MISSIE WIT-STOK 232 – Ilse Goschus

MISIE WIT-STOK 232 – 2015 © Ilse Goschus

JEUG WETENSKAPFIKSIE (2 066 WOORDE)

 

Hul sestienjarige tienerlywe klou koeksisteragtig aan mekaar. Dirk vryf haar lang, blonde hare deurmekaar terwyl hy na haar kyk met ʼn vonkel in die oog. Pop beur nou haar lyf koketterig weg van syne. ʼn Tergende glimlag trek-trek aan haar mondhoeke.

Pop is mooi, sprankelend en intelligent, maar Pop is gebore met blindheid. Sy het ʼn wit stok wat die sensoriese stimuli om haar kodeer – haar getroue genoot!

Die stok lê op die klam sand langs die Keurboomsrivier by Plettenbergbaai of Plet soos dit algemeen bekend staan. Dirk en Pop se families is saam met vakansie in ʼn enorme houthuis op die rivieroewer.

“Bling-bling-bling,” weerklink ʼn blikkerige geruis skielik in haar kop.

“O my goeiste! O-nee! Dis in my linkeroog!” roep sy geskok uit.

“Pop-kind, wat is in jou oog?” vra Dirk besorg.

“Supersoniese visie en ʼn elektriese mengelmoes!” is haar verwarde antwoord terwyl haar liggaam skielik in sirkelbewegings van kant tot kant begin kantel.”

“Missie Wit-Stok 232… Kom in. Akwa Blou, kan jy my hoor? Blong, bling, blang! Gesante van die Toekoms. Missie… bewustheid, Tokiodorus,” bring sinnelose, klanke verdere verwarring in haar kop.

“Ek verloor jou Pop,” verdwerg Dirk se stem tot die agtergrond. “Bly by my, mooi meisiekind! Moet my asseblief nie alleen los nie.”

“Ek was blind. Ek het nou visie – ek kan sien, ver die toekoms in,” antwoord sy in ekstase. “Ek moet leer om sin te maak van die nuwe beelde en ligvorms wat voor my oë vorm aanneem. Sig en visie is die onverwagte, welkome skatte wat my lewe voller gaan maak. Ek weet dit net.”

Pop se liggaam begin onwillekeurig van kant tot kant wikkel en wankel.

Dirk frons bekommerd en vra: “Voel jy ʼn bietjie duiselig? Kom, Pop my meisie, kom sit hier op die rivieroewer op die klam grassies. Ek sal jou voorkop afspons met die koue rivierwater. Jy sal dan beter voel.”

ʼn Blou-wit glans kom lê nou oor Pop se wese. Die glimlag wat vir ʼn korstondige oomblik om haar mondhoeke speel, simboliseer ʼn winterse kilheid. Dit bekommer Dirk. Sy kantel nou vinniger en vinniger van links na regs. Opeens raak die aksies meer soepel en meer gekontrolleerd binne die momentum. Haar liggaam spiraal nou supersonies vinnig in die rondte in reënboogkleurige, sirkelende ligstrepe. Die blou-wit van haar blinde oë reflekteer ingewikkelde kombinasies van velerlei netwerke, elektroniese tegnologie. Laserstrale skiet hul skerpheid tussen die tegnologiese konkoksie uit. Sy kommunikeer nie meer met hom nie. Dirk kyk geskok na die petalje voor hom. Skielik skiet Pop lug-in, in haar eie wentelbaan. Sy sirkel en sirkel en binne ʼn korstondige oomblik is sy nie eens meer ʼn spikkel in die hemelruim nie.

“Wat gaan ek vir haar ouers sê?” wonder Dirk geskok.

“Besluit of jy ʼn kind is van die toekoms, of ʼn oorblyfsel van die verlede,” spring ʼn gedagte in sy kop.

“Telepatie!” besef hy. “Dis ʼn boodskap van Pop. Die keuse, altyd die keuse!”

Meteens word dit donker in sy lewe – pikdonker…

“Ek kan nie sien nie, Pop. Ek’s blind!” roep Dirk benoud uit. “Sy voeg altyd die daad by die woord – sy kommunikeer met my deur haar aksies. Sy is nou ʼn simbool van die toekoms. Ek is ʼn martelaarsvoorwerp vanuit die verlede. Ons het rolle geruil. Sy het sig en ek is geslaan met blindheid. My wêreld is donker – figuurlik en letterlik gesproke.”

“Bling! Blong! Blang!” eggo elektroniese klanke deur sy kop:

“Bruto I, Gesant van die Toekoms, luister mooi na my woorde… Ons word almal gebore vir die toekoms. Blung! Blang! Blong!”

Dirk is verward. Elektriese strome sirkuleer deur sy liggaam en veroorsaak ligte skokbewegings deur sy wese asook absolute chaos. Meteens kom hy tot wyse insigte wat hom tot ʼn besliste besluit lei.

“Vorentoe, saam met Pop! Dis my besluit,” dink hy stil in sy kop.

Die klammigheid van die grassies en sand en kabbeling van die rivierwater is die enigste antwoord op sy besluit.

“Pop, Dirk, waar’s julle? Dis etenstyd!” trek Pop se ma se stem Dirk se kant toe op die varsheid van die seebriesie.

Dirk wil antwoord, maar die woorde gly verby sy mond en sit vas in sy gedagtes. Hulpeloos hoor hy aan, kyk hy toe, maar is totaal ontneem van aksie.

Pop se wit stok, steeds op die klam grassies, begin vibreer. ʼn Geweldge rukwind raap Dirk skielik op en stuur hom teen ʼn ongelooflike snelheid, (ook in sy eie wentelbaan), hoog die lug in op.

“Bling bling, blang,” klink die robotagtige geluide tussen sy verwarring deur.

Dirk kan die prikkels nie vinnig genoeg verwerk nie.

“Al die inligting, boodskappe en ruisinge in my lyf, maak my mal!” skree hy paniekerig tussen ʼn warboel elektroniese stimuli deur. “Wyk julle indringers in my private spasie, hervormers van my innerlike wese en vernietigers van dit wat ek was!”

“Welkom op Planeet Tokiodorus. My naam is Akwa Blou,” hoor hy ʼn robotstem.

ʼn Kalmte daal vir ʼn kortstondige oomblik in sy siel neer.

“ʼn Sagtheid kleef aan die klanke,” besef Dirk onverwags.

Letterlike visie en sig ontbreek hom steeds. ʼn Opgewonde tinteling spring nou deur sy elektroniese wese. Sy intuïsie lei hom tot nuwe insigte.

“Pop is dit jy?” vra hy op robotagtige wyse.

“Gedagtes van die verlede behoort van hierdie oomblik af in die verlede en so-ook jou doopname: Dirk Hendrik van Breda. Jy het jou keuse gemaak. Jy is nou ʼn Gesant van die Toekoms. Jy sal binnekort meer agtergrondsinligting ontvang. Jou nuwe naam is Bruto I,” ruis Akwa Blou se stem voort as haar laserstraaloë skielik na ʼn sagte babablou verander.

Die ander Gesante van die Toekoms, sien dit raak. Hulle kyk na mekaar en die elektriese kontakpunte in hul oë vibreer en skiet bloedrooi en oranje laserstrale uit in die ruim en oor die Heelal heen. Die aardbewoners sien die kleurspel op die horison en ervaar dit as die sonsondergang. Bruto I is egter onbewus van die towerspel van kleure om hom heen. Hy is steeds stokblind. Dit maak hom onrustig. Hy verwag die onverwagte. ʼn Skielike rukwind swiep die twee nuwe Gesante van die Toekoms op en dryf hulle binne-in ʼn ruimtetydkapsule in. Dit is uiters modern.

“Dis plat, driehoekig en vaartbelyn,” flits ʼn gedagte opeens in Bruto I se kop terwyl hy wonder: “Waarheen nou?”

Hy vat-vat aan sy oë wat geen lig wil inlaat nie. Hy skrik. Sy hande raak aan ʼn ingewikkelde netwerk van tegnologiese en elektroniese vernuf – nes die oë van Pop! Dit voel kompleet soos ʼn konkoksie elektriese bedrading in teleskoop vorm wat verby sy oogkaste uitsteek. Bruto I gril en laat sy arms skielik langs sy sye sak.

“Wat is aan die gebeur? Wie of wat is die mag wat ons uit die wentelbaan van ons normale lewe geruk het?” wonder hy peinsend.

“Ons wentel nou om Planeet Tokiodorus, die Aarde en al die bekende en onbekende planete en ruimtewesens en -verskynsels,” verduidelik Akwa Blou verder. “Sommige lê nog ongebore op die horison van die toekoms. Ander is reeds jarelange doodgebore sterre, vasgevang in ʼn ewige wentelbaan om die Aarde en ander planete.”

“Blong! Bling!! Bling! Welkom Bruto I,” onderbreek ʼn skrille robotstem vir Akwa Blou. “Ek is Plutorus IV, Generaal van die Gesante van die Toekoms. Ek is jul gasheer op Satelliet Tokiodora.”

“Hierdie keer kan ek beslis nie ʼn geslag aan hierdie stem koppel nie,” dink Bruto I ietwat verward.

Hy is verbaas oor die wending in sy gedagtegang.

“My missie is gelykheid vir en van almal, aanvaarding van almal en bewuswording en bewusmaking van almal,” gaan Plutorus IV voort in die steeds skrille robotagtige stem. Die Gesante van die Toekoms bring ʼn boodskap van hoop. Ons werk al vir etlike ligjare daaraan. Ons het blindheid onder die Aardbewoners voorspel – fisiese blindheid. “Ons het die oplossing gevind en deur ons moderne toekomsgerigte, tegnologiese ontwikkelings opgelos. Hier, neem hierdie mikroskopiese apparaatjie, AA8. Druk dit in jou regteroor en fokus op die nuwe inligting wat jy sal ontvang… miljoeketers daarvan. So terloops, miljoeketers is ons meeteenheid hier op Tokiodora, Satelliet van die Gesante van die Toekoms.”

“Ek kan sien! Ek kan sien tussen die violetkleurige laserstrale deur. Ek kan velerlei dimensies sien! Akwa Blou, jy is beeldskoon. Jy is omvou in laserligte, in velerlei skakerings van blou. In sagtheid is jy gedompel,” gaan hy liries voort.

Skielik spring Akwa Blou se robotstem weer tussenbeide. “Ja, Bruto I, Plutorus IV, Generaal van die Gesante van die Toekoms, het ons uitverkies om deel te neem aan Missie-Wit-Stok 232,” verduidelik sy. Dis ons missie om die toekomstige geslagte gestremdheids bewus te maak. Die feit dat ons reeds in die toekoms funksioneer, maak die taak soveel makliker. Missie Wit-stok 232 sal ons twee se eerste poging wees om bewustheid te kweek by die onbewustes. Ons eerste taak, myne en joune, tesame met die ander Gesante van die Toekoms s’n, is om te fokus op diegene wat blind is. Ek is die spreekbuis vir diegene met blindheid, asook ʼn adviseur aangaande die vervolmaking van die tegnologiese sy van sake. Jou taak is bewusmaking op ʼn kreatiewe wyse en…”

ʼn Tornado ruk die satelliet onverwags uit die wentelbaan. Grys jellie-agtige massas forseer die Gesante van die Toekoms uit die veiligheid van die kapsule deur hul brute kloukrag.

Bruto I val. Hy probeer homself verdedig, maar raak ʼn onwillige pion van die noodlot.

“Ek is Verskynsel Litchenn-s-2. Ek suig vas. Ek suig uit. Ek neem, oor,” verduidelik die wese teen, op hom en in hom deur taktiele prikkels. “Ek vernietig die toekomsblik. Ek druk my opponent diep terug in die vergangenheid in. In die verlede sal jy rondswerf vir ewig en ewig. My spesie is velerlei verskynsels in een. Ons verander voortdurend van vorm en van missie. Ons is tweedoelige skeppinge van realiteit en illusie. Ons is vyand gekamoefleer as vriend. Die Aarde is die simbool van vergangenheid en vasgevangenheid – die planeet van hel as jy eers ʼn blik van die toekoms gekry het.”

“Die toekoms is kragtiger as die verlede. Dit bring hoop, verandering en oplossings,” dring Akwa Blou se stem deur sy wese. “Bruto I, onthou, Generaal Plutorus IV en sy Gesante van die Toekoms…”

“Blung! Blung!”

Brutohoor ʼn geruis en dan heers daar ʼn stilte…

Hul kommunikasie word skielik onderbreek. Bruto I se blik glip aardwaarts. Hy sien Pop se ma met haar hande voor haar oë, turend die vertes in. Sy soek vir Pop.

Die massa deurdringende grysheid van Litchenn-s-2, klou met mening aan sy wese. Dit oorweldig hom en dit neem besit van hom. Hy vergeet van alles wat nuut was en van alles wat toekomsgerig was. En dan skielik verval hy weer in blindheid, met Pop nie eens ʼn vae herinnering in sy kop nie.

Akwa Blou en die Gesante van die Toekoms, sien Bruto I se terug val ver in die vergangenheid in.

“Ek het gedog hy’t ʼn sterker wil,” fluister sy teleurgesteld aan Plutorus IV, onbewus van die Verskynsel Litchenn-s-2 se effek.

“Gesante, maak julle gereed vir Aanval Verskynsels Litchenn-s”, weerklink die angstige robotstem van Onderbevelvoerder, Medame Venussi, deur die uitspansel.

“Vroulike wesens oorreageer altyd!” fluister een manlike Gesant, Tokus-2 vir sy Gesante-broer Jutarus-143.

“Moenie vroulike Gesante-wesens onderskat nie!” skreeu Jutarus-143 waarskuwend. “Verstel jou projeksiediepte, en verskerp jou taktiele ontvangertegnologie.”

“Die vyand is besig om Planeet Tokiodorus en Satelliet Tokiodora oor te neem, ” tel die Gesante van die Toekoms sensoriese prikkels van duisendtalle grys Verskynsels Litchenn-s op en versprei die boodskap deur taktiele stimuli.

“Ek kan nie sien nie, ek raak blind,” skree Tokus-2 verward as duisendtalle Litchenn-s, elk met ʼn eie kode hom beetkry en af Aarde toe forseer.

“O hene! Akwa Blou! Hulle het jou ook beet,” skree Tokus-2. Hulle het die satelliet oorgeneem en het deur ons laserstraalskutters se energievelde gedring. Ons moet ons ekspressiewe tegnologiese vaardighede gebruik. Dis die regte tyd!”

Litchenn-s-10 druk ʼn paar elektroniese drade uit Akwa Blou se supersoniese oë uit. Die wese suig vas aan haar en druk haar met brute krag, afwaarts, Tientalle ander help hom en druk haar in die Aarde se atmosfeer in.

“Poppie, ek voel jou teenwoordigheid. Is jy dan weer terug in die Aarde se atmosfeer?” hoor Akwa Blou Dirk se amper patetiese, liefde-belaaide stem.

Hy reik onwillekeurg uit na haar met albei hande…

ʼn Storm vul die hemelruim. Dit donder en blits vir ʼn vale. Die elektrisiteit van ʼn onverwagte bliksemstraal skok haar en skiet haar meteens teen ʼn geweldige spoed, vooruit, binne ʼn nuwe toekoms en binne ʼn nuwe wentelbaan in!

  • Chantal

    doopnaame = doopname

  • Marilise Hammond

    Ek dink dat hierdie storie baie goed geskruif is. Well done Ilse, keep up the writing!