NEFERTITI – Brechje Visagie

NEFERTITI – 2015 © Brechje Visagie

VOLWASSE FANTASIE (1 778 WOORDE)

 

Nefertiti maak haar in die son op die stoep muurtjie tuis. Die wind voorspel niks goeds nie. Voor vanaand sal die koue en reën hier wees. Sy wil net vir oulaas die son indrink. En dink. Oor lank gelede se aanvoeling, oer-instinkte wat haar waarsku teen boosheid. Sy begin om haar pootjie te was. Afgetrokke, met presiese reëlmaat totdat sy rustig in die niet staar – na niks. En baie.

Nefertiti was nog bitter klein toe die vrou haar in die veld opgetel het. Al wat sy kon onthou, was dat sy koud, baie, baie koud was. En honger. Sonder enige waarskuwing, was die vrou se hande om haar lyfie. Sy onthou die snaakse gevoel toe die vrou haar van die grond afgelig het tot by haar gesig. Haar leë magie het byna net daar onder die bos agtergebly. Toe was die vrou se warm asem in haar gesig en sagte hitte het uit haar hande gestraal. Daarna was alles, sag, donker en warm.

Sy onthou stemme. Die van die vrou, melodieus en sag, maar ferm – die van die man, grof, hard, gevoelloos. Daar was vreemde geluide. Pyn prikke en ʼn soort warm vergetelheid. Maar die hele tyd, tot sy lig en donker kon sien en langsamerhand voorwerpe kon onderskei, was die vrou se stem en warmte en haar reuk rondom en naby Nefertiti.

Die growwestem-man het al minder by die vrou se huis besoek afgelê en later heeltemal weggebly. Die vrou was gebroke. Sy het soms vir Nefertiti teen haar lyf vasgedruk en gehuil. Nefertiti het teen haar lyf gespin en in haar arms geslaap tot die volgende man opgedaag het.

Toe die vrou later die middag gereedmaak om te gaan bad, sluimer Nefertiti tussen die kussings op die gemakstoel in die badkamer. Sy bly bewus van die vrou se bewegings. Maar die ou drome van priesters en die donker gange van graftombes, van kwaad en boosheid wat in die mens skuil, die weerloosheid van vroue teenoor die mag- en hebsug van konings en prinse, roer in haar onderbewussyn. In haar drome herken sy Bastet – godin van katte. Van liefde, vreugde, dans, musiek. Sy absorbeer die wysheid van eeue in haar droom.

Nefertiti lig haar kop en kyk na die vrou in die bad. Sy rek haar lankuit en skuur teen die donssagte handdoeke wat oor die reling langs die bad hang. Sy miaau klaend, maar die vrou lag net.

“Vanaand, Nefertiti, bepaal ons die huweliksdatum. Na al die alleen-jare, na die teleurstellings, Gerbrand, Kobus en Jean…” Die vrou se hande gly oor haar gladde lyf. Sy lig skuimbolle op en blaas hulle oor Nefertiti. Dan vervolg sy: “…gaan ek volwaardig vrou word. Aan iemand behoort wat my lief het om myself.”

Nefertiti spring op die bad se rand. Sy trap fyntjies tussen die bottels met badkristalleen kosbare gegeurde olies wat in die laatson gloei. Sy tas met haar poot na die vrou se heuningblonde hare wat op haar kop gestapel is. Los krulle hang in haar nek. Sy sien die fyn plooitjies om die vrou se oë. Die effense verdikking van die ken. Die vrou se oë isblou soos die blom op die man se rekenaarskerm. En dromerig. Sag. Liefde maak die vrou mooier as wat sy is. En weerloos.

Sy miaau weer.

“Nefertities, ons gaan ʼn man kry, watter man my liewe vrou? Een wat baie van ons hou…” sing die vrou verspot en spat bietjie water oor Nefertiti.

Nefertiti verstaan die woorde. Sy ken die intonasie van die vrou se stem. Sy kan die geluk en die afwagting aanvoel. Maar van die nuwe man gekom het, die een met die mooi maniere, voel sy onrustig. Hy is die een wat blomme in gerwe aandra en baie lag. Wat die vrou rondomtalie tot sy nie meer kan dink nie, net droom. Vandat hy gekom het, roer dit in haar – die oer wete van onheil.

Sy kyk hoe die vrou uit die bad klim. Haarself sag droogdruk met handdoeke. Nog rome en olies in die mooi lyf en die minder mooi gesig vryf. Toe verdwyn die vrou in die aantrekkamer.

Nefertiti gaan terug na haar stoel in die laaste sonstrale.

Sy word wakker toe die vrou sag oor haar pels streel. Die vrou ruik soos somervelde vol blomme. Sy is mooi in die sagte skemer van die kamer. Haar rok is rooi soos bloed en haar hare glinster met juwele wat in haar ore en om haar hals herhaal word. Armbande rinkel om haar polse, robyne en diamante versier haar lang vingers.

“Kom, ons gaan, Nefertiti. Die laaste voorbereidings wag.” Die vrou stap heupswaaiend, bewus van haar vrouwees en skoonheid, voor Nefertiti uit.

Die kat weet sy kan die vrou nie waarsku of keer nie. Al het sy die man oor die telefoon hoor praat. Oor die vrou se besittings, die rykdom van die groot plaas teen die rivier.

“Gee my net ʼn paar maande, dat sy my vertrou. Toegang tot haar testament en geld het. Dan kom ek na jou toe. Ons begin ʼn lewe van luukse vryheid.” Dis soos die man praat. Of:

“Sy is smoorverlief op my. Sy het reeds vir my magtiging gegee ten opsigte van al haar banksake en die testament is verander – die begunstigde? Die uwe. Net nog bietjie geduld, mooiste Meisie.”

Nefertiti kon die selfvoldaanheid in sy stem hoor. Die valsheid as hy die vrou se skoonheid besing of konsuis na haar welstand verneem.

Sy het die foto van die bloukappie-blommetjie op die skerm van die rekenaar gesien. En herken uit haar vorige lewe. Toe alles donker geword het van die bloed van vroue wat wys en goed was, maar misverstaan deur die mense om hulle. Toe sy moes sterf saam met die vrou wat kon genees of doodmaak omdat sy die geheim van die bloukappie-blom geken het. Onreg is vasgelê in die gene van Nefertiti en het haar gemaak wat sy vandag is. Intuïtief, wantrouig, slim en dapper.

In die eetkamer brand die vuur gesellig in die kaggel. Die winteraand is koud en die wind loei soos ʼn kermende siel om die hoeke van die huis. Die donker sak nou vinnig toe en fyn ysreën kletter teen die ruite. Nefertiti maak haar voor die vuur tuis. Sy bly waaksaam. Haar stertpunt piets heen en weer.

Die vrou loop om die tafel wat vir die romantiese maal gedek is. Fyn kristal, glinsterende silwer, kosbare linne en porselein word gebaai in die sagte lig van die kaggelvuur en kerse. Die gestyfde servette het donker skaduwees in hul voue. Orgideë uit die vrou se kweekhuis versier die tafel.

Nefertiti is bewus van die skaduwees wat bewe, nadergly, terugdu na die donker hoeke van die eetkamer waar die kerslig nie bykom nie endie gevoel van dreigende onheil.

In die kombuis maak die vrou die oonddeur oop. Die geur van wildvleis, berei met rooiwyn, kruie en room spoel warm en huislik die eetkamer binne. Sy lig die deksels van die opdienbakke – patats wat in gemmersous swem, bruingebakte aartappels, blomkool wit en bros onder ʼn kaaskombersie.

Nefertiti voel honger, maar sy verlaat nie haar pos of verslap haar waaksame houding voor die vuur nie.

Die klop aan die deur is hard.

Skrik en adrenalien laat Nefertiti op die breë rugleuning van ʼn gemakstoel spring.

Die vrou maak die deur oop.

Die man tree oor die drumpel. Hy vryf sy gehandskoende hande teen mekaar.

“Dis koud,” sê hy met sy oë wat rondspring van tafel na kombuisdeur na Nefertiti op die rugleuning van die stoel.

Nefertiti voel die donkerte in die man aan. Sy blaas, haar rug gekrom.

“Voertsek, kat!”

Nefertiti spring op die gordynkap vanwaar sy die man met blitsende oë dophou.

Die man trek sy klam jas uit en haal sy serp af.

“Gee hier, Antoon,” sê die vrou, haar stem laag en verleidelik. Sy draai weg om die jas oor ʼn stoel te hang. Elke beweging is sensueel, ingestel daarop om die man wat haar hart besit, te betower.

“Daardie kat, ek…” stotter Antoon, “Ek kan nie vat aan die bleddie ding kry nie. Wat maak sy op die gordynkap, Lize?”

“Jy sal haar gewoond raak, Antoon. Sy is my alter-ego.” Die vrou vlei haar laggend teen Antoon aan.

Nefertiti is ʼn bondel histeriese adrenalien en woede waar sy hulle van die gordynkap dophou.

Die kerse flikker woes. Dis asof die Bose self sy koue asem deur die vertrek stoot.

Antoon pluk Lize teen hom aan. Hulle soen. Sy hande beweeg klouende oor haar rug en boude. Hy druk haar in die leunstoel neer en byt haar keel, haar oorbelle, frommel haar borste onder sy hande, nog altyd met die handskoene aan.

Lize druk hom weg.

“Hokaai, trek jou handskoene uit en skink eers vir ons sjampanje. Die aand is nog lank.”

“Nie voordat ek nie my Liefling se geskenk oorhandig het nie.” Hy haal ʼn dosie uit sy broeksak. Maak dit oop.

Nefertiti ruik die onheil wat in die dosie skuil. Sy krom haar rug, blaas waarskuwend. Sy grom weer, maar niemand hoor dit nie.

Die reën kletter harder teen die ruite. Die wind huil oorverdowend met die stem van duisende misbruikte vroue.

Antoon lig ʼn string pêrels uit die dosie. In die halflig gloei hulle asof met ʼn lewe van hul eie. Met die string omhoog, kom hy nader om dit om Lize se nek hang.

Toe spring Nefertiti. Sy tref die string. Pêrels besmet met gif, spat wyd, rol weg. Sy land op die rugleuning van die stoel. Sy trek haar plat teen die stoel. Spring weer. Haar naels krap ʼn diep haal oor Antoon se wang. Bloed syfer rooi daaruit.

Hy gryp na die wond met sy gehandskoendehand.

“Nefertiti!” gil Lize verward. Sy gryp die man aan sy arm om na die wond te kyk.

Antoon stamp haar weg.

“Dit moes jy gewees het,” roep hy uit. “Nou gaan ek vrek. Niks kan help nie. Jou heks. Jou verkrampte ou heks.”

Hy haal hortend asem.

Lize huil. Ongeloof maak haar lelik.

Nefertiti sien haar woede in die vinnige intrek van haar asem en die gebalde vuiste langs haar sye.

“Wat gaan hier aan? Praat met my!”

Die man se gesig word blou. Sy ledemate ruk.

Die reën hou skielik op. Die wind word stil.

“Ek… wou jou… geld. Nie… vir jou…”

“Gif?” vra Lize so sag dat die man nie hoor nie. Sy vra harder: “Gif?”

Hy kan nie meer praat nie. Sy oë dop wit om in hul kaste.

Nefertiti hou die man op die vloer stip dop.

Sy ledemate stuiptrek. Hy snak na asem. Sy kop val skuins. Sy hande verslap.

Nefertiti spring van die stoelleuning af, begin tevrede spin.

Die vrou huil.

Die kerse brand stil.

 

  • Chantal

    Haar rok is rooi soos bloed= ek sou eerder gesê het, ‘haar rok is bloedrooi’.

    Hy vryf sy gehandskoende hande teen mekaar= Hy vryf sy hande teen mekaar

    gekrom= sy rug is krom

    Oulike en interessante storie.

  • Karen Loubser

    Baie oulik, Brechje