Lusmaker – Die Vita Faktor

DIE VITA FAKTOR – RACHELLE DU BOIS
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2016)

www.thompsonboeke.com

2016 - Foto - Afrifiksie Skrywersprofiel

8. Die Vita Faktor - VoorbladHOOFSTUK 1

FEIA sit haar hand op die man in die hospitaalbed se arm. Sy sien hoe sy lang, donker wimpers roer. Hy maak sy amandelvormige viooltjieblou oë oop en staar sonder begrip na haar.

Ja, dis hý. Sy het hom uiteindelik gevind! Haar reis was lank en uitputtend, maar sy weet nou hoekom sy Duiwelspiek toe gestuur is en hier moes wag.

Sy sien hoe onbegrip en verwarring oor sy gesig flits en glimlag vir hom: “Welkom terug, Marcus de Virtus.”

Marcus maak sy oë toe en weer oop. Hy kyk dan in sy eie oë! Maar dis nie sy oë nie, dis dié van die verruklike jong vrou langs sy bed. Oë net soos syne.

Hy staar lank na haar. Haar blonde hare is soos ʼn stralekrans om haar kop, haar mond sag en vol. Hy word bewus van haar hand op sy arm. Waar is hy? In die hemel? Sy lyk soos ʼn engel, skoon en glansend.

Hy ken haar…

Hy beweeg sy hande langs sy sye en voel die beddegoed wat hom bedek. Wat de duiwel?

Hy onthou meteens wat gebeur het – die taxi, die slag toe dit hom tref, en die harde val op die sypaadjie. Toe niks. Hy knyp sy oë toe, want woede vlam in hom op. Hy is raakgery deur ʼn blerrie taxi en dit omtrent op sy eie voorstoep! Sy kloppende kop herinner hom daaraan dat hy nog lewe.

Die sagte drukking van die meisie se hand op sy arm laat hom weer na haar kyk. Haar oë vuur meteens en die pyn in sy kop raak weg. Hy staar verbaas na haar en kom orent.

“So, dis beter, nè?” Sy glimlag gerusstellend en lig sy hand op.

Hy sien hoe die skrape en kneusplekke aan sy hand en arm stadig ligter word en heeltemal verdwyn. Haar hand beweeg na sy nek. Hy voel meteens weer lighoofdig. Hy gryp haar pols en hou haar hand weg van hom af.

“Wie is jy? Wat doen jy? Wat maak jy hier?” Hy wil-wil haar herken, maar hy kan haar nie plaas nie. Hy vind dit moeilik om te konsentreer.

Feia sien die verwarring en ongeloof op sy gesig.

“Ek is jou buurvrou, Feia Custos. Ek het gesien wat met jou gebeur het voor jou ateljee.”

Marcus loer na die horlosie teen die muur. Dis drie-uur. Drie-uur! Hy onthou dat hy vanoggend besig was om sy skilderye op sy stoep te rangskik, net na half-elf. Die dag is amper verby en hier lê hy in ’n bed in die hospitaal. Hy kyk vies na die vrou langs sy bed.

Feia giggel meteens vir die uitdrukking op sy gesig en hou haar hand voor haar mond toe sy sien hoe sy oë verdonker. Sy moet van nou af meer versigtig wees. Die lig is in sy oë aangesteek en sy weet wat dit beteken.

“Is dit vir jou snaaks?” vra hy, terwyl hy haar fronsend aankyk. Daar is iets aan haar – iets feeagtig, amper eteries. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie.

“Nee, die ongeluk was nie snaaks nie, maar jy is.” Sy greep om haar pols is ferm en warm. Sy probeer haar nie losmaak nie, maar staan stil langs die bed.

Sy kyk na die sny teen sy voorkop en die blou wat afkruip na sy oë. Sy lig haar ander hand en druk haar vingers teen die wond tot sy sien dit heg. Die swelsel sak en dit word minder opsigtelik.

Feia vee die glansende donker hare van Marcus se voorkop af weg. Dit val dig om sy kop en teen sy gladde bruin nek. Die eeue rol terug en sy onthou.

Marcus lê roerloos, nie in staat om te praat nie. Haar stem laat hom dink aan water en mistigheid, soos in die reënwoud naby Duiwelspiek. Dis asof daar iets uit haar uit straal – ʼn vreemde energie wat in hom resoneer.

Hy kan sy eie gewaarwordinge nie verklaar nie. Dit ontstel hom, want hy weet nie wat aangaan nie.

“Wie is jy?” vra hy weer.

Feia sug. Dis te gou om hom te vertel. “Ek is Feia, en ek het die winkeltjie langs jou ateljee gekoop.” Sy sien hoe ʼn spiertjie langs sy ken spring toe hy sy kake op mekaar klem.

“Dis nie wat ek wil weet nie. Hoekom is jy hier en wat doen jy?” Hy probeer die ongeduld uit sy stem hou, maar slaag nie heeltemal daarin nie. Die meisiekind laat hom vreemd onseker voel, so asof sy iets weet wat hy nie weet nie. En sy het die seerplekke aan sy hand en arm laat verdwyn. Hy kyk reguit na haar en sy oë blits.

Die energie tref haar en sy steier effens, maar staal haarself en weerstaan die straal. Sy moet hom hier wegkry, terwyl hy hierdie mag nog nie kan beheer nie.

Marcus skud sy kop verbysterd. Wat het nou gebeur? Hy het gevoel hoe energie van hom af uitgaan. Wat de duiwel?

Feia lig haar hand en druk dit oor sy oë.

“Luister, Marcus, asseblief luister na my. Hou jou oë toe tot ek vir jou sê om dit oop te maak.”

Hy skud sy kop en wil haar hand wegstoot, maar vind tot sy stomme verbasing dat hy nie kan nie.

“Wat gaan aan?”

Hy beur regop, maar Feia keer hom met haar ander hand teen sy skouer.

“Marcus, daar is dinge wat jy nie nou verstaan nie, maar jy sal later weet. Wees net geduldig. Ek belowe alles sal mettertyd vir jou duidelik word. Maar eers moet ons jou hier wegkry. Hoe voel jy nou?” Sy leun nader en raak saggies aan sy ken.

Marcus begin bewe. Wat het gebeur? Wat gaan hier aan? Verwarring en onsekerheid maak plek vir irritasie. “Vir wat moet ek na jou luister? Wat het jy gedoen? Hoekom?” Hy lig sy hande en laat dit weer moedeloos op die bed sak.

“Luister, ek sal alles verduidelik, maar nie nou nie. Kom, staan op en trek aan. Ons moet gaan.” Feia buk af en haal sy netjies-opgevoude klere uit die kassie langs sy bed. Sy sit dit op die bed neer. “Ek sal vir jou wag.” Sy draai om en stap by die deur uit. Sy glimlag fyntjies.

Marcus staan stadig op en gaan sit op die kant van die bed. Hy weet nie of hy die vrou kan vertrou nie. Wie is sy? Hoekom voel hy so vreemd? Wat het sy aan hom gedoen? Hy kyk na sy hand en arm waar die skrape en kneusplekke was, maar daar is niks. Net sy eie sonbruin vel sonder ʼn merkie aan.

Hy sal agter die waarheid kom al moet hy dit uit haar trek. Sy het geen reg om hier in te kom en te maak asof sy hom ken nie. Kyk wat het sy aan sy wonde gedoen.

Marcus kyk vererg na die waterkraffie op die kassie langs sy bed. Dit spat in duisend skerwe. Hy suig sy asem geskok in en knyp sy oë styf toe. Hy druk sy hande voor sy gesig. Wat de duiwel? Hy dwing homself om kalm te word, verskrik oor wat gebeur het. Hoe is dit moontlik dat hy ’n voorwerp kan vernietig deur net daarna te kyk?

Hy lig sy vingers stadig weg van sy oë af en loer versigtig na die glas wat in ʼn poel water en glasstukke op die bedkassie staan. Niks gebeur nie. Hoekom nie? Hy frons en staar stip na die glas. Hy sien hoe dit stadig begin smelt en hy druk weer vinnig sy oë toe. Wat gaan hier aan?

Hy sit vir lank stil met sy hande voor sy oë, te bang om na iets te kyk. Hy moet hier uit, vinnig, voor hy die plek heeltemal vernietig. Hy laat sak sy hande, versigtig om nie na iets in die besonder te kyk nie. Hy gryp sy klere en begin vervaard aantrek. Feia watsenaam het baie om te verduidelik.

Die deur gaan skielik oop en hy pluk sy broek vinnig tot bo. Nou sal hy, om alles te kroon, sowaar nog kaal betrap word ook.

Die verpleegster steek in die deur vas: “Nou waar is die mens heen?”

Marcus sien verstom hoe sy om haar rondkyk. Hy staan dan lewensgroot hier voor haar.

Sy stap terug deur toe en loer in die gang af. “Meneer de Virtus? Waar’s jy? Moenie vir my sê jy het jouself ontslaan nie,” mompel sy vererg. Sy draai terug en stap weer in die kamer in, staan dan hande in die sye na die water en stukke glas op die bedkassie en kyk. “Nou wat het hier gebeur?” Sy kyk vies om haar rond, loop dan byna in Marcus vas toe sy na die wasbak toe stap om die handdoek te gaan haal.

Sy sien hom nie! Marcus se mond gaan oop en toe, hy steek sy hand na haar toe uit, maar sy stap dwarsdeur sy arm. Skok en ontsteltenis laat hom naar voel. Hy gaan sit verskrik op die bankie voor die bed en staar na die verpleegster, terwyl sy die beddegoed van die bed af pluk en mor oor onnosele mans wat nie weet wat goed is vir hulle nie.

Hy kyk na sy hande, sy arms, maar hy sien niks. Hy draai sy hand om, lig dit op, swaai sy arm, maar daar is niks. Hy staan op en vlug verwilderd by die deur uit. Hy moet hier wegkom, want daar is iets vreeslik verkeerd met hom. Hy kyk goed stukkend en hy is onsigbaar. Onsigbaar! Dis die ergste van alles.

Hy gaan staan stil met sy rug teen die muur in die gang en vryf ontsteld oor sy voorkop. Hy verstar toe hy eers sy hand sien, dan verskyn sy arms, en toe sy lyf wat half aangetrek ondertoe strek. Hy lig sy ander hand en sien dat hy sy hemp vashou. Hy sluk en druk sy kop teen die muur agter hom. So, hy is terug.

Niks maak vir hom sin nie. Hy verstaan glad nie wat besig is om met hom te gebeur nie. Hy trek sy hemp aan en knoop dit haastig toe, druk dit by sy broek in. Sy skoene en kouse is nog in die kamer, maar hy gaan wragtig nie weer daar in nie.

En waar is die vreemde vrou? Feia. Selfs haar naam klink anders. Feia. Waar kom sy vandaan? Hoekom was sy in die kamer by hom? Wat de duiwel het sy aan hom gedoen? Hy kyk vinnig om hom rond, maar sy is nêrens te sien nie.

Hy stoot die deure van die kliniek oop en stap haastig uit in die son. Dis ʼn helder, skoon dag. Alles lyk tog normaal. Mense ry op fietse en in motors. Sommiges loop na waar hulle wil wees. Die winkels doen nog flink besigheid. Die reuk van vars brood walm by die bakkery se deur uit. Dis tog dieselfde rustige dorpie waar hy, soos altyd, vroeër vanoggend wakker geword het.

Net hy is anders. Vreeslik, verskriklik anders.