ABSTRAKSIE EN OORDRYWING

18 Julie 2014
© dr. François P. Verster

François se foto - Afrifiksie & ThompsonBoekeEen van die vrae wat die meeste aan “kreatiewe mense” gevra word (gewoonlik deur mense wat nie aktief in die kunste betrokke is nie), is “waar kry jy jou idees?” Terselfdertyd sal mens baiekeer lees dat daar “heelwat outobiografiese” elemente in iemand se werk is. By skryfskole hoor mens ook dié raad: “skryf oor wat jy ken.”

Voeg hierdie gedagtelyne byeen en jy kry die antwoord op die vraag: dat die kunstenaar dinge wat wel bestaan fiksionaliseer. Indien jy na inspirasie of idees soek, kyk na jou eie lewe, na die lewens van bekendes, na stories wat jy gelees het en flieks wat jy gesien het. Hoe meer stof jy het om mee te werk, hoe beter. Juis daarom (en om te sien wat ander al reeds gesê het en dus clichés geword het) is dit essensieel vir skrywers om baie te lees. En dan neem jy wat jy geabsorbeer het en omvorm dit – benewens die term “fiksionaliseer,” kan ook kennis geneem word van “abstraheer.” Dit is dikwels hoe legendes ontstaan – wanneer by die feite oor ’n werklike persoon se lewe aangelas word of dit verander word om dit interessanter te maak. Die skrywer kan selfs die werklike persoon waaroor hy/sy skryf onherkenbaar verwring of ’n samestelling van bekende (net aan die skrywer bekend of aan baie ander mense ook) persone maak.

’n Mate van abstraksie kom dus voor, wanneer afgewyk word van die bekende of tasbare, maar ons werk gewoonlik tog maar meestal met algemeen-aanvaarde idees – ook oor mense; die karikature van die “groot, dom bokser,” die “skraal, stil skilder,” ens. en bou vanaf dié herkenbaarhede verder aan ons karakters om hulle meer geloofwaardig te maak. Dieselfde geld milieus en ander elemente van skryfkuns. En ander kunsvorme werk op ’n soortgelyke basis: daar is inderdaad baie wat skrywers by die bv. beeldende kunste en musiek kan leer. Dink maar aan komposisie – dit kom voor by feitlik alle genres, ook inkleding, en die opbou na ’n crescendo of klimaks of die leiding van die oog na ’n bepaalde fokuspunt.

In skilderkuns is abstraksie bedoel om die regterbrein* te betrek, hoewel nie altyd doelbewus nie – hoe duideliker, hoe eenvoudiger in die sin dat dit eintlik oordrywing is (van realiteit); sodat diegene wat nie soveel in beheer is van linkerbreinonderdrukking, tóg ook die objekte kan herken (feitlik onmiddelik) – voorwerpe wat inderwaarheid duideliker waarneembaar is as wat dit op daardie betrokke skaal sou wees, is ’n voorbeeld van hierdie metode. Abstraksie is ’n spel wat gespeel word vir diegene wat oorbekend/verveeld is met soortgelyke style en onderwerpe, wat duisende skilderye aanskou het, wat die reëls van skildertegnieke ken en kan interpreteer en kan evalueer. Hoe meer daar dus blootstelling was aan kuns, hoe meer kan die abstraksie verstaan word vir wat dit is, en waardeer word.

Let wel: met abstraksie bedoel ek dat die kyker steeds kan sien dat dit ’n olifant of huis is, al is dit verwring tot verskillende vlakke, terwyl nie-figuratiewe kuns iets is waar dit dalk nie meer moontlik is om enigiets konkreets te herken nie (sien afbeelding van my skildery Korset). Dan neem die “regterbrein” (nie-logiese prosesse) heeltemal oor. Mens sou kon redeneer dat Fantasie in skryfkuns hierheen neig, maar omdat daar steeds reëls en stelsels ter sprake is, bly dit binne die perke van abstraksie waar daar nog herkenbaarheid is – skrywers wat te ver sou gaan met abstraksie, sal hulle lesers verloor. Letterlik en figuurlik.

Oordrywing is duidelikmaking, onthulling. Soos ’n donker potloodstreep duideliker sigbaar is as ’n ligte krapmerkie, só ook moet dinge duidelik gemaak word in die ander kunste, soos filmtegnieke wat baie ooglopend verduidelikend was in die vroeë ontwikkelingsjare van daardie genre – die dialoog was eenvoudiger, die kameraskote was minder verbeeldingryk en afwisselend, die verhale was minder ingewikkeld (The Matrix sou onverstaanbaar vir meeste mense van die Laurel & Hardy-era gewees het). Soos mense meer en meer films gesien het kon hulle ook die ontwikkeling van tegnologie beter begryp en waardeer. En soos Da Vinci ver bokant sy tydgenote kon dink en handel (niemand sou sy helikopter begryp nie en daar was geen fabriekswerkers wat sy masjiene se onderdele kon vervaardig nie), so ook sou innoverende regisseurs (George Lucas, ens.) net eenvoudig nie die soort films kon maak wat te gevorderd was vir die publiek nie. Abstraksie in die filmgenre kan vandag wel deur die grootste deel van die filmpubliek begryp word – die meeste mense het al honderde flieks gesien teen die tyd dat hulle volwassenheid bereik.

Filosowe praat meestal ook bokant “gewone” mense se koppe heen. Meeste mense dink selde so abstrak as filosowe, omdat hulle dalk nie in staat is nie, of omdat hulle nie belangstel in enigiets wat nie “duidelik” is nie; selfondersoek, objektiwiteit, openheid vir ander se (abstrakte) idees is nie deel van hulle leefwêreld nie. Filosofie as sulks is dus nie deel van hulle denkpatrone nie. Idees, kuns, selfs humor moet dikwels aan sulke mense verduidelik word.

En dis dan waarom ek persoonlik streef na ’n eenvoudiger skryfstyl en woordgebruik wanneer ek oor sogenaamde akademiese onderwerpe skryf. Sekere skrywers beskou ’n ongekompliseerde skryfwyse as ongesofistikeerd en selfs as ’n teken van middelmatigheid. (Hegel se stellings is glo destyds as baie slim beskou, omdat niemand dit kon verstaan nie!) Gelukkig dink die meeste lesers nie ook so nie. Nie as hulle die punt wat ek maak begryp nie.

Dieselfde geld ook vir onderwerpe van keuse – strokies, spotprente, humor; miskien groot pret, maar dalk liefs vir kinders en onontwikkelde volwassenses bedoel? Aikôna. Nie as jy dieper kan sien as wat ooglopend lyk nie – die betrokke kunstenaars maak bloot die karakters, storielyne en tekenstyle eenvoudig-verstaanbaar. Op die oog af. Daar kan intertekstuele verwysings wees (Mad Magazine), slim spitvondighede (Asterix), deeglike navorsing (Tintin), aksietonele wat soos rolprenttonele “geregisseer” (The Spirit) is en hoë gehalte komposisies (soos die grafiese novelle Maus, a survivor’s tale wat oor die Holocaust gaan en waarvoor Art Spiegelman ’n Pulitzer-prys ontvang het).

Maar die verdienste van eenvoud (insluitende die konsep van “kill your darlings”) is ’n onderwerp vir ’n ander bespreking. Genoeg dan om te sê oordrywing is essensieël in fiksie, maar binne perke. Weet ons dit? Natuurlik. Maar ons moet gedurig daaraan herinner word. selfs die ouderlinge en diakens luister tog na die preek. Indien nie, is dit op eie risiko.

*Nota: Deesdae beweer wetenskaplikes dat die konsep van linkerbrein=logiese en regterbrein=verbeelding nie korrek is nie; dat daar veel meer oorkruis tussen die twee breinlobbe te werk gegaan word. Dit maak sin, maar persoonlik verstaan ek die proses van skryf beter as ek my verbeel dat die meeste van sekere aktiwiteite regs of links plaasvind: dat daar grootliks gekompartementaliseer word.

Die rede hiervoor is omdat wanneer mens in verskillende genres werk – bv. akademiese artikels teenoor wetenskapfiksie – daar op verskillende wyses, binne verskillende stelle reëls gewerk word. Dit word dus bloot makliker om jou te verbeel jy doen nou “linkerbreinwerk” of andersom. Ook glo ek dat ek beter fiksie skryf in die vroeë oggendure en al verduideliking wat ek daarvoor vind is dat die logiese brein (linkerbrein?) nog nie 100% wakker is nie en nog nie oorheers nie, sodat ek nog makliker in ’n droom- of verbeeldingstaat kan verkeer. Die regterbrein het dan sy voet in die deur gekry en kan dit ’n rukkie daar hou!

Dalk is ek heeltemal verkeerd, maar vir die doel van hierdie essay aanvaar ek eers dat daar waarheid in steek. Dalk beweer wetenskaplikes oor tien jaar weer die teenoorgestelde, maar intussen werk dit vir my só; is dit naby genoeg aan die waarheid (in hierdie spel tussen “waarheid” en “verbeeldingsvlugte!”).

Illustrasies: om kopieregprobleme te systap gebruik ek liefs van my eie skilderye as voorbeeld:

Van heeltemal foto-realisties (Die Uil) tot heeltemal nie-figuratief (Korset) aan die ander kant van die spektrum, kry mens ook tussen-in ’n uitbeelding wat as Impressionisties (nie 100% realisties nie) soos Stapskoene en pet (die interieur) en dan nader aan nie-figuratief: Dorpie om middernag (die landskap).

As bg. onduidelik is, op’n skaal van realisties na nie-realisties:

1.    heeltemal realisties: Die Uil
18-07-2014 - Die Uil

2.    impressionisties: Stapskoene en pet
18-07-2014 - Stapskoene en Pet

3.    abstrak: Dorpie om middernag
18-07-2014 - Dorpie om Middernag

4.    nie-figuratief: Korset
18-07-2014 - Korset

Soos ek met dié paar skilderye probeer aandui, kan skryfwerk ook van nie-fiksie (soos ’n biografie) tot ’n fantastiese verbeeldingsvlug (soos in Fantasie) neig. M.a.w. in enige kunstipe kan die logika en die verbeelding verskillende mate van oorheersing uitoefen.

En soos ek genoem het, weet ons dit almal sekerlik, maar dis tog interessant om die verskynsel afstandelik in oënskou te neem, en dit in gedagte te hou as jy jou genre en tema kies, maar ook terwyl jy jou verhaal laat ontvou.

  • Joe Botha

    Dag, dr. Verster,

    Ek is ‘n groot voorstander van intertekstualiteit sowel as deeglike navorsing. Die vergelyking van skryfwerk met die beeldende kunste is vir my ‘n interessante een as dit by abstraksie kom.
    Sou u sê abstraksie (en in die besonder oormatige abstraksie) kan wel effektief in ‘n teks ingespan word? Mits dit spaarsaam gebruik word en nie ‘n wesentlike deel vorm van die oorkoepelende skryfstyl of gebeure nie?
    Niemand wil ‘n leser vervreem nie, maar hoe gemaak met iets wat op sigself vreemd en onverstaanbaar is?