I.K. – Ockert J. Du Preez

I.K. – 2015 © Ockert J. Du Preez

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 629 WOORDE)

 

“Wat? Dit kan nie wees nie! Verlede jaar was sy I.K. 132 en nou is dit 136. Laat hy weer die toets doen”

Die senuagtige eerstejaartjie vlug uit dokter Wasserman se kantoor.

“Meneer Vermeulen, kom in.”

Jakob hou van hierdie meisie se vriendelike glimlag, maar hy kan agterkom aan haar fyn effens bewerige stemmetjie dat sy ongelukkig is.

“Dokter Wasserman het gesê dat jy weer die I.K. toets moet aflê, want hy dink daar is fout met my wiskunde, ook al is ek baie goed daarmee… Maar in elk geval, jammer oor my uitbarstinkie. Sal jy omgee om weer die toets af te lê asseblief?”

Jakob neem die toets en haal sy pen uit sy geel hemp se bosak uit, terwyl Pauline uit die vertrek beweeg.

Dis elke jaar se flippen storie! Pleks kyk hulle na hul rekords!

Twintig minute gaan verby en Pauline kom met haar klein pieperige lyfie ingestap.

“En, hoe vorder jy?”

“Klaar. Seker al vir tien minute.”

Pauline begin giggel. “Goeie een! Dis nie moontlik nie, selfs Einstein sal langer vat.” Jakob glimlag en bêre sy pen. Nuuskierig loer Pauline oor sy skouer en sien hy het elke bladsy netjies langs mekaar neergelê. Sy staan effens nader. Jakob se hart begin onwillekeurig vinniger klop. Hy hou van die meisie. Sy sien dat hy elke bladsy wel ingevul het en dat al die vrae wel voltooi is.

“Dit was nie dieselfde toets as vroeër nie, nè? Het jy dalk ’n fotografiese brein of iets?” Pauline is verbaas en bekyk al die vrae en antwoorde, waarvan sy die helfte nie eers sou kon voltooi nie.

“Nee en ek weet nie” kom die beskeie antwoord.

“Blikemmers meneer Vermeulen! Blikemmers.”

“Jakob asseblief.”

“Dis reg, Jakob,” sê sy skamerig, “ek sal jou toets weer na dokter Wasserman neem en hopelik het hy nie weer issues daarmee nie! O ja, gee my asseblief jou kontaknommer sodat ons jou kan skakel met ’n moontlike opvolg-afspraak. Noem my sommer Pauline.”

Jakob gee sy nommer vir die mooi vroutjie, met die hoop dat sy hom sal skakel – maar hoekom? En ook dat die dokter hom nie weer sal kontak nie.

* * *

“Indien ons nie nou dadelik iets doen aan meneer Vermeulen nie, gaan hy dalk uitvind wie en wat hy is, of besef dat daar meer aan sy brein en I.K. is as wat ons voorgee.” Dokter Wasserman is sigbaar bekommerd.

“Wat stel u voor?”

“Geagte paneel, ek stel voor ons maak dit ’n speletjie.”

Die elf lede van die B.R.E.I.N komitee dink Karel Wasserman se plan is lagwekkend.

“’n Speletjie? Is jy ernstig? Gaan speel jou eie bordspeletjies man!”

“Ag, kom ons kry die ander vyf om ook saam met hom wegkruipertjie te speel! Dan kry ons vir hulle sommer swieties ook! Jy kan ook saamspeel Wasserman!”

Karel is glad nie ingenome met die feit dat almal hom so koggel nie. Hulle sou nie eers op die paneel gewees het, was dit nie vir hom nie.

“Orde!” Bars ’n stem deur die kakofonie van ’n gelaggery en gespottery, “laat hom sy sê sê.” Stelselmatig word die geraas stiller en Karel kalmer.

“Menere en mevrou, prioriteit nommer een moet wees dat Jakob Vermeulen nou dadelik moet uitvind wat hy alles kan doen en wie hy eintlik is. Ons moet alles in ons vermoë hiervoor doen.”

“Ja, met Monopoly!”

“Stilte!”

“Prioriteit twee moet wees om met die S.P.E.L. te begin, sodat ons hom kan gebruik vir wat hy gekweek is, wel sonder dat hy dit agter kom. Ons toekoms lê in sy hande. Hy sal die leier word van die die ander vyf; en sonder enige van die ander sal ons, as mensdom nie baie lank op aarde oorhê nie!” Sy passie vloei deur hom en deur sy mond.

“Het julle regtig gedink geeneen van hulle sal iets begin agterkom nie? Hoe naïf kan julle wees? Hierdie twee-en-twintig-jaar plan is nou in die klimaks!”

* * *

Die foon lui. Jakob onthou dat hy nog die luitoon moes verander het, maar hy het net nog nie tyd daarvoor gevind nie. Hy herken nie die nommer nie. Hy hoop in sy binneste dat dit Pauline sou wees.

“Hallo Jakob, “ kom die fyn stemmetjie deur.

“Hi Pauline!” Sy hart klop in sy keel en hy wil op en af spring soos ’n besetene.

“Hoor hier Jakob, die dokter wil jou weer dringend sien, wanneer is ’n geleë tyd vir jou hierdie week?”

Effens teleurgesteld antwoord hy terug, “Môre na tien sal my pas.”

Stilte.

OK, dis reg, so kwart oor tien, pas dit jou?”

“Perfek.”

“Goed so! Sien jou dan môre en bring daardie mooi glimlaggie van jou saam! Tata!”

“Totsiens.”

Sy kop is al ’n geruime tyd ongelooflik kloppend seer. Hy vroetel in sy rugsak rond op soek na sy pille wat hy by die apteker gekry het. Ook al dink hy die pille help eintlik niks, drink hy dit in elk geval – ook al is dit net om sy siel te troos en sy brein te fnuik.

Sy hoofpyne het skielik begin, maar maak nie saak wat hy doen, dit wil net nie verdwyn nie. Partykeer is die hoofpyne so erg dat hy wil flou val. Sy vriende het vir hom ingelig dat hy ten minste die afgelope maand floutes kry waar hy net vorentoe staar terwyl die wêreld om hom verby gaan. Hy het dit altyd afgemaak as bog en simpel stories.

In sy woonstel sit hy sy rugsak op ’n klein tafeltjie neer en haal sy boeke en skootrekenaar uit. By die yskas gryp hy ’n yskoue bier – dis al hoe hy deesdae kan rustig word om te leer – en begin dan met opsommings maak oor fisika, wetenskap en wiskunde.

* * *

Hy staan weer met ’n verskriklike kopseer op – hy is dit al so gewoond, maar party dae is dit net té erg, veral so vroeg! Al waaraan hy kan dink is Pauline en dan begin sy gedagtes dwaal aan die kwaksalwer wat nou weer net sy tyd wil mors as gevolg van ’n simpel I.K. toets.

Tyd vlieg vinnig en hy is amper laat vir sy afspraak. Vyf minute voor tien stap hy skamerig in. Hy sien vir Pauline en sy vrees smelt weg in haar oë.

“Goeie môre Jakob!”

“Hi!”

“Luister, ons het gou ’n tydjie en daardie simpel outoppie wat vir my gesit en ogies maak het, het gou ’n rokie gaan maak,” Pauline praat vreeslik vinnig, “wat maak jy vanaand?”

“Leer. Soos gewoonlik.”

“Jong, ek is seker nou vreeslik voor op die wa, maar soos my oorle ma altyd gesê het; as jy nie heel voor op die wa is nie, sal jy nooit eerste die geleenthede kry nie. Waar was ek? O, daar is ’n nuwe Italiaanse restaurant wat oopgemaak het. Sal jy dalk belang stel om vanaand saam met my daar ’n ietsie te gaan happie?”

“Dis reg!” Jakob kan nie sy glimlag keer nie. “So ses uur?”

“Ja, dis reg. Weet jy waar is hulle, of wil jy my kom optel?” vra sy terwyl sy die klaar uitgeskrewe adres vir hom op ’n klein pienk papiertjie met hartjies daarop gee.

“Jong, as ek jou moet kom optel sal ek jou moet abba. Lang storie.” Jakob praat meer gemaklik met haar en voel nie meer so op sy senuwees nie. Hy is nog altyd effens teruggetrokke, veral wanneer dit by vrouens kom. “Ek sal jou daar kry, as jy nie omgee nie.”

“Dis reg! Kan nie wag nie! Wat’s fout met jou kar?”

“Aangesien jy wil weet, afgeskryf, ek sal jou vanaand seker alles kan vertel.”

“Tjips, hier kom die ou bullebak!” Wasserman is op pad. “Sien jou vanaand.” Fluister sy terwyl sy maak asof sy op die foon besig is. Skaars drie sekondes later verskyn Wasserman in die deur.

“Meneer Vermeulen, kom maar deur.”

Jakob uiter ’n vloekwoord vir homself en Pauline word teruggeruk in die normal wêreld in.

“Sit.” Dit klink amper soos ’n bevel vir Jakob.

“Dankie.” Jakob het darem nog maniere ook al kan hy nie die dokter se gespuis en sy houding teenoor hom verdra nie. Hy gaan sit op die roesbruin stoel. Die kantoor lyk maar koddig en aanmekaargeflans, maar smaak verskil dink hy by homself. Die portret wat skeef hang, pla hom vreeslik en hy kan nie help om die hele tyd daarna te staar nie.

“Weet jy wie jy is?”

“Uhm, nee hoor ek weet nie!” antwoord Jakob sarkasties. “Jakobus Hosea Vermeulen, wie anders.” Gaan hy aan.

“Ja, kom ek vertel jou ’n storie.” Die man klink net té besig vir Jakob, maar hy kan nie help om te wonder oor die ‘storie’ waarna hy nou moet luister nie.

“Twee-en-twintig jaar gelede is jy geskep met die doel om ’n taakspan te lei.”

“Waarvan praat jy?”

“Jy sal sien sodra die oomblik reg is.”

Van wat praat hierdie mal man? Taakspan?

Jakob voel ongemaklik en omgekrap.

“Kom ek gaan met jou ’n deal aan. Vat hierdie houer pille en drink een pil elke agt ure. Dis noodsaaklik dat jy dit stiptelik klokslag doen.”

“Ek is nie ’n junkie nie! Wat insinueer jy?”

“Nee, jy is nie en sal ook nie een word nie. Jou karakter en selfbeheersing is te sterk. Dis juis daarom dat jy die leier sal wees. Sien jou in ’n week se tyd weer. Drink sommer nou jou eerste pil.”

Voor Jakob ’n verdere woord kon uiter is Wasserman spoorloos. Hy sit nog ’n bietjie op die harde stoel en probeer verstaan wat hierdie kens man kwytgeraak het. Dan begin hy lag, staan dan op en verlaat die kantoor.

“En, gaan jy leef?”

“Om eerlik te wees, jou baas is ’n bietjie, nee, baie weird!”

“Hy het sy oomblikke.”

“As jy so sê. Ek sien jou vanaand. Ek het ongelukkig nog ’n toets om te skryf en ek sal moet hardloop om betyds te wees, jammer.”

“Dis reg, meneer Vermeulen. Ek kan nie wag nie. Tata handsome!”

Jakob verdwyn glimlaggend en Pauline se oë glinster steeds opgewonde.

* * *

Jakob sluk die pil af en wag vir die toets om offisieël te begin. Fisika is nog altyd sy gunsteling vak en hy behoort, soos gewoonlik glad nie met die toets te sukkel nie. Sy gedagtes dwaal egter na Pauline se glimlag, sy vreemde besoek aan ’n vreemder dokter. Wat is die ou se storie en watse ‘Leier’ nonsens is dit?

Die lektor sit die toets voor hom neer en Jakob begin ywerig sy naam invul. Daar is nie veel studente wat fisika as ’n vak het nie, slegs vier so die lokaal waarin hulle sit lyk ongewoon leeg.

“Julle mag maar begin.”

Vraag 1: ‘n Voorwerp wat teen ‘n konstante snelheid S beweeg, het ‘n kinetiese energie K. Die snelheid word na 2V verander. Watter EEN van die volgende is die korrekte kinetiese energie teen hierdie snelheid?

  1. ½S
  2. ¼S
  3. 4S
  4. 2S

Vraag 2: Die minimum energie benodig om elektrone uit ‘n metaal vry te stel deur van lig gebruik te maak staan bekend as?

Vraag 3…

’n Naar gevoel oorweldig Jakob uit die bloute. Hy voel hoe klop sy kop en sy kop wil bars. Sy oë trek skeel en sy neus begin bloei. Hy probeer die lektor se aandag trek maar hy is té besig om boek te lees. Die ander skrywers is of te vêr of net nie geïnteresseerd nie.

“Help.” Hy kon homself skaars hoor skree. Hy probeer opstaan om die lektor se aandag verder te probeer kry. Hy stort inmekaar en val bo-op die tafel wat ook dan omkantel.

* * *

“Skalpel”

“Dokter, sien ek reg?”

“Hoe bedoel jy?”

“Drie breinlobbe!”

“Ja, so?”

“Vra maar net.”

Wasserman sny Jakob se middelste breinlob ’n klein bietjie oop, ’n Groenerige vloeistof peul uit. Die middelste lob lyk nie so fyn en netjies saamgestel soos die ander twee nie. Dis glanserig en seepglad met hier en daar ’n effense hobbel wat uitbult. Hy vroetel met sy wysvinger binne-in die lob rond. Soos hy vroetel beweeg Jakob se hande, dan sy voete dan alles saam.

“Dis nie normaal nie! Wat de hel gaan hier aan?”

“Ag, verwyder tog net die klakous. Ek moet konsentreer en haar skril stemmetjie sit my ook af!”

Twee verpleërs verwyder die ouerige matrone.

“Maak seker sy onthou niks nie.” Die verpleërs weet dadelik wat om te doen en vra nie vrae nie. “Waar de hel het julle haar uitgekrap? Is sy ooit deel van ons?”

“Eerste dag.”

“Sommer haar laaste ook! Mikroskyfie.”

’n Tingerige verpleegstertjie plaas die mikroskyfie in die uitgestrekte hand. Wasserman sit die klein mikroskyfie in ’n baie strategiese plek in die lob en slaak ’n sug van verligting.

* * *

Kwart voor sewe, waar kan hy wees? Pauline voel onrustig, maar sy hoop steeds dat Jakob sal opdaag. Die restaurant is druk besig en deurmekaar. Sy het al tientalle paartjies gesien kom en gaan.

“Youra food madama.”

“Dankie.” Hopelik het ek nie die tweede bord kos verniet bestel nie.

“The a othera guest a?”

“Ek wag nog,” antwoord sy beskeie en met die hoop dat die klein koddige Italianer haar verstaan.

“Good a good a. Ten minutes. We’re a very busy and a need a space.”

Die vet mannetjie verdwyn tussen die warboel van mense. ’n Paar borde val. ’n Vrou lag hardop tussen die geraas en Pauline se hartseer vergroot met elke klankie wat sy by hoor.

Ek moes geweet het dis te goed om te glo!

Sy los die warm borde Spaghetti alla Puttanesca, haal geldjies uit haar reeds leë beursie en plaas die geld met ’n fooitjie op die tafel. Sy staan moedeloos op en stamp en stoot vir haar ’n paadjie oop. Dan verdwyn sy by die restaurant se deur uit.

* * *

“Wat de hel het julle aan my gedoen? Waar is ek?”

“Ons het jou opgegradeer.”

“Wat bedoel jy nou? Ag, al weer jy!”

“Onthou jy die pil wat jy gedrink het?”

“Ja, wat de hel was daar in?”

“Jou nuwe lewe.”

“Jy is ook maar lekker kens! Waar is ek het ek gevra!”

“2045.”

“Is dit een of ander kode? Ek speel nie Noot vir Noot nie, ek hou nie van kriptiese leidrade nie!”

“Die jaar 2045.”

“Bog man! Twak!”

“Die pil wat jy gedrink het, stel jou in staat om deur tyd te gly. Ons het jou, en gaan nog ander, hierheen bring om julle op te lei vir die groot oorlog van 2048. Die oorlog, oftewel Wêreldoorlog III sal mensdom se einde wees.”

OK, cool storie, maar ek glo dit nie! Hoe is julle dan ook hier?”

“Dit maak nie saak nie.” Wasserman klink roboties. “Jy sal agterkom dat jy anders voel.”

“Ek voel die hel in man!”

“Reg, kom ons doen ’n toets. Wat is die sewe-en-veertigste breukdeel van PI?”

“Sewe,” antwoord Jakob sonder om te dink.

“Jy is nog altyd slim.”

“Ja, so?”

“Wel, jy is geneties gemodifiseer. Soos die ander. Elkeen het wel sy of haar eie besonderse vermoëns.”

“So jy sê ek is ’n proefbuisbaba!”

“Basies, ja.”

“Snert man!”

“Jy het drie breinlobbe.”

Jakob weet nie meer wat om te glo nie en wens hy word wakker uit hierdie nagmerrie.

“Jou derde lob bestaan uit die gepreserveerde breinselle van die mees intelligentste mense wat nog ooit geleef het: Einstein, Tesla, Jobs, Da Vinci, Curie, Mozart, Lee, Tolstoi, Barnard; ek kan almal opnoem maar dit sal my die heeldag vat. Elke persoon ’n genie in sy of haar eie betrokke veld, nie noodwendig slegs wetenskap nie. Dis waarvandaan jou kopsere vandaan kom.”

“Wat?”

“Jy gaan die taakspan lei. Hoe gouer jy dit besef, hoe beter!”

“Jy noem heeltyd ’n taakspan, waar is hulle?”

“Opleidingsfase Een, Soos jy. Jy sal hulle ontmoet sodra die tyd reg is.”

“Nou wat moet ek doen terwyl ek wag?”

“Wag.”

Sonder om nog ’n woord te uiter is Wasserman weg en Jakob terug in die eksamenlokaal.

  • Chantal

    Jy begin nou mooi reg te kom met jou skryf, hou so aan. Ek het die storie baie geniet. Hoe meer boeke jy lees, hoe meer sal jy verbeter.

    belang stel= belangstel, en vêr moet ver wees.

  • Salmon Smith

    Kwaai storie Ockert.