LIGTE! – Casper H. Coetzee

LIGTE! – 2015 © Casper H. Coetzee

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 550 WOORDE)

 

Dit was Ouma Drien wat hom gekry het, die oggend nadat die snaakse ligte vir die tweede keer oor Wrenchville kom dans het. Vandat sy Oupa Robbie aan die dood afgestaan het, stap sy maar elke oggend vroeg in Buisstraat op, so by haarself. Dit laat haar nader aan die ou siel voel. Nie dat hulle dit nie sien kom het nie. Oupa Robbie sukkel al jare met die suiker. Hy was nog redelik jonk toe hy altwee bene tot onder die knie aan die verdomde siekte moes afstaan. Maar hy was nie een wat hom laat keer het nie. So op sy twee stompies het hy vir haar ʼn huisie gebou op die erf wat hulle by haar oorle ma geërf het. ʼn Goeie man was hy. En al het sy geweet dat sy tyd maar geleen was, was die skok van sy dood nogsteeds groot. Wrenchville sal hom mis. Hier, in die klein kleurling gemeenskappie net buite Kuruman was hy ʼn man van aansien. Nie oor hy ryk was nie. Nee, hulle moes al die jare maar karig leef. Maar die mense van Wrenchville kyk nie vir geld nie. Dis die kwaliteit van ʼn mens wat vir hom naam maak. So het sy die Vrydagoggend in Augustus, na die ligte besigheid, maar weer straatop loop stap toe sy die bondeltjie op die sypaadjie sien lê. Eers het sy gereken dis seker maar ʼn ou kombers of iets wat iemand uitgegooi het. Maar toe sy nader kom begin die bondeltjie wragtig lewe. Sy het haar amper duiselig geskrik. Daar is net bos rondom die klein dorpie. Mens weet nooit wat daar kan uitkruip nie. Net laas week het die rinkals amper vir klein Saartjie van Anna Groeff gebyt. Eers het sy gedink om maar net versigtig om die lewende bondel kombers te loop. Maar as daar nou een ding is wat Ouma Drien nog nooit kon baasraak nie, is dit haar nuuskierigheid. So mik, mik het sy nadergeskuif totdat sy naby genoeg was om die punt van die kombers met ʼn uitgetrekte arm by te kom. Dit was met die wegtrek van die punt dat die bloed in haar are geys het. Haar oë het gesien, maar haar brein wou nie verstaan.

“Wat die joos?” Het sy gedink.

Ouma Drien is ʼn vrou van die kerk; sy vloek nie. Pastoor sê altyd hy wens al sy lidmate was so getrou soos sy. Maar die keer was dit amper. Want voor haar, toegevou in die enkele kombers, het die gesiggie van ʼn kind vir haar gestaar. ʼn Wit kind nogal. Vir ʼn rukkie het hulle maar net so in stilte vir mekaar bly kyk. Maar Ouma Drien het vyf dogters grootgemaak, en ʼn klomp kleinkinders ook. Die hart van ʼn moeder het sterk in haar geklop. En ten spyte van al die vrae wat opslag in haar kop gedraai het, het sy die klein lyfie opgetel en styf teen haar bors gevat.

“Wat se mens los ʼn klein kindjie so indie middel van die winter?” Het sy gedink.

Sy het rondgekyk of sy iemand opmerk, maar sy en die kind was alleen. In hierdie wêreld staan almal in die winter ʼn bietjie later op. Daar was nie raad nie. Sy is reguit huis toe met die bondeltjie in haar arms. Daar gekom het sy eerste vir Sylvie van Kotie gebel. Die is mos eintlik ʼn ʼnursie’. Maar sy werk deesdae vir die welsyn op die dorp. Dis nou Kuruman; Wrenchville is mos nie eintlik ʼn dorp nie. Meer soos ʼn voorstad. Sylvie was nie so verbaas soos Ouma Drien nie.

“Met die dwelms en drank deesdae kry ons die tipe ding al hoe meer, Ouma.” Het sy gesê. “Mense is nie meer so ordentelik soos in die verlede nie.”

Sy het belowe om die storie aan te meld.

“Iemand sal seker vanmiddag daar by Ouma omkom.” Het sy belowe.

Die tweede oproep was na Rykie Van Vuuren. Dis nou einste Rykie wat destyds na Ouma Drien se kleinseun Renaldo gevry het. Sy is toe mos later met ʼn jong mannetjie van die myn in Katu getroud. Die twee se eersteling is nog vars in die doeke. Ouma Drien het babagoed nodig gehad, en geld was daar nie. Dis in elk geval so ʼn storie om al die pad dorp te gaan vir koop. En ou Mohammad hou net die nodigste hier by sy winkeltjie aan. Maar Rykie is ʼn goeie kind, al is sy nie die skerpste potlood in die sakkie nie. Sy het vinnig aangekom met doeke, klere en poeiermelk. Nogal die duures wat jy by die apteek koop.

“Jinne Ouma.” Het sy haar verbasing uitgespreek. “Dis nou vir jou ʼn ding.”

Ouma Drien het al vergeet hoe mens die melk aanmaak. Rykie het dit gedoen terwyl Ouma die kind skoongemaak het met ʼn klam doek voordat sy hom aangetrek het.

“Dis te koud vir Bad.” Het ouma gesê.

ʼn Rukkie later het twee saam voor die bed gesit waar die arme weggooikind salig gelê en slaap het. Dit was nie ʼn lelike kind nie, net die voorkop wat bietjie groot was. En die neusie was ook maar net-net daar.

“Ek het gehoor as die ma met drank en dwelms deurmekaar is, kom hulle maar so uit.” Het Rykie gesê.

“Wat vertel jy my nou kind? Sietog.” Was al wat Ouma Drien kon antwoord.

Later is Rykie daar uit en ouma Drien was vir ʼn rukkie alleen met die wit kind op haar bed. Maar in Wrenchville loop ʼn storie vinniger as jou neus in die winter. Dit was nie lank nie of die anties het een vir een opgedaag. “Net om te kom kyk.”

“Ek wonder of dit nie iets te make het met die snaakse ligte wat ons die laaste tyd sien nie, Drien?” Het Fienie van die Kaap gevra.

Ouma Drien het net gesnork. Sy was nie so bygelowig soos Fienie nie. Sy het ook die ligte gesien. Dit kon net sowel polieshelikopters gewees het. Of miskien een of ander boosheid waarmee die goewerment weer doenig was. Jy kan die spul mos nie vertrou nie. Neef Fanie se seun Attie is mos in die politiek.

“Moet niks glo wat hulle sê nie Ouma.” Het hy altyd gesê.

Maar Ouma Drien moes stil-stil aan haarself erken dat die spul ligte wat so vinnig op-en-af en heen-en-weer beweeg haar ook maar aan die wonder het. Nie dat sy glo aan buitenste ruimtegoed nie. Maar sê nou maar dit was so… dan is ons mensegoed mos in die moeilikheid. Iemand wat nie kwade bedoelings het nie gaan mos nie wegkruip nie. Nee, hy stap tot hy homself vierkantig voor jou kom staanmaak het, en kyk jou in die oë. As hierdie snaaksighede van ander wêrelde af kom, hoekom steek hulle dan weg? En die kind was inelk geval geen anderwêreldse wese nie. Hy was maar net ʼn weggooikind wat sy in die straat kom kry het.

Teen die middag het dit stiller geraak. Almal wat wou kom kyk het klaar kom kyk. Ouma Drien moes natuurlik die klomp kinders, wat elke Vrydag middag met die losloperdonkies sommer so bloots in die straat af kom resiesjaag, ʼn paar keer stilmaak. Geen mens kan rus deur hulle geraas nie, minder nog ʼn baba wat slaap nodig het. Pastoor het teen skemer gekom om die kind te salf. Dit het Ouma Driena ʼn bietjie meer gemoedsrus gegee. ʼn Gesalfde kind staan onder die vlerk van die Here.

Maar van die welsyn was daar niks te sien nie. Teen vroegaand het Ouma weer probeer om vir Sylvie in die hande te kry, maar die kind se foon was af. Sy het maar vir Rykie gebel vir nog melk en haar reggemaak vir die nag. Sy was moeg. Die skok van die kind se kryery en die bekommernis oor wat van hom gaan word was meer as wat haar ou lyf kon vat. Net na Noot vir Noot het sy haar langs hom gaan toemaak en sommer gou aan die slaap geraak.

Saterdagoggend het gekom met ʼn nuwe lyf. Ouma Drien het vroeg opgestaan, verbaas dat die skete, wat elke winter mos kinders kry, glad weg was. Dit was die beste wat sy in jare gevoel het. Vol lewe en energie. Teen agtuur het sy reeds die hele huis gevee en die helfte van die beddegoed gewas. Maar iets het heelpad in haar agterkop bly pla. Dit was eers toe sy die laaste laken op die draad hang dat die besef haar soos ʼn hammer voor die kop geslaan het:

“Die kind is weg!”

Sy is op ʼn drafstap kamer toe. Net om seker te maak. Maar daar was geen kind nie. Tot die kombers waarin sy hom toegemaak het was weg. Sy het op die punt van die bed gaan sit om haar gedagtes bymekaar te maak. In ʼn dwaal wat soos mis oor haar kom lê het, is sy in gang af. Dit was eers toe sy by die voorhekkie kom dat sy haar gedagtes weer onder beheer begin kry het. Oorkant die straat het Rykie gestaan met haar baba in die prêm wat sy by einste Ouma Driena gekry het.

“Môre Ouma Drien.” Het sy oor die teerpad geroep. “Het Ouma gesien die ligte was weer laasnag heelnag in die hemel…”

Die Einde.

 

  • Chantal

    “Wat die joos?” Het sy gedink. (moet eintlik wees) “Wat die joos?” het sy gedink. Daar is nooit na ‘n uitroepteken of vraagteken ‘n hoofletter nie, net behalwe as jy nog verder praat en ook nie (”) dit nie, want jy dink mos.

    “Jinne Ouma.” Het sy haar verbasing uitgespreek. “Dis nou vir jou ʼn ding.” (Hier het jy dit op die regte manier gedoen).

    Ek is tevrede met jou sinsbou, want die sinne is kort en lank.
    inelk geval= in elk geval

    Ek het van jou storie gehou, want dit was kort en kragtig, maar ook oorpsronklik.

  • Salmon Smith

    Casper, jou storie het baie lekker gelees. Dit was baie gemaklik. Sterkte met die kompetisie.

  • Casper H. Coetzee

    Dankie Salmon en Chantal

  • Chantal

    Baie geluk!

  • Salmon Smith

    Baie geluk Casper jy het dit verdien om die wenner in die kategorie te wees. Jy beeld jou protoganis so goed uit. Sy laat my dink aan my wyle ouma, Siena – soveel menslikhied in haar.