Lusmaker – Wanneer die middernagson weer skyn

Sagteband:
WANNEER DIE MIDDERNAGSON WEER SKYN
– PETRONEL (2013)
ISBN 978-986-89335-4-5 (www.thompsonboeke.com)

EBOEK:
WANNEER DIE MIDDERNAGSON WEER SKYN – PETRONEL (2014)
ISBN 978-0-620-59567-4 (www.thompsonboeke.com)

Foto - Boek - Ronél GillWanneer die middernagson weer skyn - Voorblad

 

 

 

 

 

 

 

 

HOOFSTUK 1

 Skerpioen

In tere herinnering aan ons seun Lucian Delavantey.
Gebore somer van 1844.
ʼn Held gesterf 19 Mei 1870.
Sy edele plig gedoen.
Vrede. Salige Vrede.

   “MY God, my Vader, waarom het U my verlaat?”
Die rou smartkreet kom onwillekeurig. En so ook die verlammende pyn wat soos ʼn lem deur sy borskas sny en sy knieë lam onder hom laat invou.
Lucian Delavantey gryp die yskoue ovaal-steen voor hom met mening vas. Vir ʼn lang ruk staan hy net so ineengekrimp oor die eenvoudig-versierde kopsteen, sy kneukels wit-deurskynend om die harde graniet gevou en sy oë vasgenael op die woorde wat onder die ronde vredesteken ingegraveer is.

In tere herinnering aan ons seun Lucian Delavantey.
Gebore somer van 1844.

   Hy gee ʼn lang moedelose sug. So lank gelede…
Een honderd twee en vyftig jaar om presies te wees wat hy al veronderstel is om die salige rus onder hierdie granietsteen te hê. En hier staan hy, sy hande met magtelose moedeloosheid om sy eie grafsteen geslaan, sy gemoed net so swart soos die klere wat hy aanhet. Aangedryf deur die patetiese moedeloosheid van iemand wat vir meer as ʼn eeu en ʼn half al vasgevang is in die makabere half-lewe wat die noodlot vir hom beplan het deur hom vir ʼn ewigheid in hierdie… sadistiese doolhof van oneindigende smart en ellende te laat rondswerf. Alles net om hom weer terug te bring na presies dieselfde plek waar sy eens saai, maar realistiese menslike lewe so abrup geëindig het en sy languitgerekte, oneindige bestaan as ʼn onsterflike begin het.

ʼn Held gesterf 19 Mei 1870.
Sy edele plig gedoen.
Vrede. Salige Vrede.

   Waar is sy salige vrede? ʼn Wanhopige kermgeluid borrel van diep uit Lucian se keel en sy vingers kramp vanself nog stywer om die graniet-steen vas.
Is salige vrede hierdie redelose charade wat hy elke oomblik van elke dag voorhou om te verhoed dat sy diaboliese alter ego met sy onblusbare dors na vars bloed sy verstand oorneem? Hierdie elke dag se nuttelose voortbaklei om die klein bietjie menslikheid wat daar in hom oorgebly het ten alle koste te behou? Vir hoe lank sal hy nog kan uithou voordat hy soos die hulpelose marionet wat hy in werklikheid is, sal moet toekyk hoe die bloeddors sy verstand heeltemal oorneem en hy in die monster verander?
Of is salige vrede hierdie…
Lucian se droewige gedagtegang word ru onderbreek deur die gedempte stemme van drie mans wat stadig nader gedrentel kom. Hy druk homself stram van die kopsteen af weg en hou hulle belangstellend dop. ʼn End van hom af hou die mans skielik op met praat, steek in hulle spore vas, kyk half verskrik na Lucian en verander dan van rigting, weg van hom af. Asof iets hulle in die oor gefluister het dat die man wat so alleen teen die koppie aan die agterkant van die begraafplaas staan iets sinister omtrent hom het.
Lucian sug sinies. Dit is so tipies. Maar hulle het goeie reg. Sonder dat die drie van hulle dit bewustelik besef, hét iets hulle gewaarsku… hulle eie ingebore instink tot selfbehoud. Daardie sesde sintuig wat elke mens waarsku dat daar ʼn persoonlike bedreiging in die nabyheid is; soos die angstigheid wat ʼn bok aan die siddering teen sy ruggraat voel wanneer ʼn leeu in die omtrek is. En al lyk Lucian in sy sombere swart kleredrag nie veel anders as die begrafnisgangers om hom nie, is daar tóg iets aan hom wat die mense wat te naby aan hom kom onderbewustelik waarsku dat hy gevaarlik is; al verstaan húlle self nie waarom hulle so voel nie.
Maar Lucian weet waarom, en alhoewel dit hom partymaal, soos nou wanneer hy so droewig en hartseer voel geweldig pla, is die mens se reaksie teenoor hom teen hierdie tyd al net so ʼn deel van sy bittere lewe soos asemhaal. Dit was maar altyd, van die eerste oerknal af al net so en dit sal seker so bly tot in lengte van dae. Sy soort is gemaak om alleen te wees…

Toe die mans se stemme tot net ʼn sagte gemurmel saamsmelt met die voëltjies se gedempte gekwetter en die rustige gesuis van die wind deur boomblare, draai Lucian weg van die grafsteen af. Hy loop ʼn paar tree weg om aan die ander kant van die heuweltjie te gaan staan. Waar die begraafplaas teen die kruin af verdwyn om plek te maak vir die vallei wat normaalweg grasgroen en welig tussen rots en ravyn deurloer, maar nou weggesteek lê onder ʼn digte miswolk-kombers.
Vir langer as ʼn uur tuur hy bewegingloos voor hom uit.
Dit is net sy oë wat rusteloos oor die eens bekende omgewing wat rotsagtig onder hom uitgestrek lê dwaal, dan stip op een plek bly staar. Asof hy selfs deur die troostelose digtheid van die mis wat versmorend-dig oor die vallei hang die fabelagtige sprokieswêreld wat onder die swaar wattevlies-kombers weggesteek lê, kan sien.
Hierdie is sý wêreld. Sy Elim. Waarom het hy soveel jare vermors met sy ydele wanderlust van kontinent tot kontinent, as sy soeke na sielerus hom in elk geval op presies dieselfde plek laat eindig het as waar hy begin het?

Nêrens anders as net hier, in sý Assinibioa sal hy kalmering vir sy innerlike kan kry nie, besef hy nou. Net hier in hierdie prentjiemooi land van ʼn Honderd Duisend Mere reg in hartjie van Noord Kanada waarvoor hy so hard help baklei – en sy menslike lewe verloor het nie.
Dít is wat onder die digte miskombers weggesteek lê.
Oorblyfsels van die eens massiewe Meer van Agassiz, deesdae ʼn eindelose reeks prentjiemooi helder-blou waterpoele. Elkeen omring met ʼn verskeidenheid van pers-groen moerasse, loofgroen parklande, geel-groen prêries en grys-groen vleilande soos wat jy verder noord beweeg; elke ring verbind met ʼn dik mat wit, lila en pers Krokus-Irisse sodat dit lyk asof moeder natuur self dit met ʼn bont mengsel van haar eie geniale kleurpalet op die horison verewig het.
Dit is op een van hierdie vrugbare eens-meerbodem stroke aan die matige noord-weste kant van Manitoba, of Assinibioa soos wat Lucian dit ken, waar Adrian Delavantey so lank gelede sy stukkie grond afgekleim het. Oublié Paradis, het hy die plaas gedoop. ʼn Vergete stukkie van God se paradys; en ook Lucian se erfland wat sy sekuriteit en net soos met sy ouers, ook sý laaste rusplek moes wees. Nou is Adrian Delavantey se stukkie paradys staatseiendom…

Met ʼn swartgallige wanhoop wat ysig swaar op sy gemoed hang keer Lucian se gedagtes terug na ʼn verlede so lank en onherroeplik verby dat dit net met moeite is wat hy hulle geliefde gesigte voor sy geestesoog kan oproep. Sy ouers. Adrian en Brigitte Delavantey, die twee belangrikste mense in sy bestaan wat hy so bitterlik moes teleurstel.

Adrian Delavantey, Lucian se vader, het die eens droë meerbodem wat hy in die laat 1700’s as sy eie stukkie grond afgekleim het eiehandig omskep in een van Assinibioa se grootste plase. Lucian se erflating, het Adrian altyd gesê as hy saam met die eerste flou pienk-rooi gloed van die môreskemering oor die lande geparadeer het.
Adrian Delavantey was ʼn Godvresende man wat sterk in sy geloof gestaan het en nooit versuim het om sy seëninge te tel en sy God daarvoor te bedank nie.
Op Lucian se vierde verjaarsdag is hy die eerste keer toegelaat om sy vader te vergesel.
Dit was net voor somer-oestyd en die uitgedroogde growwe stekel-koppe van die bloedrooi koringare het tot vêr bokant Lucian se kop uitgestrek toe hy daardie oggend op sy kort beentjies agter Adrian aandraf. In die middel van die landerye het Adrian skielik tot stilstand gekom en Lucian voor hom staanmaak met sy rug na sy vader toe en sy hande langs sy sye uitgestrek terwyl Adrian sy oë toegehou het.
“Lucian,” het Adrian saggies langs sy seun se oor gepraat. “Jy het dit alles al gesien my seun, ek wil hê dat jy nou jou ander sintuie gebruik. Lúíster na die geluide van God se natuur in jou ore, rúík die vars reuk van God se velde om jou, próé die grond van jou erfenis op jou tong.”
Lucian het sy asem ingehou en gedoen soos wat sy vader gevra het. Hy het sy sintuie met volle konsentrasie ingestel, totdat hy naderhand duiselig van inspanning en ʼn tekort aan lug in sy longe geweet het waarvan Adrian praat.
Hoekom die skril insekgeluide, die vêraf geroep van ʼn voëltjie opsoek na sy maat, die kriek wat hier iewers naby sy voete skreeu en die vars reuk van omgedolwe grond gemeng met erdwurmmis en plantverrotting in sy bloed is.
Adrian Delavantey was uit beginsel ʼn sagte mens met ʼn aangename persoonlikheid, een wat vas aan die sewentig maal sewe vergewens-verbod geglo het, maar hy was ook ʼn nugter denkende mens en ʼn trotse man. Trots op sy herkoms, trots op sy nalatenskap en trots op sy familie. Lucian onthou hoe Adrian se oë altyd liefderyk na sy vrou gekyk het met ʼn aangrypende lig van genoegdoening en daar was nie een keer waaraan hy kan dink dat sy vader ooit sy stem vir hom of vir sy moeder verhef het nie…
Sy dierbare moeder…
Die kort, gesette Brigitte met haar silwer-grys hare, porselein vel en ʼn dapper, edele inbors wat haar man vierkantig kon staan in ʼn seksistiese wêreld waar mans nog mans was en vrouens nie veel sê gehad het nie. Sy Maman – soos wat Lucian haar genoem het – was ʼn boerevrou in murg en been. Pa Adrian het miskien die plaas besit en die broek in die huis gedra, maar dit was sy maman wat dit alles met ʼn ysterhand beheer het, en dit terwyl sy haar dierbare man oor en oor geprys het vir sý knapheid en haar geluk. So was die mensliewende, sensitiewe, onafskeidbaar van haar gesin Brigitte. ʼn Somtyds enigmaties, somtyds vurig, maar altyd vaardige vrou; enigmaties in haar liefde vir haar man, en vurig in die dissipline van haar enigste seun. Hy was maar skrikkerig vir sy ma se streng maak-soos-ek-sê beleid. ʼn Skewe glimlag trek om Lucian se mondhoeke by die herinnering van hoe inspirerend sy moeder se daadliewende dissipline was vir haar klein postuurtjie. Die deeglike krag agter die spanriem in haar fyn regter handjie wanneer hy te uitermatig onhebbelik geraak het en sy hom die dag op die regte pad moes aanhelp, het meer as genoeg opgemaak vir haar tekort aan lengte… En haar geliefkoosde woorde wanneer sy genoeg kos vir tien manne inpak wanneer hulle net ʼn halwe dag sou wegwees van die huis af, of wanneer sy ʼn reënjas of ʼn warm parka op ʼn sonnige dag in sy saalsak sou pak. “Casu quo” – vir ingeval…
Hy onthou hoe sy moeder, in haar twyfel of hy veilig gaan terugkom, hom met hartverskeurende snikke en ʼn bonatuurlike krag wat hom uitasem en lam in die knieë gelaat het teen haar vasgedruk het die dag toe hy sy ouerhuis verlaat het om die een groot avontuur van sy saai en eensame lewe aan te pak.
“Dit sal net vir ʼn paar maande wees…” het hy sy vader met ʼn wasigheid voor sy oë en ʼn effens skor stem belowe terwyl hy liefderyk oor die verrimpelde gesig van die enigste vrou in sy lewe gestreel het. “…dan sal ek terug wees en skouer aan die wiel sit op die plaas.”
As daar in daardie tyd maar net enigsins die geringste aanduiding was; ʼn teken hoe vaag ook al wat Lucian van plan kon laat verander met sy eersugtige strewe na die wêreldwye onbekende wat hy wou ontdek. Wat hom kon laat besef het dat dit die laaste keer sou wees dat hy kon aanspraak maak op hulle liefde. Die laaste keer dat hy sy ouers sou sien, oftewel dat dit die laaste keer sou wees dat hulle hom sou sien… want hy het hulle weer gesien, op ʼn afstand…

Met leedwese onthou Lucian hoe hy genoodsaak was om hulle verslaentheid met ʼn intens-folterende pyn in sy hart van ʼn afstand af dop te hou. Hoe hy tot God geroep het om hom te help. Om hulle te help…
Daardie dag, hy’t gevoel of hy van sy verstand afgaan vir sy aandeel in hulle smart, maar hy kon dit nie waag om nader te gaan nie. Dit was nie veilig vir hulle nie. Hy was ʼn jong vampier wat merendeels aangedryf word met ʼn onkeerbaar knaende honger na vars bloed en as hy nie toe in die staalklamp arms van Fréderic toegevou was nie, sou hy nie die impuls kon weerstaan om hulle as prooi aan te sien nie want selfs op hierdie afstand het die roeserige soet reuk wat onder hulle velle kleef sy mond laat water. En behalwe vir hierdie feit was hulle ook oud – albei al oor die sewentig, en konserwatief. Hulle sou nie verstaan nie… en die skok sou te veel vir hulle ou, afgetakelde liggame wees om te verwerk. En boonop het hy nie kans gesien om na alles vir die res van sy oneindige uitgeworpe bestaan nog rekenskap te gee oor hoe hy verantwoordelik was vir die dood van sy eie ouers nie…

Dit was vroeg in die jaar van 1869 toe die nuus wat Lucian se lewe onherroeplik sou verander sy ouerhuis bereik. Assinibioa, wat al sedert 1611 aan die Hudson’s Baai maatskappy behoort het en ook die tuisland van die Métisse was sou na bewering nou aan Kanada verkoop word. Elke enkele Métis-boer, Adrian insluitend, was woedend ontevrede toe die gerugte van die Kanadese anneksasie rondbasuin word.
Vandag dink Lucian dat dit meer die bang onsekerheid van wat van hulle sou word as rêrig ontevrede woede was, maar op ʼn nat agter die ore drie en twintig het hy ook maar nie veel beter geweet nie.
“Eers die Skotte en nou dít! Dit is waaragtig niks anders as pertinente Judaswerk nie!” Het ʼn opstandige Adrian een aand aan die etenstafel vir sy gesin verduidelik waarom die bohaai gaan. “Met die oorstroming uit Ontario sal ons die minderheid op ons eie lande wees. Ons gaan forseer word om ons nalatenskap waarvoor ons ʼn leeftyd voor gewerk het aan genotsoekende vreemdelinge af te staan sodat hulle ons geloof, ons taal en ons eiendomsreg heeltemal verbaster en op die ou end so oorneem dat ons haweloos in ons eie vaderland gaan wees.” Vir ʼn ruk lank het Adrian sy kop moedeloos in sy hande laat sak en botstil so bly sit voor die bekommerde oë van sy vrou en seun wat nie ʼn woord rep om sy magtelose mymeringe te steur nie, toe sonder ʼn verdere woord die tafel verlaat en koers gevat skuur toe om tussen die half gemufde hooibale in isolasie verder te gaan dink.

Vir die volgende paar maande het die vermoeide Métisse angstig op ʼn tikkie goeie nuus gewag. “Wat staan ons te doen?” is die vraag wat telkens afgevra is en na elke samekoms van die plaasboere net so onbeantwoord gebly het, totdat Lucian se goeie vriend Christian met die voorstel kom dat hulle almal moes saamspan en die hulp van Louis Riel inroep. Louis was ook ʼn Métis, maar anders as die res van hulle, was hy ʼn geleerde Métis wat die toepassing van die wet in Montréal gaan studeer het en sonder twyfel was hy ook die mees geskoolde kandidaat in Assinibioa.
Drie maande later bring Christian die nuus wat ʼn flikkering van hoop in die Métis-boere se harte laat ontvlam. Louis Riel het ingestem om te help en is alreeds besig om ʼn rebellie teen die Kanadese regering op te stoot. Lucian het met volle aandag na Christian se entoesiastiese vertellings geluister van hoe die Kanadese regering nie soldate oor die berge kan stuur totdat die sneeu nie ophou val het nie, wat waarskynlik eers na die winter sal wees en dus genoeg tyd vir die Métisse gee om hulle standpunt te maak – wat later sou blyk net die regte taktiek te wees; en gedink dat hierdie die ideale geleentheid vir hom sou wees om ook sý deug en sy manlikheid te bewys.

Alhoewel Lucian sy opgewondenheid nie kon bedwing nie, het dit hom nog steeds ʼn volle week geneem om sy skeptiese vader – wat daarvan oortuig was dat dit ʼn Godsonde was om jou gading buite jou eie huis te soek – te oorreed om sy standpunt in te sien en om hom toe te laat om aan die rebellie deel te neem…
“Hoe kan ek met saamgevoude hande stilsit en toesien hoe ons mense ten gronde gaan as dit in elk geval my verantwoordelikheid is om te gaan.” Het hy aanhou smeek. “Dit sal mý aandeel wees vir die behoud van die Métisse se waardevolle nalatenskap.” Het hy keer op keer die argument van die rebellie-boere aangehaal nadat sy vader nog steeds halsstarrig bly weier het. Hy was jonk en naïef en het aangehou totdat Adrian uiteindelik genoodsaak was om met ʼn loodswaar hart die onvermydelike te aanvaar en Lucian met ʼn teësinnige “oui” sy sin gegee het. Dit is met bitterheid wat Lucian nou na die verlede terugkyk en onthou hoe kommerloos en naïef hy eintlik was, hoe gretig hy sy sakke gepak het en ʼn tranerige maar gepronkte afskeid van sy ouers geneem het die oomblik toe dit blyk dat sy aanvoorwerk suksesvol was. Hoe vol verwagtinge hy op sy perd gespring het om soos ʼn wafferse ridder van ouds met ʼn juigkreet by die rebellie troepe te gaan aansluit – en hoe vinnig die ontnugtering gekom het…
Vir maande lank het Lucian saam met Christian sy aan sy met Louis Riel en vierhonderd gewapende troepe geveg. Dit was moeilike maande van loutere hel waarin hy vinnig geleer het wat die eintlike betekenis agter die woorde honger en koud was. En hoe groot was die verligting en die vreugde nie toe hulle meedoënlose uithouvermoë uiteindelik oorwin het nie! Onder die brawe bevel van die fanatiese Louis het die rebellie-troepe die Hudson’s Baai maatskappy se hoofkwartiere met verbasend min teëkanting beset en sodoende die Kanadese regering oorreed om die Manitoba oordrag te onderteken. Dit het die inwoners van die Rooiriviervallei die reg gegee om ʼn onafhanklike provinsie te stig. ʼn Provinsie waar leerinstitute lesse in Engels asook hulle eie moedertaal Frans sal aanbied – ʼn klein maar belangrike oorwinning teen die oorwegend Engels-Protestante institute wat tot nou toe regeer het.

Lucian was daar vir die jubelfees toe, op 12 Mei 1870, die klein koninkryk van Manitoba gebore is. “Vir die Métis, vir die Métis…” het die skares met luidrugtige opgewondenheid gejuig toe die dokumente, saam met die voorwaarde vir absolusie vir die troepe wat deelgeneem het aan die rebellie geteken en geseël is. Die lande van die Métis-boere was veilig vir die nageslag, sy vader sou trots wees op sý aandeel daaraan, het Lucian eteries gedink. Die gevaar is verby en hy is nog steeds onverganklik, hy het in sy doel geslaag en sy deug bewys.
Vir ʼn volle week agterna het Lucian saam met die joviale troepe fees gevier.
Dit was dan ook vroeg in die oggendure van die 19de, terwyl hy yskoud en hoog in die takke na een van die ontelbare rumoerige partytjies waar hy in oorvloed aan Bacchus geoffer het steierend teen die skuinste af terug kamp toe gestrompel het, dat hy op die tengerige manspersoon afgekom het. Sy meester, die man wat hom gemaak het wat hy vandag is…

Eers het net die geraas Lucian se aandag getrek, soos iemand wat teen iets metaal stamp, toe ʼn dowwe kreungeluid gevolg deur ʼn benoude hyg van asem.
Toe eers sien Lucian iemand in die skaduwees van ʼn donker stegie naby die markplein ineengekrimp oor ʼn vullisdrom hang met sy arms om sy maag gevou.
Dit was ʼn man, lank en goed gebou en netjies gekleed in ʼn geborduurde onderbaadjie oor ʼn spierwit hemp, met langerige ligte hare en ʼn skoongeskeerde gesig. Definitief nie iemand wat in hierdie deel van die onderdorp hoort nie, het Lucian gedink en vinnig nader gegaan.
Dit was so duidelik soos daglig dat die man in geweldige pyn verkeer. Sy asem het nog eenstryk deur gehyg en die sweet het in groot druppels langs sy slape afgebiggel.

Dit het gelyk asof die man soveel pyn het dat dit hom skynbaar onbewus gelaat het van die vieslike stank van ou verrotte kos wat in die lug gehang het; ʼn reuk wat selfs Lucian agteroor laat steier het.

Hy was ʼn nalatige dwaas, besef Lucian nou. Hy het sonder om twee keer te dink heldhaftig in die stegie ingeswenk om ondersoek te gaan instel. Hierdie man het dringend hulp nodig was die enigste gedagte wat deur sy kop gemaal het toe hy nader aan die gebukkende figuur kom en sien dat sy velkleur bleek en feitlik halfdeursigtig lyk.

Die man het inderdaad ernstig siek voorgekom. Aanvanklik het Lucian dit oorweeg om hom daar te los en ʼn dokter te gaan soek, maar toe besluit dat dit dalk meer prakties sou wees om eers te kyk of hy hom nie tot by sy huis kan help nie. Nie vir een oomblik het hy onraad vermoed of daaraan gedink om die man se integriteit in twyfel te trek nie. Dat hy dalk nie is wat hy voorgee om te wees nie…
Dit was onwaarskynlik dat die vreemdeling ʼn verskuilde agenda kon hê. Die man het immers in nood verkeer het hy selfversekerd gedink. Té selfversekerd sou dit later blyk.

“Verskoon my meneer…” het Lucian besorgd afgebuig en aan die vreemdeling se yskoue arm geraak terwyl hy sy asem ophou vir die vrot reuk wat in die lug hang. “Is daar iets fout,” het hy met medelye gevra. “Kan ek help?”
Met ʼn waardige, spottende trek om sy mond wat die erns van sy jammerhartige toestand skerp weerspreek het die vreemdeling sy kop opgelig en deurdringend na hom gestaar uit halfgeslote oë wat Lucian aan die dood herinner het – teennatuurlik koud. En pikswart.
Later sou hy uitvind dat die raaiselagtige deurdringendheid spruit uit die feit dat die vreemdeling in sy gedagtes wou inglip, maar op daardie oomblik het Lucian net verstard in die oë voor hom bly staar en gevoel hoe hy letterlik afdwaal in die donker dieptes van die koue gevoellose kykers.
Sonder waarskuwing het die vreemdeling se houding verander. Die siek afgetakelde figuur het eensklaps verander in ʼn aggressiewe helhond met onheilspellende oë en buitengewone brutale krag wat Lucian met skielike vasberadenheid agter om sy nek gryp. Lucian kon nie beweeg onder die vingers wat soos ysterkloue om sy nek gevou is nie en het net stom toegelaat dat die man hom ondertoe trek.
Hy hét daaraan gedink om los te ruk, maar dit was ʼn kortstondige gedagte want deursigtige kettings het hom soos ʼn mot om ʼn kersvlam bedwelmd nader na die donker gesig toe getrek. Lucian kon voel hoe sy liggaam vorentoe steier, maar hy kon hom nie, of op daardie stadium wou hom nie teensit nie. Sy brein het in wanorde vasgevries en elke stukkie wilskrag om te ontsnap het eenvoudig verkrummel onder die impak van die gevoellose oë wat syne gevange hou. Skielik knak sy knieë onder hom in en Lucian steier wankelend teen die naamlose vreemdeling vas.
Dan verstar hy van skok as hy in dieselfde moment van sy steiering ʼn verskriklike pyn in sy nek voel, net onderkant sy linker oor. ʼn Pyn en helse vuur wat sy bloed kokend deur sy are laat stoot en sy spiere krampagtig laat saamkrimp. Die oomblik toe sy hart begin bokspring asof hy ʼn maraton gehardloop het, dring die besef finaal tot sy verstand deur dat hy in die moeilikheid is. Hy moet kophou en probeer wegkom! As hy net sovêr kan kom om sy slap hande en verlamde knieë op te lig…
Maar amper op dieselfde oomblik wat die besef tot hom deurdring dat hy met alle wilskrag moet vasklou aan sy kosbare lewe word die knellende pyn vervang met ʼn bedwelmde, amper passievolle opwelling en tevrede aanvaarding wat hom in ʼn gewiglose vakuum laat sweef.
Hy kan nie die sagte uiting van genot keer wat oor sy lippe val nie.
Dan hoor hy ʼn sagte slurpgeluid; soos iemand wat water met sy tong uit ʼn voerbakkie uit oplek, nee, dit is ʼn anderse geluid, soos… ’n lighoofdige swewing na… niks.
Wat de hel… was sy laaste afgryslike gedagte voordat ʼn diep donkerte hom wegsluk…