VONNIS – Joe Botha

VONNIS – 2015 © Joe Botha

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 535 WOORDE)

 

Vonnis - Prentjie - Joe BothaDIE droom is nou elke aand dieselfde. Hy leef vir ’n paar kort oomblikke ’n lewe van diens, bepeinsing en liefde vir sy medemens, vir sy gesin. ’n Aangename, geordende lewe. Die lewe wat hy kón gehad het.

Maar selfs in sy slaap voel Pontius Stansfield instinktief aan iets is verkeerd. Wat ook al anders in ’n droom gebeur, daar is altyd een konstante – jy is altyd jý. Maar nie hier nie. In dié droom kan hy homself nie herken nie.

Elke nag is die beelde, gevoelens en aksies identies. Oor en oor, tot in die kleinste detail. Dit is lankal nie meer soos om ’n bekende plek te besoek nie. Meer soos om na ’n bekende, maar ingewikkelde foto te kyk waarin ’n mens soms nog iets nuuts opmerk.

Dit is verbasend maklik om so ’n droom te induseer. Die psigiater van die Wes-Kaapse gevangenisdiens het dit aan hom verduidelik. ’n Bietjie stimulasie van sekere areas van die brein op net die regte oomblik tydens REM-slaap en gevoelens van vrede, mededeelsaamheid en naasteliefde word aangewakker. Die brein vul self die details in.

Die eerste paar nagte was die scenario’s verskillend, maar teen die einde van die tweede week het Pontius se brein ’n herinnering van die droom opgebou en ná dit was die besonderhede daarvan ingeprent. “Geheue-engrams,” het die witjas dit genoem. Die ou het nog aangebabbel oor konsolidasie van herinneringe en die hippokampus, maar teen daardie tyd het Pontius klaar die algemene prentjie gesnap: Hulle gaan met sy onderbewussyn mors.

Die droom is deel van sy rehabilitasie. Of soos Pontius dit noem, sy herprogrammering. Dié gedwonge nagtelike meditasie hou aan totdat die polisie-nano’s in sy bloedstroom hom elke oggend klokslag vyfuur wek om sy burgerlike plig te gaan uitvoer. Daar’s nie ’n wekker wat afgaan of ligte wat aanskakel nie. Hy skrik net wakker.

Pontius se veroordeling is negentig dae vir die besit van Stroom – ’n programmeerbare, digitale dwelm wat jou sintuie oorlaai met ’n chaos van betekenislose WiFi-geraas. Vir die kosbare oomblikke wanneer die Stroom-kode loop, is ’n mens onbewus van die biososiale netwerk se nimmereindigende mediavoer van nuus, advertensies en die foto’s en statusse van vriende, kollegas en kennisse. In die Stroom is jou enigste gewaarwording dié van jouself as ’n bewuste entiteit – maar vry van enigiets om van bewus te wees.

Voor die dae van die biososiale netwerk was dinge anders. Daar was geen behoefte aan Stroom nie, want ’n mens kon net jou rekenaar afskakel of jou selfoon by die huis los. Maar nadat inligtingsbiotegnologie binne-in die liggaam losgelaat is, het alles verander. Die opgradering van sosiale netwerke na ’n biososiale netwerk het beteken almal was altyd aanlyn. Sommige mense – ’n minderheid – het gekies om nie by die bionet se alewige gezoem van inligting te integreer nie. Vir hulle het dit amper dadelik ’n groter wordende agterstand beteken. Die tegnologie was net te nuttig om nie te gebruik nie. En so, stelselmatig, het die mens sy siel in die naam van vooruitgang aan die masjien verkoop.

Terwyl Pontius aantrek, onthou hy sy pa se stories oor sy jong dae, toe gevangenes nog soos krioelende miere in geboue aangehou was. Tronke, het hy dit genoem. Daar binne het niemand enige verantwoordelikhede gehad nie en die staat het vir almal gesorg. Klink nogal na ’n jol. Hy wonder net hoe enige regdenkende staatsinstansie ooit gereken het so ’n stelsel sou ooit kon werk. Die polisie voer ’n oorlog teen bendes en sluit dan die bendelede saam toe in wat basies neerkom op ’n fasiliteit wat van hulle harder, sterker bendelede maak… Belaglik!

Dit was die goeie ou dae. Vandag werk dinge anders. Vandag word ’n mens nie tussen vier hoeke toegesluit nie. Al die gevangenisse is oopgestel en word nou vir ander doeleindes gebruik. Sedert die polisie nanotegnologie gebruik, is jou eie liggaam jou gevangenis. Selfs jou denke is net in ’n mate jou eie. Soos met die droom.

Pontius bekyk homself in die spieël en wonder of iemand saam kyk. Die nano’s neem vir die duur van sy vonnis alles op wat sy oë sien en sy ore hoor. Die mediavoer gaan via die biososiale netwerk reguit na die SAPD se sentrale monitorkantore in Buitenkantstraat, waar intelligente heuristiese algoritmes die data ontleed en bepaal of enige van sy gedrag afwykend is. Net wanneer die masjien sekere gedrag ’n rooi vlag gee, mag ’n konstabel op ’n veroordeelde misdadiger se voere inskakel. Geen menslike agent mag enige gevangene deurgaans monitor nie. Die masjien is jou paroolbeampte. Privaatheid – of iets soos privaatheid – bly jou reg.

Pontius bestudeer die tjappies aan sy nek en lig dan sy oë onwillekeurig op na sy nuutste tatoe. In die halflig gloei die syfer 89 bo sy linkerwenkbrou in ’n dowwe SAPD-blou. Nege-en-tagtig dae… Môre sal sy vonnis verstryk. Sy toegang tot die biososiale netwerk sal herstel word om weer sportkanale, forums en die netwerk in die algemeen in te sluit. Die polisie se tatoe bo sy oog sal verdwyn en saam met al die ander nano’s in sy rektum vergader vir uitskeiding. Hy oorweeg die woord: ontlasting. Inderdaad… Dit gaan die beste kak van sy lewe wees.

“Laaste dag,” sê hy plegtig aan die Pontius in die spieël, wat baie ingenome met homself lyk.

Uit die kombuis trek die sagte gezoem van die organiese 3D-voedseldrukker sy aandag. Die toestel warm op om sy ontbyt op molekulêre vlak uit rou protopasta te sintetiseer. Terwyl hy sy vonnis uitdien, het hy net toegang tot twee van die leggers op die voedseldrukker – ’n keuse tussen Weet-Bix en mieliepap. Die staatsgewaarborgde oggendete. Pontius kyk na die toestel en die twee keuses van ontbyt doem voor sy oë op. Hy Wink na die tweede opsie en die drukker begin die mieliepap laag vir laag opbou. Hy word toegang tot die beter leggers soos muesli.3dp en spek_en_eiers.3dp geweier totdat sy vonnis verstryk. Vir middagete en aandete is daar darem ’n wyer keuse van disse, maar ook nie juis veel wat Pontius noodwendig self sou kies nie. Net voedsame, gebalanseerde, verbeeldinglose kos.

Niks keer natuurlik iemand anders op Pontius se lokale WiFi-netwerk om vir hom Belgiese wafels en esdoringstroop te druk nie. Die stelsel van beperkte toegang tot .3dp-leggers, maar sonder aktiewe maatreëls om hom daarvan te weerhou, moedig vriendelike interaksie en samewerking aan met almal wat nié ’n vonnis uitdien nie. As jy ’n gawe ou is, sal mense jou help. Dié strategie help in teorie met herintegrasie in die hoofstroom van die samelewing. Die probleem is, Pontius is nie ’n gawe ou nie. In die kringe waarin hy gewoonlik beweeg, is dit maar moeilik om iemand te kry wat nie self ’n vonnis uitdien nie. Veral vyfuur in die oggend.

Ná ontbyt vang Pontius tussen die miernes van aktiwiteit in Town Centre, Mitchells Plain, ’n taxikopter na die George and Annie Starck Homes in Bellville, waar hy gekies het om sy gemeenskapsdiens te verrig. Sy take behels om kos aan te dra, die bedlêende bejaardes te help afwas en diegene geselskap te hou wat al so oud en hulpeloos is dat hulle nie meer hul weg op die biososiale netwerk kan vind nie.

Die werk is nie te veeleisend nie, maar Pontius het ’n ander rede om hier diens te doen. Dis waar Gerber sy laaste dae slyt. Gerber was in die 2060’s ’n kolonel in die polisie. Hy het egter ook ’n talent vir korrupsie gehad en sy ander voet was vierkant in die Kaapse onderwêreld geplant. Wapens, dwelms, prostitusie, noem maar op, Gerber het ’n vinger in elke pastei gehad. Hy ken nog baie van die ou garde aan albei kante van die gereg. Dus, ’n nuttige man om mee vriende te wees, selfs op sy oudag.

Nadat Pontius die oumensies met hul oggendete gehelp het, kies hy koers na waar Gerber op die stoep sit. Oënskynlik speel hulle skaak, maar wat hulle eintlik doen, is om op ’n subtiele manier deur hul skuiwe en die aanraking van sekere stukke te kommunikeer. Die polisie se stelsel weet nie van die bestaan van dié spesifieke kodetaal nie. Dit laat ou gangsters soos hy en Gerber toe om hul planne ongehinderd te smee.

“Is jy gereed vir môre?” sein Gerber deur middel van die skaakspel toe Pontius oorkant hom inskuif.

“Ja,ek het die adres gememoriseer,” antwoord Pontius en tik met sy wysvinger teen sy voorkop soos iemand wat hard oor sy volgende skuif dink. “Ek sal nege-uur daar wees om die Stroom vir Oom op te tel. Sesduisend datapakkies, nè?”

Gerber knik.

Daardie aand droom Pontius vir oulaas van sy gestruktureerde andermanslewe binne die gereg. Toe hy die volgende oggend twintig oor ses wakker skrik, voel hy vir die eerste keer weer homself. Hy Wink gou na sy leggers op die lokale WiFi-netwerk en sien dat die kruisies langs muesli.3dp, spek_en_eiers.3dp en al die ander verdwyn het. Sy vonnis is verby en dit is tyd vir hom om weer sy klein, onbeduidende plekkie in die tegno-maatskaplike bestel in te neem.

Maar hy is nie ’n onnadenkende mier in dié samelewing nie. Hy is Pontius Stansfield, dwelmmuil vir Johnny Gerber, vegter vir die verspreiding van Stroom, kampioen vir menslike vryheid – en hy was nog nooit so lief vir die biososiale netwerk nie.

  • Salmon Smith

    Boeta Joe, jy het wragtig ‘n massiewe ryk verbeelding. Jou storie is vreeslik interresant en lees gemaklik. Ek het my klaar gelag vir jou tikkie humor iewers in die verhaal.. Sterkte met die kompetisie.

    • Joe Botha

      Dankie boeta Salmon! Nou moet ek nog net leer om so ‘n lekker verteltrant soos jy aan te kweek. Iets waarmee mense affie platteland nogal geseën is…

  • Chantal

    Ek stem saam met Salom Smith. Jy is gebore om te skryf!

  • JV Van Wyk

    Fantastiese stuk skryfwerk, so lekker gelees hieraan