SLEEPSPORE VAN HEL – Ilse Goschus

SLEEPSPORE VAN HEL – 2015 © Ilse Goschus

JEUGFANTASIE (3 511 WOORDE)

 

Die agtienjarige Fritz se kamera flits. Hy kyk om hom rond en asem die soet geur van die somerskemer diep in sy longe in. Die son hang laag en rooi oor die Oranjerivier wat binne die stiltes van die Noord-Kaap kronkel. ʼn Paar babers maak rippels in die rivierwater.

“Die barre wêreld van ons het darem ʼn skoonheid van sy eie,” dink hy as sy kaalvoete rats oor die ysterklippe beweeg. ʼn Springhaas spring verwilderd om, terug die veld in.

“Die klippe brand darem nie meer ʼn ou se voetsole nie,” dink hy verlig.

Hy neem nog ʼn paar foto’s. Die donkerte daal vinnig neer. Sy oë merk ʼn witte waas op die kamera se skerm. Hy skryf dit toe aan ʼn mislukte foto en druk die gedagte onmiddellik uit sy kop uit.

“Ek moet binne ʼn uur vir Marlien gaan optel vir die Matriekafskeid. Ek moet spring, want dis nog 15 km dorp-in met Pa se Audi,” praat hy met homself. “Ek wou net die aanloop tot hierdie droomaand op kamera vaslê. My selfoon neem beslis nie sulke goeie foto’s soos my nuwe Nikon nie. Dit was ʼn baie welkome verjaarsdag geskenk van Ma. Ek wil nog ʼn paar van Marlien ook gaan neem, voor ons die pad dorp toe aandurf.”

Dis egter asof hy homself nie kan help nie. Fritz kyk weer na die foto’s wat hy sopas geneem het op die kameraskerm. Hy trek meteens sy asem diep in. Hy kan sy oë nie glo nie. Hy kyk nog ʼn maal na die skerm. ʼn Velerlei los, menslike skeletbeendere lê in ʼn semi-sirkel, metodies gerangskik op ʼn laag groeiende bossies. Die veld lê donker in die agtergrond. Dit lyk kompleet soos ʼn abstrakte kunswerk of… ʼn voodoospel? Dit was die laaste foto van die reeks. ʼn Elektriese storm woed in die nagruim. Pers en groen weerligstrale is gewikkel in ʼn elektriese oorlogsdans.

“Wat de duiwel gaan hier aan?” wonder hy terwyl hy omkyk-omkyk, huis se kant toe hardloop. “Probeer iemand met my speletjies speel?”

Die nag met sy oënskynlike komplotte, klou om hom. Die hopie skeletbeendere lê binne die konflik van die natuur elemente in neonkleure, agter hom.

“Ek was tog gisteraand ook in hierdie omgewing en het toe geen wit skeletbeendere opgemerk nie,” probeer hy rasioneel oor die saak dink.

“Seun, is alles reg?” vra sy pa van die koeistal se kant af.

“Dis ʼn vreemde vraag vanaand,” dink Fritz. “Dit klink dan kompleet asof Pa weet iets is nie pluis nie. Is hy dalk met die helm gebore? Daar lê dan ʼn diepe seergeid in Pa se stem.”

Fritz spring in sy spore om en hardloop koeistal se kant toe. Hy sien sy pa en die bondel en dan… ʼn kleiner bondel. Fritz se stem breek.

“P…a?” vra hy met ʼn heserigheid wat aan sy stembande klou.

“Ja, ou Seun. Dis Bonita. Sy en die kalf het gevrek – so tien minute gelede,” verduidelik sy pa. “Hul albei was te swak. “Dood het die lewe oorwin, in hierdie geval. Ons is almal maar marionette van die dood, weet jy dit?”

“Ja Pa,” antwoord Fritz.

Die halfmaan klim hoër teen die naghemel op. Die elektriese storm woed steeds. Die rillings rol weereens in koue golwe teen Fritz se ruggraat af.

“Die kalf en die nag is doodgebore,” sê sy pa in ʼn kil stem. “Bonita, my stoetkoei is vrek – morsvrek!”:

“Soos Pa en Ma se huwelik,” glip die gedagte in Frits se kop. “Waar’s Ma, Pa?”

“Dorp toe. Sy gaan vanaand by tannie Griet, slaap,” verduidelik Pa.

“Het jul woorde gehad oor Ma en tannie Griet se ding?” vra Fritz sonder emosie en sonder om ʼn antwoord te verwag.

Alles wat vir hom ooit spesiaal was, is deur hul argumente en bakleiery papgedruk. Sy matriekafskeid vanaand, is geen uitsondering op die reël nie. Ma en tant Griet het al vir jare ʼn snaakse tipe verhouding, maar sy pa klou aan die huwelik soos ʼn ryk man aan sy juwele – hoekom, weet hy nie. Dis hier waar die natuur inkom. Die skoonheid van die Skepping bring rus en vrede in sy siel. Reëndruppels plof al hoe harder op die grond langs hulle neer en die donder en reën doof sy woorde uit. Die onweerselemente maak hom rustiger.

“Ironies,” dink hy. “Tipies van die lewe saam met Ma en Pa. Die storms koester. Dis al wat ek ken.”

Hy hardloop by die agterdeur van hul plaaskombuis in, reguit badkamer toe en laat die water warm oor sy skouerblaaie hardloop. Die koudgeid van die skrik, oor die twee bondels en oor sy Pa en Ma en tant Griet, verdwyn nie heeltemal nie.

“Ek moet my regruk,” dink hy. “Ek’s hoofseun. Ek moet nog vanaand ʼn toespraak lewer. Ek moet kophou. Met Marlien aan my sy, sal die son vir ʼn wyle wel skyn, glo ek. Dinge behoort beslis uit te werk, minsterns totdat die matriekdans en agterna-partytjie verby is.”

Hy trek vinnig sy wit pak aan, swart hemp, wit das, swart skoene en sokkies.

“Ek lyk kompleet soos die wit skeletbene teen die swart veld,” dink hy terwyl die hoendervleis weer teen sy lyf opklim.

Hy wil die gedagtes uit sy kop uit forseer, maar dis soos ʼn rot wat aan ʼn wollerige kamerjas klou. Jy klap en klap om dit af te kry, maar dit klou vas met alle geweld.

* * *

“Marlien, vanaand lyk jy soos ʼn Mejuffrou Heelal,” sê haar ma.

“Nee wat Ma. Ek’s maar net ʼn natuurkind van die Noord-Kaap,” skerm sy skaam.

“Dis spesiaal vir jou,” sê haar ma as sy ʼn goue hangertjie met ʼn stervormige diamant om haar nek hang en ʼn klapsoen op Marlien se mond druk. “Vir ons spesiale dogter. Jy is die ster in ons lewens. Jou lig skyn skerp en ver. Met jou rein hart sal jy dit nog ver bring in die lewe.”

“Baie, baie dankie, Ma en Pa!” bedank sy terwyl haar oë met klammigheid vul. Sy omhels beide haar ouers.

“Die kind besef nie hoe beeldskoon sy is nie, hoewel sy reeds ‘Mejuffrou Kalahari’ en ‘Mejuffrou Tiener’ titels agter haar naam het,” dink haar pa stil terwyl ʼn trotse glimlag oor sy gesig spoel.

“Waar’s Fritz dan?” vra sy effens senuweeagtig.

Die kombuisdeur skree skril.

“Sus! Liewe Aarde, is dit jy?” vra die veertienjarige Hendrik kamtig verbaas. “Jy het darem nou weliswaar ʼn gedaantewisseling ondergaan.”

“Ek dog dis Fritz,” antwoord sy half teleurgesteld.

“Jammer om jou teleurte stel my mooie sus, die oogappel van die familie. Dis net ekke – niemand anders nie,” spot haar rooikop, sproetgesig boetie.

Beide hande vou om sy sproetgesig en Marlien soen hom vol op sy mond.

“Sies! Jig!” grap hy terwyl hy die soen kamtig met sy een hand afvee.

ʼn Liefdevolle glimlag sprei oor Marlien se gesig. Die glimlag is eg. Dit raak aan haar groot, neutbruin oë. Haar swart, lang krulhare val oor haar rug en haar spierwit vollengte halternekrok klou om haar slanke lyf en sprei by haar middel wyer na onder.

Die ligte van die Audi skyn meteens in die plaaspad.

“Skakel die stoeplig aan!” skree Anke, Marlien se ma van die kombuis sekant af. “En… bring die sambreel, Hendrik!”

Marlien kyk bekommerd na Fritz, sodra hy die sitkamer binnekom. Hy is spierwit en sy adamsappel beweeg vining op en af.

“Naand almal!” probeer hy verby sy angstigheid en bekommernisse dink.

“Ek wonder wat is verkeerd? Dalk weer onmin op ‘Vrede’?” wonder sy.

‘Vrede’ is Frits-hulle se plaas se naam. Sy oë ontmoet hare tussen die dink deur. Stille bewondering lê vlak in sy oë en steek soos sovele male tevore, die vlam van vertroue en liefde in haar hart aan.

“Jy lyk ongelooflik pragtig, Marlien,” fluister hy terwyl hy ʼn bos rooi en wit rose in die sewentienjarige meisie se hande druk. Hy druk ook ʼn piksoentjie op haar wang.

Sy kyk met bewondering na die blomme en raak dan yskoud.

“Wit en rooi blomme voorspel ‘dood’,” onthou sy haar oorlede ouma Maggie se woorde.

Sy probeer verby die dood dink. Die blomme vorm ʼn sterk kontras met die wit, syagtige materiaal wat teen haar bruingebrande vel lê.

Bewerig steek sy ʼn wit angelier aan Fritz lapel vas. Die kortstondige koudgeid wat haar hart wou vasgryp, is egter iets van die verlede. Hy vergeet van die foto’s. Hendrik oorhandig aan haar die groot, swart sambreel en binne enkele oomblikke hang die twee verliefdes daaraan soos vinke aan ʼn nes.

“Veilig ry en… voorspoed met jou toespraak, Fritz!” skree Hein, Marlien se pa, een van die plaaslike dokters in die omgewing. “Julle twee is ʼn spogpaar!”

“Stem!” skree Anke en Hendrik byna tegelyk.

Die kamera flits as Hein ʼn paar onverwagte foto’s van die paartjie neem en dan verdwyn die Audi in die nag terwyl die reën, donder en blitse hul brute krag vertoon op die normaalweg droë Noord-Kaapse vlaktes.

“Wat’s fout Fritz?” por Marlien terwyl die motor Upington se kant toe snel.

“Die verlede mors die toekoms op,” antwoord hy op kille toon.

Haar vingerpunte raak saggies aan die growwigheid teen sy wang.

“Jy maak my seer! Jou vingers druk tot diep binne-in my vleis – dit vat verby die senuwees. Dit raak aan my skeletbene. Heks! Ek het altyd geweet jy is ʼn verdoemende heks!” skree hy histeries.

“Wa…at?” glip die verbasing uit Marlien se mond. “Fritz, is dit weer die ding tussen jou ma en jou pa?” vra sy.

“Marlien, dis dit, dis die twee bondels in die koeistal en… veral die skeletbeendere in die veld,” kom hy met die hele sak patats te voorskyn – ietwat kalmer hierdie keer. “Dis egter ook die feit dat jy ʼn tweegevreet is.”

Die trane rol onbeheersd oor haar wange en haar tinger lyfie skud van die huil en ontsteltenis.

Sy verstaan net die eerste deel, maar die bondel en die beendere bly ʼn raaisel. Marlien plaas nogtans haar hand liefderyk op Fritz se been, ten spyte van die uitbarsting.

“Jy kan later uitbrei,” stel sy hom gerus.

Sy voel hoe die spiere in sy linkerbeen styf span. ʼn Spiertjie in sy wang spring op en af, terwyl sy hande aan die stuurwiel klou. Hy kyk skuinsweg na haar. Sy kry hoendervleis Sy gesig lyk skielik verwronge. Hy laat haar dink aan ‘n ongetemde dier. Hy loer weereens na haar en pluk die stuurwiel links, veld se kant toe.

“Fritzie, dis ons afskeid. Jy moet binnekort ʼn toespraak lewer,” probeer sy paai tussen die angstigheid heen. “Jy is immers hoofseun. Jy’s my rots”.

“ʼn Gesplete rots,” antwoord hy kortaf.

“Ek kan sien dat jy ontsteld is, my liefling. Praat sommerso in die ry. Ek is ʼn goeie luisteraar,” gaan sy voort in haar rustige stem.

“Die beendere roep ons tot afskeid!” antwoord hy. “Die dolosse is gegooi. Hulle het gepraat.”

“Waarvan praat jy?” vra Marlien verward.

Die Audi kom in die middel van die natgereënde stuk veld tot stilstand. ʼn Swartgeid staar hulle aan.

“Die beendere… waar’s die beendere?” vra Fritz terwyl hy Marlien aan beide skouers gryp en rondruk. “Waar’s die bene? Hoor jy my? Waar’s die vervloekte bene?”

“Dis weg!” antwoord sy lam.

“Hoe kan dit weg wees. Het jy dit gevat? Het jy?” skree hy kliphard.

“Nee! Nee!” skree Marlien. “Jy kan mos sien dis net weg!”

Fritz ruk die Audi-deur oop en storm veld-in. Die reën deurdring sy Kurt Duvale-ontwerperspak.

“Kom terug Fritz!” skreeu Marlien desperaat.

Hy ignoreer haar. Sy druk haar pa se selnommer in op haar foon, maar die foon lê dood en stil in haar hand.

“Dis snaaks. Ek het vanmiddag lugtyd ingesit. Fritz tree vanaand totaal vreemd op. Dis asof hordes duiwels van hom besit geneem het. Ek ken hom nie so nie. Maar… het ek hom werklik geken?” wonder sy terwyl sy die rigting aandurf waar hy verdwyn het. “Ek is doodbang, maar ek weet nie wat om te doen nie.”

Die blitse en donder het opgehou. Die nag is stil en soel en die grond ruik vars. Druppels klou nog styf aan die bome en bossies as Marlien haar liggaam uit die motor forseer. Die bossies skuur hul nattigheid teen haar bene af en die dorings haak aan haar pragtige rok. Die trane wel op in haar oë.

“My droomaand het nou ontaard in ʼn belewenis van die hel. Ek’s nou vasgevang in ʼn spel tussen goed en kwaad,” besef sy intuïtief.

ʼn Witgeid beweeg voor haar oë verby en dit raak skielik groter en groter. Dit skuif voor haar uit.

“Dis ʼn enorme skeletbeen,” dink sy paniekbevange. “Dit sweef bokant my kop. Dis amper soos die Bethlehem-ster. Is dit waarna Fritz verwys het?”

Sy bibber van angs, maar is nou die vrywillige volgeling van die bewegende doodsbeen. Die matriekdans het nou ver uit haar kop uit gegly. Sy hoor ʼn geritsel van droë blare en gaan dan botstil staan. Sy hoor ʼn geween. Marlien trek haar hoë hak skoene uit, want sy is gemaklik kaalvoet. Sy slinger die skoene eenkant en sluip op die geluide af. In die middel van die oop, donker veld, sien sy dit. Duisende geboë, wasige dedaantes bedek in wit gewade, sit op die oop veld. Hulle lywe skud heen en weer asof in roubeklaging. Smartvolle klanke kom uit hul monde. Hulle kyk af op die donkerte van die veld reg voor hulle. ʼn Vuurtjie brand ten spyte van die nattigheid. Om die vuur dans vier wesens, geklee in wit. Hulle dans is ʼn dankdans. Hulle buig op en af en spring elke nou-en-dan in die lug op. Die massa agter hulle is bewus van die ritueel, terwyl in diepe meditasie.

“Hulle is marionette. Lucifer beheer die toue,” besef Marlien. “Gemanipuleerde wesens sonder rasionele denke.”

Sy trek haar oë op skrefies en probeer konsentreer op die groepie voor haar. Marlien beweeg steeds nader. Die wesens voor haar is… doodsbeendere – die skelette van Fritz, tannie Griet, Fritz se pa, (Oom Boet) en dan… Hendrik. Hulle gesigte is hologramme en sweef bokant hul skelette heen.

(Uit die vuur word hy gebore… ʼn onaardse verskynsel. Hyhet ʼn donker, wasige kop met ʼn wye mond waaruit vuur spring. Die tande is enorm, geel en wreed. Die lyf is ʼn donker waas met wasige uitvloeisels wat in kloue eindig. Die onderlyf vorm deel van die vuur – dit is die vuur. Die enorme doodsbeen sirkel nou bo sy kop. Skielik spring dit in sy een klou en word sy staf.)

“Ek het julle geroep, my onderdane. Julle moet antwoord. Julle is myne, net myne!” skree die donker wese.

“Ja, net joue, niemand anders sʼn nie,” antwoord hulle in een stem, terwyl die duisental lywe op die vlaktes in sittende posisie, ook op en af buig.

“Julle weet wie ek is?” tart hy.

“Lucifer!” antwoord hulle uit een mond.

“Lucifer. Ja, Lucifer is my naam,” skree hy. “Buig! Buig voor my, julle idiote! Weer en weer en weer…”

“Ons buig, Edelagbare Lucifer, heerser van die hel!”

Hy buig af in die vuur, maak ʼn paar bewegings en dans ʼn wilde, woeste dans. Hierdie keer is daar ʼn vlymskerp swaard in sy kloue. “Ek het jul geroep, my onderdane. Julle het geantwoord. Julle is myne, net myne!” skree die donker wese herhaaldelik.

Marlien staan verlam agter ʼn kameeldoringboom. Sy staan nou slegs tien meter van Lucifer en die dansende skelette af.

“Die wit en rooi ruiker,” dink sy. “Dalk was dit ʼn waarskuwing, ʼn orakel. Als hou verband met die dood. Die detail en hoe die legkaarstukke inmekaar pas, is egter steeds ʼn raaisel.”

Ingedagte vryf sy aan die diamant in die hangertjie, wat haar ouers aan haar gegee het. Die diamant begin skielik helder flikker. ʼn Rustigheid neem van haar besit.

“Die meisie. Sy’s hier naby. Ek ruik haar, ek voel haar energie, ek soek haar bloed en haar sagte tienervlies. Ek wil my leiertal hier in die Noord-Kaap vermeerder. Ons soek nog tieners – jong bloed! Ha-ha-ha,” weerklink sy wrede lag oor die vlaktes in die vorm van donderweer. Die blitse spring skielik rooi teen die hemel en dans hul elektriese tango.

“Lucifer reageer die uitspansel ook!” besef Marlien geskok. “Hy is verantwoordelik vir die donder en blitse.”

Die benerige staf spring skielik uit Lucifer se hand. Die maan skyn helderder en die vlamme dans vuriger in die middel van die oop veld. Die skeletbeen sirkel vinniger en vinniger en vat dan koers na die Noorde toe. So vyftig meter verder kom dit tot stilstand. Daar lê vier hope.

“Wat de duiwel,” wonder Marlien nou.

Die monster, Lucifer, trek die vuur se sleepspore agter hom aan. Die vlamme lek die veld ten spyte van die bui reën etlike minute gelede. Wilde hase, meerkatte, muise en nog meer, skarrel uit die vuur se verwoestende pad uit. Hy slyp sy mes teen ʼn skerp rots en dan druk hy dit diep binne-in die kern van die vier vleishope – die liggame van oom Boet, tannie Griet, Fritz en Hendrik.

“Nee! Nee!” skree Marlien in haar kop, te bang om die aandag op haar te vestig. “Nie Hendrik nie!”

Die geraamtes, steeds verwikkeld in hul dankdans, gil bloedstollend as die lewe uit hul liggaamshope, etlike meters van hulle af, uitgesny word. Die hologramme verdwyn en hul doodsbeendere klap-klap-klap. Skielik lê daar vier hopies droë, skeletbene waar die vuur aanvanklik geknetter het…

“Nou vir die tienerheks!” skree Lucifer. “Ek weet sy hou ons dop. Ek rek die seremonie uit, sodat sy die gevolge kan verwerk voordat haar ‘hoop’ aan die beurt kom!”

Haar selfoon begin skielik vibreer.

Die skeletbeen kom reguit na haar toe aangesirkel, so-ook Lucifer en die vuurspoor en die swaard wat  die hitte in ‘n rooi gloed, uitstraal. Die skerpheid van die swaard word nou meer sigbaar in die gloed van die vuur. Die maan verleen ‘n spookagtigheid aan die gebeure. Marlien vryf weer onwillekeurig aan die diamant aan haar hangertjie.

“Wyk Lucifer! Wyk Satan!” skree sy.

Die duisende wit, roubeklagende wesens, vorm nou ʼn intimiderende optog. Hulle dra rooi baniere, met Lucifer se beeld daarop in swart. Oranje en rooi vlamme bondel uit sy mond uit, op die duisendtal tweedimensionele baniere.

“Lank lewe Lucifer! Lank lewe Lucifer!” skree hulle. “Hy’s die alomteenwoordige Heerser van Hel!”

Haar blik val nou op die vibrerende selfoon-skerm: “Kom terug huis toe – na die Paradys van die Engele,” flits ʼn boodskap. “Ons, die engele roep jou, Marliena, Engel van die Nederiges!”

Die hitte van die vuur laat haar bedwelmd voel. Marlien verloor haar bewussyn en sy val. Enorme, wit engelvlerke vou oor haar en raap haar op. Sy hoor hemelse koorsang.

“Bring my boetie terug!” snik sy. “Bring hom terug tot die lewe!”

Sy kyk vas in Fritz se gesig.

“Ek dog jy’s dood!” fluister sy skor, terwyl sy liefderyk aan sy wang vat, maar dan is dit Hendrik se gesig voor haar…”

“Ha-ha-ha” lag Lucifer luid. “Die Engel des ligs of die Satan van die Onderwêreld? Wie sien jy regtig? Ha-ha-ha! Ons was in die formaat waarin jy jou nou bevind. Ons was suiwer – Engele van God, rolmodelle. Nou is ons is almal Gevalle Engele. Uitgeworpenes! Vernederdes!”

“Hendrik, Hen… drik! Bly by my!” smeek sy, maar dan lag oom Boet vlak in haar gesig sodat die spoeg op haar spat.

“Jy dog jy’s so mooi en so slim!” praat hy gejaagd. “Ons het jou verneuk. Ons het julle almal verneuk en Griet ook. Is ek reg my liefste Griet?” lag-vra hy sinies, terwyl hy ʼn oopmond soen op haar mond plaas. ʼn Bloederigheid syfer tussen tannie Griet se tande deur. Oom Boet lag met Lucifer se stem.

Die skerp geel tande druk deur Marlien se sagte nekvel en die vel bars effe oop. Die bloed drup teen haar wit afskeidsrok en vlek dit in enorme rooi kolle.

“Die verdekselse demone het ʼn slagaar beetgekry,” besef sy swak, terwyl die pyn en bloedverleis haar grond toe dwing.

Haar lyf val neer op die swartgebrande Noord-Kaapse vlaktes neer.

“Ha-ha-ha” lag die Satanskinders terwyl hul hul kloue deur die bloedpoele laat gly en met skerp naels mik-mik na haar sagte vleis. “Ringe-ringe-rosie, is dit etenstyd op die nag se boshorlosie?” tart hul lied haar as hulle uit volle bors sing.

“Dis etenstyd!” brul Lucifer.

Sy kop ruk agtertoe en hy blaas bollings vuur by sy bek uit. Hulle storm.

Die diamant skitter wit en warm bokant haar hart sodra die vuur nader aan haar liggaam spring en gevaarlik om haar dans. In haar onderbewussyn word Marlien skielik bewus van ʼn simmetriese sagtheid om haar. Sy raak dit saggies aan.Haar vlerke is groot en wit en vaartbelyn. Sy sprei dit uiten sirkel hoër en hoër en ontsnap Lucifer se kookpot van vernietiging en illusie, naelskraap.

Die aarde bewe en die storms woed…

“Julle… julle idiote!” Julle het hopeloos gefaal. Hopeloos! Vergader onmiddellik in die Raadsaal van Hel,” donder Lucifer se stem oor die Noord-Kaapse nag se vlaktes.

Hy steek sy staf, (die skeletbeen), voor hom uit. Die aarde bewe. Diep kraters word sigbaar in die aardkors. Vuur en rookbollings bondel uit die aarde se kern. Die duisende wasige gedaantes en skeletbeendere van Fritz, oom Boet, tannie Griet en Hendrik, raak een met die ontwrigting diep daaronder.

“Plan B!” donder Lucifer se stem.

  • Ester

    Ilse, sjoe maar jou storie is interessant. Ek het later gevoel of ek self amper deur Lusifer beetgekry word. Baie mooi geskryf.

  • Marilise Hammond

    Uitstekend geskryf en uiters spannend! Baie goeie karakterontwikkeling!

  • Salmon Smith

    ‘N REGTE RILLER. KOUE RILLINGS HET BY MY RUG AFBEWEEG. ELKE DONKER SKADUWEE HET VIR MY VERDAG VOORGEKOM. LOL

  • Alex

    Baie mooi geskryf, Ilse, indrukwekkende storie! Dit maak my nuuskierig vir die andere stories wat jy geskryf het

  • Chantal

    Baie goed geskryf! Hou so aan!