SANDRASSA, DANTE EN DIE VAMPIERE – Ilse Goschus

SANDRASSA, DANTE EN DIE VAMPIERE – 2015 © Ilse Goschus

JEUG WETENSKAPFIKSIE (2 732 WOORDE)

 

Die donkerte vou haar kleed ferm en dig oor die stad, wat sukkel om te bedaar na ʼn dag van bedrywigheid. Dit verdoesel egter dit wat verdoesel moet word op ʼn vernuftige wyse. Die maan hang vol en in silwer misterie teen die hemelruim. Verweg en stuk-vir-stuk begin die flikkerende spel van die ander aandsterre.

Die begraafplaas lê aan die bokant van die stad.

“Op volmaan nagte hardloop die vampiere rond!” sê sy pa altyd.

“Ag Koot, daar’s nie sulke dinge nie,” sê sy ma dan vies.

“Rokies het vuurtjies,” antwoord sy pa gewoonlik weer terwyl die wysheid diep in sy oë kruip.

“Sal ek… sal ek nie?” dink die sewentienjarige Dante ietwat senuweeagtig. “Ag, ek sal. Die pad deur die begraafplaas is immers korter en… ek is vrek honger.”

Hy vat eers die brug oor die riviertjie en dan skiet hy tussen die grafte deur. Die skadu’s hang stil en lank oor die begraafplaas.

* * *

“Gmmfff,” snuif die een, wind-op.“Ek ruik vars bloed.”

“O, beslis!” antwoord ʼn ander. “Seunsbloed… vars, jong seunsbloed. Vanaand word hierdie ene amptelik ingelyf. Ek sal sy vel breek met my tande. Die bloed sal by die are uitbars – rooi en vars. Julle sal dit lek, mondevol sluk en stik van gulsigheid. Hy sal die bloed ruik met die oopbars van die eerste aar. Sy lus sal die deure vir wil-verder-ontdek, wyd oopmaak, sodra sy tande die vleis in spekrepies skeur. Teen daardie tyd, is hy ons sʼn. Ons lei en hy volg.”

“A-waaau!” skree die leier, Jesophulus bloedlustig. “Laat die bloederigheid vloei! Aw-waaau! Skiet jul vlymskerp tande uit en jul vernietigende kloue. Wees gereed vir: ‘Die Aanslag van die Jongeling!’”

“A-waaau!” volg die groep van tien se bloeddorstige kreet.

“Wag… Wag! Ek ruik ʼn vreemdheid… staal. Daar lê bloed anderkant die staal. Ek verstaan nog nie duidelik wat ek voel nie. Moet my asseblief nie nou steur nie – ek benodig stilte. Ek gaan nou in diepe meditasie in,” verduidelik Gukhus (profeet van die vampiere).

“Jesebel,” grom Jesophulus, “jy is ons vroulike tienerverleidster in die groep. Ons benodig jou hulp. Die vars vleis en bloed op pad hierheen, is ongeveer jou ouderdom. Flirtasie is jou vervolmaakte spel. Ekstra lipstiffie, vals ooghare en ʼn tikkie takt, is die wenresepf vir vanaand se: ‘Aanslag van die Jongeling.’”

Sy vlieg na ʼn ou, oop graf langs ʼn sipresboom. Sy doen wat verwag word en berei haar voor vir die aanslag. Haar grimering is swaar en die naellak en lipstiffie is bloedrooi. Haar rok is pikswart en klou styf om haar lenige lyf.

Die ‘dink’ aan bloed, kleur haar groen oë in skakerings van bruin en swart.

“Jesophulus, die boodskap het helder deurgekom. Kry die seun, maak hom een van ons. Doen dit onmiddellik! Ons almal beweeg dan stasie toe. ʼn Vreemde insident gaan daar plaasvind. Die seun se eerste taak wag reeds. Volg my wyse raad.”

“Ghukus se raad is ons bevel,” kondig Jesophulus luid aan. “Jesebel, die speelveld is joue! Laat die bloedspele begin!”

Jesebel strek haar pikswart, punterige vampiervlerke uit en vlieg na haar teiken wat nou in die kronkelpaadjie in die begraafplaas, stap.”

Dante voel aardig. Die onrus knaag aan hom en die hongerte dwing hom huis toe.

“Het ek ʼn beweging gesien?” dink hy skielik. “Ag, dis seker maar net my verbeelding.”

“Hallo jou aantreklike ding!” hoor hy skielik ʼn meisiestem agter hom in die kronkelpaadjie.

“Hallo!” groet hy onseker met die skrik wat vlak in sy bors lê.

Sy troon bo hom uit.

“Sy het die mooiste groen kykers en haar bene is perfek gevorm,” dink hy.

“Jesebel!” stel sy haarself bekend, terwyl sy koketterig aan sy hempskraag vat.

“Gepaste naam. Dante,” stel hy homself voor. “Wat maak jy meisie-alleen hier in die begraafplaas van alle plekke?”

Sy ignoreer sy vraag. Sy neem die voortou.

Onverwags vryf sy sy blonde kuif deurmekaar en kyk dan diep in sy blou oë. Jesebel skulp haar hande om sy gesig, draai sy kop skuins en mik dan verby sy mond. Haar vampiertande skiet hul skerpheid onverwags diep in ʼn slagaar in.

“Is jy van jou sinne beroof!” skree hy met ʼn mengsel van skok en pyn terwyl sy bloed sluk.

Haar groen oë is nou pikswart poele.

“Jy’s ʼn vampier!” skree hy geskok.

“Somtyds word inligting van ons weerhou,” antwoord sy.

Nou lek sy haar lippe met haar tong af. Die donkerte in haar oë maak hom bang. Hy hoor ʼn dowwe vlerkgeklap. Skielik word die donker nag nog donkerder. Die tiental vampiere sprei hul vlerke uit. Hul tande sink in sy jong vleis in. Hulle sluk en suig.

“A-waaau!” skree hulle hul oorwinningskreet.

Sy liggaam lê pap in die begraafplaas. Hy verloor sy bewussyn.

“Die aand is nog jonk – die jongeling het ʼn taak. Nuwe bloed sal hom krag gee. Kom Gukhus, voer jou ritueel uit!” beveel Jesophulus.

Gukhus vlieg nader. Hy vou sy vlerke langs sy lyf in. Hy voer ʼn genesende aksie met sy hande oor Dante se liggaam uit.

”Raap hom op!” beveel Jesophulus.

Jesebel en haar broer, Vortis, gryp hom met hul kloue vas en dan vlieg hulle…

Die vampiere land net betyds reg voor die stasie. Hulle smelt goed in met die groepie voetgangers wat nou die straat wil kruis. Elkeen het sy eie taak.

Tien minute later…

“Santie,” sê haar ma terwyl hul wag om oor die hoofstraat te stap. “Daar is ʼn storie wat ek vir jou moet vertel. Dis half ʼn hartseer storie, maar hierdie donker wolk mag dalk eendag ʼn silwerrandjie kry. Dit wat jy al die jare gedink het die waarheid is, is nie heeltemal die waarheid nie.”

“Ma, begin solank met die storie,” moedig Santie aan.

“Goed, luister nou mooi. My naam is nie Lien nie. My ruimtenaam is Lienkra,” vertel sy.

“Wat?” roep Santie geskok uit. “Waar kom die ruimte-ding dan nou in?”

“Wag, die robot is groen. Kom, laat ons stap,” stel haar ma voor.

Skielik is daar ʼn dowwe slag. Haar ma se liggaam val langs haar in die pad.

“Nee! Nee! Nee!” skree Santie histeries.

Sy hardloop vorentoe, maar iemand ruk haar terug.

* * *

“Goeie werk, Jesebel,” fluister Jesophulus. “Hou ʼn ogie oor die seun. Ek sien hy lyk nie meer so vaal nie. Ghukus se genesende kragte hetbeslis gewerk.”

* * *

“Dit was kompleet asof ʼn vlerk teen my geskuur het,” dink Santie tussen die skok deur.

“My goeiste, is die bestuurder dan totaal beduiweld?” vra ʼn omstander na die motortuigongeluk.

Kyk! Die motor het vlerke! Dit kan vlieg!” skree etlike ander stemme wat nou op die toneel saambondel, met ʼn mengsel van skok, ontsteltenis, asook ʼn tikkie opgewondenheid. “Dis ʼn supersoniese vlieënde motortuig op ʼn verdoemende nagvaart. Hierdie is beslis ʼn ongekende verskynsel hier in Suid-Afrika!”

“Ja, die gemors het koers gevat die ruimte in,” antwoord ʼn verkeerspolisieman woedend en teleurgesteld.

“Die verdekselse tuig vernietig en dit verdwyn!” skree ʼn ander ontstoke bystander. “Dis ongehoord en dit druis totaal teen ons Suid-Afrikaanse Grondwet in – dis ʼn menseregte misdaad wat nou net hier voor ons oë plaasgevind het.”

“Min weet hulle…” antwoord Dante.

Die vampiere, in onsigbare vorm, kyk met groot oë na mekaar en glimlag.

“Of het ons nou net te doen gekry met ʼn ruimtewese van ʼn ander dimensie!” antwoord ʼn ander stem onverwags. “Dalk is daar ʼn groter prentjie – aspekte wat ons nie kan verstaan nie.”

ʼn Amateur fotograaf lê die gebeure instinktief op kamera vas…

Ambulanse se sirenes versteur die nag se stilte op skrille toon. Rooi en blou ligte flits. Tientalle bewegende lywe kom nader. Hulle kyk na haar ma se lyf wat stil op die harde, koue sypaadjie lê. Die straat ruik na ʼn kombinasie van urine, drank en brandspiritus. Etlike bergies lê by die ingang van ʼn bekende bankgroep, diep in hul foelieslaapsakke ingekruip.

Die bekommernis klou aan haar hart en gaan lê in haar kop. Santie staar na die toneel voor haar met hartseer oë. Sy huil nie. Die huil sit vasgedruk iewers tussen haar keel en haar oë.

“Kom skatlam,” sê ʼn vrou met ʼn sagte stem en ʼn groot lyf, terwyl sy haar styf teenaan haar vasdruk. “Hier, vat die kombers en woel dit lekker styf om jou dun lyfie. Drink dit… dis sterk koffie met baie suiker. Ek het dit gou hier oorkant die pad vir jou gekry.”

“D… dankie Tannie,” fluister sy dankbaar oor die koffie en baie lepels suiker.

ʼn Manlike figuur skuif nader. “Ek is Dokter Greeff,” stel hy homself voor. “Ek het my dokterstas hier by my. My skof by die hospitaal het sopas tot ʼn einde gekom. “Skuif net so ʼn bietjie weg – ons benodig spasie. Mmm… Wag, laat ek sien. Mmm…”

“ʼn Tikkie hoop in die donker nag,” dink Santie effens verlig.

Die pols klop nog,” gaan die dokter voort. “Sy is sterker as wat ek gedink het. Neem haar na die hospitaal. Julle moet vinnig speel. Dis ʼn noodgeval. Ek sal julle daar kry.”

Santie se ma lê op ʼn baie nou ambulansbedjie.

Skielik kyk die dokter oor sy linkerskouer. Sy blik kom tot stilstand op Santie se hartseer oë.

“Is jy die pasiënt se dogter?” vra hy.

“Ja,”antwoord sy skaam en bang.

“Wat is jou naam, meisie?” vra hy met deernis in sy stem, “en… hoe oud is jy?”

“Santie. My naam is Santie… en my van is Tredoux,” stotter sy verward. “O, en ek is sestien jaar oud.”

“Santie, het jy ʼn telefoonnommer van jou pa of ʼn familielid?” vra hy besorg.

“Ek het nie ʼn pa nie. Hy’s net weg. Hy het in die niet in verdwyn – een aand laat. My ma sê altyd dat hy weg is, nes hy gekom het – sommer so uit die bloute. Dokter, verskoon tog. My gedagtes is ʼn bietjie van die spoor af. Dis net ek en my ma. En… Dokter, die ander telefoonnommers het met die slag uit my kop uit gevlieg,” antwoord sy, “seker saam met die rooi motor.”

“Die meisiekind klink soos ʼn peuter,” sê iemand kliphard.

“Sjjt. Siestog, sy’s in skok. Jy kan dit mos sien. Respekteer haar dilemma!” berispe die koffie-vrou terwyl sy Santie weer moederlik teen haar vasdruk en haar kop vryf.

“Ons sal jou ook sommer ondersoek,” gaan die dokter voort. “Wag, ek sien jy het ʼn skraapmerk aan jou hand. Dis baie eienaardig dat jy slegs ʼn skraapmerk opgedoen het, met die impak in ag genome. (Ek was net van plan om die straat te kruis, toe die ongeluk gebeur.) Laat ek jou wond in elk geval gou ontsmet en ʼn pleister daarop plak. Gits, hier sit dan ʼn stukkie rooi metaal vasgevang in jou wond.”

“Dis seker ʼn afgesplinterde stukkie van die vlieënde motor,” antwoord Santie.

“Ek sal hierdie mikroskopiese stukkie metaal vir ontleding stuur,” beloof Doktor Greeff.

“Goed, kom, klim nou in die ambulans. Praat met jou mammie asof sy verstaan wat jy sê. Dit help soms as mense so siek is. Hulle wil net weet dat daar ʼn familielid naby is. Ons onderbewussyn is magtiger as wat ons dink.”

“Ek sal saam met haar ry,” bied die koffie-vrou aan.

Drie ure na die ongeluk…

“Kom! Saal D3,” beveel Jesophulus. “Die meisiekind se saal. Raak onsigbaar en laat ons vlieg!”

Jesebel en haar broer, Vortis, vlieg weer met Dante tussen die twee van hulle.

“Ek soek bloed,” fluister Dante, terwyl sy groen oë na skakerings van bruin verander.

“ʼn Goeie teken,” sê Ghukus. “Die tyd kom nader – nes in die oeroue vampier geskrifte aangeteken en voorspel.”

In Santie se hospitaalkamer…

Die koffie-vrou is reeds huis toe. Santie is alleen. Sy kyk by die hospitaalvenster uit. Sy lê in haar eie hospitaalbed vir waarneming. Die Kaapse strate is leeg en verlate. ʼn Bangheid kruip in haar hart. Haar ma is in die teater waar sy veg om haar lewe.

“God, laat my ma asseblief nie vanaand doodgaan nie… nie vanaand nie en sommer ook geen ander aand nie. Asseblieftog nie. Amen.” bid sy.

“Nou!” skree Jesophulus.

Dante vlieg op haar af. Hy skiet sy vampiertande uit en steek dit in haar slagaar. Sy tande val vas in staal maar hy sien skielik ʼn paar vlerke onder die lakens uitsteek. Hy kyk verbaas na sy nuutgevonde vriende. Skokgolwe hardloop deur sy lyf en dan val hy op die grond neer.

“Die geskrifte… Iets het verkeerd gegaan met die interpretasie van die geskrifte. Daar was ʼn tipe kortsluiting. ‘Die Vloek Van Vergelding’. Dit het dalk iets daarmee te doen. Los die seun en vlieg!” beveel Ghukusaan. “Die meisie is nie goeie nuus nie.”

Santie is bewus van woelinge om haar, maar sy skuif dit uit haar huidige denkprosesse uit.

In haar kop ervaar sy weer die donkerte, die gedempte straatligte en aankomende motors, en dan… die rooi, buitengewone vaartbelynde, vlieënde sportmotor wat teen ʼn ongekende spoed op hulle afpyl en dan in die niet verdwyn. Dis nes haar pa se verdwyning vyf jaar gelede. Sy sien die wit strepe van die voetoorgang. Santie voel hoe die staalgedeelte van die motor haar en haar ma se hande wreed uit mekaar stamp. Sy hoor die skreeuende remme, ʼn dowwe slag, ʼn bloedstollende gil, die gekraak van bene en dan… die stilte in en om die groot, sagte lyf van haar ma. ʼn Nuwe beeld spring skielik onbepland in haar kop. Sy sien die gesig van haar pa agter die stuurwiel, maar in ʼn ander vorm!

“Dis baie eienaardig,” dink sy. “Die sien, voel en weet-modaliteite blyk slegs sensoriese inligting te wees wat in beelde, klanke of gevoelens omgesit word. Ek is nie seker watter een nie. Dit spring net in my kop in – die bewuswordings-ding. Dit voel die hele tyd asof ek vlerke hoor klap.”

ʼn Persoon in ʼn wit jas staan by die deur.

“Dis Dokter Greef,” besef sy. “Waar is Mevrou Tredoux?” vra hy bekommerd vir die verpleegster. “Het iets gebeur waarvan ek nie weet nie?”

“Wat? Waar is my ma?” skree Santie.

“Sy het weggevlieg,” fluister iemand in haar oor.

Dis Dante in onsigbare vorm. Sy is egter onbewus daarvan, maar om een of ander onverstaanbare rede, neem ʼn rustigheid van haar besit.

“Hier’s ʼn pilletjie vir die slaap,” sê die vriendelike verpleegster. “Jou ma is nog steeds in die teater. Probeer rus vind. Jy kan jou ma slegs help as jy sterk is en goed voel. Laat God Sy Wil geskied.”

“Die vriendelike verpleegster lieg,” besef sy. “Laat God Sy Wil geskied… beteken dit dat Ma sal doodgaan en dat ek moet sterk wees? Nee, sy het weggevlieg, het die stem ʼn rukkie gelede gesê.”

Santie sak weg in ʼn diepe slaap…

“Die noodlot en die siklus is een,” hoor sy ʼn onbekende fluistering. “Die ongeluk is deel van ʼn proses en ʼn jarelange tradisie.”

Santie maak haar oë op skrefies oop.

“Nou kan ons almal saam wees. Geluk, en pyn is soms soos ʼn Siamese tweeling. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie,” gaan die stem voort.

“Hhh… is Mammie tog dood?” snik-vra sy nou onbeheersd terwyl haar liggaam ruk. “Hh… Hh… Hh…”

“Nee Sandrassa, sy’s hier buite in my motortuig. Terloops, jou ruimtenaam is Sandrassa, nie Santie nie. Die siklus is veertien jaar. Elke veertien jaar gee die dood geboorte aan die lewe op simboliese wyse. Tydens die eerste veertienjarige siklus word ʼn vroulike ruimtewese opgeoffer. Tydens die volgende veertienjarige siklus, ʼn manlike wese en een nasaat. Ons dra die ‘Vloek van Vergelding.’ ʼn Duisend ligjaar gelede, was ons in geveg met Arta, Heerser van die Vampiere. Sy vrou en kind is deur vernietigende laserstrale doodgebrand deur een van ons Sanders Pilote. Hy het weerwraak gesweer deur ‘Die Vloek van Vergelding.’”

“Wie is jy? Waar is jy?” snik Santie.

Kalmeer,.“Sandrassa, luister na my… Ek is jou vader, ʼn ruimtewese, van Planeet Sanders en die loods van die rooi motortuig. Die ongeluk was deel van die plan.”

Sy maak haar oë op skrefies oop. Om haar is alles gitswart.

“Ek en my afstammelinge, die Supersoniese Sanders Pilote het ons eie hartseer, ons eie storie… Die sikuls moet altyd voltooi word, voordat ʼn nuwe lewe kan begin. Jy moet luister om te verstaan.

“Dante, gaan wag in my motortuig,” beveel hy die bondel op die vloer. “Vlieg in, sodra dit om Planeet Aarde sirkel. Gebruik jou vlerke!. Lienkra is aan die stuur. Sy wag op jou.”

“Nie so vinnig nie!” skree ʼn stem.

Sy hoor skielik flapperende vlerke. Sandrassa kyk vervaard op in die gesigte van Jesophulus en haar ma, Lienkra – vampiere en die afstammelinge van… Arta.

  • Chantal

    wenresepf= wenresep

    ‘n Baie oulike en uitgedinkte verhaal, maar om net die verhaal ‘n vampier verhaal te gemaak het, sou beter gewees, het. Jy moes die ruimtewesens uitgelaat het.