Lusmaker – Een Biljoen Jaar n.C

Een Biljoen Jaar n.C – Charles F. Stofberg
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2012)

www.thompsonboeke.com

Een Biljoen Jaar n.C. - VoorbladCfStofbergHOOFSTUK 1

TABI staar droomverlore by die venster uit, maar in haar staar sien sy niks nie, want sy dink aan ’n duisend dinge. Hier, voor haar, lê die oop vlaktes waar die velde lugspieëlinge soos golwe in ’n stormagtige see daaroor ronddans. Dis warm, stowwerig en droog. Die landskap is ru gevorm, asof die Skepper dit nie klaar gemaak het nie. Dit is dié tyd van die jaar, voor die reënseisoen begin lelik, godverlate, droog en – ironies genoeg – ook steriel. Nêrens ’n beweging nie. Maande se stof lê opgehoop, wagtend vir die reën. Die stilte is hoorbaar om haar gevou. Net van veraf kwê ’n loerie, en dan sterf die geluid ook weg.

Die stilte dreun in Tabi se kop en die hitte maak haar tam, hoewel dit in dié klein gehuggie, Lurio, nie so warm as in Maputo is nie, waar sy vandaan kom. Uiteindelik besluit Tabi dit is die skoolgeboutjie, en nie soseer die omgewing nie, wat so warm is. Die sinkdakskooltjie van Lurio is naby die dorpie Lioma, tussen niks en nêrens, aan die voet van die hoë Namuli-berge geleë. Die skool is die middelpunt van Lurio – wat die inwoners so noem omdat ’n sytak van dié groot rivier digby verbystroom. Snags hoor sy die rivier struikel en val soos dit oor die klippe stort op pad na sy onbekende einde iewers in die Indiese Oseaan.

Ver weg is ’n paar niksbeduidende wolkies te bespeur. Hulle draai los rond in die vaal-blou stofbevlekte lug. Haar oë dwaal traag oor tot by die horison. Sy staar met verlange na wat daaragter lê, wat verlore geraak het in die werklikheid van ’n primitiewe skool, ’n paar kinders, en die hitte.

Sy was gelukkig om die onderwyspos hier in die noordooste van Mosambiek te kry. Die pandemies het nader aan hulle gekruip. Vir eers was die inwoners en die omgewing “skoon”, maar Tabi weet diep binne-in haar dis net ’n kwessie van tyd dan is al die pandemies en die gevolge daarvan met hulle.

Die pos was ʼn kans om van Maputo af weg te kom. Die groot pandemies het sy tentakels na Maputo begin uitsteek. Dit het haar voortgedryf – ʼn ongekende, halsstarrige vrees – asof die digte bosse van dié afgeleë deel van Mosambiek meer beskerming sou bied. Sy moes eenvoudig wegkom as sy nog ’n rukkie langer wou leef.

Die hitte is drukkend. Dit bou lankal reeds so op, elke dag ’n bietjie erger en erger. Op die interaktiewe Internet het sy die Weerkantoor gepeper met vrae oor die tropiese sikloon wat besig is om in die Mosambiekkanaal af te beweeg. Swaar neerslae word binnekort verwag, was al antwoord wat sy uit hulle kon kry. Maar wat sal al die baie reën help as dit nie die gesaaides gaan baat nie? Die programme vir geneties gemanipuleerde gewasse het lelik skeef geloop – soos so baie ander dinge vandag. In stede daarvan, en met die goeie bedoelings van die wêreld se voorste biotegnoloë om die arm oud Derde wêreld lande te voed, het dit ongekende hongersnood wêreldwyd gebring. Dit het baie jare gelede reeds ’n ramp voorspel toe die geen-merkers in die DNS van GG-plante weerstand teen antibiotika tot gevolg gehad het. Oral het miljoene begin gesterf. Oral wag miljoene nou om te sterf…

Tabi loer onderdeur na die kinders wat doodstil sit en aan die eksamenvraestel werk. Sy wonder hoeveel gaan dié termyn slaag, en of dit nog enigsins aan ’n doel sal beantwoord. Met die pandemies in aantog is dit nie die moeite werd nie. Dit voel vir haar asof alles tevergeefs is. Sy wens sy kan weer die dae terugkry soos voor die pandemies – die tye toe sy en Timothy saam was. Die naam alleen bring vir haar rillings van klein plesiertjies mee. Hoe was die eindelose nagte nie saam met hom nie? Toe hulle nog vol planne en drome was? Toe hulle saam ’n blink toekoms te wagte was? Vir sy firma moes hy baie rondry en dit was hoe hy die pandemie se ander “siekte” opgetel het. Hy het eers begin gewig verloor en na ’n paar maande was hy so skraal en maer dat sy hom skaars geken het. Toe gebeur alles vinnig. Eers longontsteking, toe nier- en hartversaking en toe die dood. Dit was verskriklik om hom so te sien ly – soos die miljoene ander om hulle elke dag agteruit gegaan en gesterf het.

Sy kan bly wees sy is nie in daardie tyd nie aangesteek nie. Toe het hulle nog nie besef hoe vinnig die nuwe gemuteerde virus kon versprei nie. Soos verkoue deur hoes of nies versprei, so het die nuwe virus, MII, aangepas en versprei. Dodelik. Onstuitbaar. As jy in sy pad kom, kry jy hom, en geen medisyne, inenting of wat ook al kan jou help nie.

Die media was propvol nuus oor hoe dit alles begin het. Die magdom inligting op die wêreld se netwerke vir die DNS-volgorde van die eens gevaarlike virusse soos die polio-, vigs- en ebola-virusse het iewers in ’n groep psigopatiese terroriste se hande beland. Die virusse was lank reeds uitgewis, maar deur eenvoudig sleutel-gene tot die vigs- en verkoue-virus by te voeg, is MII van niks af opgebou en vrygestel deur hierdie siek, korrupte groep mense.

Vir ’n oomblik wonder Tabi of hulle kon voorsien wat hul beplan het – gedink dit sou net lokaal ’n uitwerking hê – op die groep mense wat hulle wou bykom – en toe is die uiteinde daarvan ’n wêreldwye vernietiging. Net die diere word gespaar omdat dit nie tussen spesies oordraaglik is nie. Goed vir hulle, maar wat van die mense wat agterbly? Wonder bo wonder het die MII-pandemie nog nie hier by hulle uitgekom nie, maar wat die gewasse betref, was alle tekens reeds daar. Met die droogte en die mislukte oeste staar hulle nou hongersnood in die gesig. Wanneer laas het sy goed geëet? Sy is knaend honger. Gits, hier lewe hulle reeds van die veld en die bietjie wat dit bied.

Die media het sonder ʼn omhaal van woorde die huidige situasie van die wêreld vergelyk met periodes uit die oertyd. Al meer en meer word van die totale vernietiging van die mensdom gepraat. Sedert die Kambriese tydperk 590 miljoen jaar gelede was daar periodiek gevalle waar spesies heeltemal uitgewis is, waarvan die bekendste dié van die dinosourusse was. Met die Toba-vulkaanuitbarsting 73 000 jaar gelede het die menslike bevolking tot slegs 10 000 gedaal, en is 25% van die plantegroei vernietig – alles gebeure wat daarop wys dat dit weer moontlik kan wees. Dit stuur koue rillings langs haar ruggraat af.

Almal in Lurio is egter goed vir haar sedert haar aankoms hier. Die spul oumense – daar is weinig jongmense nog oor – waardeer die feit dat sy met haar mooi Engelse aksent en goeie maniere vir die paar kinders in sulke dae soos dié nog iets kan beteken. Sy trek die volgende stapel skryfboeke nader. Buite het die sonbesies se gesing effens afgeneem. Die skool se paar kinders sit kopomlaag en skryf vir ’n vale. Hulle wil nie die nuwe juffrou teleurstel nie. Tabi gaan staan vir ’n oomblik by die oop deur en betrag die wêreld. Die wind het opgekom en roer die boomtoppe heen en weer. Veraf ruik sy reën. Dan gaan haar oë oor die klein klassie. Met die vervangingskoers van slegs 0,8 kinders per vrou, het Mosambiek se bevolking reeds, van ’n paar geslagte gelede se hoogtepunt van 65 miljoen af tot 5.5 miljoen gedaal. Kinders is so skaar soos hoendertande.

Buite het die lug meteens donker geword en ’n paar wolke kom dreigend aangerol. Toe wip sy soos sy skrik. Asof uit die blou hemel slaan ’n bliksemstaal woedend die slapende aarde om haar wakker. So, die weervoorspelling was dus reg, glimlag sy stil. Die kinders agter haar raas skielik soos almal kommentaar lewer op wat gebeur.

“Stilte! Stilte! Ek wil geen gepratery hê nie. Toe, toe, op julle plekke en gaan aan met jul werk. Maak gou, julle kan sien hoe laat dit is… Dit lyk of ons gaan reën kry, miskien ’n harde bui. Gou, julle by die vensters, maak dit toe voordat ons wegspoel,” beveel sy. Vinnig vlieg die helfte van die klassie op en haas hulle na die vensters. Die reën val skielik hard en raas op die sinkdak soos duisende klein klippies wat ’n vragmotor daarop afgooi. Sy beduie hulle om weer te gaan sit.

Dit reën hard, en grootoog kyk Tabi deur die oop deur oor die kort stoepie na die strome water wat onophoudelik op die geboutjie neerstort en oor die speelgronde wegspoel. Wat ’n storm, wat ’n lafenis, dink sy bly. Dit is beslis nie net ’n vinnig somer bui nie, moontlik is dit die voorloper van die sikloon wat hulle nou tref.

“Julle sal moet wikkel. Ek weet nie hoe lank hierdie reën gaan aanhou nie,” vermaan sy hulle. Gelukkig begin van die kinders klaarmaak, en een vir een bring hulle hul vraestelle na haar. Dit is sulke jong, lewenslustige, vriendelike kinders. ’n Mens kan hul amper nie met ’n donker toekoms assosieer nie. Moet die siektes en hongersnood hulle ook afmaai? Dis ondenkbaar siek.

Terwyl sy in die halfdonkerte voortgaan om van hul vorige vraestelle te merk, skud sy onbewustelik haar kop. Vanoggend se vraestel was so maklik, hulle kon almal volpunte gekry het. Wie was die eerste man op die maan? Wat was die ruimtetuig se naam? Wanneer het dit plaasgevind? Net ’n paar eenvoudige vragies oor die eerste maanreis – en hulle het dit verkeerd. Half moedeloos trek sy die teksboek nader en lees weer die gedeelte oor die maansending. Mm, dit bly merkwaardig, en om te dink die mens kon dit toe reeds met sulke primitiewe ruimtetuie regkry. Niks om met die Upsila-projek te vergelyk nie. Dis die enigste klein ligpunt in die mens se donkerste uur. Dié massiewe groot interster-ruimteskip het pas die Kuiper-gordel verbygesteek.

Angstig het hulle deur die jare die bou en vertrek van die Upsila gevolg. Hoe dit verby die lewelose planete en mane soos Mars, Europa en Titan verbygespoed het, verby die planete waar die ou kolonies misluk het. Sy verstaan nie aldag die tegniese beskrywings en terminologie nie, maar dit het daarop neergekom dat lewe op daardie planete met hul beperkte bronne nie werklik moontlik is nie.

Wanneer het dit regtig alles begin? Met die ontdekking van die drie planete van die son, Upsilon Andromedae, in laasgenoemde konstellasie? Of toe die ‘Allen Telescope Array’ dekades gelede begin funksioneer het en daar stelselmatig ander planete ontdek is? Tot die dag wat die Upsila na een van die naaste lewegewende planete in die Melkwegstelsel gestuur is. Daar is nie veel van hierdie soort planete in ons sterrestelsel nie, en die naastes was ’n paar duisend ligjare weg. Maar dis gedoen en die paar duisend mense aan boord van die groot Upsila is reeds buite die sonnestelsel op weg na ’n nuwe lewe.

Tabi laat haar kop sak. Dis waar, die Upsila is aan baie gevare blootgestel, maar wat op aarde nou aan’t gebeur is, is nie daarmee te vergelyk nie. Wie het MII verwag? Wie kan iets aan die genetiese plante of die lae fertiliteit doen?