VALENTYNSNAG 2014 – Joe Botha

VALENTYNSDAG 2014 – 2015 © Joe Botha

VOLWASSE FANTASIE (1 299 WOORDE)

DIE man staan op Tygerberg-heuwel en kyk uit oor die stad. Die sakkende son kaats sy silhoeët in swart teen oranjerooi, soos iets uit ’n Japanse anime-strokie. Meer as sewe voet lank. Slierte van hare oor ’n dik, swart leer-onderbaadjie. Bypassende leerbroek en stewels. Oor sy skouers steek net die punte uit van twee indrukwekkende swart vlerke wat oor sy blaaie getatoeëer is. Sy regterhand rus liggies op die kolf van ’n antieke kruisboog.

Die nagloed van die snikhete somersdag hang nog oor die stad met die eiesoortige opwinding wat soms onverklaarbaar saam met sulke soel someraande kom. Die hitte skyn die man nie te pla nie. Dit sal binnekort donker wees.

Ondanks sy imposante voorkoms blyk niemand die figuur op te merk nie. Oral rondom hom is daar paartjies wat op dié warm Februarie-aand uitgekom het om na die sonsondergang en die maansopkoms te kyk. Van hulle vier hul liefde met rose en sjokolade; oudmodies en beginselvas. Vanuit ander motors kom die swaarder reuk van dagga en die dowwe geklingel van die vryer geeste se lang biere.

Hy sien hulle almal.

Volmaan op Valentynsdag. Hulle noem dit die minnaarsmaan. Hy het lank gewag vir hierdie aand. Die laaste keer dat dit saamgeval het was in 1987. Dit is die enigste nag waarop die man gestalte aanneem, sy enigste kans om tussen mense te loop. Dalk nie self as mens nie, maar naby genoeg. En hoewel min siele bewus is van hom, sien hy ’n teiken in elke wese met die vermoë om lief te hê.

Skuins agter hom sit ’n meisie en haar outjie in ’n sedanmotor. Die jongman se arm hang om haar nek terwyl sy met dromerige oë ’n kaartjie lees. ’n Goedkoop afspraak. Of dalk ’n eerlike waardering vir die eenvoudiger plesiere in die lewe. Wie beter as jou geliefde om saam met jou na ’n sonsondergang te kyk? Hoe dit ook al sy, hul redes traak die man nie.

Eensklaps trek sy gesonke oë saam toe die oeroue gevoel in hom opstoot. Sterker dié keer. Hoe nader aan sononder, hoe meer tasbaar word dit. Die gerusstelling spoel oor hom. Sy ou vriend.

Haat.

Die man ken geen ander emosie nie. Al wat hy nog ooit gevoel het, is haat in verskillende grade. Haat vir die son wat hom nie kan verwarm nie; vir die kort tydjie wat hy kry om sy lewenstaak hier te verrig; vir die wêreld en die mense wat dit durf waag om in sy teenwoordigheid lief te hê. Maar die plek vir sy stilste, innigste haat is opsy gesit vir die liefde self. Hy haat die liefde wat hom op dié nag gestalte gee met dieselfde diep passie waarin die liefde uiting kry. Vir ewig sal die twee emosies vir hom ineengestrengel bly. Soos minnaars.

Hy glimlag wrang. Dat hy, die Haatdraer, vervloek is om sy enigste tyd in die wêreld te moet deurbring in die nag waarop die liefde gevier word. Die ironie is bytend. Sy regterhand klamp om die kolf van die kruisboog.

Skuins agter hom het die atmosfeer in die sedan verander. Die afspraak het ’n onrustige toon aangeneem. Die meisie druk die outjie se arm van haar nek af weg. Hulle wissel woorde.

Die man se glimlag vertrek. Die grens tussen liefde en haat het reeds begin vervaag. Dit begin…

Die twee se onderonsie trek die aandag van ’n jong Rasta-profeet in die motor agter hulle. Hy steek sy kop by sy stowwerige ou Ford se venster uit en kyk met ’n vraende uitdrukking eers na hulle, dan stip in die man se rigting.

“Everyting okee, maan?” vra die profeet in ’n onbeholpe Jamaikaanse aksent. Die man ignoreer hom. Die Rasta kyk nog ’n oomblik, maar haal dan sy skouers op en wend hom weer tot sy Rasta-dinge in die Ford.

Die man lig die swaar kruisboog op net toe die laaste strale van die son agter die Atlantiese Oseaan verdwyn. Aan die oorkant van die uitspansel loer die rooi maan reeds swaar en laag oor die Hottentots-Hollandberge. Agter hom het die argument vuriger geword en dele van die gesprek is nou hoorbaar.

“…ander kaartjie is dit?”

“…as jy net sal luister…”

“…dieselfde blerrie kaartjie…”

“…nog nie vas uit nie, so dis nie rêrig…”

“…jou nie glo nie! En moenie vir my kom ‘Engel’ nie!”

Die meisie stamp die motor se deur oop, klim uit en slaan dit hard genoeg agter haar toe om die hele voertuig te laat ruk. Sy gaan staan arms gevou en tuur oor die flikkerende liggies van Tygerberg en die Kaapse Vlakte in die verte.

“Naandsê, dame,” groet die man.

“Los my uit!”

“Ek is hier om te help. Met jou… probleem.” Sy oë flits na die kar, waar die outjie vies-vies ’n sigaret aangesteek het.

“Gaan weg.”

“Toemaar, kind, jy sal nou beter voel…” Die man rig sy kruisboog op haar. Die meisie kyk op asof sy hom vir die eerste keer raaksien.

“Ek… kén jou,” sê sy verbouereerd. “Was jy die heeltyd hier gewees?”

“Ja, kind… ek dink ek was,” antwoord hy en trek die sneller.

Hy hoef nie te mik nie. Sy pyle ken net een teiken. In sy geestesoog sien hy hoe die smal projektiel deur die lug flits en haar hart deurboor. Helderrooi bloed spat in alle rigtings en mors soos poele van rose oor die warm teerpad uit. Die meisie steier nie terug nie en toon ook geen teken van pyn nie. Behalwe vir ’n harde, bitter trek wat om haar mondhoeke begin vorm, is daar geen aanduiding dat sy seergekry het nie.

Die kaartjie val uit haar hand.

Die man weet die wond wat hy toegedien het is so noodlottig soos enigiets op die fisieke vlak van bestaan. Bloed kom nie altyd uit ’n liggaam van vlees nie.

“Jou hart is myne,” fluister hy.

Met ’n dooie kyk in haar oë tel die meisie ’n leë bierbottel van die grond af op. Sy beduie dreigend na die outjie, wat sy sigaret laat val en dringend na sy sleutels gryp. Dan slaan sy die bottel teen die voorruit stukkend. ’n Lelike kraak skiet oor die ruit en breek die beeld van die outjie se gesig daaragter in twee. Hy het sy sleutels gekry en dwing die kar knarsend in rat. Die wiele skree soos hy wegtrek.

Die man lê aan in die rigting van die verbygaande kar. Oomblikke later slaan die remligte aan, gevolg deur die tru-ligte. Die kar tref die meisie dat sy halflyf tussen die verwronge staal en glas van die sedan en die Rasta-profeet se Ford vasgeklem lê. Die outjie se aanhoudende gil is skor soos dié van ’n kraai en sonder enige teken van berou.

“Jou hart is myne,” sê die man, en al kan die outjie hom nie hoor nie, besef hy in die halflig van die kajuit die woorde is waar.

Die Rasta klim uit – en kyk vas in die man se oorgehaalde kruisboog.

“Maan, you evil,” is al wat hy uitkry voordat die pyl sy bors deurboor. Hy ruk die sedan se deur oop en sleep die steeds gillende outjie dat hy op die teer val voordat hy hom genadeloos begin skop. Teen die vyfde slag van die outjie se kop teen die agterste modderskerm is sy krete stil.

“Jou hart–” Drie Valentynskaartjies, bebloed en vertrap deur ’n motorwiel, trek die man se aandag. Hy kniel, tel die naaste kaartjie op en bekyk dit van naderby. Die meeste van die voorkant word in beslag geneem deur ’n groot rooi hart. In die regterhoek bo pryk die ondeunde engelgesiggie van Kupido en in sierskrif onder dit die woorde: “My hart is joune.”

Die man se reusagtige hand vou om die kaartjie en verfrommel dit.

“Nie vanáánd nie, my liewe broer,” fluister hy saggies en verdwyn in die nag.

  • Chantal

    Kort, kragtig en interessant!

  • Salmon Smith

    INTERRESANTE STUKKIE LEESWERK

  • Madeleine Venter

    ‘n Storie wat mens laat wonder…
    Interessante idee en goed uitgebeeld