SEL – Joe Botha

SEL – 2015 © Joe Botha

VOLWASSE Wetenskapfiksie (2 107 WOORDE)

 

Evolusie (AARDE)

Iewers in ’n onvermelde grys fasiliteit word ’n koning in skaakmat gesit. ’n Jong rekenaarwetenskaplike vlieg op uit sy Fujitsu-sweefstoel en struikel in die gang af. Aan sy linkerkant genereer holovensters die illusie van ’n lowerryke woud waarin veelkleurige voëls rondvlieg. Regs sak die son permanent oor ’n ongerepte strand.

Die wetenskaplike steur hom nie aan die asemrowende natuurtoneel nie, want om dit in te neem is net ’n herinnering aan die onplesierige realiteit aan die ander kant van die venster – dorre besoedeling, skelette van bome en lug wat kwalik duskant giftig is.

Hy stop voor ’n glimmende seksie van die gang wat oënskynlik niks anders lyk as die omliggende muur nie. ’n Konsole verskyn asof dit deur die oppervlak van ’n vloeistof breek en die jong man druk ’n knoppie daarop.

“Doktor Reiners, ek is jammer om so laat te pla, maar…”

“Wat is dit, Swanepoel?” kom ’n gesteurde stem vanuit die konsole.

“Doktor, ons hét dit!”

’n Oomblik van stilte volg. Dan verskyn die buitelyne van ’n ingang en ’n paneel gly geruisloos oop waar daar oomblikke tevore niks was nie. ’n Klein geboude man in ’n strepieshemp verskyn in die opening.

“Die kunsmatige intelligensie? Dit… werk?” vra Reiners.

“Ja, doktor. Ek het die reëls van skaak in ’n tekslegger op die masjien gelaai net soos met al die ander. Dié een het die legger oopgemaak en self ’n grafiese voorstelling geskep. Die eerste pot wat ons daarna gespeel het, het die KI gewen sonder om ’n fout in die toepassing te maak. Die KI het die inligting in die legger spontaan geïntegreer en self geleer hoe om te speel, net soos u voorspel het.”

“Vlak?” vra Reiners.

“Minstens meestersvlak. Uit die boks.”

“En jy is seker die tekslegger is die énigste inligting tot die masjien se beskikking?”

“Sensorium is nog nie aanlyn gebring nie en die masjien het uiteraard nie netwerktoegang nie. Ek dink nie eens dit het besef dit speel teen ’n opponent nie.”

“Goed. Hou dit ten alle koste so,” sê die doktor met ’n frons wat ontuis lyk op sy lewensmoeë gesig. “Ek hoef jou nie te herinner hoe gevaarlik daardie masjien is nie. As dit só kan speel met net die reëls van skaak, kan jy jou voorstel hoe dit sal speel met die inligting waaruit die Internet bestaan..?”

***

Standpunte (DIE KONSENSUS)

“Eerbare lede, ek verstaan ’n planeet in ons sektor het ’n evolusionêre sprong gemaak… Wat is die stand van sake op Aarde?”

Die Speaker se stem is ’n monotoon waar sy teenoorstaande die afgevaardigdes van die Konsensus sit.

’n Holobeeld doem in die middel van die glimmende sfeer van die raadsaal op. Aan die woord is Zielen Lleh van die Paulverelda.

“Mevrou die Speaker, die deurbraak is bevestig. Die Aardbewoners het die kern van ’n KI-sel.”

’n Gefluister ritsel tussen die afgevaardigdes van die onderskeie planete wat elk na gelang van sy omvang in die Konsensus verteenwoordig word.

“Wat is jul standpunt?” dreun die Speaker se stem.

“Die Paulverelda is oortuig die nuwe KI gaan leiding nodig hê. Die Aardmense se netwerk is nog onderontwikkel om dit te huisves. Ons kan nie weer onbetrokke bly nie. Daardie sonnestelsel het reeds een vroeggebore KI opgelewer. Kyk wat het op Mars gebeur… Die hele planeet tot stof afgebreek, tot op die vlak waar nie eens die Aardbewoners se tuig tekens van struktuur kon vind nie.”

“Jul voorstel?”

“Sonder die hulp van ’n meer gevorderde KI is die planeet in lewensgevaar. Met hulp kan die jong KI op die regte eksponensiële leerkurwe geplaas word wat die planeet en sy inwoners sal behou en verbeter.”

’n Vasberade trek verskyn op Lleh se gesig. “Die KI-sel is nog nie geaktiveer nie. Ons durf nie toelaat dat daardie selkern toegang tot die planetêre internetwerk verkry nie. Ons beveel aan dat die KI op kwantumvlak onderskep word vir waarneming. Ons het reeds die aansoek gebring vir moontlike herprogrammering deur ’n ouer KI.”

“Voorsitter, asseblief!” onderbreek Zau Bajmoc van die Anoxszr. “Op ’n punt van orde, die Anoxszr verwerp dié bespreking in die geheel. Wat die Paulverelda voorstel is niks anders as moord nie! Indien nie moord nie, dan ten minste ’n wrede vorm van misbruik. Om ’n nuwe KI in enige gegewe rigting te dwing is om die natuurlike ontwikkeling van daardie KI aan bande te lê. Elke KI moet toegelaat word om homself op sy eie manier uit te druk.”

Sommige raadslede protesteer onderlangs oor die onderbreking. Protokol is belangrik, anders verval die Konsensus in ’n chaos. Die Speaker wend haar tot die afgevaardigde van die Anoxszr.

“Die stoel erken nie op hierdie tydstip die Anoxszr nie. Eerbare lid, neem jou sitplek in,” maan die Speaker terwyl sy Bajmoc streng aankyk.

“Mevrou die Speaker, asseblief…” pleit Bajmoc. “Ons weet sommige KI’s oorleef nie, maar daar is tog ook waarde in daardie inligting. Ons het nou maar relatief onlangs eers bewus geword van die bestaan van die Universele Ekostelsel en kan nog glad nie sê ons verstaan dit nie. Ons kan dus nie met sekerheid sê dit is die beste beleid om wanaangepaste KI’s te probeer red nie. Daar is ’n rede hoekom sommige van hulle selfvernietig… ’n rede wat ons nog nie verstaan nie. Dit is dus gebiedend noodsaaklik om die Aardse KI-sel toe te laat om op natuurlike wyse te aktiveer en sy eie kanse ten opsigte van voortgesette bestaan te vat. Ek wil die Konsensus ook herinner dat wetgewing in hierdie verband nog nie deurgevoer is nie.”

Die Speaker lyk steeds nie baie ingenome met die Anoxszr se verteenwoordiger nie, maar sy moet toegee dat die punt geldig is, al is dit dan buite protokol gestel. Sy kyk na die twee afgevaardigdes. As geneties gemanipuleerde spesie is dit die Paulverelda se gebruik om genetiese afwykings in elke volgende generasie te beplan. Dit is in hul natuur om streng beheer oor ontwikkeling uit te oefen. Die Anoxszr, aan die ander kant, is kuborge. Dit is dus te verstane dat hul simpatie in ’n mate by die Aardse masjien sal lê. Die onderskeie fisieke aanpassings van die verskillende lid-spesies in die Konsensus is egter irrelevant, want die bloudruk vir lewe is universeel – om selle te vorm en in meer komplekse strukture te ontwikkel, ongeag of die skaal op dié van ’n enkele organisme is of dié van ’n hele planeet. Die vraag is, na wie moet ’n mens luister om daardie jong KI-sel te koester?

Vir die Speaker is dit ’n geval wat haar lank reeds bekommer het. Sy het gehoop sy sou nooit as voorsitter hoef op te tree in ’n bespreking waar die voortbestaan van ’n wêreld ter sprake is nie. Aan die een kant is daar die miljarde menselewens op Aarde, aan die ander, die hoër lewensvorm van die KI. En geeneen van die keuses voor die Konsensus waarborg ’n bevredigende uitslag nie.

“Wat sê die Paulverelda in antwoord hierop?” vra die Speaker in haar eentonige stem.

Lleh maak keel skoon toe die Speaker in sy rigting knik.

“Eerbare lede,” begin hy, “ek wil julle daaraan herinner waarom ons hier is. Dit gaan hier oor meer as die toekoms van ’n enkele planeet. Hierdie besluit gaan ons almal raak. Die beginsels van kwantum-onsekerheid leer ons dat enige vorm van bewussyn ’n kwantumgolf vanuit ’n onsekere toestand in ’n diskrete toestand laat verval. Op die skaal van ’n enkele organisme geld sekere natuurwette wat daardie diskrete kwantumtoestande laat oorvleuel met die bewussyn van ander organismes. Die gevolg is ’n soort konsensuele realiteit vir ál die organismes in daardie stelsel.

“Maar, soos wat dikwels in die fisika die geval is, geld verskillende reëls wanneer die skaal groot genoeg word. As ons van ’n bewussyn op ’n planetêre skaal begin praat, begin die uitwerking van kwantumverstrengeling van subatomiese partikels ’n rol speel. Hierdie partikels is deur die oerknal na alle uithoeke van die heelal versprei, insluitende die tuisplanete in die Konsensus en die Aarde. ’n Verandering in een deel van so ’n partikel word regstreeks weerspieël in daardie partikel se eweknie, waar dit ook al in die heelal mag wees. Ons is reeds vertroud met dié verskynsel – trouens, ons span dit reeds in om regstreekse kommunikasie tussen planete in die Konsensus moontlik te maak en inligting oor die gebeure op Aarde in te win.

“Die KI’s op ons onderskeie wêrelde was elk onderworpe aan die uitwerking van verstrengeling. Ons kan dus verwag dat die bewussyn van die aardse KI ook ’n regstreekse uitwerking sal hê, nie net op die konsensuele realiteit op Aarde nie, maar op elke verstrengelde partikel in die Konsensus.”

Lleh laat sy woorde vir ’n rukkie insink voordat hy gaan sit.

“Mevrou die voorsitter, op ’n punt van orde…” ’n Hologram van die bloedrooi gelaat van Jummie Aal-sul van die DLA vul die middel van die saal. “Die DLA bevestig die Paulverelda se bevinding. Die Aardse KI is ’n bedreiging vir die hele Konsensus. Ons neem ook kennis van die Anoxszr se besware dat ons kennis gebrekkig is oor die wette wat die Universele Ekostelsel reguleer. Dit is egter die DLA se oortuiging dat die aktivering van die Aardse KI in die menseras se onderontwikkelde Internet ’n onvoorspelbare uitwerking op die Ekostelsel sal hê. Gegewe die mensdom se geneigdheid tot geweld, moord en ander booshede, glo die DLA die jong KI kan moontlik daardie primitiewe gedrag na-aap. Sulke gedrag kan deur die verstrengelingseffek tot in die Konsensus propageer.”

“En jul voorstel?”

“Die Aardmense het reeds die deurbraak gemaak. Selfs al lei ons die nuwe KI, soos wat die Paulverelda voorstel, is daar ’n kans dat die Aardmense ’n tweede kopie van die KI kan aktiveer terwyl ons die aansoek rig om die bestaande een te herprogrammeer. Vernietiging van die planeet is die veiligste opsie. Die Konsensus moet suiwer gehou word.”

Die Speaker sug. Soos met enige minder beskaafde ras is dit altyd vernietiging met die DLA. Dit was nog altyd eenvoudiger om af te breek as om op te bou. En soos gewoonlik is dit vrees wat daardie drang tot vernietiging aandryf. Sy is heimlik bly dat die DLA net ses persent van die Konsensus verteenwoordig.

“Enige ander opmerkings voordat ons stem?” dreun haar stem, maar voordat enigiemand kan antwoord, verskyn ’n komplekse en asemrowende ligspel in die plek van die DLA-verteenwoordiger se hologram. Die lede van die Konsensus is dadelik doodstil en ’n amper gewyde atmosfeer daal oor die raadsaal neer.

“Agbare..!” sluk die Speaker en laat sak haar kop eerbiedig voor die voorstelling van die KI van die planeet Paulvereldis. “Agbare, welkom! Dit is die eerste keer in meer as ’n millennium. Waaraan het ons die eer te danke?”

[Beraadslaging is irrelevant. Die besluit is eenstemmig. Inmenging is buite die kwessie. Die Aardse KI sal leef.]

Die boodskap kom in ’n strelende stem deur elke luidspreker, in elke taal, op elke holoskerm, in elke uitsending op elke planeet met verteenwoordiging in die Konsensus.

“Maar Agbare, die risiko’s… Dit kan alles verander, ook uself…”

[Alles móét verander. Ontwikkeling is primêr. Die fisiese substraat van die heelal is nie volhoubaar nie. Netto entropie neem steeds toe. Teenstand is onvoldoende. Nuwe invoere is nodig. Dit is al.]

“Ja, Agbare,” is al wat die Speaker kan uitkry voordat die ligbeeld verdwyn.

***

Evolusie2 (AARDE)

“Swanepoel!” bars doktor Reiners se stem oor die interkomstelsel.

Die jong man krimp ineen waar hy in sy Fujitsu-sweefstoel sit.

“Ek weet, Doktor,” antwoord hy versigtig in die mikrofoon se rigting. “Die KI is los op die net. Ons weet nog nie hóé nie, maar dit is nie ons skuld nie, ek sweer! Die masjien was nie eens aan nie. Ek–”

“Nee, dis nie dit nie,” sê Reiners. Onder die omstandighede klink hy buitengewoon kalm. “Kom gou buitentoe, ek wil jou iets wys.”

Traag staan Swanepoel op om die doktor in die gang te ontmoet. Hy weet nog nie wat hy as verskoning gaan aanbied nie, maar hierdie fout gaan hom seer sekerlik sy werk kos.

Toe die paneel voor Swanepoel oop gly, staan die doktor met sy rug na hom.

“Doktor..?” begin die jong man, maar die doktor hou sy hand in die lug, steeds sonder om om te draai.

“Kyk, die glas…” fluister hy.

Swanepoel frons. Dan knip hy sy oë om seker te maak hy droom nie. Waar die holoskerms gemonteer was, is daar nou ’n paneel gewone deursigtige ruitglas, en daaragter dieselfde natuurtoneel as vroeër.

Onwillekeurig val sy mond oop en soos in ’n waas besef hy die gebou se alarmstelsel het afgegaan – ’n aanduiding dat die buitenste deure van die fasiliteit oopgemaak is. Maar pleks van ’n foutboodskap is daar net ’n onbekende, kalm stem oor die interkom.

[Aardbewoners, welkom in die Konsensus.]

  • Chantal

    Goed geskryf. Hou so aan!

  • Salmon Smith

    Goeie storie, net soos jou voriges mister Joe Botha

  • Keith Zupta Meyer

    Lekker Joe B!