RUIMTE-PUNKS – J.V. Van Wyk

RUIMTE-PUNKS – 2015 © Johan V. van Wyk

JEUG WETENSKAPFIKSIE (2 245 WOORDE)

 

2287 – Mars, Ermina-mynkolonie.
Populasie: 3, 837 518

Die sweefbord maak ʼn lae elektroniese neurieklank wanneer Ina Venter om die hoek van die gebou sweef. Sy geniet die gevoel wanneer haar koperrooi lokke onder die valhelm uitsteek en agter haar wapper soos diep-ruimte seekat tentakels. Sy kyk vlugtig na die statusskerm links bo op haar interaktiewe skermbril.

67 km/h – hopeloos te stadig.

Met een pluk trek sy die rieme van die rugsak styf en druk haar agterste voet nog harder op die versneller. Eensklaps verhelder die blou vlam en sy skiet soos ʼn fotonlaserstraal met die sypaadjie langs. Voetgangers koes en spring uit die pad. Hulle roep tevergeefs dreigemente agter haar aan. Die bord tref skrams ‘n man se hand en hy laat val sy aktetas. Dit skiet oop en papiere fladder heen en weer in die sweefbord se volgstroom.

Die skermbril toon hindernisse in Ina se pad aan deur dit rooi te verkleur. Haar kaneelkleur oë is intens gefokus op elke draai en hobbel wat aangedui word. Sy voel ‘n druppel sweet wat teen haar voorkop afrol. Die frons op haar gesig is nie tevergeefs nie. Mnr. Bruwer het gesê as sy weer laat is vir klas, gaan hy haar pleegouers kontak. Bruno drink dalk te veel Vleebol-whiskey, maar hy het ʼn goeie hart. Zia maak die lekkerste kojaal- en eparsillie-sous hierdie kant van die ystervelde. Sy wil nie weer, vir die soveelste keer, na ʼn ander familie gestuur word nie.

Die pad voor haar is skoon en Ina neurie saam met die deuntjie wat uit haar oorfone vloei. Dit is ‘n liedjie van haar gunstelingband, Radioaktiewe Ramkatte, vanaf hul nuwe album: Androiedes en Aristokrate. Haar hart mis ‘n slag wanneer die geblêr van sirenes haar musiek uitdoof. Vinnig kyk sy om en sien ‘n Polisie-bot wat spoedig aangesweef kom. Haar vingers tik aan die raam van die bril en dadelik hou die musiek op.

“Halt, in die naam van die wet.” dreun ʼn metaalagtige stem.

Ina verminder spoed en spring van die sweefbord af. Met haar regtervoet trap sy op die agterkant van die bord sodat dit in haar hande opskiet.

“Burger, is jy bewus dat jy vier Ermina-wette oortree het?”

Ina kyk gefassineerd toe terwyl ʼn klein rooi laser in sy oog haar van kop tot toon skandeer. Sy kry lag. Jammer vir hom, maar vir háár sal hy nie op die Interkriminele Databasis vind nie. Burgers word eers op sestien aangeteken. En sy is nou maar eers veertien.

“Vier wette, regtig?” Sy laat bars ’n kougomborrel. “Ek het dalk ʼn bietjie vinnig gesweef, maar wat nog?”

Die robot steek sy metaalarm uit, palm na bo. ʼn Miniatuur hologramopname van Ina verskyn daarop. Die klein hologramweergawe van haar stamp ʼn ander burger teen die skouer met die bord en ’n bietjie verder krap sy die bakwerk van ʼn geparkeerde sweefmotor.

“Een – jy het die sweefbordspoedgrens van 60km/h, met 43km/h oorskry; Twee – graad C- aanranding; Drie – beskadiging van persoonlike eiendom.”

Dis ʼn oomblik stil.

“En die vierde een?”

Die hologram-beeld verander na waar sy die aktetas uit die man se hand stamp, dit bars oop en papiere fladder orals rond. “Vier – besoedeling.”

“Komaan! Gee my ʼn kans.”

“Dit is die laaste keer wat ek vra, Burger – wat is jou naam en kode? Of moet ek jou arresteer en jou sweefbord konfiskeer?”

Ina byt haar lip. Sy weet alte goed dat dit nie help om met ʼn Polisie-bot te stry nie. Hulle is geprogrammeer met die nodige sagteware vir streng wetstoepassing, daar is geen ruimte vir onderhandeling nie. Sy loer na haar horlosie. 07:51 – nog net nege minute oor – die skool is elf blokke weg. Klas begin stiptelik om agt-uur.

Sy skandeer die omgewing. Niks. Dan vang iets haar oog. Haar vingers tik teen die skermbril en die beeld zoem in. Hoog bo teen die massiewe atmosfeerkoepel wat regoor die stad strek, is instandhoudings-botte besig om die deursigtige panele te herstel.

Gevaarlik, maar die enigste manier.

“My naam. Um… My naam is –” Sy breek af en trap met al haar krag op die versneller, dit los ʼn blou streep in haar spoor. Dit vat presies elf millisekondes vir die Polisie-bot se sentrale prosesseringseenheid om uit te werk wat so pas gebeur het. Onmiddellik skakel die Polisie-bot se vuurpyle aan en sy hoor hoe hy haar met blêrende sirenes agternasit.

Ina dartel om en onderdeur sweefmotors en lugponies. Gewone sweefborde is geprogrammeer om nie meer as tien meter bo die oppervlak te sweef nie nie, maar soos enige elektroniese toestel kan die bord se geheueklos ook deur bekwame vingers gemanipuleer word. Henk Naude, haar beste vriend en kuberkraker van formaat, het ʼn komplekse algoritme geskryf wat die veiligheids-sagteware van die bord herskryf. Dus, kan sy nou met die sweefbord honderde meters bo die aanvaarde hoogte vlieg.

Sy snel al hoe hoër en hoër. Eindelik is sy verby die motors se lugbane en beweeg nou in ope lug. Net onderhoud- en diens-botte het nodig om hier te wees. Sy self het nog nooit nodig gehad om só hoog te vlieg nie, hopelik kan die klein antigrav-motor hierdie tipe hoogtes hanteer. Sy kyk om en haar wenkbroue lug van verbasing. Die statusskerm wys dat die Polisie-bot skaars vyftigmeter weg is en vinnig besig om op te vang. Sy draai terug, nog ʼn honderdmeter voordat sy die koepel bereik. Sy buk af en trek haar liggaam in die mees aërodinamiese vorm moontlik om windweerstand te verminder.

113 km/h… 101 km/h… 89 km/h. Die bord is vinnig besig om spoed te verloor en die elektroniese neurie van die sweefbord klink ook nie meer gesond nie.

“Ag kom nou jou simpel stuk gemors!”

Die Polisie-bot is amper op haar, die koepel is nog net dertigmeter weg.

“Kom nog net so bietjie, jou mooi ding!”

Sy snak na haar asem wanneer sy die yskoue metaalgreep op haar skouer voel. Ina kyk om en sien die Polisie-bot reg agter haar. Die twee rooi LED-kamera ogies op haar vasgenael. Sy weet dit is nie moontlik nie, maar dit lyk amper asof die bot ʼn grynslag op sy blik het.

Dit was so naby.

Maar dan los hy eweskielik sy greep. Ina kyk fronsend na hom. So waar, hy bly doodstil sweef op een plek terwyl sy nog stadig boontoe beweeg. Wat doen hy?

“Kom terug.” sê hy gebiedend. “Jy is in verbode lugterrein.”

Dan besef sy wat aan die gebeur is. Sy kyk om en sien sy is twee meter van die koepel se vyf-by-vyf-meter heksagonale panele af. Hulle het verlede jaar in Graad 7 geleer dat geen bot of sweeftuig, behalwe instandhoudings-botte, binne tien meter van die koepels kan wees nie. Dit maak deel uit van alle veiligheids-programmering, selfs die Polisie-botte s’n! Maar aangesien Henk daardie algoritme gelaai het, is sy alleen vry om hier te beweeg.

Verligting spoel oor haar en ʼn glimlag vorm van oor tot oor. “Ekskuus tog, blikbrein, maar ek het reeds ander planne gemaak.” Haar stem tergend.

“Jy sal nie wegkom nie, ek gaan jou volg totdat jou antigrav-motor se Raxon uitwerk.”

Sy hou aan glimlag. Vir ʼn oomblik soek sy die instandhoudings-botte wat sy vroeër opgemerk het. Hulle is aan die suide kant en sy sweef geduldig in daardie rigting. Die Polisie-bot bly by haar, sirenes blêr onophoudelik.

“Ek het vir ondersteuning geroep. Daar is geen kans vir ontsnap nie.” dreun sy eentonige stem.

“O, regtig nie?” ʼn Ondeunde grimas op haar gesig. “Vertel my, hoekom is dit dat mense ook buite die koepel in die Mars atmosfeer kan oorleef, al is dit net vir vyftien minute of so?”

“Mos,” antwoord hy. “Mense het besluit om mosagtige plante op die Mars oppervlak te kweek. Hierdie plante vervaardig op sy beurt weer suurstof. Tog is die mensdom nog honderde jare weg om die atmosfeer leefbaar te maak.”

“Mmm, baie mooi.” sê sy en kom tot stilstand by die diensbotte. Hulle neem geen notisie van haar nie en net gaan voort om met die Uranium-sweisgereedskap die panele te herstel. Een van die panele is gekraak en het ʼn opening die grootte van woestyn-rot, omtrent ʼn meter, in deursnee.

“En lig my asseblief in, kettiekop, kan jou sensors enige iets buite die koepel waarneem?” ʼn Glinster in haar oog.

“Nee.” Dit vat ʼn oomblik vir die Polisie-bot om te registreer wat sy beplan om te doen. “As jy dit waag om-” maar voordat hy sy sin kan klaar maak glip sy by die kraak uit. Onmiddellik verdwyn sy van sy radar af.

Sukkel-sukkel trek Ina haarself by die opening uit, gelukkig ondersteun die sweefbord haar van onder. Sy buk af en gryp die bord. Die wind is so sterk dat dit haar amper onderstebo waai. Met haar hand in die lug probeer sy die sand keer, sy moet al haar krag inspan teen die verwoede vlaag. Stadig begin sy voetjie-vir-voetjie vorentoe loop en kyk deur die panele na die Polisie-bot wat net op een plek bly dobber.

07:55. Sy klim op die sweefbord en jaag in die skool se algemene rigting. Daar is veronderstel om elke vyf kilometer ʼn diensopening te wees wat deur die instandhoudings-botte benut word. Daar is nie tyd te versmaai nie, hulle gaan Polisie-botte na elke opening stuur in ʼn poging om haar vas te trek. Gelukkig weet hulle nie watse een sy van plan is om uit te kom nie, nogmaals moet sy vinnig speel.

Maar dan hoor sy donder wat in die verte dreun en soos sy oor die vlaktes tuur sien sy ʼn reuse elektriese stofwolk wat besig is om in Ermina se rigting te beweeg. Vreesspore beweeg teen haar nek op. Elektriese stofstorms op Mars is nie speletjies nie. Die stad moet beskut word en in so ʼn geval is daar reuse metaalplate wat oor die koepel geskuif word om die gevaarlike elektromagnetiese strale uit te hou. Sy beter vinnig maak voordat die sensors die storm opmerk.

Kraak-Kraak-Kraak.

Te laat! Ina ken daardie geluid al te goed. Die sensors het die storm gewaar en die metaalplate is besig om van onder af na bo te beweeg. Haastig maak sy ʼn verstelling op die skermbril. Sy moet nóú dadelik ʼn diensopening kry anders gaan sy buite vasgekeer word en tot die genade van die dun atmosfeer en storm gelaat word.

Dan sien sy dit. Die skermbril verhelder die buitelyne van die opening en vertoon dat dit twee-honderd meter regs van haar lê. Die wind waai al sterker en die lug raak al hoe dunner. Ook is die metaalplate besig om vinnig op met die koepel se rand op te beweeg. Sy leun op die versneller en die sweefbord dra haar vinnig na die diensopening toe.

Sy staar na die patryspoort by haar voete. Hoe maak ʼn mens dit oop? Haar vingers voel-voel aan die rante, maar daar is geen handvatsel of knoppie nie. Wat nou?

Kraak-kraak-kraak. Die metaalplate skuif al nader.

Angssweet slaan op haar voorkop uit wanneer sy die rand van silwer oor die koepel se horison sien naderkom. Sy fokus weer haar aandag op die opening. Dit lyk asof die poort nie kan oopmaak nie. Dan merk sy die klein elektroniese skyfie aan die kant van die opening. Natuurlik! Instandhoudings-botte stuur ʼn sein na die skyfie om dit oop te maak.

Haar skermbril het dieselfde meganisme, maar die kode moet eers gebreek word. Sy tik op die kant van die raam en die sein word gestuur. In die skerm se beeld verskyn die woord

‘WAGWOORD:’ gevolg met ʼn polsende onderstreep.

Henk het op ʼn vroeër geleentheid vir haar vertel dat as ʼn mens ʼn wagwoord wil breek, jy altyd eers die mees algemeenste moet probeer.

“Wagwoord.” sê sy, haar stemtoon effens skril.

‘WAGWOORD VERKEERD – PROBEER WEER.’ Sy kyk op. Die plate is skaars vyf-honderd-meter weg.

“Een-twee-drie-vier-vyf-ses!”

‘WAGWOORD VERKEERD – PROBEER WEER.’ Die plate is drie-honderd-meter weg.

“Ermina-mynkolonie!”

‘WAGWOORD VERKEERD – PROBEER WEER.’ Een-honderd-meter. Haar hartpols slaan soos tromme in haar borskas.

“Diensopening!” ʼn Oomblik van stilte volg.

‘WAGWOORD AANVAAR’ Flikker in groen letters en met ʼn sisgeluid val die patryspoort oop na binne. Daar is nie kans om hierdie oorwinning te vier nie, sy gryp die sweefbord en spring binne die gat in. ʼn Halwe sekonde later slaan die metaalplate dawerend bo haar kop toe.

Vinnig sit Ina die sweefbord onder haar voete en onmiddellik stabiliseer die bord en bring haar tot stilstand in die lug. Sy haal diep asem en vee die sweet van haar gesig af.

Dit was te naby. Sy skakel die GPS-eenheid aan. Die skool is reg onder haar, dankie tog. Sy leun vorentoe en skiet soos ʼn vuurpyl op die gebou af.

8:00. Die elektroniese skoolklok lui en Ina staan voor die blou klaskamerdeur. Die pak wat sy aan het is op verskeie plekke geskeur, haar gesig is besmeer met rooi sand en die hare wat onder die helm uitgesteek het is ʼn kraaines.

“Jis, wat het met jou gebeur? Lyk asof in ʼn oorlog was.” sê Henk glimlaggend terwyl hy teen die pilaar lê.

“Hallo. Ja, so iets. Ek sal jou later daarvan vertel.” sy lag selfbewus en probeer die hare met haar hande plat stryk.

Hy tel sy tas op, die klaskamerdeur skuif outomaties oop en hulle loop na binne. “Jy kan bly wees jy was in tyd. Bruwer het reeds vir jou gevra.”

“Hoekom? Ek is mos op tyd.” sê sy fronsend en slinger haar rugsak op die tafel.

“Ek weet nie. Hy het iets genoem van jou pa. Hulle het hom op ʼn planeet naby Alpha Centauri opgespoor. Nie eers geweet jy het ʼn pa nie.”

Haar oë rek pieringroot. “Wat? Maar dis mos onmoontlik.”

  • Karen Pagel

    Heerlik gelees. Baie dankie!

  • Chnatal

    Vreemd, maar wonderlik. Ek het baie van die humor gehou, dit het my laat glimlag en ek dink my hond (Bruno), sal trots wees om te weet sy naam is in hierdie kortverhaal genoem.

  • Salmon Smith

    Goeie stukkie skryfwerk. Die spanningslyn het my geballanseer op die punt van my stoel gehou. Beslis ‘n ja van my kant af.