SPEELVELD – Joe Botha

SPEELVELD – 2015 © Joe Botha

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 300 WOORDE)

 

OM HERHAALDELIK dood te gaan is nie vir sissies nie, dink T1mmm toe sy herstelde liggaam hergenereer enkele meter van die plek waar hy oomblikke tevore uitgehaal is. Vir ’n oomblik is hy in die war, maar dan hoor hy die kabbeling van die stroompie vlak agter hom. Hy was op pad na die kliprantjie. Skuiling.

Hy herinner homself dat dit nie ’n werklike dood is nie, dat sy fisieke liggaam steeds bewusteloos in laboratorium 2 van Reële Spele se ateljee lê. Dis net sy bewussyn wat as ’n suiwer datakonstruk hier aan die Spele deelneem. Maar tog, jy voel álles…

Ten minste is die pyn vir eers weg. Maar seker nie vir lank nie. Hy het net ’n paar kosbare sekondes van onaantasbaarheid en daai verdomde skerpskutter is nog daar bo iewers. Hy moet beweeg

T1mmm maak spore bo-oor die bloedbevlekte dennenaalde waar sy vorige newebeeld lê. In die draf beskou hy die lewelose beeld wat reeds besig is om deursigtig te word en kry ’n angswekkende terugflits na die verstikking in sy eie bloed. Sy vorige avatar het nou amper heeltemal van die speelveld verdwyn. Binne oomblikke sal hy weer kwesbaar wees; weer kan voel hoe die skerpskutter se hoëkaliber-koeëls deur vlees en been skeur. Hulle was seker al vyftig keer opponente en tog weet T1mmm bykans niks van hom nie, behalwe die belangrikste feit: Die ou daar bo is ’n sadis. Hy wond liewer. Veral in die bene, sodat jy nie kan wegkom nie. Kopskote is die beste. Dan voel jy niks.

Uit die trajek van die vorige doodskoot deur die regterlong kan T1mmm ’n rowwe peiling van die skutter se posisie uitwerk. Daardie psigopaat se patrone kan ’n olifant op seshonderd meter—

Zjip! ’n Ploffing langs T1mmm se linkervoet ruk hom terug na sy onmiddellike penarie.

Skaap!” verwens hy homself saggies dat hy hom nie vinniger georiënteer het nie. Maar nou weet hy darem presies waar die vyand sit. Hy hurk agter die naaste dekking, ’n statige bloekomboom wat lyk asof dit al sedert die tweede Britse besetting staan. Die simulasie is amper bonatuurlik akkuraat, maar T1mmm het nie tyd om die pragtige hoëdefinisie-grafika te waardeer nie.

Sy oë dartel rond om sy onmiddellike omgewing op te som en die tweede optiese kanaal in sy kop lys die taktiese data: 23 meter na die rantjie toe… 2.7 sekondes vir die skutter om te herlaai en weer aan te lê… hoogte bo seespieël: 36 meter… taktiese roete: koers 167… hardloop! …nou 19 meter na die rantjie toe… Die gegewens stroom reguit deur T1mmm se optiese senuwee, en sonder die ernstige tekortkominge van die menslike oog is hy onmiddellik en duidelik bewus van die syfers aan die rand van sy gesigsveld.

Hy trek homself plat agter die bloekom en oorweeg sy opsies. Die speelveld is vandag redelik boomryk, maar as hy reguit vir die rantjie probeer hardloop, sal die skerpskutter hom lag-lag in sy visier kan hou. Hy sal dit nooit maak nie. ’n Veiliger, maar langer strategie is om soos ’n haas van kant tot kant tussen die bloekom- en dennebome te hardloop. Aanval is tans buite die kwessie.

“Daar’s net twee soorte diere,” het sy pa altyd gegrap. “Dié met groot tande en dié met groot voete. Soos windhonde en hase.” T1mmm is pynlik bewus daarvan dat hy tans in die tweede kategorie val. Onwillekeurig kyk hy af na sy gekose wapen: ’n BFG-365 semi-outomatiese plasmakanon met ingeboude 700 gram Duwweltjie-klas granaatlanseerder en onbeperkte ammunisie. Sy tande. Nie dat hulle van veel nut is teen ’n goed gekamoefleerde teiken in ’n hoër posisie 120 meter weg nie.

“Wag ’n bietjie…”

’n Grynslag begin om sy mondhoeke speel toe die ingewing hom tref. ’n Man hoef nie so rats soos ’n haas te wees nie. Nie as jy so mal soos ’n haas is nie. Hy skud sy kop vir sy flou grappie. Dis ’n waagstuk, maar nou ja.

Die los blare ritsel om sy stewels toe T1mmm versigtig orent kom. Met ’n soepel beweging haal hy die granaatlanseerder oor en stel die ploftydperk op een sekonde. Dan swaai hy sy arm in ’n wye boog van onder na bo aan die linkerkant van die boom uit.

Niks.

Hy doen dieselfde fopmaneuver aan die ander kant. Hierdie keer vat sy opponent die aas.

Zjip!

2.7 sekondes om oor te haal… In ’n enkele vloeiende beweging rol T1mmm terug na links, lig die BFG skuins na bo, trek die sneller en maak homself so klein as moontlik agter die gladde bas van die bloekom. ’n Oomblik later klink ’n oorverdowende knal op, metaalagtig, soos twee massiewe vere wat teen mekaar kap. Die slag eggo deur die woud en ’n stofwolk slaan op in die area rondom T1mmm soos die honderde titaan-duwweltjies in die grond vasslaan. Hy gee ’n gedempte kreet toe twee van die duwweltjies winkelhake uit sy linkerskouer en bo-arm ruk.

Die ploflading van die granaat self maak nie veel rook nie. Nie veel nie, maar saam met die stof genoeg om dekking te bied. Die atmosferiese toestande op die speelveld is vandag gestel as windstil — seker die rede vir sy opponent se keuse van wapen — en die wit swaelwalm bly hang halsstarrig in die lug waar die granaat ontplof het. Teen die tyd dat dit genoegsaam verstrooi het vir die skerpskutter om weer ’n skoon skoot te hê, het T1mmm reeds agter die rotsagtige rantjie verdwyn.

[Stop/]

[Onverwagte uitsluitingsfout in reël 160,277/]

[Bate verlore: buite verwagte parameters/]

Nee, nie ágter die rantjie nie. Iewers… tussendeur? T1mmm se eerste gedagte is dat die skerpskutter toe wel sy skoot ingekry het. Nee, dis onmoontlik. Die veiligheidsmaatreëls is afgeskakel, so enige wond aan sy speelveld-newebeeld voel soos die ware Jakob. Maar hy voel geen pyn nie. Hier is groot fout.

Hy kyk af na sy voete, wat skynbaar deur die soliede kalksteen-oppervlak sak. Instinktief probeer hy vorentoe duik, maar dit is asof sy bene onder die knie in yster gegiet is.

Stadig, amper gewigloos val T1mmm tot by grondvlak — en dan daardéúr. Hy voel duiselig toe sy kop deur die oppervlak beweeg. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde sien hy die tweedimensionele vlak waarop hy sopas nog gestaan het. Dan syg hy pylreguit af in die niet onder die speelveld. Rondom hom is daar net ’n uniforme grys in alle rigtings behalwe na bo, waar ’n nou tekstuurlose spieëlbeeld van die landskap stadig kleiner word asof dit bo hom opstyg.

Dan, ’n swikpyn in sy enkels toe hy ’n onsigbare versperring op die bodem van die speelveld tref. Die BFG val vorentoe uit sy hande, hop twee keer onnatuurlik en kom dan skuif-skuif tot stilstand drie meter van hom af, waar dit polsend lê en gloei.

Uit die hoek van sy oog sien hy sy telemetrie-lesing is 0 meter bo seespieël. In die simulasie is dit seker ’n ligging iewers stroomaf van die riviertjie onder in die kloof waar hy sopas was. Die plek wat in 3D-ruimte ooreenstem met die laagste geprogrammeerde punt van die simulasie.

Hy roep ’n kaart van die omgewing op en bestudeer die kliprantjie sorgvuldig. Alles lyk doodnormaal.

T1mmm se enigste verklaring is dat daar ’n fout moet wees in die tektoniese lewering van die landskap. Hy onthou sulke gevalle uit die rekenaarspeletjies van sy kinderjare in die laat-2000’s. As die kodeerder slordig was, was die ruwer geometriese vorms agter die teksture soms nie behoorlik in lyn nie, dan vorm hulle ’n spleet wat net die illusie van vastigheid skep. ’n Bisarre sagte plek in die terrein, waar jou karakter deur mure kon loop of op een posisie kon vashaak. Of teoreties deur sou kon val na ’n plek buite die speelbare area.

In so ’n geval was die enigste keuse om die speletjie af te skakel en alle ongestoorde data te verloor…

Hy sal ’n plan moet beraam om hier uit te kom. Sy beste kans is om na die laagste punt van die speelveld te beweeg. As daar dalk ander foute in die landskap is, is dit ál plek waar hy weer sal kan deurbreek na die aktiewe area van die simulasie. Terug boontoe is nie ’n opsie nie. Die fisika buite die speelbare gebied is in elk geval onvoorspelbaar en T1mmm twyfel sterk of hy sal kan terugkeer met dieselfde roete wat hom hierheen gebring het.

Hy kyk om hom rond. Op sy nege-uur reik die onmoontlike onderstebo landskap bo hom die laagste af na die zero-punt waarop hy staan. Sonder enige landvorme om hom te vertraag is dit kwalik 80 meter weg.

T1mmm mik om sy BFG op te tel, maar met elke tree wat hy gee, bly die vervlakste ding buite sy bereik. Hy strompel al hoe vinniger totdat hy besef hy nael volspoed. Maar steeds bly sy tande presies drie meter van hom af lê en pols, so asof die wapen hom tart.

Sonder enige verwysingspunte onder of langs hom neem dit hom ’n oomblik om te besef wat aangaan. Dit is steeds soos toe hy bo probeer duik het. Dis nie die BFG wat hom ontwyk nie; dis hyself wat op een plek hardloop. En hoewel sy aksies nie op enige manier beperk word nie, beweeg hy glad nie in verhouding tot die landskap nie. Hy kyk vinnig op na die onderstebo terrein om dié nare vermoede te bevestig en kom dan tot stilstand met paniek wat in sy keel begin klop.

***

“Vir die laaste keer, waar is T1mmm?” eis die vervaardiger en haar oë blits wit weerlig.

[Bate T1mmm – Timson Groukamp – status: verlore/] klink ’n sagte, dog emosielose stem op van nêrens in die besonder nie. Die vervaardiger bal haar vuiste en ’n skor klank van frustrasie ontsnap uit haar liggaam.

Sy wend haar woede tot die snotneus-outjie langs haar. Hoe oud is hy? Veertien? Vir ’n oomblik voel sy amper jammer vir hom.

“Ons moes alle weddenskappe op dié ronde kanselleer. Het jy enige idee wat dit ons gaan kos?” sis sy.

“Ons doen ons bes om T1mmm op te spoor,” antwoord die jong mannetjie voor haar sonder vrees, maar ook sonder veel oortuiging in sy stem. “Sy sein is nog aktief en die sensors plaas hom op die rant van die ravyn. Ons kan hom net sien nie. Dis asof hy nie meer op die speelveld is nie. Ons probeer, maar… Ek weet nie wat om vir u te sê nie.”

Die vervaardiger gluur hom aan en lyk dan asof sy effens ontspan.

“Skakel die simulasie af,” sê sy stompweg.

“As ons dit doen, gaan ons hom verloor,” skerm die seun.

Die vervaardiger beduie na ’n glastenk in die ateljee waarin die liggaam van Timson Groukamp bewegingloos dryf.

“Ons het hom klaar verloor. Of liewer, jý het hom verloor. Wat jy daar sien is nie T1mmm nie. Die ligte is aan, maar niemand is tuis nie. Dis ’n leë dop waarvan jý die inhoud gaan staan en wegbliksem het.”

“Baas…” begin die outjie, maar die vervaardiger het nou eers begin stoom opbou.

“Luister hier, jou klein kak!” brul sy. “Laat ons mekaar nou mooi verstaan. Dis ’n eenvoudige sommetjie. Daar is 9,6 miljard mense op aarde. Ons het meer as 50,000 weddenskappe wat elke minuut instroom. Één rugsteunkopie van ’n enkele mens is níks werd nie, selfs nie dié van ’n top-speler soos T1mmm nie. Hy het ’n lys vrywarings so lank soos my arm geteken ingeval iets sou skeefloop en boonop is dit vir hom al ou nuus om dood te gaan.”

“Maar hy is nog in die simulasie… lewend,” pleit die outjie, nou meer bedees.

“Kyk, ek weet daar is mense wat nie met dié siening saamstem nie, want ek praat skynbaar nou met een van hulle. Maar kry dit deur jou dik kop: Die besluit is gebaseer op ekonomie, nie op emosie nie. Ons verloor miljoene vir elke sekonde wat die speelveld van lyn af is. Alles omdat ’n onbeholpe tech-koppie ’n speler verloor het en dan boonop nie bevele gehoorsaam nie. So, as jy nog môre ’n werk wil hê, sal jy die simulasie nóú afskakel en die rugsteunkopie van die laaste ronde laai.”

Die jong tegnikus wend hom tot die toetsbord voor hom en tik ’n magtigingskode in.

[Beëindig simulasie? (Alle ongestoorde data sal verlore wees!)/] klink die rustige blikstem op.

Die tegnikus huiwer ’n oomblik en klik dan op die “Ja”-opsie op die skerm voor hom.

***

’n Beweging bo T1mmm se kop trek sy aandag. Verwonderd kyk hy hoe poele van dieselfde vaalgrys kleur van sy omgewing die onderstebo landskap soos Atlantis verswelg. Stelselmatig dematerialiseer die speelveld totdat hy alleen in die niet bly staan.

Hulle het die spel gestop, dink hy. En ek is nog hier. ’n Spook in die masjien. Ongestoorde data…

’n Nuwe onderstebo speelveld doem in die plek van die oue op en die besef dring tot T1mmm deur dat sy lot verseël is. Met ’n wrang smaak in sy mond dink hy aan die nuwe T1mmm wat tegelykertyd iewers bo hom die nuwe skerpskutter probeer uitoorlê, salig onbewus van sy vorige inkarnasie in die grys grafkelder onder sy voete. Dis sal dáárdie T1mmm wees, nie hy nie, wat in die laboratorium bygebring sal word wanneer die Spele verby is.

Hy wonder hoe lank hy hier gaan vassit. Seker tot die volgende geskeduleerde instandhouding van die stelsel. Dis dalk maande voordat hulle die stelsel volledig afskakel. In ieder geval, sterf kan hy nie.

’n Sagte, maar onmiskenbare klikgeluid iewers agter T1mmm stuur ’n koue rilling deur sy liggaam.

“Jy! Kalf in die put!” klink ’n smalende stem op. Hy swaai vervaard om en kyk vas in die loop van die skerpskutter se geweer.

“Dis reg, boeta. Jy het nie alleen agtergebly nie. Ons gaan nog sommer báie pret saam hê,” grynslag die skutter en lê aan vir sy eerste skoot.

  • Salmon Smith

    Ek het Speelveld geniet en sal dit aanbeveel. Dit het vir my gevoel of ek myself daar in die rekenaar bevind. Ek voel jmmer vir T1MMM wat nou ‘n sitting duck is. – Salmon Smith

  • chantal

    Goed geskryf. Ek kon sien in die kortverhaal dat Joe Botha sy navorsing goed gedoen het! Ek hou van die karakter se naam T1mmm… Baie besonder.

  • francois verster

    Lekker kinkel in die stert!

  • Johan Van Wyk

    Wonderlik! Gaan ons nou uitvind wat met T1mmm gebeur 🙂

  • OJ du Preez

    Dit was cool!

  • Keith Zupta Meyer

    Voorwaar aangrypend.