Videospeletjies

Die hoofdoel, of moontlik die enigste doel, van wetenskapfiksie is om te dien as vermaak van daardie deel van die mensdom in wie se smaak dit val. En van al die vorme waarin dit aangebied kan word is amper alles daarvan passief – dit wil sê dat die persoon wat toelaat om daardeur vermaak te word hoef amper niks meer te doen as om dit bloot te absorbeer nie. Dit moet bloot maar gelees, gekyk of geluister word om die storie in die verbeelding te laat vorm aanneem en daar te laat ontvou.

Dit is natuurlik wel so dat sommige persone aktief deelneem aan die skep van materiaal, maar dit verteenwoordig maar ‘n uiters geringe fraksie van die gemeenskap. Vandag egter, in die 21ste eeu, het die wonderwêreld van die multimedia dit begin moontlik maak om self aktief, eerder as passief, deel te word van wetenskapfiksie. En dit het natuurlik sy eie bekoring – skielik is die storie nie meer vas nie en is verskeie uiteindes moontlik en kan die storie verskeie wendings neem om by ‘n gegewe eindpunt uit te kom.

Die videospeletjie het voortgespruit uit vroeëre tipes speletjies wat elektromeganies was, met balle wat onder ‘n glasblad van ‘n tafel rondgerol het deur ‘n tipe hindernisbaan en wat tot ‘n mate deur die speler beïnvloed kon word – ‘n tegnologie wat begin het in die 1930s. Die eerste totaal elektroniese speletjies wat deur ‘n speler gespeel kon word en wat primitiewe grafika kon vertoon, is gedurende die 1950s ontwikkel.

In 1971 is die eerste videospeletjie ontwikkel wat met ‘n muntstuk gewerk het en wat dus kommersiëel van waarde was. Dit het gevolglik die era van die arkadespeletjies ingelei en verskeie arkades het oor tyd tot stand gekom, ook in Suid-Afrika in die groter stede.

Selfs in klein dorpies was hierdie tipe speletjies algemeen en is dikwels aangetref buite winkels waar dit gespeel kon word nadat ‘n muntstuk daarin geplaas was.

Die eerste speletjies se grafika en klank was uiters primitief maar die subkultuur van die tyd het dit nietemin opgeslurp. Dikwels was dit grafika bloot wit-en-swart – soos wat gesien kan word in hierdie beeldgreep van die vroeë arkadespeletjie – Asteroids.

Maar ten spyte van aansienlike ontwikkeling op die gebied van videospeletjies, het die baltafels steeds koning gekraai, soos die baloutomate en biljart. En toe, skielik, het daar iets plaasgevind wat hierdie situasie verander het. Die Japanese firma, Taito, het ‘n nuwe speletjie bekend gestel – Space Invaders. Dit was so gewild dat dit oornag veroorsaak het dat arkadespeletjies die baltafels uitgestof het en die gewildste vorm van vermaak in die arkades geword het.

Space Invaders het ‘n aantal nuwe konsepte ingevoer wat hierdie industrie vir altyd verander het. Die eerste was dat die lengte van die spel bepaal was deur ‘n aantal lewens eerder as ‘n voorafbepaalde tydsduur. Tweedens, dat ekstra lewens veerdien kon word indien sekere doelwitte bereik kon word. Dan was dit ook die eerste speletjie wat agtergrondklank gespeel het en die eerste wat die hoogste tellings van spelers sou onthou en op ‘n spesiale skerm vertoon het om mededinging tussen spelers aan te moedig. Hierdie videospeletjie het die Goue Era van Arkadespeletjies ingelei wat geduur het van 1978 tot 1982, en die speletjies het vinnig op alle vlakke verbeter – soos R-Type deur Irem.

 

Na 1982 het daar ‘n merkbare afname begin plaasvind met die koms van rekenaars wat tuis in huishoudings begin posvat het. Hoewel arkadespeletjies deesdae maar redelik beperk voorkom, is daar ‘n groot aantal persone wat steeds hierdie ouer speletjies op rekenaars tuis speel deur van ‘n emulator gebruik te maak – dis ‘n spesiale program wat die arkadespeletjie se program op ‘n standaard rekenaar kan laat speel.

In die 1970s vind ‘n volgende ontwikkeling plaas – die konsole vir videospeletjies. Dit is ‘n digitale elektroniese masjien wat tuis gebruik kan word om aan die televisie te koppel en dit moontlik te maak om videospeletjies tuis te speel. Ook hier in Suid-Afrika was dit besonder gewild maar in die begin was dit nogal duur en het dit lank geneem om op groot skaal in huishoudings te versprei. Atari was van die meer bekende handelsmerke wat tóé in die mark deelgeneem het. Hierdie masjiene kon verskillende speletjies laat speel deur verskillende kassette daarin te plaas.

Die ontwikkeling op hierdie gebied was dramaties, met direkte mededinging met arkadespeletjies en rekenaarspeletjies. Die konsolespeletjies het deur agt generasies van ontwikkeling gegaan, wat toenemend meer gevorderd geraak het met beter grafika, klank en interaksie met die spelers.

Vanaf die tweede geslag van die konsoles het klein draagbare modelle te voorskyn gekom wat met ‘n battery werk en saamgedra kan word.

Die videospeletjies van vandag is besonder ryk aan klank en beeld en die vlak van realisme is ongelooflik. Kyk gerus na die volgende videogreep oor ‘n aantal van die beter speletjies wat vandag beskikbaar is.

Vandag is die meeste videospeletjies beskikbaar op alle platforms – rekenaars, selfone en konsole. Baie van die speletjies kan in die kuberruim gespeel word teen deelnemers van dwarsoor die wêreld. Die gebied waarop daar tans gefokus word is om die speletjies werklik 3D te maak deur van virtuele realiteit (VR) gebruik te maak, en verskeie vervaardigers is besig om sulke speletjies en hardeware daarvoor te ontwikkel.

‘n Baie groot hoeveelheid van die videospeletjies wat bestaan handel oor temas in die fantastika, soos wetenskapfiksie, fantasie en superhelde. Daar is ongelukkig niks in Afrikaans beskikbaar nie, maar videospeletjies is tog ‘n deel van ons gedeelde bewustheid en erfenis in Suid-Afrika.

Om ‘n videospeletjie te speel is voorwaar ‘n besonder aangename manier om sef WF te ervaar. Moenie in dwaasheid hierdie wêreld verlaat nie – jy mis iets ongeloofliks as jy nie hieraan deelneem nie…