SKOKTERAPIE – Ockert J. Du Preez

SKOKTERAPIE – 2015 © Ockert J. Du Preez

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 601 WOORDE)

 

Abel se oë spring oop. Hy kyk wild rond.

Wat de hel?

“Dokter, pasient X is besig om wakker te word.”

“Ag, al weer! Wat is dit met dié ou?” Sigbaar geïrriteerd sein dr. Posthma die verpleegster om Abel weer te verdoof.

Abel probeer tevergeefs veg om nie weer aan die slaap te raak nie en word weer in ʼn vreemde droom wakker. Sy droom is hierdie keer anders. Sy droom is helderder en hy voel asof hy deel is en lewe in sy droom.

Sy droom maak egter nie veel sin nie; eers droom hy oor ʼn meisie wat breed volmond glimlag en die geluk in haar mooi groen oë uitstraal asof sy skepper van geluk kan wees. Hy droom hy is saam met die vrou, gesels met haar, bly saam met haar en slaap saam met haar. Sy en hy lyk só gelukkig!

Hy droom hy trek planne op vir ʼn huis terwyl sy kwaad vir hom lê in die bed in die vroëe oggend-ure. Hy droom oor hoe hulle baklei en dan weer semi-gelukkig is. Een ding het wel sin gemaak: sy drome het afgespeel voor sy lewe in duie gestort het.

Voor alles…

* * *

Hy word rustiger en kalmer weer wakker, steeds effe deurmekaar en met die drome se vars herinnerings in sy gedagtes. Dit voel asof sy kop oopgesaag is en sy arms en bene afgeruk is. Hy voel niks pyn in sy abdomen. Hy probeer sy kop raak maar kom dan agter dat hy teen die bed se raamwerk vasgeboei is. Sy kalmte verdwyn en hy raak baie vining paniekbevange.

Hy kry nie een van sy arms los nie, nog minder sy voete. Hy kyk om hom rond. Die flitsende buisligte irriteer sy oë verskriklik. Hy hoor stemme, maar niemand is in die omtrek nie. Sy kop wil bars! Hy merk op dat sy arms groter is as wat hy kan onthou – miskien is ek nog net deurmekaar dink hy by homself.

Sy bene is ook spiergewys groter en selfs sy voete, wel eintlik sy skoene. Sy paniek verander in histerie. Hoe harder hy probeer losruk, hoe stywer druk die boeie – nie dat dit hom stop nie. Hy word lateraan heeltemal berserk en kry dit uiteindelik reg om sy linkerhand se boei los te ruk. Die boeie is nie gewone boeie nie. Hoe weet ek dit? Soos die boei breek, voel hy hoe sy gewrig ook in die proses breek. Die pyn van die breek het skaars vlam gevat toe die seer heeltemal verdwyn tesame met die blou swelling.

Hy voel verstom en verskrik ter selfde tyd en maak dit maar af as sy verbeelding wat net met hom weg hardloop. Dis onmoontlik dat my liggaam ditself kan regmaak!

Met die een skakeltjie van die boei wat gebreek het, maak hy die boei om sy regterarm los en dan dié om sy voete. Daar is nie eers ʼn merk aan sy gewrigte om te wys hoe hy probeer losruk het nie.

Die flikkerende ligte maak dit moeilik vir Abel om te sien hoe die sel rondom hom lyk. Hy sien verskeie spuitnaalde langs die bed waaraan hy vasgeboei was. Daar is geen vensters nie; daar is wel, natuurlik ʼn deur waarop ‘UITGANG’ staan. Dit lyk soos ʼn hospitaaldeur, maar ook soos ʼn bankkluis se deur sonder enigsins ʼn handvatsel om van binne af uit te kom.

Net voor hy by die deur te stane kom, begin hy duiselig voel en ʼn skerp steekpyn in sy kop laat hom summier neerval.

* * *

Hy swem in bloed rond. Hy sien skedels, baie skedels verby hom dryf. Hy hoor ʼn geneul en ʼn geween, gille en ʼn aanhoudende gehuilery.

“Hoekom?” vra van die skedels in die verbygang.

“Moordenaar!”

“Dis jou skuld!”

“Brand in hel!”

Die massa bloed word rooier en dikker en hy begin sukkel om sy kop bo die bloed te hou. Die bloedstroom snel vinniger en vinniger. Die skedels verdwyn. Koplose verminkte menslywe vervang dit. Die linkerwysvingers aan elke lyf wys na hom terwyl hy deur die tientalle lywe probeer navigeer.

Hy beleef die eens mooi volmond vrou se wrede mesdood, so asof hy agter elke steekslag gestaan het. Hy sien hoe haar oë dof word en hoor hoe sy haar laaste asem uitblaas.

Hy kruip weg vir die polisie.

Skielik sit hy op ʼn elektriese stoel besig om te voel hoe sy lewe polsend uit sy lyf geruk word.

* * *

Dan is hy weer wakker.

Is ek ʼn moordenaar? Wie se skedels was in my droom?

“Lê hom op die bed neer.” Die stem klink bekend.

“W-w-wat?”

“Moenie jouself bekommer nie! Nou-nou sal jy beter as ooit voel,” sê dokter Posthma met ʼn effense grynslag. “Laat hom nou rus, more het hy baie werk!” Dr. Posthma verlaat die afgeskeepte kamer en sy verpleegsters volg hom sonder om ʼn woord te sê.

ʼn Groot dag? Wat bedoel die sogenaamde dokter daarmee? Hoekom voel ek nie meer myself nie?

Is ek dood? Hel?

Wat is hierdie mal dokter se plan met my?

Hy begin ʼn prikkelsensasie voel in sy arms. Hy voel sy arms word nog groter en hy voel die krag wat deur dit begin pols. Volgende, sy bene, dan sy bolyf. In ʼn kwessie van dertig sekondes is sy liggaam heeltemal getransformeer. Hy voel letterlik hoe die bloed deur sy are vloei en die lug in sy longe ingesuig word.

Hy wil met sy regterwysvinger aan sy arm voel. Net voor sy vinger té naby aan sy vlees kom, skiet ʼn klein blitsstraal uit sy vinger. Hy skrik en dog hy verbeel homself. Na ʼn ruk probeer hy ʼn vuis maak. Sy voorarmspiere begin net genoeg bult. Voordat die vuis ten volle gevorm kon word, voel hy en sien hy die klein spierwit blitse wat uit sy kneukels kom.

Hy kyk om hom rond en word nou nuuskierig. Hy bal albei sy vuiste vining met sy oë toe. Hy maak sy oë stadig oop. Die blitsstrale flikker aanhoudend. Dit kielie hom ʼn bietjie, maar pla hom nie eintlik nie.

Hy speel vir minute so en kom tot die besef dat dit werklik besig is om te gebeur. Hy maak sy hande een vir een oop en kyk na sy palms. Die lyne in sy palms is wit en grys en hy kan sien hoe die wit die grys jaag totdat die kleure weer van vooraf begin resies hou.

Wat de hel?Is ek nou ʼn proefkonyn?

Abel kry ʼn jukkerige sensasie in sy regteroog. Hy knip onwillekeurig. Die sensasie irriteer hom en hy maak reg om sy oog te vryf.

“Moenie!” Dr. Posthma se stem oor die intercom is ferm.

In die regterhoek van sy oog verskyn ʼn groen vierkant. Dan verskyn ʼn foto in die vierkant met instruksies in geel langs die foto: ‘Vermoor.’

Twee sekondes later verskyn die teiken se naam bo die foto in rooi. Abel dink dis ʼn speletjie.

“Het jy die instruksie gekry?”

“J-j-ja, maar…”

“Geen maars nie!”

“Maar wie is dit en hoekom?”

“Geen maars nie! Jy is ʼn moordenaar, dis hoekom!”

Moordenaar, ek?

“Die teiken is Gunther Erenricht, mynmagnaat. Die koördinate sal binnekort gestuur word. Jy het 48 uur.”

Gunther se foto flikker nog so vyf keer en dan word dit en die vierkant vervang met die lengtegraad en die breedtegraad in geel. Regs bo in sy oog wys ʼn aftel-horlosie in groen.

Die seldeur skiet oop.

“Gaan vind jou teiken en elimineer jou teiken. Ons monitor elke beweging en selfs elke gedagte wat jy maak. As jy nie jou missie slaag nie, óf, as jy afwyk van jou missie, sal jy ge-elimineer word!”

Soos blits is Abel by die sel uit. Hy vind homself in ʼn doolhof. Na die derde keer wat hy verby sy sel hardloop, besef hy dat hy anders moet begin dink om hier uit te kom. Hy kyk op en sien blou lug deur ʼn ronde venster skyn. Die venster is hoog.

In die dun loopweg, is daar nie juis spasie vir ʼn lëer, indien hy uitendelik een sou vind, of enige voorwerp wat hy kan gebruik om by die venster uit te kom nie. Die spierwit mure is ook seepglad en sy seldeur het nie ʼn ordentlike kosyn soos enige ander deur nie.

Vyftien minute al gemors…

Sy laaste uitweg is om te spring, so belaglik soos wat dit klink! Hy spring. Met die sprong hoor hy ʼn geluid wat klink soos gas of lug wat uitgeblaas word. Hy voel lug stoot onder sy voete uit. Hy vlieg!

Binne sekondes bereik hy die venster. In plaas van om die venster netjies te probeer oopmaak, maak hy sy oë toe, bal sy vuis op sy uitgestrekte arm en vlieg deur die glas. Sy lyf voel nie eers die impak nie.

Hy kom op die gebou se dak te lande. ʼn Rooi geverfde kruis vang sy oog. By die kruis is ʼn toksak met ʼn nota. Nuuskierig vou hy die nota oop: “Welgedaan! Hier is ʼn beloning. Onthou, die stophorlosie loop…

Hy maak die toksak oop. Sonbrille. Hy pas dit aan. Die sonbril het verskeie stellings: nagvisie, laser, infrarooi. Abel besef hy kan nie té veel rondspeel met al die stellings nie en gryp die volgende item in die sak.

Handskoene. Dit kan help om die blitsstrale weg te steek.

Die ander items in die sak stel hom effens teleur. Baadjie, ordentlike formele hemp, skoene, ʼn slap belt wat Abel die indruk gee dat dit eintlik ʼn sweep kan wees. Laastens: nuwe identiteitsdokumente en nog ʼn nota wat lees: “Van nou af word jy Skokterapie genoem en is jy op jou eie vir die res van jou missie”

  • Chantal

    Baie interessant! Ek het hiervan gehou, sal dit graag wil lees in ‘n boek.