Lusmaker – Jou Lewe… vir My Liefde

Jou lewe… vir my liefde – PETRONEL
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2013)

www.thompsonboeke.com

Ronél Gill

Jou Lewe... vir My Liefde - VoorbladVOORWOORD

MY naam is Alix.

Alix Mitchell, wat ironies genoeg beskermer van die mens beteken. Ek, Alix Mitchell, beskermer van die mens. Groot grap! Ek is presies die teenoorgestelde.

Jagter van die mens. Bloeddorstige sadis en in een woord evil soos die Engelse sê. Maar dis nie hoe ek gebore is nie.

Ek is as ’n enigste kind van ’n hoë-middelklas bankier-vader en tuisteskepper-moeder reg in die hartjie van – in daardie tyd – die grootste en vernaamste stad ter wêreld gebore.

Londen. Die stad van kontras en uiterstes. Waar idealiteite soos die pragtigste, stilste parke kontrasterend uitstaan teenoor die oorverdowende geraas van speekwiel motorkarre en perde wat beangs runnik voor ’n volgepropte buswa. En mense wat met ’n deurmekaar warboel van harde stemme en opgewonde handgebare probeer beduie waar hulle bestemmings moet wees.

Waar die fabelagtige glinstering van die eens Romeinse stad van Londinium se Flaviaanse mosaïek en oop ruimtes hand aan hand kompeteer met die digte walm van vuil onderdorpse klipstraatjies, besaai met die laagste laag van die Victoriaanse samelewing.

Soos die St. James kasteel uit die vyftiende eeuse Renaissance periode en Canterbury se Kerk van Engeland wat al van die jaar elfhonderd en sewentig af in al sy flambojante Gotiese glorie vêr bokant die mensdom uittroon – met die vaalste, lelikste en oneweredigste klippaadjies wat daarnatoe lei. En baatsugtige, half-kaal prostitute wat saam met boemelaars, dwelmverslaafdes en die reuk van ou sweet en vrot sigaret-asems in rou desperaatheid vir die dag se broodnodige verkwikking aan eeue-oue gotiese metaal paaltjies hang.

En net so deel van Londen soos die Paddington beer en Wellington stewels, is daar die hektare en hektare vol van lowergroen, blomryke grasperke van middeleeuse kasteel-binnehowe, katedrale en kloosters wat soos groepe klein dorpies parallel loop met ’n hedendaagse middestad van graffiti, bekrapte mure en donker gangetjies gevul met digte bolle verstikkende steenkoolmis. En reg deur die middel van al die patriargale glinstering, ontugtige warboel en liederlike agterbuurtes, kronkel die donker waters van die ou Teems deur die diepste siel van ’n millennium se geskiedkundige gebeure.

Haglik en terselfdertyd fassinerend, met ’n maalstroom van teenstrydige bedrywighede.

Dit was Londen heel aan die begin van die negentienhonderds. In die ‘goue dae’ toe mens nog mens was en die terme skenk bloed en red ’n lewe ’n heeltemal ander betekenis gehad het. Toe ’n voedsame maaltyd uit ’n lekker bord rys, met stowe-vleis, aartappels en die befaamde Yorkshire poeding bestaan het en tagtig – of negentig –’n goeie, ryke ouderdom was om te bereik. Dieselfde era wat veronderstel was om, volgens die normale verloop van menswees, ook die tyd te wees dat my lewe op ’n einde moes kom. Maar dit het nie en vandag is ek ’n volle honderd vyf en dertig jaar oud, en nog net so jonk soos wat ek op 17 April 1905 was. Sewe en twintig.

Maar dis menslik onmoontlik, sê jy.

Onmenslik… ja.

Onmoontlik… nee.

Hierdie is die storie van my lewe.

Kliek hier onder om JOU LEWE… VIR MY LIEFDE te koop:
Sagteband
eBoek

Thompson Boekdrukkery - Advertensie Banier