KINDERS VAN DIE FENIKS – Louise Viljoen

KINDERS VAN DIE FENIKS – 2015 © Louise Viljoen

VOLWASSE FANTASIE (1 945 WOORDE)

 

Kinders van die FeniksHy droom weer…

Daar rus ʼn baie dun skyfie metaal in die palm van sy hand. Dit absorbeer die hitte van sy vel en pols ritmies asof dit asemhaal. Hy sper sy vingers so wydoop as wat hy kan. Die skyfie krul op soos ʼn erdwurm wat onverwags aan die son blootgestel word. Dit krimp totdat dit skaars so groot soos ʼn pinkienael is. Dan begin dit gloei en ʼn sagte dreungeluid klink op.

Hy kyk gefassineerd toe hoe die stukkie metaal eers soos ʼn droë blaartjie verskrompel voordat dit weer uitsit en die vorm van ʼn vreemde simbool aanneem. Dit bars meteens in vlamme uit en brand ʼn gat in sy palm. Hy skree geskok en probeer dit van sy hand afskud, maar dit word ʼn grys vloeistof wat dorstig deur sy vel opgedrink word. Dit word in sy bloedstroom opgeneem…

Hy voel vreemd… anders… en dis alles háár skuld! Jaco gluur onderlangs na die nuwe meisie. Sy leun met haar rug teen ʼn boom. Haar knieë is opgetrek en sy stut haar elmboog op die een. Sy hou haar linkeroorbel tussen haar duim en voorvinger vas en is besig met gedagte-teleportasie. Haar blouswart hare is baie lank en val soos ʼn swaar gordyn oor haar skouers. Sy is Asiaties en ontstellend mooi. Hy wonder met wie sy gedagtes ruil?

Hy skuif ongemaklik rond en loer dan weer na die simbool wat hy ingedagte in sy holo-projektor ingevoer het. Die meisie het dieselfde simbool op die palm van sy hand geteken en sedertdien kry hy die een nagmerrie op die ander daaroor. Het sy ʼn towerspel op hom geplaas? Hy snork. Wel, sy’t beslis iets aan sy hormone gedoen, dís verseker…

Hy vlieg orent. Dis tyd dat hy by die huis kom. Hy loer vir oulaas in die meisie se rigting en betrap haar groot, donker oë op hom. Haar gelaat is onnatuurlik bleek. Hy’t ʼn paar dae gelede perongeluk in haar vasgeloop op die trappies wat na die skoolingang lei. Dit het vir ʼn oomblik gelyk asof hy haar van balans afgestamp het en sy by die trappies wou afval. Hy’t sy hand spontaan uitgesteek om haar te ondersteun. Sy’t feitlik dadelik haar balans herwin en in dieselfde beweging sy hand geneem en sy palm na bo gedraai.

Tyd het stil gaan staan toe sy met haar vingerpunt ʼn onsigbare patroontjie op sy vel getrek het. Daarna het sy sy vingers een vir een in ʼn vuis toegevou. Eers toe het sy opgekyk. Die oomblik toe hy die eerste keer in daardie gitswart, mesmirerende oë gekyk het, het hy instinktief geweet hy sal nooit weer dieselfde wees nie. Onkant gevang het hy sy hand weggeruk en verby haar gestap oppad na sy klaskamer toe. Daardie selfde nag het die nagmerries begin.

Jaco sien hoe die meisie orent kom van waar sy op die gras gesit het. Sy loer oor haar skouer na hom toe sy wegstap en voor hy hom kon keer, stap hy agterna. Hy volg haar tot by haar poegie. Sy swaai haar lang, slanke been oor die sitplek en reik na haar valhelm wat aan die een handvatsel hang.

Jaco loop nader en neem die valhelm uit haar hand. “Wag,” sê hy. “Wat is jou naam?”

“Wat het dit nogal met jou te doen?” Sy gryp na haar valhelm. “Gee!”

Hy hou die valhelm net buite haar bereik. “Ek het jou ʼn vraag gevra.”

Haar oë blits en sy skud haar hare agtertoe. Hy sien hoe wisselende emosies oor haar beeldskone, fynbesnede gelaat flits. Dan, asof sy tot ʼn besluit gekom het, ontspan sy en skuif gemaklik reg op die motorfiets se sitplek.

“My naam is Demi Raath. Joune is Jaco Breet.”

“Hoe weet jy nogal wat my naam is?” wil hy verbaas weet.

“Ek het dit my besigheid gemaak om uit te vind,” kom dit parmantig.

Jaco hou haar gesigsuitdrukking fyn dop. Probeer sy snaaks wees? Maar nee, dit lyk asof botter nie in haar mond kan smelt nie.

“Hoekom?”

“Hoekom nie?” kom die teenvraag vinnig.

Hy maak ʼn vies geluid met sy tong en druk haar valhelm terug in haar hande. “Dê!” Hy draai op sy hakke om en stap weg. Simpel meisiemens!

“Haai, Jaco!” roep sy agter hom aan, maar hy’s nie lus vir speletjies nie. Hy’t dae laas behoorlik geslaap en is poegaai. Om die waarheid te sê, hy voel goor. Dit voel of daar sand in sy oë is. Sy keel brand asof hy ʼn kooltjie vuur ingesluk het. Sy hele lyf pyn. Hy’t ʼn bed nodig… soos in gister al.

“Jaco, wag!”

Iets in haar stem laat hom in sy spore vassteek. Hy draai om en gluur na haar. Dit beter goed wees.

“Klim agterop, toe. Ek wil jou iets gaan wys.”

“Wat?” blaf hy suspisieus.

“Klim… op… my… flippen… fiets!” Dit lyk of sy wil ontplof. Twee rooi kolle verskyn op haar andersins bleek wange. Vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde oorweeg hy dit om haar te ignoreer en weer sy rug op haar te draai. Maar, iets – ʼn vlietende trek van desperaatheid op haar gesig – laat hom van plan verander.

Hy sug oordrewe en swaai sy skoolsak op sy rug. Dekselse meisiekind!

“Moenie my vir die gek hou nie, Demi,” waarsku hy, klim agter haar op die poegie en sit sy hande om haar middel. Haar hare ruik na veldblomme en vir ʼn oomblik lank voel hy lus en begrawe sy neus in die sysagte weelde daarvan. Kry end, Jaco Breet. Hy sit kiertsregop. Wat op aarde is fout met jou, ou maat? Ruk jou reg!

Demi skakel die motorfietsie aan en hul blits by die skoolhek uit. Binne minute verlaat hul ook die slapende dorpie en ry die vlaktes binne. Hul hou iewers tussen niks en nêrens stil. Daar’s nie ʼn lewende siel te bespeur nie en die middagloomte hang swaar in die lug.

Jaco klim van die poegie af. Hy smyt sy rugsak eenkant neer. Hy voel koorsig en kry ontsettend warm. Sy t-hemp is papnat gesweet. Hy stoot sy vingers deur sy kuif en loer onderlangs na Demi wat heel koel en kalm daar uitsien. Sy staan nader aan hom.

“Hoe voel jy?”

“Soos ek lyk. Het jy dalk water by jou?”

“Ongelukkig nie,” sy skud haar kop en haar hare blink gesond in die sonlig. “Dis jou eerste metamorfose… dis erg, maar jy sal heeltemal okay wees. Moet net nie daarteen baklei nie. Laat dit toe om te gebeur.”

“Huh?” Hy staar na haar. Is die meisiemens dan nou wragtigwaar stapelgek? Waarvan sy praat? En vir wat staar sy so na hom asof hy besig is om twee koppe te groei?

“Jy wou my iets wys? Wys en kry klaar.” As hy net nie so ontsettend moeg gevoel het nie…

“Nou goed.” Sy kyk om hulle rond asof sy wil seker maak dat hulle alleen is. Dan staan sy ʼn entjie terug. “Ek sal jou wys. Moet asseblief nie skrik nie. Ek kan dit beheer en kry geensins seer nie.”

Sy sprei haar arms uit en kyk boontoe, son toe. Haar lang, swart hare dryf weg van haar kop af en vorm ʼn stralekrans om haar hoof. Twee helder kolle verskyn op haar wange. Die rooi kolle word groter en helderder. Die volgende oomblik bars sy in vlamme uit. Haar hele lyf is oombliklik in ʼn oranje vuurgloed gehul. Die hitte daarvan slaan Jaco soos ʼn vuishou in die maag en hy val vooroor op sy knieë. Sy brand! Sy brand!

“Demi!” Hy skree geskok, kyk desperaat rond na iets om die vlamme mee te blus. Dan verstil sy bewegings en sy mond val oop. Sy staan daar asof die vlamme en hitte haar nie kan skeel nie – trouens, sy lyk heel op haar gemak. Haar hare skroei nie, haar vel lyk normaal… om die waarheid te sê, sy glimlag vir hom! Dan sien hy dit – die simbool wat in sy palm en geheue ingebrand het, gloei op haar voorkop!

Jaco se lyf begin onbeheersd ruk. Sy binneste voel of dit enige oomblik gaan ontplof. Die drukking trek hom inmekaar, laat hom hyg na asem. Dan bars vuurtonge by sy vingerpunte uit. Vlamme ontsnap uit sy ore, sy neus, sy mond en hardloop oor sy hele lyf. Binne ʼn breukdeel van ʼn sekonde is sy hele liggaam een groot vuurbal. Hy skree verskrik. Klap na die vlamme. Duik vooroor en begin rol en rol…

Demi stuit hom. Hou hom vas. Beduie aan hom om kalm te bly. Hy besef meteens dat hy nie pyn of hitte voel nie. Sy vel bly koel. Hy’s nie eens meer dors nie! Hy laat toe dat sy hom orent help. Hy kyk in stomme verbasing op sy lyf af. Hy’s in vlamme gehul, maar hy brand nie. Hoe kan dit wees? Wat is besig om met hom te gebeur?

Hy sien hoe Demi aan die gloeiende simbool aan haar voorkop raak. Die vuurtonge wat haar omhul verdwyn onmiddellik. Hy doen dieselfde. Dadelik is die vlamme weg. Hy staar na haar.

“Okay, wat het sopas gebeur?” kry hy dit na ʼn ruk skor uit. Hy bekyk sy vel vir enige tekens van brandskade, maar daar is niks. Nie eens die fyn haartjies op sy arms is geskroei nie. Hy ruik nie eens na brand nie. Demi lyk ook heeltemal ongedeerd. Haar wange is weer hul natuurlike bleek kleur.

“Ons is kinders van die feniks.”

“Feniks? Jy bedoel die mitologiese voël wat so hoog vlieg dat hy aan die brand slaan en sy vlerke verskroei?”

Sy knik. Grawe in haar rugsak en haal ʼn sjokoladestafie uit. Sy breek dit in die helfte en hou die een deel na hom toe uit. “Suiker. Vir die skok.” Haar oë vonkel vir ʼn oomblik ondeund, terglustig in syne op. Hy frons, maar aanvaar tog die lekkergoed en druk dit in sy kies. Sy senuwees is gedaan.

“Jy ken die uitdrukking ‘om vuur met vuur te beveg’, nê?”

“Jip.”

“Dis wat ek bedoel met ons is kinders van die feniks. Mense soos ons veg vuur met vuur. Ons keer letterlik dat sonvlam-uitbarstings die planeet verwoes.”

Jaco kou en sluk die laaste stukkie sjokolade af. Snaaks genoeg klink dit wat sy sê nie vir hom heeltemal vreemd nie. Dis asof sy praat van iets wat hy behoort te onthou, asof dit iets is wat hy geweet het en net tydelik van vergeet het.

“Is daar nog ander soos… ons?”

“Ons is ʼn paar, ja.” Sy trek haar skouers op. “Ek is gestuur om jou deur jou eerste metamorfose te help. Jy’t nogal nie te sleg gevaar nie.” Haar donker oë glimlag in syne op.

Jaco druk sy hande in sy broeksakke en skop-skop na ʼn klip wat daar rondlê. Die meisiemens is heeltemal te mooi na sy sin. Sy hart tamboer behoorlik in sy borskas as sy net in sy rigting kyk. Dis geen wonder hy slaan aan die brand nie!

“Hoe keer ons nogal die sonvlam-uitbarstings, hê? Ek meen, daardie reusagtige sonfakkels bars uit op die son, nie hier op die Aarde nie. Hoe kom ons daar?” Hy beduie met sy duim boontoe.

Demi staan nader aan hom. Sy loer weer oor haar skouer soos voorheen om seker te maak hulle is wel alleen op die verlate vlakte. Sy raak saggies aan sy arm en fluister vertroulik naby sy oor sodat net hy dit kan hoor. “Ons kan vlieg.”

“Wat?” Hy sukkel om te konsentreer. As hy sy kop net ʼn paar centimeter laat sak sal sy lippe aan hare raak…

“Jy’t my gehoor. Ons kan vlieg. Dis ons ander superkrag.”

Hy hoor niks verder nie. Hy soen haar dat sy ore tuit. Hy’t nóg ʼn superkrag ontdek!

Waarskuwing: Hierdie is fantasie. In die werklike lewe brand mense regtig. Moet nooit met vuur speel nie!

  • Chantal

    t-hemp= T-hemp

    Okay=Okei

    Jy gebruik te veel die punt simbool (…), veral as jy…, dit doen. Dit is verkeerd … dit is hoe jy dit moet doen.

    Baie oulik en interessant, maar ek dink jy kon beter gedoen het met die kragte van die kinders waarvan jy praat. Hoogs Afrikaans by volwasse fiksie is belangrik, en jy het dit goed gedoen.

    Is daar nog ander soos… ons?” Moenie die (…) insit nie.

    centimeter= sentimeter

  • Verona Theunissen

    Louise, dis ‘n oulike storie, ek het dit baie geniet. Net ‘n paar dingetjies wat my gepla het (wat ek hoop jy as opbouend sal ervaar):

    gedagte-teleportasie: Eerstens: Hoe weet Jaco dit is waarmee sy besig is as hy haar nie eens so goed ken nie? En tweedens dink ek dis ‘n baie lomp woord, sou telepatie of telepatiese gesprek in hierdie konteks nie so bietjie beter gewerk het nie?

    perongeluk = per ongeluk

    mesmirerende = dit kom direk van die Engelse “mesmerising” af – dis altyd beter om ‘n erkende Afrikaanse woord in plaas van ‘n anglisisme te gebruik. “Betowerende” sou net so goed in dieselfde sin gewerk het.

    Die gebruik van die ellips (…) ek dink nie jy gebruik dit te veel nie, want dit skep afwagting – wat die spanning laat opbou. Dit dra ook by tot meer ekonomiese woordgebruik, soos in die geval van “Klim… op… my… flippen… fiets!” Die gebruik van die ellips hier dra dieselfde betekenis oor as om te skryf: “Klim op my flippen fiets,” (sê sy afgemete.)

  • Chantal Pretorius

    Verona Theunissen. Dankie vir jou raad! Dit klink of jy baie ondervinding het. Ek sal ook graag op my ‘Karlien en die bose engel’ raad wil he, wanneer jy kan. Dankie

  • Ockert

    Ek is baie mal oor die begin van die storie, dit het my dadelik ingetrek. Ek hou baie van jou storie. Jou beskrywings van veral Demi, en hoe die metamorfose gebeur is baie goed gedoen.

    Alhoewel ek glad nie so n goeie skrywers soos jy is nie, wil ek tog ietsie noem, en ek hoop jy sal dit as opbouend aanvaar. Ek vang nie die hoe sonvlam-uitbarstings mooi inpas met die feniks nie. Wel, ek kan sien hoe die vuur in albei gebruik word en hoe dit so met mekaar geskakel word; maar ek weet nie of die twee eintlik by mekaar pas nie.

    Dit bring my by my volgende punt. Waar is die opvolg van hierdie storie?

  • Chantal

    Baie geluk met jou boek by Thompson Drukkery!