VEGTERSINSTINK – Louise Viljoen

VEGTERSINSTINK – 2015 © Louise Viljoen

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 823 WOORDE)

 

Daardie nag droom Xrizjari van die aardlingse bleek, geraamte-lyfie en die droë snot wat korserige slakstrepe oor sy ingesonke wangetjies trek. Sy wonder vies waarom niemand die tros vlieënde insekte van die mensekind se gesig weggewaai het voordat sy beeld na buiteplanetêre holo-senders opgelaai is nie?

Dis duidelik dat hy sterwend is weens honger en wanvoeding. Dit help nie eens sy gee opdrag vir ʼn 10-D voedsel-manifestasie nie. Hy’s waarskynlik nog te jonk om te begryp dat die wolkie geel damp wat voor hom in die lug sal verskyn gemanipuleerde voedingstowwe bevat wat hom vir jare aan die lewe sal hou indien hy dit inasem.

Sy roer haar tentakel onrustig en vryf uitgeput oor haar saamgestelde oë. Wat ontstel sy haar tog so? Hy’s bloot die gesig van maar net nóg ʼn buiteplaneet wat haas onbewoonbaar geword het. Wat’s nuut? Maar regtig, kon die holobeeld-redigeerder nie maar net die verpestelike insekte van sy gesiggie verwyder het nie? Hoekom die ellende so grafies ten toon stel? Die Aarde is immers nie deel van die Interplanetêre Alliansie nie en wat dáár gebeur het tog geen invloed hier op Seravantië nie – Seravantië het immers sy eie probleme en uitdagings, dankie!

Sy wil nie verder hier in die hiberneer-kokon wees nie. ʼn Beweging van haar tentakel laat die deursigtige paneel oop gly en sy kom geïrriteerd regop. Sy kan ook net sóveel van haar laaste lewensfase om slaap. Dis dalk gerieflik vir almal dat sy haar eenkant hou en hul nie aan hul eie sterflikheid herinner nie, maar vanaand ry die nagmerries uit die verlede haar weer en is selfs die werklikheid ʼn beter plek om in te wees. Sy skarrel oor die steriele vloeroppervlakte tot voor haar persoonlike breingolf-kontrolesisteem.

Sy sluit al ses haar oë. Haar hipersensitiewe sinapse konnekteer met die hoof-intelstroom wat die IA verbind. Dit neem haar net ʼn breukdeel van ʼn sekonde om deur die Kollektiewe Geheue se netwerk argiewe te soek na die leêr wat sy al voorheen opgeroep het. Dosyne grusame beelde van die slagoffers van pionierpos-moorde – haar DNS-gelykes – verskyn in haar binnelob-visie.

Afgeskeurde tentakels, uitgerukte binnegoed, skubbe en stukke breinmateriaal lê verstrooid op moordtonele… makaber opgedis soos die mitologiese Johannes die Doper se kop – bedoel om te skok en uit te lok! Kyk net hoe’t hulle daardie arme pionier se karkas oopgesper, sy mikro-orgaanstimuleerder met laserstrale uitgebrand en hom nét so gelos om te sterf. Die grys slym wat eens deur sy are gevloei het, lê verspil in ʼn poel op die vloer.

Haar ras se biologiese prosesse het, nes dié van aardlinge, ʼn kort aktiewe periode – hoogstens 10 dekades. Mikro-orgaanstimuleerders wat met Seravantiërs se DNS gesinchroniseer is, hou die biologiese prossesse dubbel so lank aan die gang. Dis net jammer dat die mikro-orgaanstimuleerders van ʼn baie skaars en uiters waardevolle metaal, Vulexxium, gemaak word. Seravantiërs wat voedseldampe op pionierposte produseer, word dikwels aangeval en uitgewis net sodat die Vulexxium gebuit kan word.

Sy fokus weer op die grusame tonele in haar binnelob-visie. Waarom kan hiérdie foto’s nie na die buiteplanetêre holo-senders opgelaai word nie? Waarom word die insekbesmette snotgesig van ʼn aardling aan die buiteplanete opgedis, maar die allervreeslike laserwonde aan ʼn vermoorde pionier-Seravantiër se karkas is nie nuuswaardig nie? Waarom word die lot van ʼn mensekind sensasioneel genoeg geag om simpatie en hopelik ʼn ou donasietjie mee af te bedel wanneer die onderskeie ruimtewesens by buiteplanetêre holo-senders inskakel, maar dié van ʼn pionier word net in ʼn terloopse teks-sein oorgedra?

Hoe haal ʼn onbekende, uitgeteerde ou wesentjie van iewers in die buitenste ruim die IA se hoof-agenda? Dít terwyl ʼn voedseldamp-produseerder, ʼn weerlose pionier in jou eie hoekie van die heelal wie se biologiese prosesse deur die moordwapen van ʼn mede-interplanetêre alliansielid beëindig is, gereduseer word tot ʼn onsigbare, politieke inkorrekte entiteit?

Haar tentakelpunt vroetel rukkerig in haar sak en sy haal die antieke inhaleerder – haar enigste skuldige plesiertjie – uit wat sy bêre vir tye soos dié. Die ampule knars onder haar skubbe toe sy dit oopbreek en die kunsmatige goedvoel-hormoongas diep in haar kieue intrek. Sy blaas die borrelende damp met stadige, doelbewus gekontroleerde bewegings uit en wag dat haar mikro-orgaanstimuleerder die neuro-oordragstowwe prosesseer en haar brein se chemikalieë vlakke stabiliseer.

“So ja, ontspan, Xrizjari…” maan sy haarself saggies. Haar derde hart fibrilleer reeds so krampend die afgelope ruk. As sy nie oppas nie ontwikkel sy nóg ʼn defek in een van haar verouderde organe en wat dán? Dan’t hulle sowaar die lekkerste gelag. Hulle’t immers genoeg van haar gesteel. Uitvaagsels!

Dis ook maar goed sy’t daai alliansielid destyds met haar laserwapen aan flarde geskiet. Al waaroor sy spyt is, is dat sy biologiese prossesse oombliklik opgehou funksioneer het. Hy moes gely het soos haar kollegas gely het toe hy hulle doodgemartel het. Sy moes hom iewers agter ʼn deursigtige paneel kon aangehou het en elke dag ʼn klein bietjie kon gemartel het. Net genoeg om hom waansinnig van pyn en vrees te maak. ʼn Oog vir ʼn oog, ʼn tand vir ʼn tand en ʼn tentakel vir ʼn tentakel.

As sy maar net vir oulaas sy breingolwe kon stimuleer sodat hy bewus kon wees van hoe sy dit sou geniet het om hom lewendig, stukkie vir stukkie oor ʼn leeftyd heen, te vernietig. As daar enige regverdigheid in hierdie heelal is, dan brand die swernoot vandag in die hel waarin die aardlinge glo. Sy wens net sy kon die kole nog warmer stook met haar eie, kaal tentakels!

Sy blaas die laaste gaspartikels by haar linkerkief uit en kom orent. Die binneruim wat na die steriliseerders toe lei voel vanaand ekstra lank en sy maak haar romp hol vir die skaduvingers. Sy trek haar los, vloeiende jurk agter ʼn metaalpaneel uit. Haar aura verander van rooi na kadawergrys en neig dan na ʼn sagte ligblou. Sy snork weer, dié keer wrang en smyt die weggooibare kleed in die vullisvernietiger in die hoek.

Sy is maer. Té maer. Daar is donker verdwaalpaaie in reliëf geskets tussen haar knobbelrige ribbes. Die dominante kleurpigment van haar ses melkkliere herinner aan beelde wat sy van die Aarde se besoedelde waterbronne gesien het – so iewers tussen kotspienk en modderbruin. Haar dubbele ry naeltjies is bloot duikies halfpad na haar enkele geslagsorgaan toe. Dís verbode terrein wat haar aanbetref. Iets wat verdra móét word, want dis onbetwisbaar daar en funksioneel. Onbeduidend, niksseggend en klinies. Iets waaraan hý homself vergryp het voordat sy hom met haar laserwapen gedood het.

Sy aktiveer die steriele skandeerder en wag dat die helder ligstraal stadig oor haar skubbe begin beweeg. Sy luister met toe oë na die masjien se eentonige dreunsang en voel hoe die straal haar reinig met warm, intense flikkerpolsings. Sy stel die skandeerder op die hoogste steriliseervlak en die straal swiep vinniger heen en weer. Eers wanneer sy pyn ervaar en haar huid ʼn brandreuk afgee, deaktiveer sy die masjien en trek ʼn vars jurk aan.

Iewers in die moederskip se buik lui ʼn sirene lank en skril. Xrizjari steur haar nie daaraan nie. Sy word lank reeds nie meer opgeroep om iewers ʼn pionierpos te beman nie. Hul sê sy het méér as haar deel gedoen vir Seravantië. Al wat nou oorbly is om te hiberneer en haar biologiese prosesse so min as moontlik te ooreis. Vulexxium-voorrade is kritiek laag en mikro-orgaanstimuleerders word toenemend net vir die elite-Seravantiër beskikbaar gestel. Haar mikro-orgaanstimuleerder se rakleeftyd is byna verstreke en sy moet elke greintjie reserwe krag deur middel van hibernering stoor en na haar organe kanaliseer.

Sy skarrel terug na die hiberneer-kokon toe, maar verander dan van plan en neem weer stelling in voor haar breingolf-kontrolesisteem. Haar sinapse kontak die hoof-intelstroom en versoek om weer na die buiteplanetêre holo-uitsending te kyk van die sterwende aardling. Sy kry feitlik onmiddellik toegang tot die holobeeld en gee opdrag dat dit in 7-D manifesteer. Die volgende oomblik verskyn die bleek geraamte lyfie hier vlak voor haar.

Die mensekind se velletjie span styf en dun oor sy skerp wangbene. Sy ogies vertoon dof en koorsig. Daar is rou sere aan sy lippe en sy buik is onnatuurlik groot geswel. Insekte warrel om sy kop en gaan sit in die hoekies van sy oë en mond. Hy haal vinnig en vlak asem. Sy steek haar tentakel uit. Wil-wil aan hom raak, maar bedink haarself op die laaste nippertjie. Sy besluit om die beeld eerder in binnelob-visie te sien en kanselleer die 7-D manifestasie. Die mensekind se lewenstekens is onrusbarend laag, feitlik nul. Sy biologiese prosesse gaan binne enkele ure tot ʼn algehele stilstand kom.

Vinnig, voordat sy van plan kan verander, gee sy opdrag vir ʼn 10-D voedsel-manifestasie. Sy betaal met IA-krediete wat as kompensasie aan haar toegeken is nadat sy die aanval op die pionierpos oorleef het. Sy snork verontwaardig. Die krediet was bedoel om haar stil te hou. Die Interplanetêre Alliansie-hoofde skenk weinig, indien enige, aandag aan die onrusbarende toename in moorde op pionier-Seravantiërs. Daar is selfs sprake dat hulle die moorde heimlik goedkeur en selfs aanhits. Dalk omdat hulle eerder androïede wil ontplooi om die voedseldampe te vervaardig? Androïede gebruik immers nie Vulexxium mikro-orgaanstimuleerders nie.

Sy kyk toe hoe die mensekind se moeë ogies nuuskierig rek toe die heldergeel damp in die lug voor hom manifesteer. So, daar’s tog nog noemenswaardige breinaktiwiteit teenwoordig? Ja, kyk, hy gryp sowaar na die klein wolkie! Sy vingertjies gly deur die damp en hy staar verbaas na sy leë hand. Sy skielike beweging steur die insekte en hul maal gonsend om sy kop voor hul mik-mik om weer te gaan sit.

“Nee!” kreet Xrizjari skor en swaai haar tentakels rond asof sy die insekte self kan verdryf. “Gaan weg! Gee hom ʼn kans!”

Dan, asof deur ʼn oer-instink gedryf, val die aardling vooroor en hap na die geel gaswolk wat nou oral om hom hang. Hy adem die damp eintlik maar per ongeluk diep in sy longe in. Sy gelaatskleur verander voor Xrizjari se oë in ʼn gesonder pienk kleur. Hierdie keer, toe die insekte weer op sy vuil gesiggie wil toesak, klap hy verwoed na hulle en waai hulle weg. Sy is lus en lag vir die eerste keer in jare hardop. Die aardlingetjie het sowaar ʼn vegtersinstink, hy sal dit maak!

Nes soos sy dit ook móés maak… tot nou… Om bewustelik te kan bestáán is nie altyd genade nie. Sy’t al geleer – om te onthou is soms erger as doodwees… of om deur insekte opgevreet te word. Deur haar weldaad bewys sy die mensekind seker geen guns nie. Inteendeel, sy verleng daarmee net sy onvermydelike einde, want die Aarde ís immers woes en leeg.

Maar, iemand moet tog ag gee op sy lot. Iemand moet tog iets doen, dan nie? Daardie iemand is sy. As sý nie help nie, is sy niks beter as die IA-hoofde wat bloot swyg as nog ʼn pionier-Seravantiër vermoor of aangeval word nie. Haar gewete is nog lank nie dood nie en haar vegtersinstink, soos die aardling sʼn, ongeblus. Lank lewe die pionier-Seravantiër!

  • Chantal

    Baie goed geskryf.

  • Chantal

    Xrizjari? Ek kan nie die naam van die persoon uitspreek nie? Kies eerder ‘n naam wat almal sal kan verstaan en lees.