META1: DOKTOR SARA SE OPRAPING – Ilse Goschus

META 1: DOKTOR SARA SE OPRAPING – 2015 © Ilse Goschus

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (3 024 WOORDE)

 

“Welkom terug op Planeet Espacio,” groet Kolonel Luz.

“Orde Ligkode navorsers, analiseerders en wetenskaplikes. Ek en die Bewaarders en Uitvoerders van die Orde Ligkode Grondwet, hier op Planeet Espacio, het dit nodig geag om hierdie noodvergadering te reël. Nogmaals baie dankie vir u teenwoordigheid. Ons vergader hier vanaand om aspekte van ʼn uiters omstrede onderwerp te bespreek wat ek glo almal na aan die hart lê, naamlik ‘metakognisie’.”

00–000 – flits die ligkodes in pastelkleure hul bevestiging.

“Soos u weet, is ons absolute kundiges op hierdie gebied en miljoene ligjare voor die ander wesens in die Heelal. U is ook almal bewus van die feit dat robot aankope die afgelope twee jaar skerp afgeneem het, weens die ongunstige (wêreldwye), ekonomiese situasie. Regerings en wetenskaplike navorsers word dus aangemoedig om voortdurend te eksperimenteer om uiters gesofistikeerde, moderne robotte te ontwikkel. Op hierdie wyse sal hierdie omstrede kwessie hopelik aangespreek word en sal die ekonomie ʼn stewige hupstoot kry. Tans is industriële robotte meer in aanvraag as enige ander tipe robot, siende dat hierdie meganiese konstruksies veral aangewend word om lewensgevaarlike take te verrig. Een aspek ontbreek egter – metakognitiewe denke. Robotte in die algemeen, beskik nie oor die vermoë om ingewikkelde hoë-orde denkprosesse uit te voer nie.”

“Doktor Sara Fick, van Suid-Afrika (Planeet Aarde), het egter ʼn algehele deurbraak gemaak op die gebied van tegnologiese ontwikkeling. Doktor Fick, werksaam aan die Universiteit van Robotika en Tegnologiese Ontwikkeling in Kaapstad, het hierdie week haar nuut-vervaardigde robot, ‘Meta 1’ aan die media bekendgestel. Doktor Fick het doktorsgrade in Meganiese-, en Elektriese Ingenieurswese en in Rekenaarswetenskap aan die Universiteit van Ori-an behaal en is beslis ʼn kundige op die gebied van robot-tegnologiese ontwikkeling. Sy het bo alle verwagting daarin geslaag, om ʼn robot te ontwikkel wat kognitiewe denke openbaar – ʼn robot wat ook uiting gee aan emosies, soos: liefde, haat, angs, blydskap, en dies meer.”

“Sover ons weet, is die robot enig in sy soort. Daar is egter bespieglings dat Doktor Sara reeds ʼn hele aantal op die swartmark verkoop het en dat hierdie robotte alreeds opkundige wyse in die samelewing (plaaslik, volgens my ligkode-inligting), geïntegreer is – nog lank voor die amptelike bekendstelling van ‘Meta 1’. Daar is ook sprake dat sy ʼn goeie kandidaat is vir die Nobelprys, maar om ʼn lang storie kort te maak… haar lewe is in gevaar. Kerke, verskeie politieke partye en regerings oor die Heelal heen, voel sy het die grense van etiek oorskry. Volgens verdere ligkode-boodskappe wat my hierdie week bereik het, is daar elemente wat daarin poog om ʼn aanslag op haar lewe te maak. Haar lewe en intellek is vir ons, die inwoners van Planeet Luz,belangriker as haar liggaam in ʼn kis in ʼn verwaarloosde graf, of uitgebrand in ʼn verassingsvuur.”

00–000 –flits die ligkodes weer hul bevestiging.

“Vanaand wil ek ʼn beroep op u doen om haar opraping te bewerkstellig. Ek wil ʼn twintigtal Ligkode A-deskundiges ontplooi in Suid-Afrika, om haar bewegings dop te hou en om die nodige reëlings te tref vir haar opraping. Die name van die gekose lede word nou, terwyl ek aan die woord is, op die Raadsaal-skerm geflits. U kan dus sien wie die spanlede betrokke by Operasie META 1 is. Weens ons gesofistikeerde operasionele vaardighede en intellek, is die getal vireers voldoende. Ek stel hiermee ook twee van forensiese speurders aan, W201 en SP2 om ʼn wakende oog oor Doktor Sara se doen en late te hou. Die ander agtien amptenare sal ‘op bystand’ wees en sal ingryp op kode-bevel. Hulle werksbasis sal vir eers Planeet Luz wees, aangesien hulle tans besig is met ingewikkelde tegnologiese ontwikkelings waarby ons planeet en inwoners beslis baat sal vind.”

–00–000 – (Ons stem saam met u planne van aksie. Dis egter uiters belaglik en onaanvaarbaar – die dat daar geen duidelike wette in plek of defnitiewe riglyne is, vir die ontwikkeling van gesofistikeerde robotte nie,” flits menige ligkodes in skakerings van rooi en grys, weens hul ontsteltenis oor die kwessie.)

“Ek stem volkome saam met u oor die gebrek aan doeltreffende beleid aangaande hierdie omstrede onderwerp,” sluit Kolonel Luz die vergadering af.

“Dit is dalk nou die tyd om daad by die woord te voeg en aan kreatiewe probleemoplossingstrategieë te dink. Nietemin… nogmaals dankie vir al u bydraes, u ondersteuning en bowenal vir u bywoning. Ons bly soos gewoonlik, in ligkode-kontak. Mag die ligte u lei!”

Ligstrale flits in stille erkenning en glip teen ongekende spoed, in hul eie unieke wentelbane na verskillende rigtings van die Heelal.

Speurders W201 en SP2 vermom hulself as lampligte in die Adderleystraat en Waalstraat-omgewing volgens hul ligopdrag. Hulle supersoniese ligvisie en ligsensors verleen aan hulle die vermoë om die omgewing deeglik te bespied. Hulle funksioneer op Frekwensie AA1, vreemd aan die frekwensies van enige ander lewensvorme in die Heelal.

“Dis daardie ene – daar… daar…,” flitsW201 ʼn dringendeligkode-boodskap uit aan SP2.

“Watter ene?” vra sy kollega.

“Daardie ene, man…” flits eersgenoemde terug, “die ene duskant die smous.”

Een van die lampligte ongeveer vyf meter van Doktor Sara Fickaf, sak af uit sy straat-lampskerm, aan ʼn lang, dun staalkonstruksie. Dit lyk kompleet soos ʼn blom aan ʼn stingel, maar sy is onbewus van hierdie spesifieke verwikkelinge om haar. Die lamplig verstel sy visuele waarnemingsveld en posisioneer sy waarnemingslens sodanig dat hy Sara in volle beeld het.

“Sy’s weliswaar iets vir die oog!” flits Speurder SP2 terug. “As ek in menslike vorm was, kon daar dalk ʼn lig kunsie of twee tussen ons twee gebeur het,” spot hy.

Die vyf-en-dertig-jarige doktor, blaas rookbolling na rookbolling uit! Haar hande is sweterig en bewerig. Sy is geklee in ʼn noupassende rooi ontwerperspakkie – ʼn Juliano Eduardo-nommertjie. Haar digte bos blonde hare is in ʼn Franse vlegsel agter haar kop vasgebind. ʼn Paar swart leerskoene en ʼn swart, moderne handsak, rond die prentjie perfek af.

Berekend verken sy die omgewing om haar. Senuweeagtig druk haar vingers ʼn nommer op haar selfoon. Sy staan op ʼn middelmannetjie op die hoek van Adderleystraat en Waalstraat, in Kaapstad, reg oorkant die Kompanjiestuine. Die feit dat dit nege-uur in die aand en reeds donker is, maak haar meer angstig!

“Ek moet die inligting vanaand oorhandig aan Speurder-Sersant Deon Le Roux, want tyd is ʼn probleem. Hier is magte aan die werk wat my wil kruisig oor my werk, oor my Godgegewe gawes. Doodsdreigemente hang oor my kop. My formules moet so spoedig moontlik in veilige hande beland.”

Die gasreuk kleef swaar en giftig aan die kil Kaapstad se nag, terwyl die mis die sterre kleiner en verder in die nagruim laat flikker. Sara is onbewus van die indringers wat haar dophou. Die nag slag egter daarin om die skadu-elemente kundig te kamoefleer.

Haar selfoon lui.Dit prr-prr in haar oor. Skielik lui dit weer. Sara bly stil en wag vir ʼn stem om te praat. Dis hoe sy geleer is – dit is ʼn sekuriteitsmaatreël. Sy probeer die klanke ontleed, maar vind dit om een of ander rede moeilik. Die telefoon lê skielik stil in haar hand. Sy frons en laat die weggooi-selfoon in ʼn vullisdrom verdwyn. Die strate is gevul met toeterklanke. Motorligte kom gevaarlik vinnig op haar afgepyl.

“Kon jy die frekwensies opspoor? Ek kon nie sin uitmaak van die elektroniese steurnisse om my nie,” flits W201 bekommerd.

“My kollega, ek stem volkome met jou saam. Iets is nie pluis nie, vertel my ligjare-oeroue intuïsie aan my. Daar was ʼn Babelse verwarring – talle verskillende inkomende frekwensies. Dit was kompleet asof die doel was om te verwar en om ons van koers af te bring. Daar was ʼn erge geruis aan die ander kant,” gaan SP2 voort. “Dit was nogal vreemd. Maar hou haar dop… sy praat nou met die smous.”

“Ek verstel my projeksie- en ontvanger frekwensies voortdurend, maar kan hoegenaamd nie die gesprek analiseer nie,” flits W201. “Dis werklik ongewoon.”

“Ja, dis uiters frustrerend. Ek doen dieselfde,” antwoord SP2. “Ek kry die idee dat ruimte- of ander wesens daarin geslaag het om ons Lig Orde-kodestelsel te infiltreer. Ja, sy en die smous blyk nou werklik in diepe gesprek gewikkel te wees.”

“Spesiale prys, Poppie. Net vir jou! Egte goud wat tik-tok op ʼn volmaan nag,” grynslag ʼn man terwyl Sara onvermydelik die soetwyn reuk van die papsak in sy hand, inasem. “Op volmaan nagte loop wesens met gespletenheid van karakter soekend rond op die uitkyk na die wat hulle kan verslind. Luister verby my sinnelose woorde, Poppie. Opdrag 401. Jou bewegings word fyn dopgehou. Die boodskap is die horlosie. Dit wat jy nou voor jou gewaar… skryf dit maar toe aan goeie teatertegnieke en -taktieke. Die boodskap en probleem, as jy dit so wil noem, lê in die tik-tok.”

Sara hoor die ongewoon harde, tik-tok-geluid van die horlosie. Sy sien ook ʼn kode-boodskap wat in die palm van die smous se linkerhand geskryf is, in swart viltpen. Gelukkig staan hulle direk onder ʼn lamppaal. Onder die flikkerende lig lees, interpreteer en memoriseer sy dit.

Die smous se oë gly oor die soepel lyne van haar liggaam en die glinstering daarin is ʼn teken dat hy geniet wat hy sien. Hy maak dit deel van die senuspel en sluk dan ʼn mondvol van die soetetjies in die papsak. Meteens buig hy sy pols effe na links en voer ʼn swaaibeweging met sy linkerarm uit. Die horlosie vlieg af en land in Goewermentslaan op die klipperige hardheid. ʼn Albino eekhorinkie hardloop verskrik tussen die struike in.

Sara se oë beweeg onrustig heen-en-weer – soos die van ʼn nagadder. Skielik tel haar bene weer spoed op, terwyl haar lyf outomaties en vinnig, vorentoe beweeg. Sy is onbewus van die anderene… goed gekamoefleer agter die monument. Ook die hou elke beweging berekenend dop. Hy maak dit sy doel om op haar spoor te bly. Meteens verander hy sy plan. Hy gryp in en voer sy taak suksesvol uit.

Die horlosie vibreer teen ʼn geweldige spoed. Stoom kom by die kante uit.

“Ke-dwar! Ke-dwar! Ke-dwaaaa…r.”

“Manjefiek! Suksesvolle afhandeling van Fase A van Opdrag 401,” dink die smous as hy die spore van vernietiging agter hom laat en teen ʼn ongekende spoed Dokke se kant toe hardloop.

Die ontploffing ruk dele van die gronde van die Kompanjiestuine uitmekaar. Die Koi-visse in ʼn nabygeleë visdam word reënboogkleurige skerwe geskiet Ook tientalle eekhorinkies, duiwe, hadidas en wilde ganse se bestaan kom tot ʼn wrede einde.

“My goeiste genugtig, waar’s Doktor Sara?” flits W201 bekommerd. “Ek vind dit moeilik om die ligkodes korrek te vertolk. Daar is steeds probleme met die elektroniese prosessering van data. Kyk, sy hardloop nou in die rigting van Victoriastraat.”

“Nee man, jy’s totaal verward. Daar stap sy nou verby die pers agapante blomme in die beddings van Goewermentslaan,” kode-flits SP2.

Daar is skielik ʼn geruis in die agapante-bedding in Goewermentslaan, reg langs haar. Sy kyk onrustig om, maar sy dwing haar dade verby haar angs. Sy stap vinniger en probeer deel word van die groepie van drie voor haar.Haar kop dwing haar lyf egter plotseling tot stilstand.

“Ek moet om draaie en hoeke dink,” praat sy met haarself. “Dis hoe my brein geprogrammeer is. Ek kan immers analiseer en tot gevolgtrekkings kom. Ook is ek in staat tot kreatiewe probleemoplossing in tye van nood.”

Sy vroetel in haar handsak, haal ʼn opgefrommelde stukkie papier uit, hou dit teen haar selfoon se flitsliggie en lees: “Kamer 2 by die VOC-groentetuin.”

In ʼn ystergreep word sy vasgevat. ʼn Dronkmansasem fluister: “Hou jou mond, of jy is vrek.”

Die straatligte flikker ʼn paar maal en dan is die stad pikdonker.

“Beurtkrag,” fluister verontwaardigde stemme.

Sy voel die koue staal van die skerp mespunt teen haar nek. Dit stuur angsrillings deur haar lyf. Sy slaag gelukkig daarin om ʼn gekodeerde boodskap te stuur. Die mes druk met moeite dieper in haar nek in. Die aanvaller se oë raak so groot soos pierings as hy na ʼn gesukkel in elektronika en harde plastiese materiaal vas sny.

“Jy’s nie ʼn mens nie. Jy’s ʼn robot! Jy’t my verneuk! Jy’t my verneuk! Jy’s net ʼn elektroniese pop met ʼn blikbrein.”

Die ontstoke aanvaller neem sy sigaretaansteker en hou dit teen sy vroulike vyand se blonde hare. ʼn Onverwagse beweging trek meteens sy aandag. Hy verloor konsentrasie. Sy forseer haar elektroniese strominge binne sy hand in. Die sigaretaantsteker spring nou in haar hande.

“Jou… jou…!” skree hy. “Aau! Aau! Ek’s besig om te verbrand. Dit was nie deel van die plan nie.”

“Goed so jou skarmunkel,” dink die een naby die agapante-bedding.

Tekens van erge pyn gaan klou onverwags in diep vore oor haar aanvaller se gesig. Die lampligte flikker skielik flouerig. Die krag is weer aan.

“Waar is Doktor Sara nou?” flits SP2 ontsteld. “Laat ons nou maar weer die proses begin, voordat beurtkrag ons sake deurmekaar gekrap het.”

“Daar!” flits W203 bly.

“Jy misgis jou,” antwoord SP2.“ Sy is… daar!”

“Wat gaan dan vanaand hier aan!” flits W203 verward.

“O my goeiste,” flits SP2. “Daar is… een, twee… nege… wesens en almal is geklee in ʼn rooi snyerspakkie met presies dieselfde swart ontwerperskoene en -handsakke. Hulle het ons kodestelsel geïnfiltreer en verfomfaai. Hulle is prototipes van die doktor. Dis nou die ding van metakognisie – hierdie robotte kan dink. Doktor Sara se metakognitiewe robotte is beslis al in die samelewing geabsorbeer. Vanaand se teaterspel is slegs ʼn bevestiging van dit wat ons reeds vermoed het.”

“Kyk, hul gesigte weerspieël selfs tekens van emosie: angs, senuagtigheid, determinasie asook ʼn tikkie ondeundheid,” flits W203 opgewonde. “Die enigste ding nou… watter een is Doktor Sara?”

“Ja, vanaand was dit beslis ʼn subtiele skouspel van vernuf, getoon aan die wat gereed was om dit te ervaar,” gaan SP2 voort. “Die vraag is nou… watter spesie oftewel wese, is die met die mees ontwikkelde breinkrag?”

“Dit is ʼn kwessie wat die wetenskaplike navorsers nou maar moet ondersoek en bepaal,” reageer W203 flitsend.

“Ek gebied julle… Kom onmiddellik terug na Planeet Espacio!” flits Kolonel Luz woedend in pikswart ligkodes. “W203 en SP2, julle het veelste lank gewag om hulp te ontbied. Ons kodestelsels en ontvanger ligkode-satelliete is nou totaal onbetroubaar. Ek het agtien manne aangestel om julle by te staan. Julle het versuim om deskundige hulp in te roep in tyd van nood. Julle twee speurders het uiters onverantwoordelik opgetree.”

Geskok flits W201 en SP2 flouerig ʼn kode-boodskap aan mekaar.

“Die Donker Gat is nou jul voorland – vir etlike ligjare in elk geval,” flits Kolonel Luz voort. “Julle moet vanaand nog in die Orde Ligkode-Hof verskyn om die finale vonnis aan te hoor – die aantal jare in donker afsondering! Forensiese speurders J9, BT6 en VC11 sal nou Doktor Sara na ons planeet toe bring – indien dit nie al te laat is nie. Daar blyk beslis ander tekens van gesofistikeerdheid op hierdie Heelal van ons te wees.”

Die twee forensiese speurders, W 203 en SP2 se ligspore word skielik uitgedoof as hulle hul onverwagte terugtog na die verdoemenis aanpak.

Sy kyk verbouereerd rond, terwyl sy probeer uitwerk wie nog in die donkerte werksaam is. Sy probeer naarstiglik die oorsaak van haar aanvaller se dood evalueer en analiseer deur hul nuutste tegnologiese apparaat, maar totaal teen haar verbasing in, begin hy voor haar oë disintegreer. Sy liggaam gloei soos ʼn brandende sigaret sonder vlamme. Die proses is ongelooflik vinnig. Die liggaam krimp en word ʼn enorme, harde, swart, smeulende kool in Goewermentslaan onder ʼn oeroue fikusboom.

J9, BT6 en VC11 neem hul poste in in die Kompanjiestuine. Hul ligsensors tel tans geen vreemde frekwensies op nie.

“Ander wesens of verskynsels het ons sensoriese ligkode-stelsel gesaboteer. Ons kan geen enkele spoor van die Meta-robotte optel nie. Dis baie eienaardig,” flits J9 aan BT6 en VC11.

“Vra vir versterkings,” raai VC11 flitsend aan. “Net om veilig te speel. Ons wil tog nie in die Donker Gat van marteling, pyn en afsondering beland nie.

-000-0 – flits sy twee makkers in bevestiging.

“Kolonel Luz,” ons kan geen spoor van van Doktor Sara en haar prototipes vind nie. Dis werklik vreemd,” flits J9. “Ons is egter besig om weereens op velerlei frekwensies in te skakel en sal u laat weet sodra ons weer op hul spoor is. Ons het verskeie tipes mikro ligfrekwensie-analiseringsapparate saamgebring om ons taak te vergemaklik. Ten spyte daarvan, wil ons egter vra vir onmiddellike, versterkings sodat ons Doktor Sara kan opspoor.”

“Speurders, julle het slegs ʼn uur. Indien julle misluk, sal julle die hofverrigtinge vanaand nog, saam met W201 en SP2 moet bywoon. Die Donker Gat sal dan ook julle voorland wees,” laat weet Kolonel Luz onmiddellik in skakerings van grys ligflitse.

Skielik doof die ligte uit en Kaapstad is weereens in donkerte gehul. Sy gebruik die geleentheid en mik na die bymekaarkomplek van Doktor Sara se Meta-robotte.

BT6 tel hierdie keer ʼn stoornis op. Hy verstel sy ontvanger kode-analiseringsapparaat en gebruik sintuigversterkers om sensoriese prikkels op te tel.

“Ek het dit! Ek het dit!” flits hy sy blydskap in heldergeel ligkodes. “Kyk, daar in die Kompanjiestuine – daar staan ʼn vreemde tuig. Dis ʼn vaartbelynde staalkonstruksie. Dit lyk amper soos ʼn sandhaai sonder ʼn stert – plat en vaartbelyn. Stel julle tegnologiese apparaat in op Frekwensie B1-B4” beveel hy die ondersteuningspan van twintig “en… analiseer al die sensoriese inligting wat julle ontvang op deeglike wyse.”

“Doktor Sara… Doktor Sara is in die tuig,” flits VC 11.

“Omring! Deurdring!” flits Kolonel Luz dringend.

Die een wat agter die monument skuil, glip stil in die ruimtetuig in.

Miljoenarde Orde-afgevaardigdes van die Lig Orde Ondersteuningsbataljon projekteer hul gesofistikeerde listrale op die tuig se wande. Die ontvangerimpulse word op die groot skerm in Kolonel Luz se raadsaal geflits en vertolk.

“Doktor Sara is in ʼn ander vorm!” flits VC11 nou direk aan Kolonel Luz. “Die wesens waarmee ons te doen het, is ligvorme van ʼn ander aard. “Ons forensiese speurders en Orde Ligkode analiseerders is besig om verdere inligting oor hierdie verskynsels in te win.”

“Absorbeer haar, VC11 en bring haar onmiddellik na Planeet Espacio!” beveel Kolonel Luz.

“Ons is…”

Die deure van die tuig skuif toe. Skielik flikker die rooi in die smeulende kool onder die tuig. Dit raak nog rooier en bars dan uit in ʼn elektriese oranje-rooi vuurwerkvertoning.

Die ruimtetuig skiet met ʼn geweldige vaart verbasend hoog die lug in op as Dimensie 444 die tog na hul planeet, Planeet Elektros, aanpak.

  • Chantal

    Baie goed geskryf. Ek het sover al jou kortverhale geniet. Dit is ‘n slim verhaal en jy ken jou Afrikaans, want lees en lees en meer lees is baie belangrik vir die brein.

  • Salmon Smith

    Baie mooi verhaal, Ilse. Net een ding wat my ‘n bietjie dronkslaan: Hoekom spreek ‘speurder J9’ kolonel Luz iewers in die verhaal aan as, “kaptein Luz”? Was dit maar net ‘n foutjie wat ongesiens verby geglip het, of was dit om een of ander rede u bedoeling?

  • Marilise Hammond

    Uitstekend geskryf en werklik spannend. Ek het die intriges in die
    verhaal baie geniet. Ek sien daarna uit om die verhaal verder te
    lees.