Lusmaker – Man… of die Monster?

Man… of die Monster? – PETRONEL
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2013)

www.thompsonboeke.com

02013 - Man... of die Monster - Finale VoorbladPetronel - AfrifiksieHOOFSTUK 1

“DAAR is niks op aarde wat my gaan oortuig dat dit tot my eie voordeel is om oerman te speel in ʼn barbaarse dorpie in die middel van nêrens nie. En dit om ʼn artikel te doen oor marmer van alle eentonige onderwerpe!”

Inés Aglionby gluur vies na die man agter die massiewe Mahoniehout lessenaar.

“Waar is Louis? Of Phillipe?”

Sonder om haar te antwoord, leun hy rustig terug in sy stoel. Die geamuseerde glimlaggie wat om sy mondhoeke speel terwyl hy sy een wenkbrou half vermakerig lig, laat Inés die laaste bietjie selfbeheersing wat sy tot nou toe uit respek teenoor hom in toom kon hou, verloor.

Nou gaan hy waaragtig te vêr! Dink sy en klem haar kakebene vererg op mekaar. Hy is haar pa dammit, en behoort na vier en twintig jaar te weet dat sy nie ‘basics’ doen nie. Mode, skoonheid, vermaak… dis haar roeping. Nie laertrek en kamp opslaan nie! Net die blote gedagte daaraan om op die grond te slaap met net ʼn dun slaapsakkie vir beskerming, laat haar nekhare al klaar rys.

Dis nou die een ding waarvoor sy nog nooit ʼn sinnigheid kon ontwikkel nie. Nie dat sy nie probeer het nie. In hulle tienerjare het Louis dit sy roeping gemaak om haar te probeer inlyf en het van elke geleentheid wat hy kón, gebruik gemaak om haar in ʼn tent te kry. Totdat selfs hý sy hande na ʼn paar futiele pogings kopskuddend in die lug opgegooi het nadat sy – meer as een keer – sodra dit donker begin word – haar goedjies opgepak het en soos ʼn dief in die nag huis toe gesluip het.

“Inés Esmeralda Aglionby…” het hy daardie laaste keer haar haatlike tweede naam gebruik, “ek gee moed op. Jy is niks anders as ʼn bedorwe prinsessie nie en ek hoop vir jou part dat jy eendag ʼn ryk man kry…”

Tot haar verdediging moet daar darem genoem word dat sy nie grootgemaak is vir so ʼn tipe ervaring nie; as die enigste dogter van die formidabele Nicolas Aglionby lei sy ʼn beskutte – en baie gerieflike lewe. Maar een ding wat sy nie is nie, is bedorwe – of aansitterig. En daar is ook nie ʼn sweempie van ʼn aanstellerige ‘prinses-air’ aan Inés te bespeur nie. Sy is ʼn plat op die aarde meisie met integriteit.

Nie dat hierdie gedagte enigsins vertroosting bring in die feit dat sy ʼn swakheid het wat sy nie kan oorbrug nie. In die kringe waarin sy beweeg, is kampeer die in ding deesdae. Met die gevolg dat haar weiering om saam te gaan, haar al ʼn hele paar vriendskappe gekos het. Dit laat haar wonder of dit nie Louis is wat agter hierdie hele ding sit nie.

Met dié gedagte in haar agterkop spring Inés summier van haar stoel af op en marsjeer vieserig deur se kant toe, opsoek na haar broer.

Sy sal die laakbare idioot sommer self voor stok kry!

“Inés!”

Die ongeduldige stem van Nicolas Aglionby laat Inés ontsteld in haar spore vassteek. Die harde irritasie in sy stemtoon is iets wat sy nie gedink het sy ooit by hom sal hoor nie. Die skok laat haar ʼn paar sekondes lank doodstil staan.

Nog nooit in haar vier en twintig jaar het haar vader een keer sy stem teenoor haar verhef nie. Nie eens toe sy weggeloop het en vir ʼn volle twee weke van jeugdige rebellie in Italië rond gekerjakker het en hy haar moes gaan soek het nie. Hy het haar doodeenvoudig, sonder om ʼn argument te begin, net daar en dan teruggeneem universiteit toe en as verskoning vir die fakulteitshoof verduidelik dat daar ʼn dringende familie krisis opgeduik het wat sy moes bywoon.

Of die keer toe sy haar borste met ʼn uitdagende gebaar voor die TV kameras ontbloot het in ʼn protesparade teen seksuele molestering van vrouens en kinders nie.

Sy wou net ʼn punt demonstreer en die simpel kameraman het haar op heterdaad betrap. Haar naakte borste wat op al wat ʼn televisiestasie uitgesaai is, vir ieder en elk se oë, was ʼn ietwat moeilike een om te verduidelik, maar haar vader het haar net, asof dit die alledaagse manewales van ʼn stout kind is, met opgetrekte wenkbroue vermaan om volgens haar ouderdom op te tree, sonder om haar van losbandigheid te beskuldig en sonder om haar moraliteit in twyfel te trek.

Die enigste woorde wat hy ooit in daardie opsig met haar bespreek het, is toe hy later, as afskeidswoorde, haar ewe bedaard vermaan het om so nou en dan ten minste net te probeer om asseblief tog realisties te wees; dat die wêreld op haar wag en alhoewel hy weet dat sy jonk en vol vuur is, sy haar talente moet gebruik en nie die geleenthede wat nog voorlê nou al moet opmors nie.

Hy het selfs aangedring om vir die huur van haar woonstel te betaal nadat sy sak en pak uit die koshuis verban is vir haar onsedelike gedrag by die optog.

Inés voel hoe die nukkerigheid verkrummel om plek te maak vir kommer.

Normaalweg is haar vader ʼn sagmoedige mens en die feit dat hy so optree, is beslis ʼn aanduiding dat daar ʼn probleem is. Waarom is juis hierdie projek so belangrik? En verbeel sy haar of lyk hy effens moeg?

Met vooroorgeboë skouers draai sy in haar spore om en sak bedeesd terug in haar stoel voor die lessenaar.

“Inés,” begin Nicolas weer nadat sy haar sitplek ingeneem het en glimlag gerusstellend oor die blink lessenaar blad. Sy stemtoon versag effens met vaderlike teerheid, maar aan die ondertoon is dit duidelik dat hy ernstig praat.

“My pop, jy weet dat ek onder normale omstandighede nooit hierdie projek op jou sou afdwing nie en ek is regtig jammer dat ek dit nou moet doen. Maar dis uiters krities om hierdie artikel voor die sperdatum van hierdie maand se uitgawe afgehandel te hê en ek sit in ietwat van ʼn dilemma. Louis kan nie gaan nie, soos jy weet is Pauline op die laaste maand van haar swangerskap en hy sal homself nooit vergewe as daar iets met die bevalling moet fout gaan en hy was nie hier nie… en Philippe is nog in Rome met die kerke-ding besig. Ek verwag hom eers aan die einde van volgende week terug wat dan te laat sal wees.”

Nicolas trek sy skouers op en gee ʼn siniese, half neerslagtige laggie.

“Hierdie projek is ʼn eenmaal in ʼn leeftyd geleentheid en die realiteit is, as ons te lank talm en die artikel maak nie die sperdatum vir hierdie maand se publikasie nie, sal een van die ander verbrande tydskrifte, naarstige parasiete wat hulle is, maar te dankbaar wees om die uitdaging voor ons neuse weg te raap. En dis iets wat ons ten alle koste moet vermy as ons die mededingende mark wil voorbly.”

Nicolas pleit.

Inés gaap haar vader verstom aan. Hy pleit nooit nie. Normaalweg sal hy net ʼn plan beraam om dit self te gaan doen. Maar sy begryp die rede vir sy kommer; om ʼn familie tydskrif op die been te bring in die hedendaagse mededinging van groot tydskrif magnate is ʼn stryd en haar vader werk alreeds heeldag en partykeer tot diep in die nag om aan sy lesers se behoeftes te voorsien en die aanvraag hoog te hou.

Sy weet vir ʼn feit, dat sou sy vandag volstrek weier om hierdie artikel te gaan doen, sal Nicolas, alhoewel dit sy volste reg sal wees, nie verder daarop aandring nie. Inteendeel, sy sal selfs haar maand se salaris daarop wed dat hy dit nie eens teen haar sal hou nie; maar dit sal onbillik van haar wees en in elk geval sal haar gewete haar nie toelaat dat die tydskrif se kans op sukses, danksy haar selfsugtige gedrag, in gevaar gestel word nie.

Dit het amper ʼn jaar en ʼn half se swoeg en sweet gekos om hierdie baba op die been te bring en hulle begin nou eers lig sien. En wat maak dit nou eintlik saak as haar vader haar af en toe iets buite die normale vra, sy is uiteraard deel van die redaksie en die salaris is ook nie te sleg nie, so, sy moet seker haar kant bring. In elk geval sal die afleiding weer ʼn bietjie fleur aan die eentonige voorspelbaarheid van haar lewe gee. Maar sy kan nie verhelp om nog steeds te wens dat een van die mans liewer met hierdie een kon uithelp nie.

“Andorra is nie in die middel van nêrens, of barbaars nie,” gaan Nicolas ongestoord voort, “dis ʼn toeriste dorpie wat in die Oos-Pyrenese gebergtes, reg op die grens tussen Frankryk en Spanje, geleë is. Ek het reeds die vliegkaartjies, huurmotor en verblyf by Pas de la Casa, een van die ski-oorde in die omgewing gereël; en al het Andorra nie ʼn spoorlyn of lughawe nie, is die paaie van top gehalte. Jy behoort geen probleme te ondervind om van Spanje af self soontoe te bestuur nie.”

“En…” aarsel hy met ʼn geheimsinnige glimlaggie toe hy die skielike blink flikkering in die oë van sy enigste dogter, wat hom nou oopmond aangaap, opmerk die moment toe die woord ski-oord oor sy lippe val. Sonder dat Inés dit besef, het sy met haar skielike belangstelling reg in die strik getrap wat Nicolas so slinks voor haar deur gelê het. As sy beplanning reg uitwerk, soos wat hy gedink het dit sou as hy die ski-oord as lokaas uitgooi, kry hy twee artikels vir die prys van een.

“Ek het die chalet vir jou geboek vanaf oormôre vir ʼn volle drie weke. E-pos eenvoudig net die afgehandelde artikel vir my voor die einde van die week en beskou die res van die drie weke as beloning vir al jou harde werk, jy het dit verdien.”

Inés glimlag gelukkig. Nicolas se laaste woorde klink soos musiek in haar ore. Sy spaar alreeds van die begin van die jaar af in die hoop dat ʼn vakansie moontlik sou wees.

“Dankie, my ou groot teddiebeer,” glimlag sy bewoë en storm dan impulsief om die lessenaar om pens en pootjies op haar vader se skoot te klim en haar arms met kinderlike uitbundigheid om sy nek te gooi. Sy is oorstelp van vreugde en skielik klink hierdie gedwonge projek nie meer so verskriklik onherbergsaam nie… dis partymaal voordelig om die enigste dogter van Nicolas Aglionby te wees.

“Gaan huis toe, Inés,” por Nicolas haar met ʼn verdraagsame glimlag aan. “Ek vermoed dat jy die winkels ook sal moet invaar; jy gaan ski-uitrustings nodig hê en asseblief, werk versigtig met dié…”

Hy antwoord haar omhelsing met die een arm teer om haar middellyf en in die palm van die ander hand wat na haar toe uitgestrek is, lê sy kredietkaart.

As ek ooit aan hierdie projek getwyfel het, is my teësinnigheid nou definitief iets van die verlede. Nie baie meisies is so gelukkig om onbeperkte limiet op hul vaders se krediet kaarte te kry nie – en as ʼn bonus nog ʼn vakansie daarby. Dink Inés gelukkig en is net van plan om die kantoordeur agter haar toe te trek nadat haar vader hom ewe taktvol uit haar liefdevolle omhelsing losgewikkel het, toe Nicolas se afskeidswoorde, in ʼn lui stem gesê, haar geamuseerd in die kosyn laat vassteek.

“Ek sal glad nie omgee as jy ʼn agtergrond artikel wil ingooi oor die ski-oord vir volgende maand se spesiale reisbrosjure nie; jy kan sommer gou-gou daarmee klaarspeel terwyl jy in die hellings baljaar.”

“Mmm, seker van die begin af so beplan nê… arme ek, wederregtelik uitgelewer aan die verdoemenis van ʼn slinkse jakkals vir ʼn pa,” sug Inés met gemaakte selfbejammering en skud dan laggend haar kop terwyl sy die kantoordeur met ʼn ferm knip agter haar toetrek; seker dat haar vader dit al die tyd so beplan het om hierdie stukkie verrassing vir heel laaste te hou.

Die res van die dag spandeer Inés in die winkels. Heel eerste op haar ellelange lysie is ʼn paar nuwe denims en een of twee warm baadjies vir die kouer klimaat. Dis die een ding waaraan sy gewoond sal moet raak – die koue. In sonnige Suid-Afrika is daar mos nie so iets soos spierwit onder-vriespunt temperature nie.

Dit was moeiliker as wat sy verwag het om die ski-uitrustings in die hande te kry, maar dis met ʼn ekstatiese glimlag en seer voete wat Inés vyf ure later haar woonsteldeur oopsluit en haar arms sommer op die sitkamermat leegmaak. Dan staar sy met ʼn frons na die tientalle pakkies wat oor die mat gestrooi lê.

Sy is uit beginsel mal oor koop – soos dit ʼn meisie van haar stand betaam, spandeer sy ure en ure in winkelsentrums om tred te hou met die mode – maar die uitpak is ʼn nagmerrie, veral as jy nog moet plek soek vir alles.

ʼn Hele uur later slaak sy ʼn sug van verligting toe sy uiteindelik die laaste knip van die perskleurige koffer net-net toegedwing kry en met ʼn selfvoldane glimlag terugstaan om haar handewerk te bekyk. Dit was ʼn missie om uit te werk hoe om al die benodighede in twee reiskoffers in te deel. Alhoewel sy aanmerklik meer gekoop het as wat sy oorspronklik beplan het, is niks daarvan onnodig nie.

Vir ʼn paar benoude oomblikke het sy gewonder of sy nie tog ʼn derde klein koffertjie iewers kan byvoeg nie, maar die gedagte vinnig opsy gestoot met die besef dat meer as twee koffers en sy alleen in die vreemde nie na ʼn goeie kombinasie klink nie.

Kliek hier onder om MAN… OF DIE MONSTER? te koop:
Sagteband
eBoek

Thompson Boekdrukkery - Advertensie Banier