MAGRIET SE REIS – Brechje Visagie

MAGRIET SE REIS – 2015 © Brechje Visagie

VOLWASSE FANTASIE (2 050 WOORDE)

 

Magriet is gebore in ʼn stormnag. Die droogte was gebreek.

Die volgende dag het die naguiltjies teen dagbreek en skemer oor die huisgeswiep. Magriet sou altyd ʼn spesiale verbondenheid met die naguiltjies voel. Op haar verjaardag het die reënseisoen begin. Maar nou het dit twee jaar laas gereën. Sy voel verantwoordelik daarvoor. Vir die ellende en lyding van die diere, vir die kommerplooie op Pa se gesig, vir die boorgat wat droog is.

Daarom is sy vanaand,net ná aandete, by die huis weg met genoeg padkos vir twee dae en ʼn vol waterbottel.

Die maan is nog nie op nie. Dis nog vroeg. Die eerste sterre begin flikker.

Magriet ken die veld, maar vanaand lyk alles vreemd. ʼn Boom lyk soms soos ʼn man en elke klip of bos kan ʼn monster wees. Dit voel asof duisende oë haar dophou. Koue handjies streel oor haar wange en nek. Asof iemand of iets voor, of agter, of langs haar loop.

“Hou op droom. Wees wakker!” onderbreek ʼn stem Magriet se dinkery.

Magriet slaan byna agteroor.

“Waar kom jy vandaan? Amper loop ek jou onderstebo.”

Ystervark ratel haar penne.

“Ek is beskermer. Van die onskuldiges. Die droogte roei hulle. Jy’s enigste hoop. Kom ons loop.”

Ystervark draai om en stap rustig met die voetpad aan. Sy praat verder: “My kleintjies – die droogte. Maer geword. Dood gegaan. Ek loop saam. Voet van die eerste rant. Op die kruin van die tweede rant. Voetpad deur die poort tussen rooi rotse. Twee van my penne. Hou dit byderhand.”

Magriet se kop duisel van al die baie ystervark-woorde. Sy ruik stof en dood in die stilte. Sy sak af op haar hurke. Kyk in die klein ogies van die ystervark.

“Hoekom gaan ek jou penne nodig kry?”

“Groot besluite. Wees rustig. En wakker. Verdedig jouself. Gebruik kop. Slaap is na jou ouers gestuur. Sal nie wakker word nie. Geniet jou reis.”

Ystervark verdwyn agter die sandduintjie aan die voet van die rant.

Magriet drink bietjie water en pak die steilte aan. Elke tree word ʼn geveg. Iets of iemand probeer haar terughou. Hande, klein en groot, gryp om haar enkels. Die melktoue teen die hang van die rant huil in diep stemme toe ʼnysige wind deur hulle stoot. Die drie-vinger handjies van die driedorings gryp-gryp na haar klere. Die donker word dig en swaar soos moeras-modder. Magriet kan skaars daardeur beweeg.

Sy gaan doodstil staan. Is dit wind? Dalk geeste wat in die melktoue huil? Magriet maak haar kop skoon van bangwees. Sy begin weer stap. Sy stap met elke tree onder die grypende hande uit en die huilende melktoue bly teen die hang agter. Bo-op die rant sien sy die maan oor die kruin van Loskop kruip. Rant-af, sal makliker wees. Haar asem jaag effens. Sy staan stil. Roer haar tone in haar vellies en trap van die eerste krans af.

Iemand steek sy voet voor haar in. Sy tuimel in ʼn warboel van bene en arms, rugsak en kop teen die skuinste af. Dwarsdeur ʼn droë doringbos. Bolmakiesie oor klippe. Kom tot stilstand teen die dun stammetjie van ʼn jong arroe-boom.

Magriet kom stadig tot verhaal. Bloed loop in ʼn dun stroompie teen haar wang af. Sy tas onseker na die stammetjie van die arroe-boom, maar net toe haar vingerpunte boom wil-wil vasvat, verskuif die boom.

Iemand lag. ʼn Kieliebak-jeukerige lekker lag.

“Verdamp!” swets Magriet.

“Ek sal nie!” koggel die laggende stemmetjie.

Magriet vee die bloed uit haar gesig, rol om op haar maag en kom stadig in ʼn hande-viervoet posisie.

Voor haar staan ʼn koddige mannetjie.

“Wie is jy en hoekom treiter jy my?”

Die mannetjie dans op sy een been, draai drie keer in die rondte, so vinnig dat hy soos ʼn stofdwarrel lyk en… die afgryslikste gedierte, halfleeu, half oerang-oetang, staan voor haar.

“Ek,” brul die gedierte, “is Heitsi-eibib. Ek het lanklaas met een van jou soort pret gehad.”

Bly kalm en wakker,Magriet. Sy gaan sit plat op die grond. Voel-voel na haar rugsakkie en haal die bottel met water uit. Sy drink drie dorstige slukke en hou die bottel na die ongedierte uit.

“Nee dankie,” sê die ongedierte en verander voor Magriet se oë in ʼn vriendelike ou mannetjie wat aan ʼn beenpyp suig. “Ek het jou kom help. Op die kruin van die volgende rant is ʼn groot hoop klippe. Gooi ʼn klip daarop. Dan maak ekjou onderneming voorspoedig. Wat jy wil doen, is nie maklik nie. Aardvark sal jou op sy rug neem tot by my kliphoop. Jakkals sal bietjie vorentoe verken. En die agterhoede dek. Ek sal wees waar ek moet wees.”

“Ek sal doen wat ek moet doen,” antwoord Magriet.

Heitsi verdwyn soos ʼn miswolkie.

Magriet hoor ʼn gestommel.

Aardvark se snoet verskyn om ʼn rots. Dan kom die groot lyf, die lang stert. Hy druk sy snoet teen die wond aan Magriet se kop. Sy asem ruik suur.

“Oe! Dis wreed, die bloed. Die dood. Dat die naguiltjie nou moet sterf, ons ter wille. Ek kan dit nie aanskou nie.”

“Môre kan jy weer in jou gat wegkruip vir die werklikheid!” Die stem uit die donker klink geïrriteerd. ʼn Flits van rooibruin pels en Jakkals is weg op sy verkenningstog.

“Klim, Dogter. Die wêreld is goed. Sy bewoners is boos. Ag ja,” sug Aardvark.

Magriet wikkel haar gemaklik op sy rug en die ou begin versigtig teen die rant af stap. Hy sug kort-kort. Magriet is vaag bewus van Jakkals wat dan voor, dan agter hulle in die maanlig draf. Hy snuif die lug. Tuur soms stip in die vals lig van die maan.

Magriet, wat êrens tussen droom en wakker gesus is deur die rustige skommelgang van Aardvark, gly halsoorkop van sy rug af toe hy skielik stop. Voor hulle dryf ʼn sagte glanswit wolkmassa.

“O nee,” lamenteer Aardvark, “die dodes besoek ons!”

Magriet voel koud van skrik. Sy vlieg sommer vir Aardvark in:

“Jou dekselse ou stommelaar!. Kry tog koers huis toe. Jy praat my hart pikswart.”

“Sê maar net, dogtertjie. Nag, dogtertjie.” Die arme dier verdwyn in die donker, terug na sy gat in die sandvlakte.

Magriet stap beslis op die wit wasem af. Alle bang is uit haar kop, maar haar hart klop woes. Haar hande bewe. Sy laat haar kop sak, knyp haar oë toe en gee een groot tree tot binne-in die waas. Sagte lig, strelende musiek en ʼn koor van klein diertjies – muise, hase en krimpvarkies, laat haar botstil staan. Hulle soet stemme sing “Strome van seën van bowe…”

Iets roer om haar voete. Sy kyk af. Klippe groei soos skubbe oor haar voete. Skril gille storm by haar mond uit en sny soos lemme deur die sang van die kleinvolk. Sy tol woes met die rugsak. Die waas lig en verdwyn.

“Wat ʼn onsinnige vertoon van geweld.”

“Heitsi! Jy is ʼn mooi een om met my te kom hanna-hanna oor geweld. Kyk hoe lyk ek van jou pret. Maar wat op aarde was dit?”

“So bietjie toorgoed van die grondgeeste.” Heitsi lag.

Nou lyk hy soos ʼn wolf. Dan is weer die ou mannetjie.

“Onthou my klip,” sê hy. “Hiervandaan is jy alleen. Rus as jy deur die poort by die rooi rotse is en wag vir die son. Wees op jou hoede.”

Magriet sien net sy wit verdwynwolkie. Sy buk, tel ʼn platklip op en gooi dit op Heitsi se offerhoop. Sy stap met ʼn dowwe voetpad verder. Vêr voor sien sy die massiewe rooierige rotse waartussen die voetpad verdwyn.

Sy is moeg. Die nag was ʼn verskrikking van ervarings. Sy sien uit na die ruskans anderkant die rotse.

“Daar is niks agter ons nie,” praat Jakkals iewers agter haar. “Van vorentoe weet ek nie. Onthou die ystervarkpenne!”

“Dankie,” roep Magriet.

Sy welige stertverdwyn tussen die droë bossies.

Die ystervarkpenne lê op ʼn klip. Dit lyk asof hulle met lewe van hul eie gloei. Sy tel hulle versigtig op en hou hulle in haar regterhand. Sy stap die poort binne.

Die rotse is warm en troon hoog bo Magriet uit. Hulle gloei met ʼn sagte lig. Magriet herken die tekeninge van jagters en diere uit die voortyd van die mens. Snaakse tekens dans oor die mure. Sy skuifel-stap versigtig oor die ongelyke grond. Om ʼn draai sien sy die opening van die poort. Sy loop vinniger. Hoe nader sy aan die opening kom, hoe duideliker hoor sy dit…snaakse klapgeluide.

Sy gee die laaste treetjie versigtig na buite. Niks. Net die klapgeluide. Links van haar. Nee, regs! Sy swaai regs en daar staan twee geraamtes. Glinsterend wit in die maanlig, ʼn swartkraai op elkeen se kop. Sy soek vervaard na wegkom kans, links. Kletter-klap! Wit geraamtes. Swartkraai op die kop.

Kletter, klap, kraak kom hulle nader. Die bewakers van die poort.

Magriet is byna in trane. Moegheid lê verlammend in haar lyf. ʼn Warm gloed sprei van haar regterhand al met haar arm op. Die ystervarkpenne gloei goud en rooi. Die gloed vul haar kop en lyf, gee haar moed.

Sy val na regs aan, nou met ʼn ystervarkpen in elke hand. Vasberade storm sy op die twee geraamtes af. Mik met die gloeiende penne vir hul ruggrate. Presies tussen die middelste twee werwels druk sy die penne in. Die geraamtes tuimel met ʼn helse gekletter ineen. Die kraaie los op in die nagskaduwees waar die lig van die maan nie kan kom nie.

Die linkerkantste geraamtes is reeds op haar toe sy omswaai. Sy storm gillend deur hulle en voordat hulle kan omdraai druk sy die ystervarkpenne deur hul nekwerwels. Kra-kraaa verdwyn die kraaie in die nag.

Sy sak hygend op die grond neer en diep vrede kom lê soos ʼn trooskombers oor haar. Al die wroeg en veg en uithou en aanhou is verby. Sy slaap.

Sonop word sy wakker in die holkrans waar die reënmaker bly. Teen die mure hang bossies gedroogde kruie. Sakkies van diervel. ʼn Magdom klippies, skulpies en beentjies versier die riwwe en holtes in die rotsmure.

Die reënmaker sit voor haar – ʼn ou vroutjie, versier met oker en rooi verf en honderde stringe volstruiseierdop kraletjies. Sagte dassievel karosse hang om haar skouers. Sy is baie, baie oud. Haar geplooide gesig is sag en bruin en haar oë is wakker en swart.

Die reënmaker begin praat: “My helpers het jou by die rooi rotse gekry.” Sy beduie met ʼn krom handjie na twee klein wesentjies met verwronge ledemate en nagswart oë. “Jy sal die rooiwang-naguiltjie offer. Onthou, daar is vir alles ʼn prys. Die pyn daarvan sal jy dra.” Die ouvrou is lank stil.“Gaan huis toe. Die reën sal kom.”

Magriet lig haar regop. Sy haal ʼn pak geurige tabak uit haar rugsak. Sit dit voor die vroutjie neer.

Die reënmaker gee vir haar ʼn klein bogie en ʼn enkele klein pyltjie wat daarby pas.

“Die uiltjie slaap onder die noeniebos by Klaas-se-pos.”

Hulle groet.

Magriet pak die pyl en bogie in haar rugsakkie, maak haar waterbottel vol en pak die terugtog aan. Die son skroei.

Sy skiet die uiltjie net voor donker. Sy begin huilende  die stert- en penvere van die uiltjie verbrand.Sydink lank daaroor, maar begrawe dan tog die uiltjie in die vlak slootjie aan die westekant van die huis. Al waarsku die ou geloof daarteen.

Drie dae lank dool Magriet deur die huis van venster na venster. Soek sy wolke teen die horison. Die wind waai – oos, noordoos. Noord-noordwes. Die eerste wolk is so groot soos ʼn man se hand. Massas vog druk uit die trope oor die land. Die wolke word dreigend, blou-swart. Dit reën. Dit hael. Stormwind ruk bome om. Geweld woed oor die aarde.

Magriet staan verwese voor haar kamervenster en kyk hoe die rivier golwe teen sy walle gooi en die stompe en dooie diere oor die werf uitstoot.

Op die tiende dag spoel die kinderlykie uit.

Magriet ploert deur die modder en slik. Sy tel die lykie op.

Die wolkemasse van die tweede rant vou om haar. Die kleinvolk sing: “Laat, o laat, die kindertjies…”

Die reën bedaar. Die waters sak weg.

Die aarde word groen. Bosse blom. Skoenlappers en bye dans oor die veld. Die naguiltjies swiep deur die lug om vlieënde miere en insekte te vang.

Magriet word baie later onder die oorhangkrans by die draai van die rivier gekry.

Die rots het reeds begin om haar toe te vou.

  • Chantal

    Baie mooi geskryf en hou die lesers op sy stoel. Hou so aan!

  • Karen Loubser

    Shoe! Die einde gee my hoendervleis