VERLORE TUSSEN DIE GOLWE – Tanita Da Silva

 VERLORE TUSSEN DIE GOLWE – 2015 © Tanita Da Silva

JEUGFANTASIE (2 165 WOORDE)

 

“Nee, dis reg met my. Ek’s oukei.” Jenna lê op die naat van haar rug. Sy strek haar uit soos iemand wat rêrig vaak is en gee tot ’n vals gaap. Sy loer na hulle onder haar sonbril uit. Haar ma en die dogter wat sy seker so graag wou gehad het. Die beste vriendin vir Jenna, volgens haar ma. Charlize is die modelkind vir enige ouer – mooi, slim, gemotiveerd, met ’n wonderlike persoonlikheid. Jenna Lawrence is nie ’n girly-girl nie. Sy dra nie oulike tweestukke en fraai rokkies en modeklere nie. Miskien as sy so perfekte lyf en lengte soos Charlize gehad het… Grimering en mooimaakgoedjies is ook nie haar ding nie. Hulle gee mekaar beurte om haar te oorreed om te gaan swem. Sy draai liewer op haar sy en maak asof sy slaap.

“Gaan swem lekker julle tweetjies en geniet dit,” sê toe hulle buite sig is. Sy hou nie eens van die see nie en hulle weet dit.

“Hallo!” praat ’n stem agter haar.

Jenna kom vinnig regop. Sy kyk vas in die mooiste blou oë.

“Praat jy altyd so alleen?” vra hy.

Jenna voel hoe haar gesig warm word. Sy kry nie ’n woord uit nie. Die seun steek ’n bruingebrande hand na haar uit. Sy ignoreer dit.

“Ceano,” sê hy.

“Jenna,” sê sy.

“Kuier julle bietjie op Rustenpoort?”

“Vir die langnaweek,” antwoord sy. Sy dink aan iets om te sê. Maar al waarvan sy bewus is, is die spierwit tande en die kontante kuiltjies in sy wange. Sy hoor haar hartklop in haar ore.

“Gaan jy nie swem nie?”

Duh, met ’n sweetpakbroek en tekkies. Hy kan mos sien dat daar nie ’n manier is nie.

“Nee,” sê sy kort-af.

“Koning Oidipus deur Sophokles. Hou jy van Griekse tragedies?” Die boek lyk klein in sy hand.

“Nie eintlik nie, vervelige skoolwerk, maar dis nogal interessant.” Dis regtig interessant vir haar. Sy google soms om meer oor die Griekse mites en gode te lees.

“Dit wat die vaders verkeerd gedoen het, moet die kinders voor boet!” Hy sê die woorde hard. Sy lippe bewe en daar is ’n diep frons tussen sy donker wenkbroue. Hy lyk sommer nou heeltemal anders, nie soos die hunk wat haar hart’n paar sekondes gelede so warm laat klop het nie. Sy kyk vinnig weg.

“Dit lyk asof die see al nader aan die strandhuise beweeg,” merk sy op.

“Die helfte van die strandoewer is al weggevreet,” lewer hy stilweg kommentaar.

“Hoe bedoel jy?” wil sy weet, maar hy antwoord nie. Hy trek haar op. Sy staan gewillig op en stap saam met hom. Niemand sê ’n woord nie. Hulle trap diep spore met hulle tekkies in die nat sand. Ceano se oë bly stip op die watermassa voor hom, asof hy elke brander en beweging fotografeer.

“Dis die seegod wat so toor,” sê hy. Jenna kyk waarna hy wys. Sy sien nou eers die weerligstraal bo-op sy hand. Dit lyk asof dit diep in sy vlees gegraveer is. Uit ’n wasemwolk in die diepsee, ver bokant ’n brekende brander verskyn die gesig van ’n gryskop man. Hy kom halflyf uit die water. Sy knip haar oë ’n paar keer. Dan verdwyn die beeld.

***

“Julle twee moet baie versigtig wees,” waarsku Hilda die twee meisies die volgende oggend.

“Ons sal nie met vreemdelinge gesels nie,” boots Jenna haar ma se stem en lyftaal na.

“Ons belowe,” beaam Charlize. Die twee meisies bars uit van die lag.

“Dis geen grap nie!” sê haar ma streng. Sy waarsku die twee vir die hoeveelste keer teen die gerugte wat die stil kusdorpie vol lê. Sy gee ’n duidelike beskrywing van die geheimsinnige man, Dwaler, wat in ’n grot woon. Die man wat verbind word met die verdwyning van drie jeugdiges ’n paar jaar gelede. Die twee miesies belowe dat hulle net ’n entjie gaan stap en dat hulle bymekaar gaan bly. Jenna weet dat haar ma ’n bietjie alleentyd wil hê. Tyd om aan haar voorbereiding vir Dinsdag aandag te gee. Sy weet hoe belangrik ’n hoër posisie by die werk vir haar ma is. Toe haar ma haar ’n paar maande gelede oor die komende egskeiding ingelig het, het sy ook oor die hoër posisie by die firma gepraat. ’n Goeie geleentheid vir ’n enkelouer.

“Binne ’n uur is ons safe and sound,”  verseker sy haar ma en gee haar ’n soen op die wang.                                        

“Ons gaan net by die stalletjies ronddwaal,” sê Charlize.

“Mens weet nooit… miskien loop daar talent rond.” Jenna knipoog vir haar ma.

Die twee meisies gryp hulle strandsakke en stap giggelend by die deur uit.

“Vinnig meisies, julle tyd raak min,” roep Hilda agterna.

Jenna en Charlize is uitgeput toe hulle later elk met spookasem in die hand na hulle laaste stalletjie toe stap. “Ocean Fairies” is in silwer en goue letters op die seeblou tent geskryf.

“Dis vreemd dat ons nog nie jou boyfriend raakgeloop het nie,” merk Charlize op.

“Dis nie my boyfriend nie. Dis iemand wat ek gister flussies ontmoet het, duh!”

“Miskien chill hy op die strand. Kom ons stap af,” hou Charlize aan.

“Ons het Mammie belowe. Net “Ocean Fairies”, dan terug.: Die wind waai koud. Binnekant die blou tent lyk dit kompleet asof die feëtjies, seediere en seegode wat langs die kante geverf is, sweef. ’n Goue weerligstraal strek van die een kant regoor die bokant tot aan die ander kant. Binne-in die wolk, hoog bo in die hemelruim, sien sy iets wat baie bekend lyk. Die gesig wat sy die vorige dag uit die water sien rys het.

Dieselfde gesig. Sy haal die kamera uit haar sak. Sy zoom in en neem ’n foto van die seegod.

Iemand vat aan haar skouer.

“Geen foto’s ! Delete!” beveel die reus van ’n seerower wat hoog bokant haar uittroon. Sy gril vir die onaardige gesig. Sy kan nie uitmaak of dit ’n oogklap of ’n swart gat is daar waar sy linkeroog moet wees nie. Jenna druk dadelik die delete-knoppie. Die seerower gee ’n harde snork en verdwyn. Daar is meer as tien verskillende afdelings in die tent. Sy sien hoe Charlize armbande wat uit skulpe gemaak is, aanpas – skoon in vervoering.

“Pssst!” Charlize hou die armband uit na Jenna wat net lag vir haar kooplustige vriendin.

Langsaan by die skatkis gaan Jenna stilstaan. Daar is houtkiste van verskillende groottes waaruit goudstukke, diamante, robyne, kristalle en goue munte peul. Agter die toonbank staan ’n meermin met blinkswart hare wat tot onder haar elmboë krul. Mens sien net-net die vislyf uitsteek.

“Hy’s hier! Hy’s hier!” skree ’n opgewonde stem. Daar is alreeds ’n groepie wat in die middel van die tent staan en wag op iets. Jenna draf ook nader. Vir etlike sekondes is die tent in donker gehul. Die sketse langs die kante en aan die bokant kry lewe. Mens hoor net asems en gedempte stemme. Die kunstenaar met sy mantel en sluier is duidelik sigbaar. Alle oë is op hom. Met ’n grasieuse beweging lig hy albei hande op en hou dit gestrek bokant sy kop.

’n Helder straal gloei op sy hand en bliksemstrale skiet uit sy vingers. Die weerligstraal regoor die tent skitter en die seegod daal neer uit die wolk. Kompleet asof die gesig voor hulle oë sweef.

“Ocean! Ocean!” weergalm die eggo deur die tent. Dan is alles stil. So asof niks gebeur het nie. Die kunstenaar is skoonveld. ’n Paar mense staan by die toonbanke rond. Charlize is nêrens te siene nie. Jenna stap na die plek waar die kunstenaar gestaan het. Sy sien iets op die grond lê en buk af om te kyk. Haar hart begin al vinniger klop. Dis gekleurde skulpies, soos die armband wat Charlize om gehad het. Sy tel ’n paar heles op. Die res is fyn en flenters getrap. Sy stap twee keer op en af in die tent. Charlize is beslis nie meer daar nie. En daar is nie ’n enkele bekende gesig nie. Haar kop werk oortyd. Die kunstenaar, die merk op sy hand, dit kan Ceano wees. Ook hy is nêrens te siene nie. Jenna hardloop uit die tent. Sy draf al langs die strand af. As sy ten minste net die plek kry waar hulle gister was, maar alles lyk vreemd.

“Charlize! Charlize!” roep sy.

“Hangbrug, seeduin, bergpunt,vuurtoring… ” prewel sy saggies en merk haar bakens af. Net dat sy haar plek netnou terug sal kry. Sy stap stadiger nader toe sy ’n beweging op die sand sien. Die persoon is op sy knieë. Hy tel iets op, gooi dit in ‘n sak en tel weer op. Dis ’n ouerige man. Dit moet Dwaler wees, besef sy. Dis houtstukke wat hy optel. Die ou man draai sy kop skuins. Hy los die sak net daar en hardloop weg.

“Wag! Wag! Dis net ek, Jenna!” skree sy soos sy agter hom aanhardloop.

“Asseblief!” skree sy uitasem.

Sy skrik toe hy skielik stilstaan en begin praat. Sy staan ook.

“Wat soek jy?” wil hy weet.

Jenna weet dat dit definitief Dwaler is. Alles in haar begin bewe.

“My vriendin, Charlize het nounet verdwyn.”  Sy gee ’n paar treë nader.

“Bly net daar!” waarsku hy.

“Waar is Charlize!”

“Ek pla niemand. Skoert!” Hy stap vinnig terug, gryp sy sak hout en stap weg.

“Waar’s die meisie? Jou wrede ou man!” Jenna staan stil. Sy skrik toe Dwaler  omdraai.

“Ek is nie ’n grotgees of ’n moordenaar nie, net ’n gewone ou man.”

“Die mense sê jy’s ’n golem,” sê Jenna met ’n bang stem.

“Glo my, my kind, ek het ’n siel en ’n hart. Dis die seegeeste wat siele versamel, sodat alles en almal eendag aan die see behoort.”

“Is dit hoekom die kinders verdwyn?”

“Ja.” Sy stem klink moeg.

“Nou hoekom waarsku jy nie die mense nie?”

“Want niemand glo my nie. Ek’s al telkemale in die tronk gestop, gestraf, geslaan en weer gevang. En elke keer kry hulle niks teen my nie.”

“Kan ons Charlize nog red?” Sy vertel van die blou tent en alles wat sy daar binne gesien het.

Sy vertel van haar ontmoeting met Ceano die vorige dag. Van die merk op sy hand. Dit wat hy haar gewys het. Sy beskryf die gesig van die ‘seegod’ wat sy eers in die see en toe weer in die tent sien lewendig word het. Sy is nog besig om te praat toe ’n skielike stilte toesak. Die see en wind raak stil. Sy kyk na Dwaler. Saam kyk hulle na die water wat stilstaan, asof die oomblik vries in tyd.

“Dis wanneer die seegeeste ’n stuk van die land afbyt,” verduidelik Dwaler. Hy skryf Ceano se naam met sy vinger in die sand. Hy krap die ‘o’ aan die einde uit en skryf dit voor die ‘c’.

“Ocean,” lees Jenna en skud haar kop heen en weer.

“As Ceano op die land wil bly, moet hy doen wat die voorvaders van hom verlang, wat sy vaders voor hom gedoen het.”

“Hoe? Wat bedoel jy?” Sy sien nou eers dat hulle by mekaar staan.

“Die antwoorde sal jy net by die see-kind hoor. Vra hom?”

“Waar sal ek hom kry?”

“Gaan staan met jou voete in die water. Voordat die laaste sonstraal die see-oppervlak groet, moet jy sy naam fluister. Dwaler wys waar sy moet gaan staan.

Jenna twyfel of dit die regte ding is om te doen. Sy kyk na Dwaler terwyl sy haar tekkies en kouse uittrek. Dis moontlik ’n lokval, dink sy. Sy gaan ook nou soos Charlize en die ander verdwyn. Die gedagte om sonder Charlize strandhuis toe te gaan, klink net so erg. Sy haat die grofheid van die sand tussen haar tone. Die water is ysig. Sy ril.

“Ceano! Ceano!” roep sy. Sy kyk terug, maar daar is geen teken van Dwaler nie.

Sy roep weer en weer.

“Hier is ek,” antwoord ’n stem naby haar.

Sy sien sy silhoeëtte voor haar, dieper in die water.

“Hoekom Charlize? En hoekom die ander?”

“Die ander was my vaders se dade, voor my tyd,” skree hy.

“En Charlize? Wat het jy met haar gedoen?” Jenna snik. Sy weet nie of dit trane of soutwater is wat sy in haar mond proe nie. Die water stoot bokant haar knieë op. Sy is nie meer bang nie.

“Sy is veilig by jou ma. Hulle is nou bekommerd oor jou.” Hy is ewe skielik by haar.

“Jy is die een.” Hy staan weer by haar, soos die vorige dag.

“Watter een?” wil sy weet.

“Die een wat ek moet kom haal,” sê hy sag.

Sy voel sy koue asem in haar oor.

“Ceano,” sê hy en steek sy hand na haar uit.

“Jenna,” sê sy en vat sy hand. Dit voel skubberig. Sy vat liggies met haar vingerpunte oor die merk op sy hand. Dit gloei liggies in die skemer. Hy hou haar hand styf vas en kyk haar intens aan. Die volgende oomblik verdwyn hy tussen die golwe. Sy sien hoe hy deel van die see word.

  • Chantal

    netnou= nou-nou gaan sy haar sitplek terug kry. Nie netnou nie. EK dink dit beteken jy dit klaar gedoen, maar nou-nou beteken jy moet dit nog doen.