LYFGRYPER – Casper H. Coetzee

LYFGRYPER – 2015 © Casper H. Coetzee

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 698 WOORDE)

 

Hierdie is sy laaste lyk. Maar dokter Tielman Kriel, senior patoloog van die dorp en die streek, het hulle nooit gesien as net lyke nie. Elke liggaam is ʼn storie met vriende, familie en vrae. En hy het vir die afgelope veertig jaar hier in sy teater sy bes gedoen om daardie vrae te beantwoord.

“Ek kan nie mense se pyn en hartseer wegvat nie.” Het hy altyd gesê, “Maar ek kan ʼn klein bietjie onsekerheid vir hulle opklaar.”

Dit is natuurlik nie die enigste rede waarom hy so lank so toegewyd sy werk kon doen nie. Hy het van kleintyd af groot belangstelling gehad in die menslikke liggaam. Vir hom is dit ʼn fassinerende en wonderlike masjien wat tot vandag toe nie ten volle verstaan kan word nie. Sy nuuskierigheid het hom gefokus gehou.

Dit was natuurlik nooit sy plan om sy hele loopbaan hier op ʼn klein dorpie as patoloog deur te bring nie. Hy wou lewens red en mense help. Toe hy destyds die pos hier as assistent aanvaar het, was dit maar om studieskuld te betaal en ondervinding op te doen. Dit was eers later dat hy besef het dat daar verskillende manier is om mense te help. Elkeen doen maar sy deel. En Dokter Kriel was goed. Hy het in sy veertig jaar nog nooit nodig gehad om die gevreesde woorde ‘Oorsaak van Dood: Onbepaald’ in ʼn verslag te skryf nie. Dit was nie altyd maklik nie. Maar hy is nie ʼn man wat maklik opgee nie. Daar is altyd ʼn rede, en hy het dit altyd ontdek.

Op vyf-en-sestig is dokter Kriel nog sterk in liggaam en in gees. As hy sy sin kan kry sal hy nog baie jare aanhou werk. Wat is daar anders vir hom om te doen? As ʼn mens lank genoeg ʼn ding doen, dan raak dit moeilik om jouself ooit iets anders te sien doen. Hy het nie stokperdjies nie, daarvoor het die lang dae en nagte in die teater gesorg. Sy vrou is ook al meer as drie jaar oorlede. En sy twee seuns woon beide lankal oorsee. Dis mos maar wat die jong mense deesdae doen. Nee, vir hom is daar maar net sy werk. Maar om te bly is nie vir hom beskore nie. Hy het maande terug die brief van die plaaslike regering ontvang.

“Dankie vir jou harde werk Dokter Kriel, maar jy is nou klaar.”

Natuurlik nie in dieselfde woorde nie. Die klomp hooggeplaasdes doen mos alles vreeslik polities korrek en baie amptelik. Maar die boodskap was duidelik. Hy het aanvanklik probeer baklei, maar na vele briewe en selfs ʼn besoek aan die LUR moes hy helaas tou opgooi. Dit is tyd om af te tree.

“Gaan rus ʼn bietjie.” Het sy gesê.

Laas Vrydagaand het hulle vir hom ʼn heel formele dinee in die stadsaal gehou. Vreeslik ordentelik. Al die hoës was daar om vir hom te kom dankie sê en vir oulaas te groet. Maar vir hom was vanmiddag se koek en tee saam met sy personeel meer spesiaal as enige gedoente wat die spul daar in die ivoor torings ooit kan voorsit. Hierdie is sy mense; mense van eenderse gedagte en toewyding. Mense na sy hart.

Na die trane en die groet het hy stil-stil na sy kantoor gegaan waar hy begin het om al die persoonlike goedjies wat hy so deur die jare bymekaar gemaak het in ʼn geleende kartondoos te pak. ʼn Mens kan nie glo hoeveel jy met tyd kan opgaar nie. Gelukkig hoef hy nie te trek nie. Vir hom was daar geen behoefte om ʼn huisie by die see of in die bosveld te gaan koop nie. In hierdie dorp is hy geanker. Hy het jare lank op die skoolraad gedien en hy dien al lank as ouderling by die kerk. Almal ken hom, en hy vir hulle. En hy hoef darem ook nie die goedjies ver te dra nie. Sy huis is net vier blokke van die teater af. Hy stap maar so elke oggend vroeg sy paadjie teen die bult uit. So lank doen hy dit al dat hy elke boom op sy roete by die naam ken.

Teen laatmiddag was hy amper gereed om sy laaste groet te groet en vir oulaas teen die bult af te stap toe die polisie die liggaam van ʼn jong, onbekende man by die voordeure inbring. Niemand weet wie hy is of waar hy vandaan kom nie. Daar waar die manne soms gaan visvang langs die spruit, het ʼn klomp kinders hom gekry. Die dood is ʼn lelike ding. En wanneer hy vir jou kom haal, dan keer jy hom nie. Maar vir Dokter Kriel is dit ten minste ʼn geleentheid om vir oulaas te doen waarvoor hy gebou is. Adrie Vermeulen, sy assistent, het die liggaam gewas en voorberei voordat dat sy, wetende dat dit die dokter se laaste outopsie is, hom alleen gelaat het.

Wanneer ʼn mens dag vir dag met die dood werk kan jy maklik afgestomp raak; jou empatie verloor. Dis nie omdat jy wil nie, dit raak net somtyds te veel om pal oor die dinge te dink. Veral wannneer daar ʼn jongmens of ʼn kind voor jou lê. Maar Dokter Kriel het deur die jare heen homself altyd herinner dat die liggaam op sy tafel eens ʼn siel gehuisves het. Dit was ʼn mens met ʼn verstand en emosies, drome en verwagtinge.

Hy staan vir ʼn rukkie net so en kyk. Die jong man is sterk gebou en lyk op die oog af gesond. Daar is ook geen tekens van trauma op sy lyf nie. Al wat hy kan sien is ʼn ou litteken aan die linkerkant van die bors. Dokter Kriel voel met sy handskoen bedekte hande aan die man se kop. Maar hy vind geen onreëlmatighede nie. Dan gaan staan hy aan die ander kant van die tafel en draai die man op sy sy. Ook aan die agterkant van sy lyf is daar geen teken van siekte of geweld nie. Op die tafeltjie langs hom is al sy toerusting netjies uitgepak. Hy tel sy ontleedmes op en kyk af na die liggaam.

“Nou ja, ou seun. Kom ons kyk watter onding het jou oorgekom.” Dink hy.

Dan leun hy vorentoe en maak die eerste snit; van onder die ken, teen die borskas en buik af tot net onder die maag. Versigtig trek hy die maagholte oop voordat hy begin om die maag, derms, lewer, niere en pankreas te ondersoek. Hy ken sy werk. Sy hande beweeg vinnig deur die organe en sy brein registreer elke besonderheid. Ook hier kry hy niks waaraan die jong man se dood toegeskryf kan word nie. Met ʼn sug knip hy die ribbebene al teen die sternum af. Dan, met klampe wat lyk asof hulle eerder in ʼn werktuigkundige se hande hoort, begin hy die borsholte oopsper. Eers haak hy die regterkantste borsgedeelte en trek so hard as hy kan voordat hy die klamp aan die tafel vasmaak. Dan stap hy om die tafel, haak die linkerkantste deel en trek. Dit is eers nadat hy die tweede klamp vasgemaak het dat hy in die borsholte kan insien. En sy brein gaan staan stil…

Daar, waar die man se linkerkantste long veronderstel is om te wees, lê ʼn ding wat nie bestaan nie. Dit het drie oë in die middel van ʼn ronde, slymerige kop. Daar is geen nek nie; die lyf loop sommer so regaf tot waar dit in ʼn stomp stertagtige punt eindig. Die ronde gesiggie het geen neus nie, en ʼn mond, sonder lippe lê onnatuurlik onder die oë. Kompleet asof dit terloops aangeplak is. Op hierdie oomblik gluur die ding Dokter Kriel aan sonder om ʼn oog te knip. Nie dat hy sou kon as hy wou nie, want daar is geen ooglede nie. Die Dokter se verstand wil verstaan, maar kan nie. Daar is geen manier om te verklaar wat binne ʼn mens gebeur wanneer jy iets sien wat nie iets kan wees nie. Die enigste deel van hom wat nog funksioneer is daardie deel van die brein waarmee ʼn mens dink sonder om te dink.

“Aha! Die oorsaak van dood.”

So kyk hulle vir mekaar, die Dokter en die Oorsaak van dood. Dan kom die ding regop. Onder sy lyfie staan hy op ses voete (Of hande, die Dokter is nie seker nie). Met twee skerp tandjies grom die ding. Omdat daar nie lippe is nie kan ʼn mens dalk dink dat dit ʼn glimlag kan wees. Maar onder die omstandighede is Dokter Kriel redelik seker dis ʼn grom. ʼn Paar oomblikke staan die ding so… Dan spring hy!

Lettie, die ontvangsdame, en Adrie sit rustig en gesels. Hulle het reeds hulle goedjies opgepak en wag net vir Dokter Kriel om klaar te maak voordat hulle toesluit en huistoe gaan. Lettie is net besig om vir Adrie te vertel van haar nuwe liefde toe Dokter Kriel, tassie in die hand, by hulle verbystap. Wanneer hy by die deur kom draai hy in ʼn dwaal om.

“Tot siens, dames.” Sê hy voordat hy die deur oopstoot en na buite tree. Die twee vrouens kyk mekaar verbaas aan. Dan skud Adrie haar kop met ʼn hartseer uitdrukking.

“Siestog. Seker maar te bedroef om baie te praat.” Sê sy. “Ek sal maar gaan toesluit.”

Sy is skaars weg of Lettie hoor haar roep.

“Lettie! Kom kyk net hier!”

Wanneer Lettie in die teater aankom staan sy verbaas. Op die tafel lê die jong man se liggaam nog met borskas wyd oopgerek.

“Genade mens!” Sê sy.

Buite is die Dokter besig om huis toe te stap wanneer daar ʼn gedagte in hom opkom wat nie syne is nie.

“Die een sal maar moet doen totdat ek ʼn jonger een kan kry.”

Dan stap hy tot by die naaste boom en gaan sit plat op die grond met sy rug teen die growwe stam. Hy grou vir ʼn paar oomblikke in sy tassie voordat hy sy ontleedmes in die hande kry. Met albei hande hou hy die mes voor hom uit sodat die punt skuins voor sy linkerbors rus.

“Hierdie,” Sê hy met ʼn sagte, vasberade stem. “Is mý liggaam.”

Die Einde.

 

  • Chantal

    “Tot siens, dames.” Sê hy voordat hy die deur oopstoot en na buite tree.=

    “Totsiens dames,” sê hy, voordat hy die deur oopstoot en na buite tree.

    Goeie grillerige einde!