LAASTE DAAD VAN WEERSIN – Linet du Plessis

LAASTE DAAD VAN WEERSIN – 2015 © Linet du Plessis

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 110 WOORDE)

 

Hortend stoot sy asem by sy brandende keel uit. Paniekerig swenk Lysander eers links, dan weer vinnig regs. Dis egter asof die hand agter die misielgeweer sy gedagtes kan lees, want telkens sien Lysander die groen kol reg voor hom op die presiese oomblik wanneer hy van rigting verander. Kolle van uitputting begin sy visie versteur. Hy dryf homself egter verbete voort, sy arms en bene rukkend van die angs. Al verwag hy dit enige oomblik, is die skok steeds so groot wanneer die koeël hom tref dat hy dadelik struikel, rol en wag vir die finale skoot.

Dit kom nie.

Flitse spoel in en uit sy gedagtes. Kort. Dan langer. Die spikkels het alles ingesluk en is nou slegs ʼn eentonige duisternis. Lysander draai sy kop. Wag. Beweeg dan stadig sy ledemate en rol uiteindelik op sy maag wanneer geen pyn registreer nie. Versigtig sit hy regop en haal die rugsak van sy skouers af; bestudeer dan met verwondering die gapende materiaal en die vermorselde inhoud. Die waterbottel is nie beskadig nie en hy draai die prop af en neem ʼn paar slukke. Steeds bewerig van die skok skuif hy ʼn paar meter op sy boude tot by die naaste boom. Met sy hand keer hy die ergste son weg en tuur dan op in die lug na die enorme skip wat sy snoet, asof verkennend, deur die rooi wolke steek. Die moedeloosheid neem skielik van hom besit. In ʼn poging om dit te besweer, staan hy op en gooi die bottel terug in die sak wat hom ʼn tweede kans gegun het.

Wanneer hy die tentdorp nader, sien hy Sjoenka al van ver af aangehardloop kom, blydskap op elke lyn van haar gelaat.

“Ons het die misiele gehoor en was rasend van kommer!” roep sy terwyl sy hom omhels.

“Dit was bitter naby,” antwoord hy met ʼn ver kyk in sy oë. Presies hoe naby hoef sy nooit te weet nie. Haar hand gee syne ʼn bemoedigende drukkie voordat sy omdraai en wegstap; sy na die barakke en hy na die hoofkwartier om te gaan rapporteer.

Later sit hy in die beheerkamer en kyk saam met Asor na beeldmateriaal van ʼn aanval op Toraga. Ten spyte van sy weersin in hierdie wesens, moet hy tog hul taktiek en tegnologie bewonder. Maar die vreemdelinge se intellektuele voorsprong is nie die enigste faktor wat hulle ʼn voorsprong gee nie. Wat Lysander die bangste maak, is die feit dat hierdie wesens met oortuiging glo dat hul dade geoorloof is. Wesens wat so arrogant is dat hul glo dis geregverdig om, nadat hul eie planeet deur nalatigheid verwoes is, dieselfde geskiedenis te kom herhaal op ʼn ander, minder gevorderde planeet. Asor stamp liggies aan hom om sy aandag na die skerm te laat terugkeer. Na ʼn bespreking van die volgende dag se strategie, staan Lysander styf op, verlig om die dag se stof te gaan afwas.

Die eerste trillings is amper misbaar. Lysander skud sy kop verward. Die volgende skudding is egter so heftig dat hy in ʼn hoop by die deur beland. Gedempte krete styg onder die rommel uit. Die gedagte aan Sjoenka alleen in hul weerlose tenthuisie, laat Lysander desperaat die planke en stukke metaal van sy bene afgooi. Hy buk by Asof maar dié wuif hom weg met sy hand.

“Ek is reg, gaan help die ander.”

Die twee mane blink teen die hemelruim. Die prag daarvan word egter oorskadu deur die klank van mortiere en wanhopige gille van die wat in die spervuur vasgevang is. Deur die malende stof probeer Lysander bepaal uit watter rigting die aanval kom. Ten spyte van al hul voorbereiding en paraatheid, het die vreemdelinge steeds daarin geslaag om hul onverhoeds te betrap. Dan sien hy die Verwoester aangerol kom. Sy asem stok in sy keel. Dis asof die vreemdelinge al hoe minder die skyn van beskawing voorhou. Tyd is besig om uit te hardloop vir hul planeet, wat hul noodsaak om desperate stappe te neem. Hy hardloop gebukkend na die hoof-afweerstasie – sy gedagtes pleitend dat die nuwe bomme die verwagte resultate sal lewer.

Stukkies skrapnel tref sy kuite maar verder kom hy ongedeerd daar aan. ʼn Dankbare prewel ontsnap sy lippe. Dit is chaos binne die skemer vertrekkie, met stof deurdrenkte skimme wat vervaard rondhardloop.

Lysander gryp ‘n geweer en draai die loop in die rigting van die vyandige vuur. Vir ʼn paar minute funksioneer hy asof in ʼn trans, sy oë tranerig van die rook en stof, longe wat brand en ore wat pyn van die gedurige dreun van die geweer. Hier langs hom val Darius geluidloos neer, die skoot van die Verwoester wat hom nie eers kans gun om ʼn doodskreet te gee nie. Dis asof die tempo van verwoesting skielik spoed optel; meer manne val om hom terwyl hy op sy eiland van geweld agtergelaat word. Hy laat homself nie toe om aan Sjoenka te dink nie; die behoud van sy spesie wat ʼn veel groter las op sy skouers is. ʼn Koeël tref sy onderste arm. Lysander trek sy kopdoek af en bind die wond toe met sy drie goeie arms. Dit is met die terugdraai na die slagveld dat hy die bom uit die Verwoester sien spat. Alle hoop vloei uit sy lyf en drup saam met die bloed uit sy arm.

Skielik is dit stil.

Vir die tweede keer die dag dring flitse sy bewussyn binne – hierdie keer meer angswekkend, hopeloos. Lysander maak sy oë oop en forseer sy lyf regop. Alles binne hom skree na verlossing van hierdie absolute pyn en wanhoop. Gebroke begin hy deur die oorblyfsels kruip. Sy blik bly op die grond hier reg voor hom want hy durf nie na die bekende gesigte rondom hom kyk nie.

Na ʼn lang gesukkel bereik hy die grens van die verwoeste kamp en begin hy die koppie op kruip. Daar waar die vlag steeds wapper; die vlag wat die vreemdelinge tydens hul eerste besoek hier geplant het.

Lysander kruip nader en reik met uiterste inspanning na die vlag. Sy vingers vou stewig om die dun steel en hy ruk dit met sy laaste krag uit die grond uit. Triomfantlik oor sy nederige oorwinning, vat hy sy mes en begin die materiaal in flenters sny. Die ironie brand in sy keel terwyl hy met ekstra hardhandigheid die woorde uitmekaarskeur. Wanneer hy tevrede is, kramp sy vingers ʼn laaste keer om die stukkies lap voordat hy dit stadig loslaat en die lug in gooi.

Die briesie vang die ligte materiaal en dryf dit dartelend weg van hom. Vir oulaas vang sy oog nog stukkies van die woorde, voordat peace saam met mankind in die wind weggekolk word.

  • Chantal

    Kort. Dan langer.= Kort, dan langer.
    planet= planeet (planet is Engels)
    Vir die tweede keer die dag dring flitse sy bewussyn binne. (Die sin pla my). Miskien klink dit beter vir jou. (Dieselfde dag, flits sy bewussyn binne).

    Onthou jou komma (,) na want.
    Peace (vrede) en mankind moet na Afrikaans toe verander.
    Van jou sinne is moeilik om te lees, omdat hulle te lank is. Die geheim van kortverhale is, dat jou sinne moet bietjie korter wees.
    Gelukkig is jou verhaal interessant en oorspronklik.