lywe bestaan, soos dit vir hom lyk, uit ʼn gasraamwerk. Hy neem elke stukkie detail noukeurig waar. Hy onderskei – twee arms en bene (reghoekige uitsteekels). Die bene is langer as die arms. Die ongewone ledemate bestaan uit gasse wat opsigtelik in rooi en goud deur die raamwerk borrel en bots. Die gasse beweeg op ʼn georganiseerde wyse van links na regs. Die twee figure is as’t ware twee beweeglike gasmassas.

Jan Pienaar dwing die oë van sy siel om dieper en indringender na die toneeltjie wat ver in die verlede aftpeel, te kyk.

Die groter figuur vroetel met ʼn graaf in die vuurmassa, voor hom in die krater.

“Manlik!” glip die woorde in Jan kop. “Die een is manlik.”

Die ander figuur buig nou af, nader aan die warm, vulkaniese kookpot voor hul voete. Die een se bewegings is ietwat meer soepel.

“ʼn Replika van die eerste. Vroulik,” besef hy weereens “Een ding is anders. Die helm en lyf is brons, maar die gasse in die gesig is silwerkleurig met rooi wat die hitte binne die mengelmoes van beweging, weerkaats. Die een laat hom dink aan die volmaan, wat vroegnag laag en groot aan die donker hemel kleef.”

“Die temperatuur is net reg,” fluister die vroulike een in ʼn skor, robotagtige stem.

Jan kan ook hul taal kodeer.

“Hoe lank begeer ek nie al my eie spruit nie,” gaan sy voort. “Die geleentheid bly my telkens ontwyk. Nou skep ons ons eie, uit die rykdom van die aarde en uit die minerale om ons. Ons bak hom in die oond van verwagting en op die hellevuur van vernietiging! Binnekort kan ek hom teen my ysterboesem vasdruk – my eie seun. Dit sal gebeur presies soos dit sal plaasvind in die toekomstige sprokie – Die Gemmerbroodman.”

Jan se kop kry dit egter weereens reg om betekenis aan die klanke te heg.

“Wag Ferreur,” beveel die manlike een ook op robotagtige wyse. “Laat ek hom opskep met die ystergraaf wat hier langs my lê. Ons wil nie hê dat die vuur ons babaseun totaal vernietig nie. Kyk, die gasse borrel nog steeds rooi in sy wese.”

“Ag, hy’s te pragtig. Hy’s ʼn replika van jou,” roep Ferreur met deernis uit. “Uit liefde gebore op Valentynsdag!”

“Kyk net… sy hart! Dis daardie dieprooi vuurkol aan die linkerkant van sy bors. Dit pols ritmies as die gasse deur die lewensgewende orgaan beweeg,” roep Titanius weereens in verwondering uit.

“Skep hom uit, Titanius!” beveel sy. “Hy sal gou afkoel in die stormsterk Suid-Ooster.”

Sy reik haar hande uit om haar seun van die graaf af te haal, want hy is deurgebak. Haar vingerpunte raak meteens dunner en langer en kouer as sy dit onder haar kind se warm ysterlyf inskuif. Sy vuurlyf brand haar vingers.

“O die pyn!” roep sy as haar vingers smelt.

Hy is egter te vinnig vir haar. Hy spring van die vuurwarm graaf af, verander van koers en hardloop sommer deur haar hart en klim dan op teen die steiltes van die diep skeur in die aarde, na die kruin van Tafelberg.

“Jy hardloop dan deur my hart, my liefste seun,” snik Ferreur ontsteld en geskok. “Ek het jou met liefde geskep en met geduld. Ek het baie opgeoffer om jou te produseer. Ek het my minerale met jou gedeel. Ek het selfs my hande vermink in die proses, net om jou geboorte, my seun, te bewerkstellig. Kyk na die letsels op my vingers!”

“Julle’s oud. Ek is pasgebore. Ek moet die lewe sien. By julle sal ek net verveeld wees – die generasiegaping is veels te groot. Vergeet van my. Dankie egter dat julle geboorte gegee het aan my, maar nou is dit ongelukkig… ‘Tot siens!’ Ek het ʼn lewe om te leef.”

“Vrou, dis wat kinders doen. Hulle breek ouerharte!” antwoord Titanius sag en gebroke. Sy liggaam is skielik geboë.

Hul eersgeborene sing: “Ek hardloop so vinnig as wat ek kan, want ek is die kragtige gasman. Julle kan op jul koppe staan… Julle kan my nie vang nie. Ek is die jaar 0001 se weergawe van die toekomstige, Gemmerbroodman.”

“Stop! Stop!” skreeu Titanius en Ferreur desperaat in ʼn poging om die uitkoms te verander.

Hulle hardloop agter Magnesius aan. Magnesius bereik uiteindelik die kruin van Tafelberg. Hy hardloop verby ʼn wilde haas.

“Stop! Stop! Ek wil jou eet,” roep die wilde haas. “Ek benodig jou minerale.”

Magnesius verander van koers en hardloop met sy warm ysterlyf oor die wilde haas se stert.

“Jy het my stert vernietig,” skree die haas geskok en in pyn.

“Dit is presies wat die spesie homo-sapiens, (die mens) eendag sal doen,” roep Ferreur wys uit. “Hulle sal die diereryk vermink en vernietig sodat daar niks oor is vir die toekomstige geslag nie. Hulle sal die wilde diere jag, en wolkekrabbers bou in en om die habitat van menige Suid-Afrikaanse flora en fauna. Dit is wat hulle sal doen.”

“Ferreur en Titanius en die haas hardloop hygend agter Magnesius aan. Hulle is oud en hy het die soepelheid van ʼn pasgeborene. Die haas verloor meer en meer bloed oor sy afgebreekte stert.

“Ek hardloop so vinnig as wat ek kan, want ek is die kragtige gasman. Julle kan op jul koppe staan… Julle kan my nie vang nie. Ek is die jaar 0001 se weergawe van die toekomstige, Gemmerbroodman,” tart Magnesius.

Ferreur, Titanius en die haas hardloop al hoe stadiger en stadiger agter hul seun aan.

Magnesius hardloop verby ʼn bobbejaanwyfie, wat berg-af hardloop. Haar baba op haar rug, klou styf vas aan haar bolyf.

“Stop! Stop! Ek wil jou eet!” roep die bobbejaan. “Ek benodig jou minerale.”

Magnesius gryp die bobbejaan se kleintjie in die hardloop so vinnig as wat hy kan, terwyl hy ook berg-af mik.

“Haai! Kom terug! Gee my baba terug! Jy het my baba gesteel!” skree die bobbejaan wanhopig en gebroke.

“Dis presies wat die mens eendag sal doen,” antwoord Titanius in ʼn hees stem. “Hulle sal ander mense se kinders steel en ontvoer. Hulle sal ouerharte breek en kinderlewens verwoes. Hulle sal kinders verkoop vir geld, vir seksuele misdrywe gebruik en vir goedkoop arbeid. Die kinders sal net gedagtes in hul koppe raak. Die verlange, na wat-kon-wees (ʼn gelukkige lewe saam met hul kinders), sal die ouers vernietig op emosionele vlak en hul bokse pille laat sluk en in inrigtings laat beland.”

Ferreur en Titanius, die haas en die bobbejaan hardloop hygend agter Magnesius aan. Die botsings van die molekules in die gasraamwerk van die ouerpaar se liggame is nie meer so vurig nie. Die koperkleur is nou ʼn floue silwer in beide se gaslywe.

Bobbejaan gryns gevaarlik as haar geel tande hul wreedheid vertoon. Sy hardloop verby Titanius, Ferreur en die haas en neem die voortou in desperaatheid en in ʼn poging om die bobbejaantjie terug te kry. Na ʼn wyle raak haar voetslag stadiger en stadiger. Die hulpeloosheid van die situasie en nou die terneurgedruktheid, verhinder haar om haar doelwit te bereik.

“Ek hardloop so vinnigg as wat ek kan, want ek is die kragtige gasman. Julle kan op jul koppe staan… Julle kan my nie vang nie. Ek is die jaar 0001 se weergawe van die toekomstige,Gemmerbroodman,” terg Magnesius singend.

Magnesius verorber die klein bobbejaanjie. Die bobbejaan huil kliphard van die verdriet.

Magnesius hardloop verby ʼn olifant.

“Stop! Stop! Ek wil jou eet!” roep die olifant. “Ek benodig jou minerale.”

“Ek hardloop so vining as wat ek kan, want ek is die kragtige gasman. Julle kan op jul koppe staan… Julle kan my nie vang nie. Ek is die jaar 0001 se weergawe van die toekomstige, Gemmerbroodman,” sing Magnesius vir die soveelste keer.

In die verby hardloop, ruk Meganius die olifant se ivoortrots uit sy liggaam uit.

“Eina! Eina! skree die olifant van die pyn! Jy het my ivoortande gesteel.

Die bloed drup in groot poele agter die olifant aan terwyl hy agter Manesius aanhardloop. Sy treë raak al hoe korter en sy asem hyg terwyl sy oë omdop.

“Dis nog ʼn vernietigende daad wat die mens eendag sal uitvoer op die pragtige aarde van ons, hier in Suid-Afrika,” voorspel Ferreur in ʼn tipe roggelstem. Hulle sal olifante vernietig vir hul ivoortande. Hulle sal die pragdiere, terwyl lewend, van hul ivoorskatte beroof – vir geld! Hulle sal doodgaan weens oormatige bloedverlies; die pyn sal oorwelidgend wees. Hulle sal uitgeroei word en…

In die hardloop gooi Magnesius die swaar ivoortande ʼn entjie verder neer op die grond.

Titanius, Ferreur, die haas en die bobbejaan en die olifant is nou net klein, stil hopies op die horison as Magnesius na ʼn lang tyd van hardloop, omkyk.

“Aa…” dink hy bly. “Van verdriet en oormatige bloedverlies het hulle gesterf. Dis nou net ek. Ek is vry. Ek het myself verlos van die gevangeneskap waarin ek my sou bevind as ek Titanius en Ferreur se kind sou opgroei.”

Hy bereik nou die see aan die voet van Tafelberg. Die branders klots op hierdie stadium, kalm en rustig in skakerings van blou teen die rotse hieraan die voet van die oeroue berg.

“O genugtig, wat nou?” wonder Magnesius. “Ek kan nie omdraai nie. Dit wat agter my lê, is die verlede. Ek is besig om die toekoms tegemoet te hardloop. Die see hou my nou terug van my drome. Die water sal my vernietig. Hier is nou niemand wat my kan help nie. Die wat my wou help, het ek vinnig uit my lewe gedryf. Hulle lê nou in stil hopies op die horison. Ek bid vir ʼn uitkoms.”

Sodra hy opkyk, sien hy ʼn veelkleurige boot, reg in die vlak waters, teen die berg.

“Dis ʼn reënboogboot,” besef hy bly. “Die boot het die kleure van die reënboog en dit spel voorwaar geluk. My gebede is verhoor! “Ek sal met my gaslyf maklik hier van die land af tot in die boot kan spring. Een… twee… drie…”

Magnesius trek sy gasasem diep in en spring so al wat hy kan in die boot in. Hy slaag in sy doel.

“Ha-ha-ha,” laat die seekat van hom hoor as hy Magnesius dieper en dieper die water intrek en van die gasmolekules stelselmatig doof. “Slim het sy baas gevang. Jy, Magnesius, het uit paniek, illusie vir die waarheid aangesien. Ek het my vaardighede van vermomming en intellek gebruik om jou hoogmoedigheid tot ʼn kortstondige einde te bring. Jy klim toe in die sogenaamde reënboogboot van verwagting, maar al die tyd klim jy toe in die tentakels van ʼn alomteenwoordige seekat met sy eie plan. Jou lewensiklus op aarde was kortsondig en die doel van jou bestaan? Mmm… dalk ʼn lewensles?”

“Pasop! ʼn Vissersnet!” skree Magnesius met gemengde gevoelens. “Lyk my dis waar. Slim het sy baas gevang.”

“Waarheen nou?” skree die seekat benoud.

”Die toekoms in saam met ons,” grynslag Titanius en Ferreur.

ʼn Uur later…

(“My visie en hierdie sprokie, het my siel verryk op hierdie liefdesdag,” dink Jan Pienaar tevrede. Ek sal dit met my nageslag deel.)

Hy staan op van die plat klip op die kruin van Tafelberg. Die skaduwees kruip nou stadig, maar seker oor die berg. Sy knieë is effe styf van die lang sit. Hy skud sy kop, knip sy oë en staar vir ʼn kortstondige tydperk die vertes in. Vinnig maak hy dan sy ronderaambrilletjie skoon met ʼn spierwit sakdoek. Hy druk die bril terug op sy neus, gereed om die terugtog berg-af aan te pak.

Skielik glip onverwagte beelde in sy kop in.

Hy gaan sit weer op die plat klip, vat-vat aan sy ronderaambrilletjie en ervaar die onverwagte terwyl die nagskemer daal.

  • Theo Claasens

    Aangrypend.

  • Chantal

    Ek het hierdie kortverhaal baie geniet! Baie oorspronklik en beeld die aarde se probleme goed uit. Hou so aan!

  • Salmon Smith

    Baie goeie verhaal Ilse. Ek beveel dit aan.

  • Marilise Hammond

    Wow, Nog `n goeie verhaal, ek het dit regtig geniet. Hou aan met die goeie werk!

  • Johanna

    Gemmerbroodman 001 – baie, baie goed, Ilse Goschus. Die reënboog boot dalk ‘n heenwysing na ons huidige moontlike eindbestemming in SA? Al die rykdom van minerale in die vergryping van wellustige seekatarms die ondergang kan beteken…